Posts Tagged ‘Kings of the water’

Andries Bezuidenhout. In die knypers van uiters gevorderde robotiese tuie

Thursday, July 15th, 2010
Buffelsbaai, 1990

Buffelsbaai, 1990

Ek sit in Pretoria, dink aan see. Spesifiek Breyten Breytenbach se “Septembersee” – die “see sonder tornyne”, die “see sonder skop”. Mark Behr haal die gedig aan in sy boek Kings of the water. Ek het dit onlangs op Irma se aandrang gelees, ook gaan luister wat Mark Behr daaroor sê by die Boekehuis in Aucklandpark. Hy’t ʼn mus opgehad, gepraat oor sy sessies by die psigoterapeut.

Hy sê hy moes hom indink in die skoene van die mense wat hy veraai het. Hy sê hy’s gelukkig, want daardie mense kon terugpraat, hom konfronteer met wat hy gedoen het. En hulle is sterk mense. Dit help met die helingsproses.

Irma wil weet wat gebeur as die mense wat ons veraai het nie sterk is nie, nie herstel nie.

ʼn Briefie beland in my posbus, van die gawe mense wat ons rekenaarnetwerke administreer. “Soos u bewus is,” skryf hulle, “is daar tans beperkte internasionale bandwydte beskikbaar as gevolg van ‘n fout met die SEACOM ondersee optiese vesel… SEACOM se beraamde tydsduur vir die herstel van die ondersee optiese vesel, is op die stadium 22 Julie 2010…”

O, goeiste!

Die brief verduidelik verder: “Die verlengde tydsduur is weens die feit dat die fout blyk te wees met ‘n segment van die vesel wat meer as 4700 meter onderseevlak lê, en dat uiters gevorderde robotiese tuie gebruik word om dele van die herstelwerk uit te voer, voor die vesel vanaf die seebed gelig word vir finale herstelwerk.”

Dit klink soos iets uit ʼn toekomsfliek uit die sestigs. Flash Gordon, of iets. Of was dit die tagtigs?

Ek verbeel my die uiters gevorderde robotiese tuie, amper vyf kilometer onder die see se oppervlak. Die uiters gevorderde robotiese tuie se knypers vroetel in die seebed se sand.

“Waar’s die f****n optiese kabel nou weer, Mathilda?”

“Moenie my vra nie, Arnoldus, dis jy wat dit jare gelede hier begrawe het!”

“Moet jou nie swaksinnig hou nie, jy weet dit was my vorige model”

“Sug…”

Dis lekker om weer amptelike briewe in Afrikaans te ontvang, met sinsnedes soos “uiters gevorderde robotiese tuie.” Lees dit hardop. Herhaal. Nou kort dit net ʼn stel tromme en ʼn baskitaar, dalk ʼn DJ wat scratch:

uiters gevorderde robotiese tuie
vir die see se koue dra hulle truie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel

uiters gevorderde robotiese tuie
vir stip konsentrasie rook hulle kruie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk aan optiese vesel ondersee

uiters gevorderde robotiese tuie
vir onderwaterasem kou hulle uie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel

Ek lees weer Gert Vlok Nel se enigste digbundel. Ek dink aan “desember & see” op bladsy 13. Dit eindig só:

5-uur het ons verwater & wild op die strand uitgehol,
jeans & truie, saam met windsurfers in wetsuits. dit
was haunting. hemel & fokken aarde toegewrap in wolk. ons
was gou warm, t.s.v. die kak drizzle. ek
wou iets (die oggend) vergestalt in rots of rym
maar het alreeds alles weggegee
aan herinnering & pyn

Ek dink oor Mark Behr. Ek is die laaste persoon wat klippe in sy rigting kan gooi. Ek moes ook dinge uitskryf.

Wat sou Gert en sy broer Attie sê as uiters gevorderde robotiese tuie skielik uit die see te voorskyn sou tree, met die optiese vesel in hul kloue wat hierdie gemompel van my rekenaar na joune toe moet dra?

Dis dalk oor die vesels dat my Skype nie werk nie, hoekom ek so afgesny voel. Die teenoorgestelde van die exile waaroor Breyten Breytenbach destyds in “Septembersee” geskryf het. En hier in Pretoria is nie eers ʼn see nie.

  •