Posts Tagged ‘Keurdersverslag van Versindaba vertaalkompetisie’

Beoordelingsverslae: Versindaba kompetisie vir vertaalde gedigte

Thursday, February 4th, 2021

 

Die beoordelaars van hierdie kompetisie was Prof. Bernard Odendaal, prof. Joan Hambidge en prof. Marlies Taljard

 

Keurverslag van prof. Joan Hambidge

 

 

Volgens Lawrence Venuti die bekende vertaalkenner moet die vertaler besluit: gaan jy die teks huis toe bring (domestikeer) of oorsee stuur? (foreignization). In sy vele studies wys hy op die probleme rondom vertalings. Moet die vertaler “afwesig” bly of sy aanwesigheid laat geld?

 

Oor vertaling is daar al baie geteoretiseer. Uys Krige, ‘n voorste vertaler, het opgemerk dat ‘n vertaling so kompleks en oortredend is as om ‘n ander man se bruid deur ‘n sluier te soen.

 

Die vertalings wat my oortuig het, is veral die wat as ‘n onafhanklike Afrikaanse gedig oortuig met metriese patrone in Afrikaans en waar beelde oortuig in die teikentaal.

 

Daar is eweneens uit verskillende tale vertaal (Arabies, Grieks, Latyn, Frans, Spaans, Duits, Nederlands, Engels, van Afrikaans na Duits en Engels, Zoeloe …) en veral digters wat uit die oorspronklike taal vertaal het (soos Latyn en Duits), het besondere werk gelewer.

 

Die moeilikste aspek was om ‘n gedig uit ‘n ander tydvak (ek dink hier aan Goethe of Wordsworth) te transporteer na Afrikaans. ‘n Ander poëtiese diskoers (byvoorbeeld die Romantiese tydvak) oortuig nie nou nie. Verder is daar pogings aangewend om Emily Dickinson te vertaal – ‘n onbegonne taak, omdat haar gedigte inspeel op verskillende implikasies wat vir die moderne leser nie bekend is nie. Sy het immers woordeboeke gelees en met haar leser ‘n fyn diskursiewe spel gespeel.

 

Judith Farr wys daarop in The Gardens of Emily Dickinson (2005) dat blomme simboliese betekenisse het in haar digkuns wat die leser moet ontsluit.

 

Om digters soos Seamus Heaney aan te pak, is eweneens besonder moeilik. Sy gedigte werk met sterk vorme en toespelings op die Engelse en Ierse letterkunde wat verlore gaan in vertalings.

 

Vertalings is soos oorklankings van films. Die woorde moet perfek in die mond pas van die akteur; anders verkies ons onderskrifte.

 

‘n Vertaling is altyd ‘n stereoskopiese proses en uiteraard is daar nie een korrekte of finale vertaling van ‘n gedig nie.

 

In Elisabeth Eybers se Verbruikersverse / Consumer’s verse (1997) word die twee gedigte naas mekaar geplaas, maar hulle is nie werklik vertalings nie. Dit word elke keer ‘n ontginning van taalmoontlikhede wat verskil van die oorspronklike taal.

 

Tog is daar wél iets soos ‘n oortuigende of briljante vertaling. ‘n Gedig wat dans in die nuwe taal. Het die gedigte die kontaksones tussen die twee tale eerbiedig of nagekom (Pratt) en die gedig her-lokeer (Bhabha)?

 

Bronne:

Bhabha, H.K. 1993. Culture’s in between. Artforum International, September, ble. 167–8, 211–3.

—. 1994. The location of culture. Londen: Routledge.

Lecercle, J.J. 1990. The violence of language. Londen: Routledge.

Pratt, M.L. 1987. Linguistic utopias. In Fabb e.a. (reds.) 1987.

—. 1996. Apocalypse in the Andes: Contact zones and the struggle for interpretive power. Encuentros, 15:1–17.

Venuti, Lawrence. 2008. The translator’s Invisibility:  A History of Translation. Londen: Routledge

 

 

Keurverslag van prof. Bernard Odendaal

 

 

Dit is ’n opwindende ervaring om uitstaande digwerke uit die wêreldletterkunde, uit ʼn verskeidenheid brontale, in Afrikaans te hoor opklink. (Ek lees graag gedigte hardop vir myself voor.)  Om boonop soms welbekende Afrikaanse gedigte in ’n ander taal te kan beleef, vergroot die genot wat dié gedigvertalingskompetisie opgelewer het.

 

’n Mens is derhalwe die Versindaba-span dankbaar dat hulle, by wyse van hierdie kompetisie, ʼn slag weer pluimpies wil steek in die hoedens van die wat poësievertaling aandurf. Waar vertalers in vorige eeue dikwels as die eweknieë gereken is van die skrywers wie se werke hulle vertaal het, het hulle in die twintigste eeu, volgens iemand soos Toon Hermans, as ’t ware uitgewis geraak in die vertaalproses.

 

Dit is myns insiens baie moeilik om wenvertalings te kies uit die oes wat die kompetisie opgelewer het.

 

 

Keurverslag van prof. Marlies Taljard

 

 

Om ‘n keuse te maak uit 103 gedigte waarvan verbasend baie van hoë gehalte was, is byna ‘n onbegonne taak. Tog is dit insiggewend dat al drie die keurders onafhanklik dieselfde gedigte as moontlike wenners aangewys het.

Daar was redelik min gedigte wat vanuit Afrikaans in ander tale vertaal is. Daarom het ons besluit om alle vertalings oor dieselfde kam te skeer en ‘n vierde prys toe te ken, in plaas daarvan om pryse vir vertalings vanuit Afrikaans te gee.

In die beoordelingsproses was die belangrikste kriterium vir my dat die vertaling as gedig in eie reg moet kan bestaan, onafhanklik van die gedig in die brontaal. Dikwels het vertalers meer gekonsentreer om die woorde korrek te vertaal, en daarby het die metrum, ritme en rym en beeldgebruik soms in die slag gebly. Wat die taak van die vertaler natuurlik bemoeilik, is wanneer van ‘n sekondêre vertaling gebruik gemaak word. Daar was wel vertalers wat dan van verskeie vertalings uit die bronteks, asook verklarings van die teks gebruik gemaak het, maar dit was die uitsondering.

Vir my is dit jammer dat ons nie al die verdienstelike gedigte kon bekroon nie. Tog bedank ek alle vertalers wat hulle hand aan dié moeilike ambag gewaag het!

 

(Die uitslag van die keurders is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.)