Posts Tagged ‘Jose Saramago’

Desmond Painter. José Saramago (1922-2010)

Monday, June 21st, 2010

José Saramago

José Saramago

“The only miracle we can perform is to go on living, said the woman, to preserve the fragility of life from day to day, as if it were blind and did not know where to go, and perhaps it is like that, perhaps it really does not know, it placed itself in our hands, after giving us intelligence, and this is what we have made of it…”

 

 

Een van die grootste skrywers van die laaste 40 jaar, die Portugees José Saramago, is op Vrydag, 18 Junie 2010, oorlede. Hy was al 87, maar sy dood was nogtans onverwags: hy was steeds baie produktief, en soos Philip Roth het hy van sy beste werk in sy latere jare gelewer. ‘n Jaar gelede was hy nog energiek genoeg om homself as kandidaat vir die Europese Parlement verkiesbaar te stel.

Saramago se bekendste roman is seker Blindness, en met reg: dit is ‘n meesterlike werk, ‘n politieke allegorie soos min ander. Ek het eers laasjaar daarby uitgekom om dit te lees (dit is in 1998 gepubliseer, die jaar waarin hy ook die Nobelprys gewen het), maar dit was die wag werd. Blindness het my wind uitgeslaan, op dieselfde manier as wat Cormac McCarthy se The Road dit gedoen het. Boeke wat die ellende van ons wêreld sonder terugdeinsing in die oë kyk. Wat ons nood dieper loop soek as in die ‘decline of the West’ of ‘n gewaande ‘clash of civilisations’. Wat weier om terug te val op identiteits- en uiteindelik rasgebaseerde ‘oplossings’ vir ons globale probleme. Vir Saramago, niks van die lui, selfbevredigende en skaamtelose terugskarrel na ‘kultuur’, ‘identiteit’ en die ‘eie’ wat soveel van die openbare diskoers in Europa vandag so onverkwiklik maak nie! (En waarby wit politieke opportuniste in SA so graag ideologies aansluiting en legitimering soek: drs. Roodt en Mulder, o.a….)

Saramago was in hart en niere altyd eerstens ‘n Portugees, verlief op die Iberiese streek; en hy was sinies oor die idee van ‘n ‘verenigde’ (politiek-ekonomiese) Europa. Hy het die anti-demokratiese, sentraliserende gevolge van die EU en die slopende maatskaplike resultate van die IMF-logika en neo-liberalisme egter nie as ‘n domastrante neo-nasionalis teengestaan nie (met immigrante en Moslems wat die maklike sondebokke word), maar as ‘n beginselvaste, onberouvolle kommunis — iets wat hom heelwat lesers gekos het, maar wat tog nie los te maak is van die maatskaplike kritiek en visie wat hy in sy romans geartikuleer het nie.

(Nie dat hy ‘n onkritiese kommunis was nie. In 2003, byvoorbeeld, het hy sy jarelange vriendskap met Fidel Castro verbreek, na Castro se hernude onderdrukking van dissidente in Kuba: “Castro cheated my dreams”, was sy kommentaar toe. Tog, dit was as kommunis, nie ten spyte van sy kommunisme nie, wat hy ‘n meester van ‘n soort ‘spekulatiewe fiksie’, ‘n fiksie van die ‘wat indien?’ geword het.)

Vroeër in sy loopbaan het Saramago wel ook gedigte gepubliseer, maar dit was veral as romansier wat hy sy merk gemaak het. In een van sy onlangse novelles, Death at Intervals, het ek ‘n passassie gemerk waarin die hoofkarakter, ‘n tjellis, ‘n stuk musiek eien as sy ‘musikale portret’: ‘assuming such a thing really were possible in music, they would find his protrait not in any cello composition, but in the briefest of chopin etudes, opus twenty-five, number nine, in g flat major. […] in the space of fifty-eight seconds chopin had said all there was to say about someone he could never possibly have met. […] those fifty-eight seconds of music [is] a rhythmical and melodic transposition of every and any human life, be it run-of-the-mill or extraordinary, because of its tragic brevity, its desperate intensity, and also because of that final chord, like an ellipsis left hanging in the air, something yet to be said.’

Ja, selfs 87 jaar vlieg in ‘n oogwink verby. 

  •