Posts Tagged ‘Karos orie dyne’

Digstring: Hans du Plessis. Josef

Monday, October 8th, 2012

 

Josef

 

Wassit nou te veel gevra

om te die vrou wat jy het,

ennie kjind wat sy in ha dra,

te hou, Josef, klong yt Nasaret?

 

Toe jy stilletjies beslyt

om hierielike vrou te los,

het jy altemit begryp

wat hóm dood kan kos?

 

En toe ‘n ingel aan jou veskyn

en sê Maria moet by jou bly,

het jy toe gedink hoelike pyn

en venedering hý sou ly?

 

Josef, seun van Dawid, vegjeet

die spanriem van jou se vrees:

wat in háár is, en aan jou vreet,

kom net so vannie Heilage Gees.

 

Da sal ‘n kjind yt Maria ytkom!

Wat ek jou beveel, moet jy doen,

want hý sallie hele mensedom

met hille se sondes kom vesoen.

 

Toe jy wakker skrik oppie bed,

en laterder byrie krip loop staan

en jy hóm Jesus doop, het

jy die boodskap tóé vestaan?

 

(c) Hans du Plessis (Uit: Karos orie dyne, 2012: Lapa Uitgewers)

***

Hans, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ongeveer 2007. Dit is deel van die afdeling oor Kersfees in die bundel, en Elisabeth Eybers se Maria bly vir my een van die mooiste gedigte in Afrikaans en ek het lankal gedink ‘n mens sou dieselfde gegewe kon gebruik vanuit Josef se perspektief.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Vele pogings.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Omdat dit ‘n soort parodie is, is dit gegee, maar die herdigting daarvan was nogtans wroeging en sweet.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die oorspronklike gedig was my model.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee, ek doen dit nooit met poësie nie, wel as ek prosa skryf. Moet my net nie vra hoekom nie, want ek het dit voor jou vraag nooit besef nie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Aanvanklik gou in die klein bundeltjie Kalaharikrismis.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Moeilik om te sê, omdat dit op Eybers reageer en die Bybelse gegewe betrek.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor Josef se gewaarwording van en “onkunde” oor die geboorte van Jesus.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Inderdaad: Eybers se Maria en die Bybelse verhaal.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit is deel van die sg. Griekwagedigte en stem daarmee ooreen, maar my ander gedigte is meesal natuurgedigte.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die dialek en Eybers, ja.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Weer eens: die Eybers-Maria het my gelei.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek onthou niks meer van die inhoud nie, maar dit was ‘n gedig wat ek in Hennenman geskryf het toe ek vir die vakansie op ‘n saaiplaas gewerk het en die mielietjies al aan die doodbrand was toe die reën skielik in die nag op die sinkdak val. Dalk maar goed ek kan niks verder daarvan onthou nie …

 ***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Marlies Taljard Nuwe Griekwapsalms: ou stof nuut aangebied

Wednesday, August 22nd, 2012

Op 15 Augustus is Hans du Plessis se nuwe bundel “Karos orie dyne” in Potchefstroom bekendgestel. Dit is ‘n derde bundel Griekwaverse wat meestal op die Bybel gebaseer is.

In ‘n vorige blog het ek geskryf oor herskrywing en transponering van antieke tekste. Hierdie bundel van du Plessis is ‘n pragtige illustrasie van bekende gegewens wat oorgesit of getransponeer word na ‘n nuwe tydvak en ‘n nuwe idioom. Wat die bundel besonders maak, is juis dat die bekende Bybelse inhoude nuut aangebied word in die tradisie van ‘n kultuur wat tot dusver meestal op die gesproke woord gesteun het. Vir sprekers van Standaardafrikaans lê daar ‘n besondere bekoring in die verse, onder andere vanweë die vreemdheid van die taal enersyds, maar die bekendheid van kulturele besonderhede andersyds. Ek haal enkele voorbeelde aan.

In die gedig “Die dominee ennie syper”, wat gebaseer is op Lukas 18:9-13, word vertel van die selfingenome dominee wat op die preekstoel staan en bid, maar dan kom die suiper wat nie waag om die kerk binne te gaan nie. Hy het “oppie grond gekyk, toe skop hy die gras: / “Jirre, wees my, armlike sondaar, genadag.’

Nog ‘n voorbeeld van so ‘n transponering, is die verwerking van Psalm 22, waarin die spreker oor homself sê:

Ek is ytgemors sos water,

smaak my geraamte sit los,

my hart lê sos warm vet

in my ribbekas opgesmelt.

“Tissenie koring”, ‘n verwerking van Mattheus 13:24-30, haal ek in sy geheel aan omdat dit besonder goed illustreer hoe die digter Jesus se gelykenis wat 2000 jaar gelede in die Midde-Ooste vertel is, pasmaak vir Suid-Afrikaanse omstandighede:

En eendag was da ‘n man gewas

wat skoon koring oppie land saai,

ma toet hy nou innie nag loop lê,

toe kom saai hy se vyande

oliebome tissenie koring in.

Toetie koring nou aar maak,

toe kommie oliebome ok op.

Toe sêrie manne virrie boer:

“Het jy dan vyl saad gesaai,

wa val hierie oliebome yt?”

“Dissie vyand se werk,” sêrie boer.

“Nou lat onsie gemors loop uittrek!”

“Nee,” sêrie boer, “lat dit ryp worre.

En oestyd sal ek virrie oesters sê,

maak eersie oliebome bymekaar,

pak hopiese wat ons kan verbrand,

ennie koring moet skier toe kom!”

Die (Suid-Afrikaanse) leser van hierdie verse kan hom-/haarself vereenselwig met die metafore wat uit die Suid-Afrikaanse ruimte geneem is – soos dat die suiper teen ‘n polletjie gras sou skop, dat die bang hart gesmelt is soos warm vet, dat die onkruid wat opkom in die land oliebome is …

Maar terselfdertyd werk sowel die vreemde dialek as die nuwe metafore ook vervreemdend in op die leser. Die term “vervreemding” gebruik ek soos Sjklovski dit gebruik het, naamlik dat in literêre kunswerke woorde en sinne (en begrippe) vreemd gemaak word deur dit buite hulle bekende, alledaagse betekenisse te gebruik (in hierdie geval meestal die bekende taal en metafore van die Bybel). Sodoende word die leser gedwing om nuut te dink oor ou begrippe – en in hierdie geval oorbekende teksgedeeltes.

Vervreemding kan streng gesproke ook deel wees van intertekstualiteit (die praktyk om ou tekste in die kreatiewe proses te gebruik). Hoewel die Bybelse interteks die mees opvallende is, maak du Plessis egter ook van ander intertekste gebruik. Die gedig “Josef” is byvoorbeeld duidelik geskoei op die bekende gedig “Maria” van Elisabeth Eybers. Du Plessis se gedig werk vervreemdend op die leser juis omdat dit een van die bekendste gedigte van Eybers binne ‘n ander konteks plaas. Die frase Maria, nooi uit Nasaret word in die nuwe gedig Josef, klong yt Nasaret.

Du Plessis se gedig sluit aan by Eybers se strofe:

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink, eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra?

Hy skryf:

Toe jy stilletjies beslyt

om hierielike vrou te los,

het jy altemit begryp

wat hóm dood kan kos?

Die nuwe gedig wat byna ‘n herdigting van die oorspronklike Eybers-gedig is, verskil egter van die oorspronklike teks deurdat die manlike perspektief weergee word, terwyl Eybers op die vrou, Maria, fokus. In ‘n tyd waarin dit mode geword het om op die vroulike belewenis te fokus, kan du Plessis se gedig gelees word as die inskryf van die manlike kode – dalk selfs as ‘n soort manlike korrektief op dieoorspronklike verhale  wat sterk op die moederfiguur fokus.

Wat ek hiermee wil sê, is dat reeds bestaande stof as intertekstuele materiaal, of by wyse van herskrywing of transponering, ‘n belangrike funksie in die poësie vervul deurdat dit nuwe betekenis kan genereer, addisionele betekenislae aan ‘n werk kan toevoeg, maar ook deurdat dit die leser met nuwe oë na oorbekende stof laat kyk wat mettertyd sy trefkrag en betekenis (as deel van spirituele praktyke) verloor het. Dit kan dikwels die inherente krag wat in mistieke en argetipiese verhale opgesluit lê, ontsluit of her-aktiveer en dié verhale se helende, inspirerende of bemagtigende funksie herstel.

Onderhoud met Hans du Plessis

Monday, June 25th, 2012

 

“Om grense af te breek”

 

Hans du Plessis in gesprek met Elias P. Nel oor sy jongste bundel

Griekwapsalms: Karos orie dyne.  LAPA Uitgewers  2012

 

Hans, eerstens wil ek jou gelukwens met jou nuwe bundel. As iemand wat ook met ‘n variëteit van Oranjerivierafrikaans, soortgelyk as die in die bundel grootgeword het, kan ek my meesal daarmee vereenselwig. Laat my dus toe om sommer hier aan die begin te vra of daar nog sulke manuskripte iewers in jou kop rondlê?

Dankie vir die mooi woorde. Die eienaardige van my skryfwerk in ‘n variëteit van Afrikaans is dat die woorde net in my kop kom klim terwyl ek besig is om met die dialek te werk. Ek dink net in hierdie variëteit as ek tussen die sprekers daarvan is. Ek vermoed my oor en my verstand en my hart moet eers weer daaraan gewoond word. Dan eers sal die muse my toelaat om daarin te begin skep. Kortom: daar is op die oomblik niks daarvan in my kop nie.

Dis jou derde bundel waarin die Bybelse didata in die omgangstaal van die gemeenskappe van ‘n sekere deel van die Noord-Kaap getransponeer word. Watter gedig in hierdie bundel lê vir jou die naaste aan die hart en hoekom?

Ongetwyfeld die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Die jammerhartige skeder, p. 70). Hierdie bundel is waarskynlik suiwerder dialek as die voriges, en in hierdie gedig word die transponering van geografie, kultuursosiologie en taal tot die uiterste beproef.

Dit sal klink of die gesprek ‘n herhaling van ons vroëere gesprekke (by die Boeketent by die 2004-KKNK, jy en wyle George Weideman se gesprek oor appropriasie by Versindaba (2008?) en meer onlangs jou bydrae as respondent vir my Honneursskripsie.) So hier kom die opslagballe nog ‘n keer! Die hele kwessie van kopiereg of dan eerder die gewaande kopiereg op tradisie, taal of ‘n variëteit daarvan, wat is jou mening daaroor?

Ek is bly jy vra die vraag, want dit is ‘n vraag wat baie gevra word. ‘n Taal, of enige vorm daarvan, het nie op sigself kopiereg nie, want dit is nie iemand spesifiek se intellektuele eiendom nie. As dit was, sou ek of Antjie Krog ook nie in Engels mog skrywe nie – of Elias Nel in Standaardafrikaans nie. Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Intellektuele eiendom lê daarom in die oorspronklike skepping in die besondere taal en nie in die linguistiese kode self nie. Sou die Griekwapsalms dus iewers bestaan het voordat ek dit geskryf het, beteken dit dat ek iemand anders se intellektuele eiendom gesteel het en as my eie skepping voorhou. Nie een van die gedigte bestaan egter elders as in my eie publikasies nie. ‘n Kunstenaar kan net approprieer wat reeds geskep is. Geen wet of reël of regulasie kan egter voorskryf in watter medium die kunstenaar mag skep nie. Dis soos om te sê ek mag nie op ‘n rots met plant-en-dier-verf teken nie, want iemand anders het dit al gedoen. Dit is egter ‘n ander saak as ek ‘n rots met ‘n oertekening daarop uitkap en dit as my eie kunswerk gaan uitstal. Dit is appropriasie. Plagiaat, of steel in gewone Afrikaans. Dit is nogal vreemd dat niemand dieselfde vraag met betrekking tot die gebruik van die Bybelgedeeltes vra nie. Miskien is dit simptomaties van ons gebroke taalgemeenskap, ‘n taalgemeenskap met grense wat nie bestaan nie, maar deur politieke domastrantheid gefabriseer is. Inteendeel, die skep in ‘n variëteit is daarop gemik om die variëteit se potensiaal as skeppingsmiddel te bevestig. Dit probeer juis grense afbreek. 

Daar was in die verlede soos mens ook kan aflei uit jou outeursnota, die gevoel dat sekere dele van die Griekwagemeenskap met ‘n Jean Goosen-houding van “Ons is nie almal so nie” op jou vorige werke reageer het? Jou reaksie daarop?

Nie alle Griekwas gebruik hierdie variëteit van Afrikaans nie, eenvoudig omdat die Griekwas nie ‘n homogene gemeenskap veronderstel nie. Die Griekwas van Kokstad of Kranshoek of Ratelgat praat hulle eie variëteit. Soos die sprekers van Messina Afrikaans anders praat as dié van Bredasdorp. Verder sou dit net so erg wees om te beweer dat nét Griekwas hierdie dialek gebruik. Variëteite het ‘n mond en ore, maar nie oë wat kleur kan sien nie.

En dan is dit nog nie klaar nie, ek hoor ook die beskuldigings van ‘n Godlasterlike gespot met die Bybel? Wat is jou kommentaar hierop?

Dit is allermins die bedoeling, en die mens wat dit só lees, lees die essensie mis. As uitgesproke Christen doen ek moeite om niks aan die Bybelse boodskap te verander nie. Ek lees die gedeelte waaroor ek skryf, so noukeurig as moontlik om die inhoud te probeer verstaan. As ek twyfel, raadpleeg ek meer as een vertaling en ek lees kommentare op die bepaalde teks. Die betekenis bly dieselfde, al verskil die metafore. Onthou jy die bohaai oor D.J. Opperman se Kersliedjie omtrent ‘n halfeeu terug? Dit is en was tog nooit Godslasterlik nie?

Reken jy dat jou gebruik van die spreektaal van ‘n bepaalde taalgemeenskap nie die onregmatige toeëiening van die intellektuele eiendom (appropriasie) van die betrokke taalgemeenskap is nie?  Daar word trouens skerper beskuldigings soos “steel” en “oneerlik” ook gebruik. Sal jy omgee om so bietjie daarop uit te brei?

Die vraag is hoër op gedeeltelik beantwoord, maar dit is só belangrik dat ek nog iets daaroor wil sê. Jou reguit, geregverdigde vrae en ‘n eerlike gesprek daaroor, soos hierdie een, kan help om die berlynse mure in ons taalgemeenskap (en die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap) af te breek.  Die Afrikaanse taalgemeenskap, soos enige taalgemeenskap, is ‘n lappieskombers: baie lappies, maar net een kombers, óns kombers. Dit sou dom wees om by myself te steel.

Ek vind dat daar teenoor die gewone spreektaal wat myns insiens deurgaans heel goed aangewend word tog deftige woorde insluip, soos byvoorbeeld:

Bed                              bladsy 40  

advokaat                     bladsy 22   (sou dit nie dalk eerder “avokaat” wees nie?)

werklikheid                 bladsy 22   (moet ons nie liewer “werklikgeit” hoor nie?)

Kindjie                         bladsy 41   (teenoor Kjind al die ander kjind elders)

Korrup                         bladsy 57   (Is die woord bekend onder die sprekers? Wat van die bekende uitdrukking vir korrupsie: “stjelm innie derm”?)

Natuurlik is dit nie altyd moontlik om alle taalkenmerke “reg” te gebruik nie, want in die eerste plek kan ek natuurlik plein foute maak, maar dit is ook so dat die poëtiese skeppingsmiddele, soos klank of ritme, die digter dwing om soms die “verkeerde” woord te gebruik. Die maklikste antwoord: digterlike vryheid, my maat!

Dink jy nie lesers sal die volgende woorde in die mond van die Griekwas as degraderend of selfs as patroniserend ervaar word nie?

bek                         bladsye 24/50/57/58   (op bladsy 73 en ander plekke word bek reg aangewend)

vrek                        bladsy  57    (die “vrek” op bladsy 25 pas wel in by die konteks)

gat                          bladsy 31     (in die gewone omgangstaal ja, maar in gesprek met God?)

Hoegenaamd nie, want die wese van die orale tradisie is juis op die omgangstaal gerig, en word daarom as kenmerk van die spreektaal en nie as oordeel oor die sprekers gebruik nie. Dit geld ook vir die Omgangsafrikaans wat ek daagliks om my hoor. Soos my ou buurman altyd sê: “Ek vrek liewer voor ek my bek hieroor gat rek.”

Ek lees etlike intertekstuele verwysings in sommige van die gedigte raak (of is ek nou vannie voetpat af?) Byvoorbeeld:

Inkommers        Psalm 10                      bladsy 27

 

“Inkommers dink dis hille se land,

en drik ons op ons eige grond plat

 

Dis of ek David Kramer hier sy liedjie “Onner water” van die album, Huistoe, hoor sing:

 

“Hier kom mense met gewere, hier kom mense met papier,

hulle kom met die swart Bybel en die brandewyn en bier.

Alles het hul opgevreet, van jou en my is skoon vergeet,

hulle dink hul ry die hemeltrein maar die duiwel stook die vuur!

 

Josef                bladsy 40

 

“Toe jy stilletjies beslyt

om hierielike vrou te los,

het jy altemit begryp

wat hóm dood kan kos?”

 

Hoor ek die engel in Elizabeth Eybers se “Maria”  as hy haar vra:

 

“Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra?”

 

Inderdaad! Soos jy self weet, is intertekstualiteit deel van die woordkuns. Soms baie aspris (soos in die geval van Josef) of per geluk, want ek sien agterna baie keer eers die interteks raak. In elk geval: die Bybel is deurgaans hier ‘n interteks.

 

Hans du Plessis

Hans du Plessis

Hans du Plessis is in Pretoria gebore en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy studeer voorgraads aan UP en behaal ʼn doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde aan UNISA in 1975. Daarna studeer hy by verskillende geleenthede in die VSA, o.a. aan Harvard.  Na ses jaar onderwys word hy Lektor in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA en RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die PUK en in 1990 Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit.

 Meer as honderd en vyftig publikasies het reeds van hom verskyn, waaronder artikels en taalkundeboeke.  Hy debuteer in 1978 as skeppende skrywer en sedertdien publiseer hy elf boeke. Hy ontvang verskeie pryse vir sy skryfwerk. 

 Kyk ook na Hans se Fotobeeld

 

 

  •