Posts Tagged ‘John Berryman’

Amanda Lourens. John Berryman: Bevlekte held?

Saturday, June 9th, 2012

 

In haar resensie van Johann de Lange se Vaarwel, my effens bevlekte held (2012)  beskryf Joan Hambidge die gedig “Skielik skemer” as ’n sentrale gedig in die bundel, en dat dit ook die titel van die bundel aktiveer.  Die betrokke bundeltitel is een van dié wat jou boei deur die nié-voor-die-hand-liggendheid daarvan (maar nie sonder ’n tikkie  ironiese beskouing nie), en jou van meet af aan laat nadink oor die moontlike betekenis daarvan. Dit was eers op bladsy 78, met die raaklees van “Skielik skemer”, dat ek ’n moontlike kode tot die ontsluiting van die titel gevind het.

 

Skielik skemer

 

      What happen then, Mr Bones?

      I had amost marvellous piece of luck. I died.

John Berryman

 

Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster

na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg

kon vat. Soos Hart Crane oor die relings

van die ss. Orizaba& in sy vaar-

waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,

sy skoene netjies op die dek.

 

Art Hitman, skryn-

werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,

met ’n streep weg & teen die grein,

voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het

om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.

Uitgeken net aan jou bril & ’n blanko tjek.

 

Jou laaste gedig is sonder slot: ’n eerste weergawe

van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los

om te lees. Ten slotte trek jy ’n laag-

waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir Kate

om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur

& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.

 

De Lange se gedig met sy realistiese blik en lig-ironiese toonaard (onder meer te danke aan die woordspelings in die laaste twee reëls) werk met die gebeure rondom die bekende Amerikaanse digter John Berryman (1914-1972) se selfmoord vroeg in ’n koue Januarie 1972. Hy is gebore as John Allyn Smith in Oklahoma, en beleef op twaalfjarige ouderdom ernstige trauma wanneer sy bankier-pa homself voor die seun se venster skiet. Na drie maande is sy ma weer getroud, en John het sy stiefpa, John McAlpin Berryman, se van aanvaar. 

John se lewe is sedert sy jeugjare deur kwellinge gekenmerk, soos reeds blyk uit sy eerste selfmoordpoging in 1931. Sy studiejare aan Columbia Kollege en later Cambridge word gevolg deur ’n tyd waarin hy aan Wayne Universiteit in Detroit doseer, maar in Desember 1939 word hy gehospitaliseer as gevolg van senu-uitputting, waarvan hy ook later in sy lewe – en vererger deur alkoholmisbruik – sou las hê.   

Sedert 1940 doseer Berryman aan verskillende universiteite en vestig hy ook sy loopbaan as literator en digter.  Sy privaat lewe was egter besig om toenemend gekompliseerd te raak vanweë sy alkoholmisbruik – hy skei van sy eerste vrou, Eileen, en ontvang die trekpas van die Writer’s Workshop in Iowa na hy vir openbare dronkenskap en rusverstoring gearresteer is. 

In 1955 word Berryman aangestel as dosent aan die Universiteit van Minnesota en verhuis na Minneapolis, waar hy vir die res van sy lewe sou bly.  Dit is in hierdie tyd wat hy begin werk aan The Dream Songs, wat moontlik as sy belangrikste werk beskou kan word.  In 1956 trou hy met die 24-jarige Ann Levine, maar die huwelik kom in 1958 tot ’n einde.  Sedert 1959 word hy gereeld gehospitaliseer vir alkoholisme.  In 1961 trou hy met sy derde vrou, die 22-jarige Kate Donahue.

Vir 77 Dream Songs (1964) ontvang hy die PulitzerPrize, en vestig so sy reputasie as een van die belangrikste moderne Amerikaanse digters.  Uiteindelik brei hy hierdie werk uit tot ’n versameling van 385 gedigte, met die karakter Henry as protagonis – ’n karakter wat gesien kan word as om Berryman se eie sielkundige worsteling te verwoord; ’n karakter intens gekwel deur sy pa selfmoord, deur sy eie libido en deur alkoholisme.  Die karakter van Henry word toegelaat om deur die gedigte uiting te gee aan sy onopgeloste woede en sy vrese en aan sy donkerste fantasieë uiting te gee.  Dus is talle van hierdie gedigte donker van aard, en gee die spreker via die persona van Henry uiting aan talle emosies wat moontlik spruit uit Berryman se eie onverwerkte emosies rondom sy pa se dood, soos veral blyk uit die voorlaaste gedig in The Dream Songs: 

 

The marker slants, flowerless, day’s almost done,

I stand above my father’s grave with rage,

often, often before

I’ve made this awful pilgrimage to one

who cannot visit me, who tore his page

out: I come back for more.

I spit upon this dreadful banker’s grave

whoshothisheartout in a Florida dawn

O ho alas alas

When will indifference come, I moan & rave

I’d like to scrabble till I got right down

away down under the grass

and ax the casket open ha to see

just how he’s taking it, which he sought so hard

we’ll tear apart

the mouldering graveclothes ha & then Henry

will heft the ax once more, his final card,

and fell it on the start.

 

Vir die uitgebreide weergawe van The Dream Songs (1969) ontvang Berryman die National Book Award sowel as die Bollingen-prys.  Hierdie toekennings vereer hom veral vir sy kenmerkende digterlike stem wat ’n dag na sy selfmoord in die New York Times as “jaunty, jazzy, colloquial … full of awkward turns and bent syntax” beskryf is.

Op 7 Januarie 1972 het Berryman aan sy vrou Kate gesê dat hy kampus toe gaan om sy kantoor te gaan skoonmaak.  Volgens Kate was Berryman op daardie stadium baie stil, maar, het sy gesê: “But he had developed a hum. He would hum all the time.” In der waarheid was hy op daardie stadium reeds ’n redelike tyd lank nugter, na hy in die voorafgaande maande ’n hele paar keer gehospitaliseer is (een keer in 1969 en drie keer in 1970). Klaarblyklik het hy hom in hierdie periode ook kortstondig tot godsdiens (Judaïsme en Katolisisme) gewend.  Nietemin het die digter homself om die lewe gebring deur homself van die Washington Avenue-brug te werp.  Sy jongste dogter by Kate was net ses maande oud. (Athey 1999, Poets.org 2012, Poetry foundation 2011).

In sy kantoor, op die agterkant van ’n koevert in die snippermandjie, het Kate die volgende reëls gevind:

 

O my love Kate, you did all you could.
I’m unemployable & a nuisance.
Forget me, remarry, behappy.

(Granneman 2008).

 

Kennelik is dit na hierdie reëls wat die laaste strofe van De Lange se gedig verwys, en is dit Berryman self wat die “effens bevlekte held” is, soos ook blyk uit die spore van hierdie digter in De Lange se eie digkuns (soos die gebruik van ampersand, om maar een voorbeeld te noem). Kan “bevlek” dan gelees word as Berryman se gekwelde lewe, gevolg deur sy tragiese sterwe, soos die betrokke gedig dan ook impliseer (“die grys beton te vlek”)? 

 

 

Bronne

 

Athey, Joel. 1999. John Berryman’s Life and Career [Internet]. In: American National Biography. New York: Oxford University Press. Beskikbaar:  http://www.english.illinois.edu/maps/poets/a_f/berryman/life.htm. [2012, 30 April].

Granneman, Scott. 2008. John Berryman’s suicide note [Internet]. Beskikbaar: http://blog.granneman.com/2008/09/28/john-berrymans-suicide-note/. [2012, 30 April].

 

Poets.org. 2012. John Berryman [Internet]. http://www.poets.org/poet.php/prmPID/6. [2012, 6 Junie].

 

Poetry Foundation. 2011. John Berryman [Internet]. http://www.poetryfoundation.org/bio/john-berryman. [2012, 7 Junie].

  •