Posts Tagged ‘Johannes Vermeer’

Desmond Painter. Vroue van Vermeer

Monday, March 15th, 2010

Dit is hoogtyd dat ek ook ‘n bydrae lewer tot hierdie maand se blogfokus. Teoreties het ek nie veel oor die onderwerp te sê nie, dus wil ek nie méér doen as om bloot in die komende dae ‘n aantal beeldgedigte hier te plaas wat op verskillende maniere tot my spreek nie.

Die eerste gedig wat ek wil plaas is deur T.T. Cloete. Dit handel oor een van my gunstelingskilders, Johannes Vermeer. Ek moet dalk begin deur te sê (te bieg, eintlik) dat ek oor die algemeen nie ‘n groot aanhanger van Cloete se poësie is nie. Dit is nie dat ek nié van sy werk hou nie, of dat ek dink dit is van mindere kwaliteit nie. Inteendeel, ek is heeltemal onder die indruk van sy groot talent en die belangrikheid van sy digterskap binne die konteks van die Afrikaanse poësie. Daarvan hoef ek darem nie oortuig te word nie.

T.T. Cloete

T.T. Cloete

Dit is net dat ek nog nooit by die lees van Cloete daardie onmiddelike resonansie ervaar het wat my ervaring van sekere ander digters, skrywers en komponiste se werk kenmerk en (vir my) spesiaal maak nie. Anders gestel, Cloete beïndruk my, maar ek het nog nooit op ‘n meer emosionele vlak vir hom ‘geval’ nie. Dit is nou maar net so: sekere digters spreek jou op bepaalde fases van jou lewe direk aan, en dit het min te make met hoe toeganklik of onmiddelik verstaanbaar hulle gedigte is. Miskien, wie weet, lê ‘n meer betekenisvolle encounter met T.T. Cloete nog vir my voor. Ek hoop so.

Natuurlik is daar individuele gedigte van Cloete wat tot my spreek. Sy ‘Vroue van Vermeer’ (uit Driepas, 1989), byvoorbeeld, is beslis een van my gunsteling beeldgedigte in Afrikaans. Dit is soveel meer as bloot ‘n digterlike beskrywing van ‘n skildery (of, in hierdie geval, skilderye). Dit is niks minder nie as ‘n kunshistoriese besinning in versvorm; ‘n meesterlike interpretasie en ontsluiting van die samespel van temas, tegnieke en effekte in Vermeer se skilderye:

 

Vroue van Vermeer

Dit is meestal ‘n mooi jong vrou.

Meestal is sy alleen binnenshuis,

dalk met ‘n wit veraf brief wat sy vashou,

naby, in ‘n gloeiende klein hand

voor ‘n kleiner of groter oop

venster. Daar kom ‘n ligte geruis

van ‘n wêreld aan uit ‘n land-

of groter wêreldkaart

wat teen die muurvlak oorkant

hang, daar waar seestrome en wind loop

met haar land se ganse skeepvaart.

Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,

sy droom of sluimer

in lig wat in vlokkies of korrels brand

of dof kaats in die ruimer

ruimte van ‘n skildery of spieël of in ‘n wynhouer

ivoor maak, of sy speel klavesimbaal

of sy loer oor haar skouer

en dra ‘n sonnende pêrel teen haar nek

se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

 

  •