Posts Tagged ‘Karel Schoeman’

Andries Bezuidenhout. Titaan

Wednesday, August 12th, 2009

Gisteraand klaar gelees aan Karel Schoeman se Titaan, oor die lewe van Michelangelo. Ek hou baie daarvan. Schoeman doen wat min mense hom kan nadoen en dit is om iemand se binnewêreld met groot historiese gebeure (en dit sluit verskuiwings in handel, asook veranderings in die tydsgees in) te verbind. Sosioloë mog dalk na die spanning tussen agentskap (‘agency’) en struktuur (‘structure’) verwys en geograwe na spanning tussen plek en skaal. As romanskrywer en historikus val Schoeman nie vas in hierdie opposisies nie, sy vertellings is besonder soepel. Dalk is daar dinge wat die vorm van die roman kan doen wat geskiedskrywing nie voor opgewasse is nie. Dalk gaan dit oor verbeelding.

Een aspek van die boek het my ontstel. Die feit dat denke en kultuur nie altyd in samelewings verruim nie. In ʼn stadium, seker weens een of ander tipe morele paniek oor dinge soos korrupsie en geweld, word mense baie konserwatief. Dan verf hulle klere oor Michelangelo se naakfigure in die Sixtynse Kapel.

Titaan herinner ʼn mens aan die feit dat vryheid soms deur elites uitgeleef kan word, terwyl gewone mense weens die werklikheid van daaglikse sloer slegs daarvan kan droom. Dis natuurlik waar populisme inkom en hoe elites dan weer die geïsoleerde enklawes van vryheid verloor.

Ek wonder of dit nie besig is om in Suid-Afrika te gebeur nie – dat die individuele regte wat ons deesdae as vanselfsprekend aanvaar nie dalk weer weggeneem gaan word nie. Ek skat die reg van gays en lesbiërs om te trou is ʼn barometer vir elkeen se persoonlike vryheid (op formele vlak ten minste, ek weet die samelewing is heel homofobies).

As dít eers onder druk geplaas word…

Andries Bezuidenhout. Rit deur koorsige Hoëveld

Tuesday, August 11th, 2009

Nou ja toe. Ek moes verlede week Ladysmith toe ry, verby Warden, Harrismith, Drakensberge met sneeu regs. Ek luister Radiohead se “Hail to the Thief” kliphard in die huurkar, voel bevoorreg omdat my eie kar se radio nou al vir meer as ʼn jaar stukkend is:

In pitch dark I go walking in your landscape
Broken branches trip me as I speak
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there
Just cos you feel it doesn’t mean it’s there…

In Ladysmith se Royal Hotel oorgeslaap. Darem tyd gekry vir ʼn paar honderd bladsye uit Titaan voor ek aan die slaap raak. Die volgende oggend weer terug Johannesburg toe gekom. Luister Leonard Cohen, sy plaat “New Skin for the Old Ceremony”:

There is a war between the rich and poor,
a war between the man and the woman.
There is a war between the left and right,
a war between the black and white,
a war between the odd and the even.

Why don’t you come on back to the war, pick up your tiny burden,
why don’t you come on back to the war, let’s all get even,
why don’t you come on back to the war, can’t you hear me speaking?

Die stuk hier onder is my eerste poging om van die dinge langs die pad en in die nuus vas te probeer vat. Dalk ook maar na ek Toast Coetzer se donker boek gelees het. Nog steeds besig met Titaan. Kommentaar baie welkom!

KOORSIGE LAND
(Winter 2009, naby Harrismith of Piet Retief)

Die Grootrivier is elders groot,
hier’s dit bloot ʼn sloot met gal
wat koud die grond in sypel.
Iemand brand ʼn bondel blare,
rook wat eenbeen regop staan
word deur wind geamputeer
en bloei dan uit die truspieëlraam.
Kaal drom populiere saam
om by are onderaards in te naald,
bloekoms krukke vir die koorsige lug,
mielielande swere wat skurf uitskif.
Deur die township se dampe is sneeu
hospitaallakens smerig op die berg se eelt.
In fondamente smeul kliniek en biblioteek.
Iemand soebat in Frans en Lingala.
Koolstowe, motorbande, brandende plastiek.
Hou hierdie landskap wat agtertoe verdwyn
vir nog ʼn ruk in kwarantyn –
dit het winter onderlede en is siek siek siek.

Johann Lodewyk Marais. SENSAL se teleurgang

Sunday, July 5th, 2009

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika ten opsigte van erfenisbewaring (en dus ook die bewaring van bronne vir die bestudering van die Afrikaanse poёsie)? Ek wil enkele fasette aanraak in die lig van my eie ervaring by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar ek van 1983 tot 1990 ’n navorser was. Die rede daarvoor is dat daar tot dusver min gedoen is om ’n bestekopname te maak van SENSAL se rol veral gedurende die 1980’s, en om sekere fasette van die instelling se bestaan krities te beskou.

 

Toe SENSAL in 1981 met dr. Charles Malan as hoof tot stand gekom het, het die Sentrum weliswaar ’n voorloper gehad. Dit was die Dokumentasiesentrum vir Afrikaans, wat in 1970 binne die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns onder leiding van prof. P.J. Nienaber geskep is en hoofde soos drr. P.G. du Plessis en Pirow Bekker aan die roer gehad het. Prof. Nienaber se privaat versameling Afrikaanse boeke het aanvanklik die ruggraat van die Instituut gevorm, terwyl hy ook ’n Bibliografie van Afrikaanse boeke en ’n Bronnegids by die studie van die Afrikaanse taal en letterkunde opgestel het om die wêreld van die Afrikaanse boek te karteer. Prof. Nienaber het egter groter planne gehad en NALN in 1973 in die hartjie van Bloemfontein tot stand gebring om as museum met uitstalruimte en as navorsingsentrum vir die Afrikaanse letterkunde te dien.

 

Veral onder dr. Du Plessis se leiding het die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns ’n redelike profiel as bewaringsinstelling vir die Afrikaanse literatuur gehad. Sedert die stigting van SENSAL onder dr. Malan het die navorsingsprofiel egter enorm vergroot en is geywer om ’n leidende inset te lewer tot die stimulering en koördinering (’n geliefde SENSAL-oriëntasie waarvoor iemand soos prof. Merwe Scholtz geen ooghare gehad het nie) van veral literêrsosiologiese navorsing oor die Suid-Afrikaanse literature. Waar SENSAL nie self oor die kapasiteit beskik het om hierdie navorsing te doen nie, is van kundiges buite die Sentrum gebruik gemaak. ’n Ambisieuse én suksesvolle uitvloeisel van hierdie inset was die reeks van ses literêre jaaroorsigte, getiteld SA literature/literatuur, saamgestel deur dr. Francis Galloway.

 

Benewens vir literêrsosiologiese navorsing is ook ruimte geskep vir die bestudering van progressiewe Sestigerskrywers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en Breyten Breytenbach. Gedurende hierdie jare was daar byvoorbeeld publikasies oor die esoteriese Leroux, waaraan ’n hand vol “uitgelese kenners” eksklusief meegewerk het, wat tot die hemelhoë kanonisering van dié skrywer se werk gedurende die 1980’s bygedra het. (Toe die Universiteit van die Vrystaat enkele jare gelede ’n seminaar oor Leroux aangebied het, is die vraag gestel of hy intussen vergete geraak het.)

 

Op 1 Oktober 1990 het SENSAL ophou bestaan en ’n jaar later is die dokumentasie wat intussen in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Kunste-inligting bewaar is na die Staatsargief oorgeplaas, waar dit sedertdien geen verdere aandag gekry het nie. In hierdie tyd het formele navorsing oor die Suid-Afrikaanse letterkunde en die befondsing daarvoor in die RGN tot ’n einde gekom. Die einde van SENSAL, waaroor géén literêre haan gekraai het nie, het gekom toe dr. Tjaart van der Walt president van die RGN was en die organisasie te midde van snelle politieke hervorming en die meegaande navorsingstendensies ’n dramatiese koersaanpassing gemaak het.

 

Van die ideale tydens die RGN se herstrukturering was om groter legitimiteit te verkry (in daardie jare bykans ’n onbereikbare ideaal) deur navorsing te doen wat deur kliënte van buite befonds word. Terloops, indien genoeg geld vir letterkundige navorsing van buite die RGN beskikbaar was, sou dit moontlik gewees het om hierdie navorsing voort te sit. Weliswaar sou kunstenavorsing wat nie ’n sterk dimensie van gemeenskapsbetrokkenheid gehad het nie (iets soos dr. Gerard Hagg se kunstesentrums) voortaan met groot wantroue bejeën word.

 

Hierdie agtergrond is myns insiens belangrik wanneer na besluite gekyk word wat by SENSAL (en die RGN) ten opsigte van erfenisbewaring geneem is. In die lig van die groot klem wat op navorsing van ’n literêrsosiologiese aard gelê is, het SENSAL gou afskeid geneem van ’n navorser soos me. Rothea Olivier (iemand wat vergelykbaar is met NALN se me. Erika Terblanche), wat vir die aanwins en hantering van die dokumenteversameling verantwoordelik was. Me. Olivier (1983) se verhandeling oor onder andere die skryfster M.E.R. (onder studieleiding van prof. Elize Botha) en haar boek oor Jochem van Bruggen is as uit pas met die nuwe rigting in SENSAL beskou, terwyl die oorblywende deel van die Nienaber-boekery as van min waarde beskou is.

 

Gedurende my tyd is min navorsing oor die dokumente in SENSAL se besit gedoen en skenkings (soos dié van Bartho Smit, Henk Rall en Koos Prinsloo) kon nie meer tot hulle reg kom nie. Buite SENSAL is min opleiding aan studente gegee om hulle voor te berei om argivale navorsing te doen en talle verhandelings en proefskrifte is gekenmerk deur blootstelling aan nuwe teoretiese benaderings (onthou dit was ’n era van paradigmawisseling) en pogings om dit op aanvaarbare tydgenootlike skrywers se werk “toe te pas”. Dat figure soos proff. Nienaber en Jacques P. Malan (laasgenoemde die hoofredakteur van die vierdelige Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie) minder aanvaarbaar geword het en mettertyd binne die RGN as dinosourusse uit die verlede beskou is, was ’n logiese gevolg van hierdie aanpassings.

 

Boeke met Nienaber se ex libris voorin en Africana-boeke wat kort vantevore nog onder spesiale omstandighede bewaar is, het mettertyd vir R1 stuk op die RGN se uitverkopingstafel beland. Dit wat ons in Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990) en Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat (2006) oor die devaluasie van biblioteekversamelings gelees het, het in die wêreld daarbuite gestalte gevind. Dit wat binne enkele dekades tot stand gebring is, is “laat sterf”, om J.C. Steyn se woorde in die gedig “Vrede” in Die grammatika van liefhê (1975) te gebruik. Dit is beslis nie net die nuwe regering wat vir hierdie tendens verantwoordelik was nie.