Posts Tagged ‘Kehs’

Johann Lodewyk Marais. Habesha II Ethiopian Restaurant, Nairobi

Monday, September 14th, 2009

Wanneer ek met die hysbak uit Utalii House kom, kyk ek eers gou na die winkels op die grondvloer voor ek teruggaan na Joel wat buite wag om my in die stad te gaan aflaai. Aan die einde van die onderste deurloop sien ek die Habesha II Ethiopian Restaurant, Down Town Nairobi (daar is ‘n ander Habesha-restaurant buite die stad in Hurlingham). Ek loop ‘n draai in die restaurant en besluit onmiddellik om middagete daar te kom eet. Die restaurant is beskeie, maar die kruiegeure maak my nuuskierig oor hoe die kos smaak. Buite in Utaliistraat vra ek Joel om maar te ry en betaal hom die KShs 400 wat ek hom belowe het vir my hele rit, wat ook die Ministerie van Toerisme, die Utalii Training College and Hotel in Thikaweg en die Nasionale Biblioteek by Upper Hill sou insluit.

Die dekor van die restaurant is eenvoudig, maar vol verwysings na die Ethiopiese geskiedenis. Teen die muur hang ‘n groot skildery van keiser Haile Selassie, van 1930 tot 1974 vir sy volgelinge “sy keiserlike majesteit Haile Selassie – koning van konings, uitverkorene van God, seёvierende leeu uit die stam van Juda, en afstammeling van koning Salomo en die koningin van Skeba”. Sedert die 1930’s is hy boonop vir die Rastafariёrbeweging in Jamaika die vleesgeworde God.

Daar is ook portrette van St. George, Ethiopiё se nasionale heilige, die negentiende-eeuse keiser Theodorus II en ‘n kehs (of priester) van die Ethiopiese Ortodokse Kerk. Volgens die eienaar, mnr. Engedu Feleke, wat saam met my van die een portret na die ander loop, is dié kehs die patriarg van die kerk. Aangesien mnr. Feleke nie goed Engels praat nie gee ek op om uit te vind wat die patriarg se naam is.

Ek gaan sit by een van die tafels met ‘n rooi tafeldoek waaroor deurskynende plastiek gegooi is. Ek kyk na die spyskaart. Heel eerste wil ek Tej in Brill of Ethiopiese heuningbier bestel, maar volgens mnr. Feleke se seun, wat my gaan bedien, het hulle nie meer daarvan nie. In die plek daarvan bestel ek Ethiopiese koffie en na lang wik en weeg Shirow Tegamino as hoofgereg. Die spyskaart verskaf in krom Engels die volgende inligting oor die gereg: “Shirow, which is made of powdered legumes or dried peas and chick peas with tradition spices prepared in Ethopian way served with the silver dish, a taste you will never forget.”

Voor my bestelling kom, bestudeer ek die spyskaart en maak aantekeninge oor die Shirow Tegamino in my notaboek. Die restaurant het van die sonderlingste geregte wat ek al onder oё gehad het en die name van die geregte is vreemd: Injera (soortgelyk aan chapati), Doro Wot (hoendersous), Key Wot (kerriebief met rissie) en Minchat Abish (kerriebief sonder rissie). Die kos is duidelik sterk gekrui. Terwyl ek versigtig afskryf, hou mnr. Feleke, ‘n korterige man met ‘n swart broek en ‘n wit langmouhemp, my dop en kom later na my toe.

“You are not allowed to write it down,” sê hy streng.

“I am just making a few notes to remember what I am eating,” antwoord ek. “I am not copying the menu.”

“Oh,” antwoord hy en gaan dadelik voort met sy werk in die restaurant.

Eers bring mnr. Feleke se seun vir my ‘n wierookbrander van keramiek met smeulende stukkies wierookhars waarvan die rook oor die tafel trek. Die pikante geur van die rookwalms is stelend. Dan word die Shirow Tegamino ingebring. Die silwer bord waarop die groot Injera, wat soos ‘n pannekoek lyk, uitgesprei is, lyk kompleet soos ‘n skinkbord met ‘n kleedjie op. In ‘n afsonderlike bak is die oranje sous (of Wot) wat ek op die pannekoek moet skep en met die regterhand moet eet met stukkies wat ek van die kant af moet breek. Omdat ek met die hand gaan eet, is daar nie eetgerei nie. Vir KShs 250 is die Shirow Tegamino ‘n allemintige gereg.

Ek staar lank in ongeloof na die gereg voor my. Mnr. Feleke moet dit as onkunde vertolk oor hoe om die gereg te eet en kom sit later by my om te wys hoe ek dit volgens tradisionele gebruik met die hand moet doen. Hy breek ‘n stuk van die Injera af, vee van die sous daarmee op en los dit in die bak vir my om te eet. So ‘n groot dis sal ek veral ná vanoggend se reuse-ontbyt in die Meridian-hotel nie alleen kan baasraak nie, maar ek val nietemin weg. Eintlik is dit nie die soort restaurant wat ‘n mens alleen moet besoek nie. Gewoonlik eet meer as een mens saam aan die dis.

Dit is ‘n besondere gereg en die smake buitengewoon: iets wat ek nog nie vantevore geproe het nie. Die sous is romerig met enkele stukkies groenrissie in. Volgens mnr. Feleke se seun, wat my die heeltyd bedien, is daar ook uie in. Die soort kruie en speserye wat gebruik word, herken ek glad nie. Ek sal hierna êrens in die stad ‘n Ethiopiese resepteboek moet gaan soek om meer oor hierdie vreemde kookkuns uit te vind.

Dat hierdie een van Nairobi se gewildste restaurante is, blyk uit sy tiende plek op die lys van “Top Ten Restaurants” wat in die “Lifestyle”-bylae van Nairobi Star verskyn het. Die berig is netjies uitgeknip en teen ‘n muur naby die skildery van Haile Selassie aangebring.

“Do you belong to the Ethiopian Orthodox Church?” vra ek mnr. Feleke wanneer hy weer na my tafel toe kom.

“You know about these things,” sê hy. “I am a member of the Orthodox Church.”

“Is it a big church?” vra ek.

“Yes,” antwoord hy. “If you are here on Sunday you can come to the church with me.”

Voor ek loop, wys mnr. Feleke my die koffiepoeier waarmee die Ethiopiese koffie met die “wilde” eksotiese smaak gemaak word. Hy skep ‘n lepel gemaalde koffie uit ‘n groot, bruin papiersak en laat my daaraan ruik. Die geur is bekend, maar die smaak is baie anders as dié waaraan ek gewoond is. G’n wonder nie, want volgens oorlewering is Ethiopiё se inheemse koffiebome die voorloper van al die arabica-koffies wat in die wêreld verbou word. In Ethiopiё word koffie nog van bome in die natuur geoes en baie daarvan op primitiewe wyse verwerk (byvoorbeeld met ‘n houtstamper en -vysel).

“When I visit you again next week, I will bring you rooibos tea from my country,” sê ek.

“Then I will give you some of our coffee,” antwoord mnr. Feleke en stap saam my tot by die oop deel van die restaurant waar nog mense aan groot disse sit en eet.

“By the way, Mr Feleke, what does ‘Habesha’, the name of your restaurant, mean?” vra ek.

“In the broadest sense, the name may refer to anyone from Ethiopia or Eritrea,” antwoord die Ethiopiese restauranteienaar en gee my ‘n stywe handdruk voor hy vinnig omdraai en in sy restaurant verdwyn.

  •