Posts Tagged ‘Klerewerkersunie’

Amanda Lourens. Die Klerewerkerstekste: ’n Haas vergete korpus

Saturday, July 9th, 2011

Andries Bezuidenhout het vroeg in 2010 in ’n blog verwys na die Afrikanervroue wat tussen die 1920’s en 1940’s lede van die destydse Klerewerkersunie was.  Soos hy tereg opmerk, is dit ’n stuk geskiedenis wat volledig in die doofpot gestop is en is die meeste Afrikaners vandag salig onbewus van die feit dat vroue met stoere Afrikaanse name sterk gefigureer het in ’n organisasie wat gekenmerk is deur onder meer kommunistiese sentimente en ’n sterk verset teen kapitalisme. 

My generasie (die sogenaamde Generasie X) het natuurlik grootgeword met skrikpraatjies oor die “Rooi Gevaar” wat geskuil het in alles van jeans tot popmusiek.  Name soos Beyers Naudé of Bram Fischer is slegs uitgespreek met die subteks van “verraaier” as weerklank.  Van Bram Fischer het ek wel te hore gekom in Gerard Ludi en Blaar Grobbelaar se boek Die Verbasende Bram Fischer wat Fischer se kommunistiese uitkyk glad nie simpatiek hanteer het nie en in my tienerverbeelding ’n propagandistiese beeld probeer neerlê het van die “losbandige  kommuniste”.  Nietemin het die gevaarlik-opwindende gedagte van Afrikanerverset teen alles wat destyds “orde” gespel het, my bygebly.  Toe ek dus jare later Elsabe Brink se navorsing oor die vroue van die Klerewerkersunie ontdek, was ek mateloos gefassineer.

Brink het naamlik aangedui dat die vroue wat in die jare tussen die twee wêreldoorloë aan die Witwatersrand in die klerebedryf gewerk het, nie net klere gemaak het nie, maar ook aktief in die linkse politiek was en bowendien ’n aansienlike stuk Afrikaanse literatuur geproduseer het (Brink 1989:108).  Die Klerewerkersunie het die tweetalige blad Klerewerker/Garment Worker gepubliseer, waarin ’n redelike korpus Afrikaanse poësie, prosa, en toneelstukke verskyn het.  Hierdie stuk literatuur het in die vergetelheid geraak, en die sogenaamde “Klerewerkersliteratuur” is bykans onbekend.  (Annemarie van Niekerk het wel een van die kortverhale opgeneem in haar bundel Vrouevertellers 1843-1993.)

Dit was Elsabe Brink se baanbrekersnavorsing wat hierdie vergete stuk geskiedenis en literêre produkte begin ontgin en bekendstel het.  Alhoewel gesofistikeerde hedendaagse lesers heel moontlik hulle neuse sal optrek vir die eenvoudige aard van baie van die tekste (en dis presies wat ’n deftige damesleeskring op ’n slag gedoen het toe ek hulle hiervan probeer vertel het), dink ek tog dat dit ten minste ’n herbesoek en ’n optekening verdien – as dit dan nie om die “literêre” waarde daarvan is nie, wel om die waarde daarvan dat hierdie tekste ’n blik bied op die leefwêreld van die arm werkersklasvroue in die eerste deel van die twintigste eeu.  Want, soos René Marais reeds in 1988 uitgewys het:  Daar is wel in toenemende mate ‘n verwoording van die leefwêreld en gevoelens van die vrou deur meer en meer skryfsters, maar dan is dit ook waar dat die Afrikaanse letterkunde in hierdie opsig byna uitsluitlik ‘n perspektief bied op die leefwêreld van die meer gegoede vrou met naskoolse opleiding … daar sal in hierdie verband ook na die literatuur van die Afrikaanse klerewerkersunie gekyk kan word, soos Elsabe Brink doen.”

Ek het ’n klompie jare gelede spesifiek navorsing gedoen oor die literatuur van die klerewerkers, en ook vantevore gekyk na die vroue wat vroeg in die twintigste eeu gedigte in tydskrifte soos Die Huisgenoot gepubliseer het.  Wat opvallend was, was die totaal verskillende wêreldbeelde wat enersyds deur Die Huisgenoot en andersyds deur Klerewerker gereflekteer is.  Sonder om die “literêre” bydraes in ag te neem, was dit duidelik dat die artikels, advertensies en redaksionele kommentaar in die onderskeie publikasies representasies van twee volkome van mekaar verwyderde wêrelde verskaf het. Die “vrouedeel” van die destydse Huisgenoot was opvallend middelklas, of dan aspirantmiddelklas, met volop advertensies van sykouse, haarborsels en lipstiffies, tesame met raad oor die versorging of berging van hierdie kommoditeite. Daarteenoor was Klerewerker aangrypend in die duidelike solidariteit en empatie met die lesers.  Daar was volop beriggewing oor die lief en leed van die vakbondlede, tesame met artikels wat praktiese raad verskaf het om die vroue te help oorleef in die onvriendelike stadsomgewing.  Wanneer die gedigte en prosastukke beskou word, vind ’n mens dan ook daarin ’n aangrypende stuk menswees, met die wil om te oorleef en die geldmag te opponeer as ’n deurlopende en onontkenbare tema.  

Antjie Krog het spesifiek na hierdie literatuur se funksie as ’n oorlewingsmeganisme verwys. Haar uitspraak laat ’n mens opnuut besef dat poësie óók die funksie het om menswaardigheid aan ’n gedepriveerde lewe te gee, ook onder omstandighede wat eietydse lesers dalk nie herken as deel van hulle geskiedenis nie.  Want helaas het baie van hierdie vroue in omstandighede geleef wat inderdaad nie veel anders was as dié in eietydse plakkerskampe nie. 

Krog (1989) skryf naamlik: “ There is nothing dishonourable in writing a poem that can help someone to survive a certain experience – even if such a poem were to die together with the prejudices of its time and politics.  That is why I derive so much pleasure from reading how, while Elisabeth Eybers was busy formulating motherhood for so many women after her, her contemporaries (die Klerewerkers  – AL) fought for survival, albeit in rhyme not devoid of rhetoric …  

Armblankes voor hulle "plakkershut"

Ek sal in ’n paar volgende bydraes ’n oorsig gee van die historiese agtergrond van die klerewerkers asook hulle vernaamste geskrifte. 

Ten slotte plaas ek vandag die gedig “Die Plig van die Vrou” deur ene Maggie Meyer wat in Klerewerker van Maart/April 1941 verskyn het.  Seer sekerlik is dit geen groot poësie met groot tegniese vernuf nie, maar gedagtig aan Meyer se waarskynlik beskeie agtergrond en gebrekkige opleiding, getuig dit nietemin van ’n wil om te skep en haar gedagtes oor aktuele sake met haar gehoor te deel.  As sodanig verteenwoordig dit dan ’n soort strydpoësie.  Vir my is dit veral beteknisvol dat sy die werkersklasvroue as die direkte “afstammelinge” van die Voortrekkervroue sien, en daardeur dus (bewustelik?) die Christelik-nasionale kaping van die Voortrekkervrou ondermyn.  Voorts word ’n parallel getrek tussen die Brits-imperiale onderdrukkking in die negentiende eeu en die onderdrukking deur “Kapitaal” in die twintigste eeu.  Boonop laat die feministiese boodskap ’n mens die retoriek en rymdwang in die slotkoeplet so byna vergewe.  

 

                        Oor Drakensberg en vlakte heen,

                        Deur koue nagte, hael en reen,

                        Dit het sy vir ons land gedoen,

                        En sonder om daarmee te roem.

 

                        Vir die Vryheid het sy al laat staan,

                        Die Kaap het hul verlaat tesaam.

                        Om in die Vryheid te gaan leef

                        Wat hulle jare lank na streef.

 

                        Die Vryheid het nie lank geduur,

                        Want wat eers soet was word toe suur

                        Toe Kapitaal die oorhand kry,

                        Was sy die een wat swaar moes ly.

 

                        In die fabriek van vroeg tot laat,

                        Daar leer jy Kapitaal te haat,

                        Saam word daar ‘n besluit gemaak,

                        In 1932 gaan hul uit op staak.

 

                        Hulle het mos glo die reg gekry

                        Om al wat voorkom plat te ry

                        Maar dit het hulle niks gebaat,

                        Die vrou het weer die eer gehad.

 

                        As ons net saamstaan sal ons wen

                        dit sal die mans ook moet erken.

 

Bronne

Brink, E. 1986. The Afrikaner Women in the Garment Workers’ Union, 1918-1939.  MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand. 

Brink, E. 1987. Maar ‘n klomp “factory” meide: Afrikaner Family and Community on the Witwatersrand during the 1920s.  In: Bozzoli, B. (red.).  Class, community  and conflict: South African perspectives.  Johannesburg: Ravan, pp.177-208.

Brink, E. 1989. Purposeful Plays, Prose and Poems: The Writings of the Garment Workers, 1929-1945.  In: Clayton, C. (red.). Women and Writing in South Africa: a Critical Anthology. Kaapstad: Heineman, pp.107-127.

Krog, A.  1989.  A community is as liberated as its women.  A critical look at women in South African poetry.  IDASA occasional papers  (18).

 

Marais, R. 1988. Vrouwees: perspektiewe in die meer onlangse  Afrikaanse poësie en prosa.  Literator 9(3),29-43.

 

 

Andries Bezuidenhout. Nostalgies oor lost causes

Wednesday, February 3rd, 2010

Klerewerkers betoog vir die vrylating van Solly Sachs

My oupagrootjie was ʼn myner wat op die ouderdom van 30 aan myntering dood is. In my day job doen ek op die oomblik ʼn navorsingsprojek vir die National Union of Mineworkers (NUM). Ek hou daarvan om saam met hierdie vakbond te werk, omdat hulle nogal daarin kon slaag om ʼn mate van menswaardigheid te beding vir van die mees uitgebuite werkers in Suid-Afrika. Dis natuurlik nie ʼn vakbond sonder probleme nie, maar dis juis waaroor die navorsing gaan; oor of die lede tevrede is met wat die NUM vir hulle doen. Dis die derde keer dat ek só ʼn projek vir hulle doen – die vorige kere was 1998 en 2005. ʼn Mens kry deur só ʼn verhouding met die organisasie nogal ʼn in-diepte kennis van hoe dinge oor tyd verander.

Daar’s ʼn baie interessante geskiedenis van Afrikaners in vakbonde wat ons nooit op skool geleer het nie. In die 1920s tot ‘40s was Afrikanervroue nogal militante lede van die Klerewerkersunie, met Solly Sachs (oudregter Albie Sachs se pa) as die sekretaris, bygestaan deur aktiviste soos Johanna Cornelius, Anna Scheepers en Bettie du Toit. Elsabé Brink het navorsing hieroor gedoen. Ek het lank gelede ook ʼn stuk gelees oor die liedere wat hierdie werkers gesing het. Ek kan nou onthou van ʼn liriek op die wysie van “wat maak oom Kalie daar”, wat scabs (mense wat tydens ʼn staking werk) uitskel as synde te stink na “vrotte vis”. Ek hoop die persoon wat eendag die geskiedenis van Afrikaanse musiek gaan opskryf ontgin hierdie tradisie ook.

Dit laat my nou dink aan ʼn ou folk-liedjie, Which side are you on? Natalie Merchant het ʼn mooi weergawe daarvan opgeneem. Ek skat die teenstelling van “scab” en “man” sal dalk nie heeltemal op die Afrikaanse klerewerksters van ouds van toepassing wees nie, maar ʼn mens hoef nou seker nie sulke dinge deur politieke korrekte toetse te sit nie. Dis ʼn stukkie nostalgie vir lost causes…

Come all you good workers
good news to you I’ll tell
of how the good old union
has come in here to dwell

Which side are you on boys?
which side are you on?

My daddy was a miner
he’s now in the air and sun
he’ll be with you fellow workers
until the battle’s won

Which side are you on boys?
which side are you on?

They say in Harlan County
there are no neutrals there
you’ll either be a union man
or a thug for J. H. Claire

Which side are you on boys?
which side are you on?

Oh workers can you stand it?
oh tell me how you can
will you be a lousy scab
or will you be a man?

Which side are you on boys?
which side are you on?

Don’t scab for the bosses
don’t listen to their lies
poor folks ain’t got a chance
unless they organize

Which side are you on boys?
which side are you on?

  •