Posts Tagged ‘John Lennon’

Desmond Painter. Iets oor ‘n dromer, John Lennon

Wednesday, December 8th, 2010
John Lennon

John Lennon

Vandag, presies dertig jaar gelede, op 8 Desember 1980, is John Lennon voor sy woonplek in New York doodgeskiet. Hy was maar veertig jaar oud, so jonk nog eintlik, maar as ‘n lid van The Beatles was sy musikale en kulturele status op daardie stadium lankal reeds in glinsterende goud gegiet. Hy kon tien jaar tevore al gesterf het, toe The Beatles se paaie in 1970 geskei het — aan sy nalatenskap sou dit nie veel verskil gemaak het nie. Sy legende was ten nouste verweef met die van The Beatles, ‘n amper onaantasbare kulturele fenomeen. Dit was in elk geval nie so maklik om hulle te oorleef nie: luister maar na onderhoude met Lennon net na The Beatles opgebreek het: sy rou woede en gemengde gevoelens, sy opgeblase ego en weerloosheid, is fassinerend, soms pynlik om te hoor.

John Lennon word dikwels uitgebeeld as die kunssinnige Beatle, die een wat met die avant garde geflankeer het, die digter in die groep. Lennon het meer as net ‘n handvol briljante songs geskryf, maar die avant garde-ekskursies en die ‘bed-ins’ vir vrede was by tye erg pretensieus. As liriekskrywer word hy beslis dikwels oorskat. Hy kon nie regtig meeding met tydgenote soos Cohen, Dylan, Paul Simon en vele ander woordkunstenaars nie. As filosoof, intellektueel, visioenêr? Wel, gaan luister weer na sy ‘Imagine’: dis ‘n mooi popliedjie, maar dis ook ‘corny’, glad nie die insigte van ‘n groot denker nie; dit was ‘n voorloper, eintlik, van euwels soos ‘We are the world’ en ‘Do they know it’s Christmas?’ — goedbedoelde maar dikwels ondeurdagte pogings deur popsterre om die wêreld (op) te voed en te red.

Daar is heelwat werklik mooi momente op sy beste solo-albums, soos Mind Games en Walls & Bridges, maar min van hulle, dalk geen, bly werklik staan as klassieke rock-albums uit die 1970’s. Die album wat hy kort voor sy dood voltooi het, Double Fantasy, het ‘n paar sjarmante popliedjies opgelewer (‘Woman’, ‘Starting Over’, ‘Beautiful Boy’), maar kan beslis nie ‘n klassieke of selfs net belangrike album genoem word nie. Nee, hy het na The Beatles nooit regtig op dreef gekom as ‘n solokunstenaar nie, en baie van sy artistieke eksperimente gedurende The Beatles se laaste jare is vandag hopeloos gedateer. 

En tog verstaan ek waarom mense sy dood vandag wil herdenk — en herdenk ek dit ook. Want hy is een van die groot, ikoniese figure in die geskiedenis van rock. Want hy het, ten spyte van die feit dat hy myns insiens nie as komponis en sanger kon meeding met die bestes onder sy tydgenote nie, tog wonderlike songs geskep (en gehelp skep), soos ‘This Boy’, ‘Nowhere Man’, ‘In My Life’, ‘I’m Only Sleeping’, ‘Happiness is a Warm Gun’, ‘Across the Universe’, ‘Mother’ en ‘Number 9 Dream’ — en vele meer. Want hy het op ‘n verskriklike, onnodige manier, en te jonk, gesterf. Ag, en sommer omdat hy ‘n dromer was — en nie die enigste een nie…

 

In my life – John Lennon & Paul McCartney

 

There are places I remember
All my life, though some have changed
Some forever not for better
Some have gone and some remain
All these places have their moments
With lovers and friends I still can recall
Some are dead and some are living
In my life I’ve loved them all

But of all these friends and lovers
There is no one compares with you
And these memories lose their meaning
When I think of love as something new
Though I know I’ll never lose affection
For people and things that went before
I know I’ll often stop and think about them
In my life I love you more

Though I know I’ll never lose affection
For people and things that went before
I know I’ll often stop and think about them
In my life I love you more
In my life I love you more

Desmond Painter. Oor sit en staan

Thursday, August 26th, 2010

Van sit en staan kom niks gedaan, sê hulle, daarom sorg ek gewoonlik dat ek net sit. “I’m just sitting here watching the wheels go round and round / I really love to watch them roll”, het John Lennon mos gesing. Dis hoe ek ook is.

Maar soms moet ‘n mens noodgedwonge opstaan en selfs in beweging kom. Hierdie week was alreeds in ‘crazy motion’, om sommer vir Paul Simon ook aan te haal, met ‘n stimulerende sosiale teorie werkswinkel Maandag en Dinsdag en ‘n vergadering gister in Kaapstad oor die idee van ‘n Vrye Afrikaanse Universiteit.

Neville Alexander

Neville Alexander

Wat die toekoms van hierdie projek is, en wie se belange uiteindelik daardeur gedien sal word, sal die tyd ons leer. Maar die visie, soos gister weer deur Neville Alexander, Kwesi Kwaa Prah, Christo van der Rheede en ander uiteengesit is, is beslis inspirerend, moontlik revolusionêr, en laat ‘n mens nogal hoop kry vir die haalbaarheid van alternatiewe akademiese ruimtes in Suid-Afrika — hetsy in Afrikaans of enige ander taal. Kom ons kyk wat in die volgende jaar of wat op hierdie front gebeur!

Op ‘n ander noot: Vir diegene wat belangstel, hier is die skakel na ‘n onderhoud wat ek met die filosoof Bert Olivier gevoer het vir LitNet Akademies. Die tema van die onderhoud is ‘n onlangse artikel van Olivier oor die psigoanalise en die ekologiese krisis.

Nou moet ek begin pak vir ‘n kongresbesoek aan Engeland. Sal probeer om ‘n keer of wat van daar af te blog!

Desmond Painter. Op soek na John Lennon Park

Monday, June 7th, 2010

Dit was my laaste Saterdagoggend in daardie stad, en dit was tog ondenkbaar dat ek sou vertrek sonder om die Lennon Park te besoek. Lennon, ja, soos in John Lennon, die beroemde, bebrilde Beatle. En nee, die stad waarna ek verwys is nie Liverpool, Londen of New York nie. Dit is Havana — die een in Kuba, nie die een in die Vrystaat nie.

Die John Lennon Park is in een van die stiller, minder toeristiese dele van Havana; die middelklasbuurt (ja!) Vedado. (Mense stel skynbaar meer belang in Havana se krotbuurte, soms omdat hulle armoede romantiseer, soms omdat hulle Kuba en veral Castro wil demoniseer…) My Rough Guide to Cuba se kaart van die buurt het die straatuitleg nie baie akkuraat weergegee nie, en ek het knaend verdwaal, maar elke nou en dan het een van die immer vriendelike Kubane my darem weer op die spoor gehelp. 

Kubane is natuurlik oor die algemeen baie ernstig oor musiek, en nie net oor salsa nie. Rock, folk en rap is ook groot, en in John Lennon het beide regime en jeugkultuur iets gevind om te salueer. Die John Lennon Park word so genoem oor die lewensgrootte standbeeld van hierdie sanger wat dag in en dag uit op ‘n bankie in die son sit en waghou oor die revolusie…

John Lenon in Havana

John Lennon in Havana

Op ‘n stadium was Lennon se brilletjie knaend deur toeriste en ander musikale pelgrims gesteel. Gevolglik word die brilletjie deesdae slegs opgesit as jy vra of jy ‘n foto kan neem. ‘n Middeljarige dame, wat die standbeeld gedurende die dag oppas, staan dan op, haal die bril uit haar handsak, en sit dit liefderyk vir John op. Na jy jou foto geneem het, haal sy dit weer af, sit dit veilig terug in haar handsak. Sy glimlag vriendelik en maak maar te graag geselsies in haar gebroke Engels. Ja, sy hou van Lennon se musiek, en as sy toesighouer en brilhouer word sy ‘n staatsalaris betaal…

Ek loop tevrede en lomerig my laaste draaie deur hierdie beeldskone, vervallende stad, terwyl ek neurie: “A working class hero is something to be…”

  •