Posts Tagged ‘Johannes Prins’
Tuesday, August 26th, 2014
get over yourself
Ek weet byna presies wat’s fout met ons. – Toast Coetzer
daar sit
’n rooi sekelmaan
langs my linkeroog
se kornea,
bloed
het deur die nag
uit die hoek uit
gesyfer
my een
onderste molar
is al vir jare lank
’n oopgroefmyn
wat ek met
repair & protect
wegborsel,
wegdink
meer suid,
in my lae rug,
sit ’n haarlynbreuk
ná die lyf
’n vallende
gimnas
van die rekstok
moes red
maar gelukkig
werk
die hydraulics nog,
en die onderstel
hang net
so nou
en dan
uit
(c) Johannes Prins / 2014
Thursday, February 10th, 2011
Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.
 Digstring
Opgedateer tot en met 4 Oktober 2019 – Redaksie
Inhoud
A-B
Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010
Andries Bezuidenhout. “Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” . Nov. 2014
Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010
Emma Bekker. Nagvangs. Mei 2016
Nini Bennett. Da Capo. April 2016
René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012
Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011
Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012
Hendrik J. Botha. Breindood. April 2016
C, D, E
TT Cloete. Swerwende verse
Toast Coetzer. geluk
Marius Crous. Die ander man
Hans du Plessis .“Josef”
Heilna du Plooy du Plooy. “Ouhoutfluit”
Anne-Ghrett Erasmus. Skilder
Sydda Essop. Ek lewe in stilswye
Louis Esterhuizen. Melopee
F, G
Gilbert Gibson. Another roadside attraction
Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.
H, I, J
Joan Hambidge. “The drama of being a child”
Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010
Joan Hambidge. Parys
Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010
Pieter Hugo. Honde
Louis Jansen van Vuuren. “Passasie”
Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010
K, L
Ronelda Kamfer. Stof. Junie 2010
Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht
Martine Klopper. Kwatryn
Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010
Willem Krog. “Vir pa” Nov. 2014
Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012
Kobus Lombard. Kameeldoring
M, N
Jannie Malan. “Watermerk” Nov. 2014
Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey
Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie
Melt Myburgh. Toeval
Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010
Charl-Pierre Naudé : “Eergister en môre, met visse” Nov. 2014
Fransi Nieuwoudt. ” ‘n ontstaan “. Febr. 2017
Hennie Nortjé. Ons Land. Okt 2019
O, P, Q
Pieter Odendaal. die eerste steen.
Johannes Prins. Man diesel
R, S
Andries Samuel. All god’s children took their toll
Alfred Schaffer. “Droomstart” Nov. 2014
Bibi Slippers. “En route: Suid Afrika”
Bibi Slippers. Yskas. Nov. 2017
Susan Smith. “By die soetdoring” . Febr. 2017
Hilda Smits. “Vir Primo Levi”
Carina Stander. Lima
Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010
T, U
Etienne Terblanche. Vir die Golden Gate-weduwee
V, W
Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite
Ilse van Staden. Fluistering
Ilse van Staden. Dertien kraaie. Febr. 2017
Jacobus van der Riet. Die Heilige Nikolai van Japan. April 2016
De Waal Venter. Die wetenskaplike en die fee. Okt. 2017
De Waal Venter. Die res is net seëlversameling, Okt, 2019
Cas Vos. Kersrook
Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012
Cas Vos. Vaar-wel
Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com
Tags: Andries Bezuidenhout, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, De Waal Venter, Digstring, emma bekker, Fourie Botha, Fransi Nieuwoudt, Gilbert Gibson, Hendrik J Botha, Hennie Nortjé, Ilse van Staden, Jacobus van der Riet, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Johannes Prins, Kobus Lombard, Louis Esterhuizen, Lucie Möller, Marius Crous, Marius Swart, Marlene van Niekerk, marlise joubert, Martina Klopper, Melanie Grobler, Melt Myburgh, Pieter Hugo, Ronelda Kamfer, Susan Smith, Sydda Essop, Toast Coetzer, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Indekse | Comments Off on Digstring indeks
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, February 1st, 2011
Elwe & Selwe – En kuier kán die spulletjie!
Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder
 Melt Myburgh
Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.
Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.
Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.
Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.
|
Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?
Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.
Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?
 Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh
My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.
Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?
 TT Cloete
Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.
Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.
Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?
Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.
Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.
 Joke van Leewen
ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?
Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693.
Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.
Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.
Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?
Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.
 Oopmonddigters
Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.
Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!
En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?
 Gert Vlok Nel
Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.
Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.
Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.
Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.
Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.
Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.
Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.
Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?
 Petra Müller
Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.
Ten slotte – ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?
Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.
Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.
Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe” hieronder.
Elwe & Selwe
Op hierdie Woordfees gaan ons delwe
na die vele elwe en die selwe.
Deur woorde, kuns en die musiek
lig ons die sluiers oor geheime,
en reis ons met die oog en oor
langs al die wonderlike weë
wat die sinne en die hart bekoor.
Eintlik is ons almal elwe,
elkeen anders, elk uniek,
party met een, party met baie selwe.
Die Woordfees wil die pad plavei
vir jou en my om saam te dans
langs duisend kronkels van genot,
waar elf en self, vermom as kunstenaars,
kom goël en smokkel met die kop.
Elke asem, elke elf en self,
kan deelhê aan die spel van twintig-elf.
Die taal se pyl en boog, so word vertel,
is droom en fantasie se metgesel.
Maak dus jou koker vol;
kom jag die storie-bokkies sonder tal.
Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop
maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!
(c) Zandra Bezuidenhout
Tags: Andries Bezuidenhout, Danie Marais, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Joke van Leeuwen, Loftus Marais, Martina Klopper, Melt Myburgh, Niel van Deventer, Petra Müller, Ronel Nel, Ronelda Kamfer, Tom Gouws, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Artikels, essays, e.a. | Comments Off on Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, July 20th, 2010
Digstring
Man diesel
Hoe kom ‘n vers
na jou toe
vra jy op vrouedag in hendrik potgieter
ek skud my kop
en sê nee ek weet werklik nie
want dis soms vreemd
die hele ding
ons sou byvoorbeeld
op pad makro toe
wees om te gaan wyn koop
en dan klim daar
sommerso
‘n vers by ‘n man diesel
se deur uit
en tuur ver in sy blou overallbroek
na die metrocop wat hom pas
afgetrek het
en verstel onder sy maag
aan sy belt se kopergespe
vee met swart naels
en ‘n hand so groot
soos my oupa s’n
oor sy sweterige
voorkop
en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe
en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself
(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?
Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel – ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee – afhangend van die finansies & die behoefte…
Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het – daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie – maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”
En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery – soos bestuur met my maak – stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.
In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.
En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.
Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Al’s is gegee – gelukkig. Maar die laaste twee reëls – soos hierbo gesê – het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.
Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.
In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.
Verskeie vroue figureer in die bundel – meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Spesiaal vir een hart geskep – hoewel ek dit nie toe geweet het nie.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief – dit het nooit gebeur nie.
Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe – dis wat by my opkom.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Nope.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.
By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal – hulle kliek net.
Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.
Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld 😉 doen ook sulke goed.
Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Nee, ek dink die vers werk.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.
Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.
Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:
“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”
Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie – want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).
In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):
“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”
Uiteenlopende reaksie dus.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Op dees aarde – nee glad nie.
 Johannes Prins
Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA in Afrikaans en Nederlands.
Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.
In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook by tot As die son kom oogknip, die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.
In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.
Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Monday, March 15th, 2010
Johannes Prins het ‘n paar foto’s geneem, sommer so op die verhoog, tydens Oopmond by die Woordfees.
 Ronel Nel praat strategie. Foto: Jo Prins
Hier bo sit ek (DJ Stotterman) saam met Ronel Nel (Ingrid Dronker). Vroeg reeds word strategie bespreek en logistiek beplan, veral verversings, waarsonder die kreatiewe proses nie kan vloei nie.
 Danie Marais en John-Henry Opperman van Klopjag. Foto: Jo Prins
Danie Marais (NP van Lykskou) praat oor musiek saam met John-Henry Opperman van Klopjag.
 Niel van Deventer. Foto: Jo Prins
Hier lees Niel van Deventer (Breyten Lykverdag) van sy nuutskeppinge voor.
 Ingrid Dronker. Foto: Jo Prins
Laastens, Ingrid Dronker lees ‘n gedig voor. Rock ‘n roll!
Nou het Oopmond ‘n gat op Facebook ook. Gaan sluit gerus aan, blaai deur die foto’s, lewer kommentaar.
Thursday, February 18th, 2010
 Oopmond-digters by Aardklop verlede jaar
Gisteraand gaan inloer by Love Books, waar Johannes van Jerusalem (tweede van regs in die foto hier bo) Johannes Prins (heel regs in die foto) van hulle gedigte voorgelees het, met Lize Wiid (saam met my in die foto hier onder, natuurlik ook aan die een aan die regterkant) wat die trekklavier speel vir atmosfeer. Sy het ook ʼn klok gebruik as musiekinstrument. Aan die begin van die aand het die winkel se alarm se bewegingsensor Johannesburg style saam musiek gemaak (“piep piep piiieeeeeeep”), veral as Johannes van Jerusalem ronddans terwyl hy sy gedigte voorlees. Hy praat oor die karakter Henry van Staden, “’n boer van my tyd,” wat ʼn poëtiese lewe lei, gedigte maak “van vergeet en aanmekaarsit” met sy “baard en ʼn boep en ʼn bles,” Henry van Staden, “wat net soos sy pa so bietjie meer aan die eenkant dra.” Johannes Prins het uit sy bundel een hart gelees, van sy besoek as joernalis aan ʼn plaas op die Wes-Rand waar veediewe ʼn man se verse se senings kom afkap het en die fetusse uitgesny het:
dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer
my verse is uitgelewer
Daar was wyn, lekker eetgoed en ʼn hele spul elegante boheme. Die winkel se kandelaar is van staal, blompotte en wynglase aanmekaargesweis. Ons het na die tyd na ʼn sjebeen toe gegaan, pap en boerewors geëet. Nóg wyn gedrink.
 Foto: David Robson
Tuesday, December 22nd, 2009
Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.
 een hart
Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld, het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.
Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.
Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.
‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:
pas
‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend
van jou in worcester lok ons uit die paarl
met dreunende sonbesies pak ons die tog deur
du toitskloof aan – hitte walm van die teer op
en jy sit en sweet in jou swart rok
wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie
van die pas sny – agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond
in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk
oorweeg word – die skielike-heengaan-trooswoorde
van ‘n jong dominee hang in die lug
deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,
‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af
tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit
‘n sekslose somerdag sal wees – een waar jy die aand stil sal rook
en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]
Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:
soveel tale
“yo veo un letrero” sê jy op die langpad
agter die spaanse les in die cd-speler aan
“ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons
moet seker hier afdraai of hoe?”
“sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp
my in die ribbes – ons draai af na paternoster
“ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.
hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?
“miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai
en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”
“en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,
“is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou'”[.]
Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:
wanneer die aandvoël
nes maak
en die plaaslyne
in kode
die komende
onweer verklap,
sug die huis ‘n warm sug
die gang verlang
na karookinders met amandeloë
wat vroeër die dag
luidkeels stille nag op
blokfluite geblaas het
en nou droom
van jakkalsvoëls
en reën
en wanneer twee
polisiemanne uit die bloute
opdaag om jou
goudregister na te gaan – een
druk selfs sy hande
in die suur – sê jy:
“elke ons is hier meneer,
elke kind is hier.”
‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:
Ek sal doodgaan
ek sal doodgaan
inkonk
so met die hand
op my bors
ek sal nie wellington
toe gaan nie –
ken niemand daar
met ‘n bordienghuis nie
ek sal een oggend
my arm oplig
om te skeer
en in die spieël sien
die oog
is verby
die bloed sal in my slape klop
die hart sal skuurloop
soos ‘n huurder –
‘n laataand-lister
voor die nag
se nag
ek sal doodgaan
stellenbosch toe
in dorpstraat óp dros
jonkershoek in
waar sneeubedekte pieke
met kranse die blou
uit die hemel hengel[.]
Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (“trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).
Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (“nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.
Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.
soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,
nugter oggend – geen voorbodes
of swanger afwagtings
met my by-die-deur-uitstap het hy
dié dag se roepery begin – dit was duidelik
en ondubbelsinnig: een hart
[…]
Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer – en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.
‘n [N]uusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n storie[;]
en:
‘n nuusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n leser
– só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.
En die twee buitenste strofes van “glo” lui:
soms
maar net soms
wens ek
[…]
ek kan glo
dat alles nie tot niks
kom nie[.]
Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring – voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word – verder ter sprake.
Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).
Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (“jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:
(dat ek só
soos jy
skoorsoekend en kwaad
en verward kan bid
en verwyt
en vra
hoekom dit
en hoekom dat
om deur daai boek
te blaai
en ‘n vers te soek
vir krag
en verstaan
en hoop –
it softens the blow
nogal weet jy
om hande te vat
en die seën te vra
en te weet
dit kom van elders
van bo
dankbaar te wees
want iewers hou iemand
‘n oog)[.]
Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.
Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.
Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.
Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.
Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:
man diesel
hoe kom ‘n vers
na jou toe
vra jy op vrouedag in hendrik potgieter
ek skud my kop
en sê nee ek weet werklik nie
want dis soms vreemd
die hele ding
ons sou byvoorbeeld
op pad makro toe
wees om te gaan wyn koop
en dan klim daar
sommerso
‘n vers by ‘n man diesel
se deur uit
en tuur ver in sy blou overallbroek
na die metrocop wat hom pas
afgetrek het
en verstel onder sy maag
aan sy belt se kopergespe
vee met swart naels
en ‘n hand so groot
soos my oupa s’n
oor sy sweterige
voorkop
en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe
en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]
Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.
Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:
[…]
dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer
my verse is uitgelewer[.]
[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.
Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Wednesday, October 7th, 2009
 Die program
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? “If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Tags: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, Danie Marais, Daniel Hugo, David Kramer, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Hilary Mantel, Ilse van Staden, Jasper van Zyl, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Laurinda Hofmeyr, Loftus Marais, Lucie Möller, Luna Paige, marlise joubert, Piet van Rooyen, Pirow Bekker, Program, Rosa Smit, Sheila Cussons, Versindaba 2009 Posted in Nuuswekkers. Louis | Comments Off on Dis tyd om opgewonde te begin raak …
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|