Posts Tagged ‘John Miles’

Johann Lodewyk Marais. Breytenbach en Opperman in die hof

Tuesday, September 15th, 2009

In 1977 het ek Breyten Breytenbach se tweede verhoor in die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria bygewoon. Ek en ‘n skoolvriend, Costa Georghiou, wat later ‘n diplomaat sou word en nou as politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Johannesburg verbonde is, was byna elke dag daar. Ons is selfs ‘n keer op die trappies van die gebou afgeneem en op SA Mirror/SA Spieël, die destydse nuusprogram wat in rolprentteaters vertoon is, getoon.

Die digter D.J. Opperman was lank siek weens lewerversaking, maar nadat hy wonderbaarlik herstel het, het hy onder meer na die noorde gereis en Breytenbach se hofsaak bygewoon. Ek het hom (baie maer, gedas en in ‘n pak klere) die eerste dag saam met sy aantreklike dogter, Diederi, in die deur van die hofsaal sien verskyn, terwyl ons gewag het vir die hofverrigtinge om te hervat. Hy het later by Rykie van Reenen in die persbank gaan sit en gesels en tot laat die middag gebly toe die hof vir die dag verdaag is. (As ek reg onthou, het die regspanne na die bande van die gesprekke tussen Breytenbach en die bewaarder, Lucky Groenewald (wat het van hom geword?), geluister.)

Die hofsaak is die volgende dag hervat. Dit was ‘n besondere geleentheid, wat my vandag nog hoendervel gee. Breytenbach is ingebring en het in die beskuldigdebank bly sit totdat regter W.G. Boshoff hom na die getuiebank geroep het. Breytenbach het opgestaan, na regs beweeg, verby die persbank waar joernaliste soos Rykie van Reenen en Martin Welz (van die faam van Breyten en die bewaarder (1977)) gesit het.

Opperman was weer tussen hulle. Toe Breytenbach by hom kom, het Opperman opgestaan, hom met sy maer hand ‘n handdruk gegee en waarskynlik sterkte toegewens vir wat voorlê. Daarna het Breytenbach na die beskuldigdebank gegaan waar hy die eed voor regter Boshoff afgelê en sy advokaat, Johann Kriegler, hom begin ondervra het. In die gehoor het mense soos Ampie Coetzee en John Miles gesit. Almal was bewus daarvan dat ‘n stuk geskiedenis besig was om te ontvou.

Daardie dag was die Afrikaanse poësie in solidariteit bymekaar.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.

  •