Posts Tagged ‘kanonisering’

Joan Hambidge. Herkanonisering (3)

Saturday, February 19th, 2022

I

In my vorige rubriek is daar verwys na (herkanonisering).

Herkanonisering kan beteken dat ‘n digter se posisie hersien word soos Daniel Hugo dan doen in sy bespreking van De Waal Venter se jongste bundel Vrugbeginsel (Naledi) op Litnet:

Sy slotwoorde lui:

“De Waal Venter se digbundels was te dikwels verwaarloosde boeke in die verskroeiende son van die literatuurkritiek. Lees hom; hy het veel te bied.”

https://www.litnet.co.za/vrugbeginsel-deur-de-waal-venter-n-resensie/ Besoek 18 Februarie 2022

Herkanonisering is ook die proses wanneer digters ‘n “verdwene” digter weer lewend maak. Olga Kirsch is so terug gebring in ons digkuns via Johann de Lange en in Bernard Odendaal se jongste bundel Nootvat. Kwashaal. Stapel (2021): http://joanhambidge.blogspot.com/2021/05/resensie-bernard-odendaal.html Besoek 18 Februarie 2022

So dig De Lange oor haar in sy bundel Duimnaelsketse:

 

Elisabeth Eybers & Olga Kirsch 

 

Kaapstad 1979, ’n laaste besoek

Vriende, én eensame ballings van ’n taal,

het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet

in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal

‘n gedeelde taal gewissel, & gegroet.

 

http://joanhambidge.blogspot.com/2020/09/resensie-die-meeste-sterre-is-lankal.html Besoek 18 Februarie 2022

Ons dink verder aan die terugkeer van Freda Plekker en Elizabeth M. Du Toit, die digter van Towertuin (1968).

Hugo skryf insigryk oor Du Toit:

Toe Elizabeth C.M. du Toit (1925-1964) in 1945 met In die verbygaan gedebuteer het, was sy slegs die derde gebundelde vrouedigter in Afrikaans. Haar voorgangers was Elisabeth Eybers (Belydenis in die skemering,1936) en Olga Kirsch (Die soeklig, 1944).

https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC112031 Besoek 18 Februarie 2022

Hy wys op die onsimpatieke ontvangs van die literatuurkritici, maar het bewondering vir haar hantering van die rondeel en villanelle.

Hy wys op ‘n geslaagde triolet “Werklikheid”:

 

Die wind waai sag; die bome ruis;
die blomme buig en swaai en geur.
Dit is so stil en niks gebeur.
Die wind waai sag, die bome ruis.
Mag hierdie droom my dae kleur
wanneer my hart wild roep en bruis;
die wind waai sag, die bome ruis,
die blomme buig en swaai en geur.

 

Hugo as digter kyk simpatiek na haar gedigte anders as die literatore wat verminderend oor haar werk is en woorde gebruik soos “presieus” en “selftroeteling”. Dekker, Antonissen, Kannemeyer is volgens Hugo vol in die kol met hul negatiewe takserings, maar gee egter krediet aan haar aanwending van moeilike vorme.

Hugo, die digter, kyk dan eerder na tegniek en klankpatrone. Hy wys ook op die gebruik van die Orléans-rondeel (deur die rondele van die hertog Charles d’Orléans (1394 – 1465).

Sy beoefen ook die rondeau, die sg. Derde Vorm van die rondeel met twee rymklanke met versreëls.

Hugo verwys na geslaagde en minder geslaagde vorme van die villanelle in Afrikaans en hy wys tereg daarop dat hierdie ‘n liriese vorm is wat deur te lang versreëls ondermyn word:

Vir ‘n werklik geslaagde villanelle moes die Afrikaanse poësieleser tot 1997 wag, toe Johann Lodewyk Marais se gedig “‘Nonnetjie-eend” in die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet verskyn het, voer Hugo verder aan:

 

Donkeraand by die pan hoor ek hom luid
asof uit die niet oor my sip sip siee.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy kom van ‘n kleiner pan verder suid
en was ‘n stippel wat teen sterre vlie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

Alleen gaan hy by die ander aansluit
in die palmiet, skuins teen die aandwindjie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy daal om die nag op die pan te slyt
en vou sy vlerke as hy stil inski.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

‘n Skadu teen swart swem hy stadig uit:
nou sien niemand waar nie, of wat of wie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Veilig teen die wakker jagters se kruit
wei hy waar hulle hom nie sal kry nie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

 

Hierdie artikel (in Tydskrif vir letterkunde, 41.1) bewys dat digters wanneer hulle ander digters lees nie klinies-afstandelik lees nie, maar tegniese kwessies kan aanraak wat hulle na aan die hart lê.

Gaan lees ook verder oor die rondeel / rondelet in Literêre terme en teorieë:

https://www.litterm.co.za/index.php/r/1246-rondeau-rondeel-rondel-et Besoek 18 Februarie 2022

(Ek is uiteraard die beoefenaar van die rondelet in Afrikaans.)

A.P. Grové skryf insigryk oor die rondeel, maar ek dink Hugo se binnekyk wys ons daarop dat digters soos sjefs nie opgewarmde kos wil eet nie.

https://www.litterm.co.za/index.php/r/207-rondeel Besoek 18 Februarie 2022

Sy slotopmerking is vol in die kol:

 

Elizabeth C. M. du Toit is nie deur die literêre kritiek genoeg krediet gegee vir haar baanbrekerswerk met die aanwending van ingewikkelde klassieke Franse versvorme in ‘n rymarm taal soos Afrikaans nie.

 

II

Harold Bloom meen in The Anxiety of Influence (1973) dat die digkuns ‘n vorm van “verse criticism” is. Die goeie digter skep sy eie kanoniseringsproses: praat met die dooies en open ‘n nuwe ruimte vir sigself.

Die digter is altyd besig met ‘n gesprek: ‘n selfgesprek of een met ander digters. Die geslaagde digter en die onthoubare een is daardie digter wat ‘n fyn balans handhaaf tussen tegniek en tema.

Hierom is Bloom se lesings van Wallace Stevens so belangrik.

Herkanonisering is altyd tussen hakies.

Bibliografie:

Bloom, Harold (red). 1982. Agon: Towards a theory of revisionism. New York: Oxford University Press.

 

  1.     A map of misreading. New Haven: Yale University Press.
  1.      The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
  1.     How to read and why. New York: Schribner.

 

Naskrif:

Op ‘n reis deur Frans-Kanada skryf ek hierdie vers vir Freda Plekker. En Kanada is waar Elizabeth M. du Toit woonagtig was …

 

O wat het geword van Freda Plekker?

– ‘n hartseerballade

 

Gesiglose, verwaarloosde Freda Plekker

o waar is jy nou?

Is jy dalk in die diepsee-waters,

saam met skulpfluisteraars

in ‘n klein submarien soekend na die Titanic

se oorblyfsels?

Is jou gesig perdalks

weggevreet deur skulpe,

seewier en klein vissies?

Of is jy miskien by Peggy’s Cove

besig om ‘n grys poskaart te versend?

Of in Halifax

in die skeepskaptein se log-boek opgeskryf:

“hou één kamer oop in jou hart”.

O Freda Plekker,

jy het nie saam met die Titanic gesink;

ek lees jou SOS’e,

dra die “vermoeide bagasie” van jou woorde.

 

L’envoi

 

Party digters sterf salig-salig soos ‘n Piet Snot;

ander sommer-sommer net aan ‘n suurstoftekort.

 

– Joan Hambidge uit Vuurwiel (2009).

Joan Hambidge. Kanonisering II

Wednesday, February 16th, 2022

 

 

Poetry is a love affair with language.

Ottone M. Riccio

 

I

Alle digters behoort tot ‘n kanon. Verskillende letterkundes vestig ‘n bepaalde tradisie, maar daar is bepaald iets soos erkende goeie tekste.

Só skryf die resensent Charles Bainbridge oor John Stammers se bundel Interior Night:

The hip melancholic, the arch dissector of love affairs and libidos, who strolled through Stammers’s earlier work, has been cast aside for something much darker in this, his third full-length collection. There’s an increased fascination with narrative, with a succession of voices trapped in the murkier reaches of contemporary nightmare. Satire and anger simmer constantly below the surface.

 

“My personality lacks all cohesion. I am in fragments.” lees ons ook oor die digter se ervaring van homself.

https://www.theguardian.com/books/2010/may/01/interior-night-poetry-john-stammers

Besoek 9 Desember 2020

By Stammers is daar deurgaans ‘n gevoel van ontreddering en troosteloosheid. Maar hy sorg dat die gedigte “in beheer bly”.

En kanonisering behels dat jy die tradisie moet ken en wanneer jy as digter hiervan wegbreek – soos sommige digters wel regkry – praat dit terug met die kanon.

Natuurlik is die resensent of kritikus ook verbind aan die tradisie.

T.T. Cloete se satiriese gedig “Die kritikus” verskaf antwoorde:

 

ek fanie vanderbag

is die maatstaf

al wie groter as ek is lag

ek tot formaat af

 

gee my ‘n storie

wat vlot lees skryf net vir my soort

en vir mý wat niks anders wil hoor nie

soos dit hoort

 

alle skrywers met pryse

en eregrade

al die wyse

literatore en rade

 

almal hoor hier is dwaas

vra my fanie vanderbag

koerantskrywer graphaas

ek het smaak met gesag

 

ek weet van klein en van groot

weet ek van eg en oneg

van wie vir kuns of brood

skryf wat goed is wat sleg

 

luister na my ek groot bee ek,

daar moet tog goeie boeke wees

sê ek fanie vanderbag groot gee ek

soos van “Die skoenmaker en sy lees”

 

A.P. Grové gebruik dit as ‘n voorbeeld in Woord en wonder (1986 uitgawe) om die grootdoenerige, selftevrede kritikus hekelend aan die kaak te stel. Beide Cloete en Grové het vir dagblaaie geskryf, maar altyd met werklike gesag en met ‘n wye belesenheid.

En Cloete het as digter met sy debuut Angelliera (1980) ‘n digterlike stroomversnelling veroorsaak. Kyk hoe het hy ander digters beïnvloed met sy gedig oor Marilyn Monroe geplaas op Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe:

Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake.

 

 

Marilyn Monroe foto in blou

T.T. Cloete

 

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp

 

volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe

in ‘n volstrek

leë blou

ruim vertrek

 

die spanbroek van plooilose blou materiaal

is ‘n vliesdun vel

wat alles wat binne is kaal

na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

 

asof dit by alles pas

– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –

hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas

wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor

hoe skaamtegroot die lippige mond

oop lag pront

pruilend nat rooi rond

gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond

 

vir die nakende detail in die bygesprek

– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek

op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek

elke besonderheid is op sy plek

 

deur die volstrekte stilte heen hoor groot

praat die deurgefluisterde skoot

oop en bloot

nakont vlesig groot

 

wat gloei onder die vals-egte dubbele huid

juig deur alle lippe en wange uit

dat dit tuit dat dit tuit

uitjubelend gierig uitnodigend uit

 

vrouwees Simone de Beauvoir

is deur huid en deur haar

oop en openbaar

gekleed sigbaar

 

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie

huid en haar weet nie van lieg nie

 

[‘Marilyn Monroe foto in blou’ deur T.T. Cloete in Angelliera (1980).]

 

 

http://johanndelange.blogspot.com/2010/03/marilyn-monroe-met-n-omweg-kan-bysake.html  Besoek 15 Februarie 2022

 

 

Elisabeth Eybers se “Dagbladresensent” (Versamelde gedigte,  2013) is ook vol in die kol:

 

Waar hy noukeurig aankruip knars die oes

voor die onwrikbre ywer van die vraat

wat ál wat groen en glinsterend is verwoes

en slegs ‘n vaal uitwerpsel agterlaat.

 

Hier die digter wat “ingedoen” voel deur die resensent. Maar uiteindelik word boeke meer skade berokken deur ‘n applouskomitee sonder kundigheid as ‘n kritiese bespreking. Of uitgewers wat nie die tradisie verstaan nie en bundels uitgee wat verdwyn …

 

II

Terug na Stammers.

Stammers is ‘n bekroonde digter en sy beroemde gedig “Testimony” wys hoe hy op sy tradisie reageer.

 

Testimony

 

You guided me through Dublin and Derrida
and I went along with you though you told me
that one could not be “wrong” or “right”,
that these were “words”. You stressed
there was no such thing as the canonical text,
nor even the next best thing. You drew me
into Bewley’s Oriental Café standing cloned
in its own postmodern pastiche
and Grafton Street. There, over sticky buns
interpolated with glacé cherries that pressed red imprints
into the buns’ white substance, you somehow de-conjured up
the self-styled “writer”
of the Codex Ulysseus
so that when he put in a radical failure of appearance
you were able to sever any connection
between author and oeuvre,
“What is it, after all, that is authorized?”,
you said, and gave an allusive nod,
with your feathered black fringe and Irish-blue eyes,
to Althusser whilst continuing to assert
recondite doctrines through unpursed lips
pinkened with cerise so that I tumbled
head-long into ideological concurrence with you:
I knew what you were talking about and I didn’t care.

From there we pursued a line of argument
along the General Post Office where I read the proclamation
In the Name of God and the Dead Generations
leaded into the brass plaque beneath Cuchulainn
and I inserted an interpretative finger into bullet holes
typed there on the wall in belt-fed lines;
the beautiful stone, the terrible queerness
of just standing there with the paths the bullets had taken
passing right through me. So we were pleased
to walk the free streets and follow
our merely quodlibetical ratiocinations
in the sight of dead heroes and live tin-whistlers.

But, when we crossed the singular Trinity quad
and perused the Book of Kells
etched forever on the stretched skin of unknown dead sheep,
I felt a revision begin.
There were its principal letters lit up
like O’Connell Street on Paddy’s Day night,
knocking seven bells out of itself,
fiddling and chanting and beating the bodhran
to the infinite glory of God
and the resurrection, with its parchment
grey from multifarious eyes draining the light from it
in rays, surveying its apostolic dogmas inscribed there
by quills snug against ink-stained finger calluses,
the nibs screeching like peewits
against the manuscript’s interface, relentless,
taking pains and decades
to give the work the full weight of God’s law.

So it was that I saw two sides of an antinomy take hold
and go to undo me like a zip
and I saw that it was writ
that we should be the critics of our own juxtaposition,
to deconstruct what there was between us
and discover if it was all just so much periphrasis
or something more.

Therefore when we found ourselves
beneath the spiral staircase
at the hub of the circular bookshop, in Tomes St
I think it might have been,
with the steeped banks of shelves in aisles that receded
on all points of the compass like the world itself, I delved
into the shelf labelled Poetry / Irish / in English,
came up with The Collected of yer man,
unread and silent straight from his tongue,
which I held out to you and you took hold of
so it spanned our two hands like an arc of electric
that cracked and spat between us,
both wanting to let go, each unable to.

© 2005, John Stammers

 

https://www.poetryinternational.org/pi/poem/6986/auto/0/0/John-Stammers/TESTIMONY/en/tile
Besoek 15 Februarie 2022

 

‘n Briljante gedig wat al die kwessies aanspreek oor kanonisering.

Die gesprek tussen twee figure met verskillende standpunte word hier skerp belig:

 

and I saw that it was writ
that we should be the critics of our own juxtaposition,
to deconstruct what there was between us

Al die geleerde en slim verwysings word hier poësie en terselfdertyd ‘n metakommentaar op die lees- en skryfproses en hoe kanonisering werk. Op my dag self in Dublin op die spoor van James Joyce se roete in Ulysses gestap.

https://thefoodellers.com/en/james-joyces-ulysses-route-dublin Besoek 15 Februarie 2022

 

En The Book of Kells is ‘n belangrike interteks:

 

The Book of Kells is a gospel book, containing the four accounts of Christ’s life that form the New Testament of the Bible. It is one of the few precious survivals of an influential tradition of book production that flourished in the Irish Church in the eighth and ninth centuries.

 

https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=the+book+of+kells

Besoek 15 Februarie 2022

 

So tussen die klassieke tekste (The book of Kells) tot by Ulysses deur James Joyce tot al die ander Ierse digters word hier ingebed: Yeats, Seamus Heaney en natuurlik Paul Muldoon, wat ook musikant is en verbonde is aan Princeton. Ek het hom ses jaar gelede ontmoet, in Kaapstad, toe ek vir sy studente klas gegee het op ‘n skip wat om die aarde reis … (Semester Abroad).

Stammers is Brits en bekroon o.a. met TS Eliot-, Whitbread en vele ander. My kopie van Panoramic Lounge-Bar (2001) is al stukkend gelees.

Tekste:

  • Panoramic Lounge-bar (Picador, 2001)
  • Buffalo Bills (pamphlet, Donut Press, 2004)
  • Stolen Love Behaviour (Picador, 2005)
  • Interior Night (Picador, 2010)
  • The Picador Book of Love Poems (Editor, Picador, 2011)
  • Gerard Manley Hopkins – Poet to Poet (Editor, Faber and Faber, 2012)

Ons praat volgende keer oor (herkanonisering).

 

Bibliografie

 

Addonizio, Kim. 2009. Ordinary genius. A guide for the poet within. Londen: W.W. Norton.

 

Aucamp, Hennie. 2010. Oor en weer. Pretoria: Protea.

 

Barthes, Roland. 1985. The grain of the voice: Interviews 1962–1980. Londen: Jonathan Cape.

 

Bloom, Harold. 1982.  Agon: Towards a Theory of Revisionism. Londen: Oxford University Press.

 

Boulton, Marjorie. 1953. The anatomy of poetry. Londen: Routledge & Kegan Paul

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.

 

Eliot. T.S. 1920. The Sacred Wood. Londen: Methuen.

 

Grové, A.P. 1984. (vierde druk). Woord en wonder. Pretoria: Nasou.

 

Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Dell.

 

Padel, Ruth. 2007. The poem and the journey. Londen: Chatto & Windus.

 

Paglia, Camille. 2005. Break. Blow. Burn. New York, Pantheon Books.

 

Riccio, Ottone, M. 1980.  The intimate art of writing poetry. Londen: Prentice Hall.

 

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

 

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

Ullyatt, A.G.. 1994. A profusion of choices. Pretoria: Van Schaik.

 

Joan Hambidge. Kanonisering

Sunday, January 23rd, 2022

 

 

 

I

Deur die jare is daar baie geskryf oor kanonisering en die kanoniseringsproses. Oor hekwagters. Oor standaarde. Oor sogenaamde gehaltebeheer. Toenemend binne die Afrikaanse letterkunde word hierdie prosesse uitgedaag deur klein uitgewers wat bundels publiseer wat nie heeltemal op standaard is nie of Facebook-toejuigings wat gedigte aanprys. Die gevoel behoort te wees dat die tyd mistastings sal uitwys.

Hoe resenseer ‘n mens ‘n debuutbundel byvoorbeeld? Sekerlik moet ‘n debuut gemeet word aan belangrike debute in Afrikaans. En hier sou ‘n mens ‘n hele handvol belangrike tekste kon uitsonder en digters in die Nuwe stemme-reeks o.a. Waarom, vra ‘n mens jouself af, bly Plektrum (1970) steeds so ‘n uitsonderlike bundel? Deurgekomponeer en deurleef. Teruggehou deur die mentor DJ Opperman en eers na ‘n lang reis (en ander belewenisse) het hierdie bundel sy staanplek onder die sterre gekry. Waarom word Eybers, Breytenbach en Krog (o.a) nou onlangs met ‘n keuse uit hul verse vereer?

Krog se ‘n Vry vrou in 2020 by H&R (deur Karen de Wet saamgestel) kyk op ‘n nuwe manier na Krog se tekste en gedigte kry nuwe betekenisse. Ena Jansen kyk inderdaad in Immigrant (H&R, 2021) na Eybers as die ewige buitestaander, die digter van die tussentaal.

Breytenbach ook as woordsmid lees ons netjies verpak deur Charl-Pierre Naudé. Hierdie een het verskyn in 2019 by H&R.

Opperman se Groot verseboek was deur die jare ‘n “barometer van gehalte” met vele antologieë wat rondom temas ander keuses uitgebring het. Deur die jare was ons bekend met die resensies van HJ Snyman in Standpunte wat kort en kragtig ‘n bundel kon inskat. Daar was Brink se Rapport-resensies wat eweneens korte mette kon maak van pretensie of vertoon. Dit was Brink wat by geleentheid ‘n debuut afgeransel het in een paragraaf, omdat daar te min blyke, volgens hom,  van poësie was in die bundel.

Daar was gesiene en gesoute resensente soos Merwe Scholtz, A.P. Grové, TT Cloete en Rena Pretorius (o.a.) wat bakens bly.

 

II

 

In Beeld van 17 Januarie 2022 verskyn ‘n resensie van Meer as woorde deur Rina Cascione (Naledi) deur Johan Myburg. Hy verwys na die verskuilde betekenisse en dubbelbetekenisse wat deurgaans knap hanteer word. Die digter dig met ‘n helder stem en hy verwys na die deurgekomponeerdheid.

Ek gaan akkoord met die resensent se siening dat die losse vertalings van Cesare Pavese, Jorge Luis Borges en Robert Frost goed is.

Of die bundel as geheel sy man (of vrou) kan staan teen debute soos Angelliera of Akwarelle van die dors, val te betwyfel.

Die “gestalte van taal” is altyd deel van die betekenis van ‘n gedig. Trouens, dis waaroor alle goeie gedigte uiteindelik handel. Nie oor iets nie, maar oor die hermeneutiese spel wat met die leser gespeel word. In hierdie opsig is Henning Snyman se Mirakel en muse (Perskor, 1983) steeds ‘n belangwekkende handleiding. Goeie poësie werk met implikasie en implikasie-verskynsels.

In hierdie verband is Camille Paglia se bloemlesing van 2005, Break blow burn ‘n belangrike versameling oor wat klassieke gedigte onthoubaar en goed maak. Hieroor het ek destyds op my blog geskryf:

In hierdie studie stel sy dit haar ten doel om die belangrikheid van “close reading” weer te beklemtoon en volgens haar is die definsie van ‘n goeie gedig die volgende: “A good poem is iridescent and incandescent, catching the light at unexpected angles and illuminating human universals – whose very existence is denied by today’s parochial theorists. Among those looming universals are time and mortality, to which we all are subject. Like philosophy, poetry is a contemplative form, but unlike philsophy, poetry sublimanlly manipulates the body and triggers its nerve impulses, the muscle tremors of sensation and speech”(. p. xiv). Om gedigte boonop reg te lees, beteken vir Paglia dat jy perseptief moet wees en ook ‘n flinke intuisie moet hê. Die leesaktiwiteit word iets van ‘n waarseggery en die leser word ‘n orakel, ‘n sibille, ‘n interpreteerder van drome…

Rochelle Kraut se bekende gedig lees Paglia as “tough, blunt, pragmatic”.

 

“My make-up”:

on my cheeks I wear

the flush of two beers

on my eyes I use

the dark circles of sleepless nights

to great advantage

for lipstick

I wear my lips

 

Met min woorde word alkoholisme en aanranding weergegee.

 

Ezra Pound (1885 – 1972) se beroemde gedig:

 

In a Station of the Metro

    The apparition of these faces in the crowd:

    Petals on a wet, black bough.

 

is al gelees as 14 woorde wat speel asof dit ‘n sonnet wou wees.

Of is dit dalk ‘n haikoe met die spanning tussen natuur en kultuur?

Kyk hoe het TT Cloete hierdie gedig van Louw gelees:

 

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 23 Januarie 2022

 

III

 

Teen Helderberg is die debuut van Louis du Plessis, gepubliseer deur Naledi, met ‘n mooi omslag van Christelle Cronjé.

Hierdie digter, volgens die lewensskets, is ook ‘n ouer persoon soos Cascione. Die digter is opgelei in politieke filosofie en politieke wetenskap. Hy is o.a. redaksielid van die Verklarende politieke woordeboek.

Hy was o.a. dosent in politieke wetenskap aan die Fakulteit Krygskunde aan die US.

Die gedigte waaier uit tussen die persoonlike ervarings, ontnugteringe en die wyer politieke en historiese landskap. Die digter het ‘n besondere kennis van die geskiedenis en die wêreld. Op die binneflap wys hy op die kontraste wat hy beleef (het), soos byvoorbeeld natuur versus stad; jeug versus ouderdom; lojaliteit versus vryheid; verstening versus herlewing; konflik versus vrede; werklikheid versus verbeelding; slagofferskap versus veerkragtigheid; kosmos versus enkeling …

Die afdelings heet Enkelpad, Dubbelpad, Kruispad, Kronkelpad, Grondpad.

Effens oordrewe titels om die gedigte te begelei of te verpak. Daar is ‘n handvol mooi en onthoubare gedigte in hierdie bundel, soos die openingsvers “Simpel ploegperd” (11).

Waak egter teen die uitroepteken en die gebruik van name wat die gedig in die hier-en-nou plaas, skryf hierdie leser in die kantlyn.

 Al wil die gedig die menslike kondisie van Jan en Sonja in die nou opvang (“Met oorvloed gevul”, 113), moet dit verder beweeg.

Dieselfde geld “Boesemvriende” (27) wat te veel van ‘n “local habitation and a name” word.

Menslike universaliteite word deur gedigte bewys en uitgewys, aldus Paglia, maar die goeie gedig is die een wat jou onverwags betrap. Die digter het wyd gelees, in die filosofie, die teologie en die natuurwetenskap, maar dit werk ondermynend in (dikwels), omdat dit te kontemplatief raak. Ek dink hier aan “Hy wéét hy weet” (127) oor empirisme en apriorisme, o.a.

Kortom: hierdie bundel het te veel gedigte (142 bladsye) sodat goeie gedigte verdwyn. Soos “Brander” (136), ‘n oktet. “Kliptafels” (108), “Tuinroete” (86) met sy sterk poëtiese oomblikke wat egter ondermyn word deur die duidelike opdrag aan Leon en Lana in die gedig. ‘n Gedig is helaas nie ‘n getuigskrif nie; ook nie ‘n plek vir dankie-sê nie …

Hierom is die afdelings “Uur” en “Onsekerheid” sterk as gedigte.

“Wene” (85) oortuig as gedig in die pakkende slot.

“Gewildheid” (39) is sterk-satiries oor die onafhanklike kandidaat se illusie(s). “Reisigers” (30) is navrant en pynlik oor ‘n spreker wat meer word as herkenbare een.

Opperman het in ‘n lesing in my Honneursjaar (1979) opgemerk dat vyf onthoubare gedigte die publikasie van ‘n bundel regverdig.

 

IV

 

Naledi bring soms goeie bundels uit en veral die vertalings staan uit.

Natuurlik moet daar nuwe stemme wees, maar resensies moet ‘n soort Janus-aanslag openbaar. Wat het reeds verskyn en hoe is hierdie nuwe bundel tersaaklik?

‘n Terugblik en vorentoe-kyk.

Is daar iets soos die universele, goeie gedig? Tog is daar. Hierom lees ons steeds die klassieke meesters in alle tale; iets wat Harold Bloom uitwys in sy studie van 1994 The Western Canon.

Min digters debuteer met ‘n bliksemslag. Party verdwyn en keer terug (Olga Kirsch, onder andere) en die kanon word deur bloemlesings aangevul en “ondermyn”, soos Karen de Wet se Vers & vrou – 258 gedigte (NB, 2020).

Bloemlesings is tematies gerig; algemene verseboeke fokus op die tegniese kwaliteite en hierom bly Opperman se Groot verseboek ‘n barometer van gehalte. HP van Coller se Perspektief & Profiel (JL van Schaik, 1999) gee profiele van skrywers. En die verskillende benaderings ten spyt, bring ons telkens terug by die belangrikste kwessies in die letterkunde: daar is bakens, daar is nuwelinge, daar is ‘n gesprek.

En debutante moet kennisneem van die voorgangers. Net soos resensente moet weet watter belangrike debute het die kanon verander. Opperman, Blum, Breytenbach, Cloete …

Te veel om  op te noem.

En kundige resensente?

Hulle bestaan wel. Hulle skryf deesdae dalk net te versigtig.

Politiek-korrektheid? Te veel bekendheid met mekaar? Vrees vir ongewildheid?

‘n Goeie gedig dra ons deur moeilike tye en ‘n kritiese resensie ook.

 

Bronne:

 

Oor Louw

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 23 Januarie 2022

 

 

Oor kanonisering

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=kanonisering Besoek 20 Januarie 2022

Oor Meer as woorde

https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/deurleefde-ervaring-met-n-fyn-aanvoeling-verwoord-20220116 Besoek 20 Januarie 2022

 

Oor Paglia

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=break+blow+burn Besoek 23 Januarie 2022

 

Oor local habitation

The poet’s eye, in a fine frenzy rolling,
Doth glance from heaven to Earth, from Earth to
heaven,
And as imagination bodies forth
The forms of things unknown, the poet’s pen
Turns them to shapes and gives to airy nothing
A local habitation and a name.

—Spoken by Theseus in Shakespeare’s A Midsummer Night’s Dream
Act 5, scene 1, lines 12–18

https://shakespeare.folger.edu/shakespeares-works/a-midsummer-nights-dream/quotes/5-1-18-a-local-habitation-and-a-name/ Besoek 23 Januarie 2022