Posts Tagged ‘Johannesburg Style’

Andries Bezuidenhout. “They’re always demolishing buildings in Johannesburg…”

Monday, May 18th, 2009

ʼn Paar jaar gelede staan en kyk ek na van William Kentridge se animasievideo’s in die kunsmuseum in Kaapstad. Daar was toevallig ook ʼn toergroep met ʼn gids wat die kunswerke aan hulle verduidelik het. Op ʼn stadium sien ʼn mens, ek dink dis in Johannesburg: 2nd Greatest City after Paris (Kentridge het darem ʼn sin vir humor!), hoe ʼn gebou ingeplof (is dit korrekte Afrikaans vir “implode”?) word. Die gids se insiggewende kommentaar is toe: “They’re always demolishing buildings in Johannesburg…”

Die afgelope week het ek heeltemal te veel tyd saam met mense met glase wyn in die hand in boekwinkels spandeer. Eers was dit Ronelda Kamfer en Loftus Marais se gedigvoorlesing en hierdie Saterdag was daar ʼn bespreking oor Clive Chipkin se nuwe boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from 1950. Die boek kos ʼn rowwe R750, maar ons het maar ons laaste kosgeld vir die maand uit die bank gehaal om dit aan te skaf. Clive Chipkin se vorige boek Johannesburg Style: Architecture and Society, 1850s to 1960s bly een van my gunsteling boeke oor Johannesburg. Dit het my byvoorbeeld met ander oë na Hillbrow laat kyk.

In my digbundel Retoer gee ek erkenning aan Chipkin en Charles van Onselen, wie se twee volumes New Babylon en New Nineveh, oor die sosiale geskiedenis van die Witwatersrand, nét so insiggewend is. Dis soms nie maklik om in Johannesburg te woon nie. Dis ʼn gewelddadige stad met ʼn kort geskiedenis. Dis egter boeke soos hierdie – en skrywers met die insig en geheue van die tagtigjarige Clive Chipkin – wat dit moontlik maak om hier te woon sonder om heeltemal af te stomp.

Die volgende gedig oor Johannesburg kom uit Retoer:

ERFGOUD

Ons erf hierdie stad van naamlose smede
van yster, onbewus van goud
wat onder hulle voete rus.

Ons erf hierdie stad van die Bezuidenhouts
van Doornfontein, wat mielielande,
’n laning okkerneutbome en ’n huis niksvermoedend
reg bo-op die riwwe aangelê het.

Ons erf hierdie stad by “vuilgoed fortuinsoekers
wat die lande platgetrap het”,
by Boere-amptenare met vanne soos
Wolmarans, Eloff en Smit.

Ons erf hierdie stad by die mynwerkers –
deur belasting op hulle koppe en hutte gejaag
tot in die kontant- en drankekonomie.
Marks, Nellmapius en die boere is almal gelukkig
met ’n konsessie uit Pretoria.

Ons erf hierdie stad van die Rand Lords en hul lord Milner
wat Engelse ontbyte eet en lemoensap drink in huise
met name soos Sunnyside en Brenthurst.

Ons erf hierdie stad soos ’n eens kosbare baadjie
– voos gedra en blink gestryk –
wat ons graag diep agter in die kas sou wou hang,
maar elke dag moet dra.

  •