Posts Tagged ‘Klinkklaar’

Resensie: Klinkklaar (Daniel Hugo)

Monday, June 7th, 2021

 

Klinkklaar deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, 2021.

Resensie: Nini Bennett.

Daniel Hugo is ’n bekende en gerespekteerde digter en literêre vertaler. Hy is onlangs aangewys as wenner van Versindaba se Mont du Toit-kwatrynkompetisie. Klinkklaar, die sewentiende bundel op die digter se kerfstok, het 11 Mei by Protea Boekhuis verskyn.

Hugo se eerste gedigte is in 1981 gebundel in die bloemlesing, Brekfis met vier met mededigters André le Roux du Toit (later, Koos Kombuis), Etienne van Heerden en Peter Snyders. Die digter se artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns het verskyn as Vers en kapittel. Hugo het bykans 60 romans, jeugverhale en digbundels in Afrikaans vanuit Nederlands en Engels vertaal, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee maal bekroon sy vertaalwerk.

Die digter is ook bekend vir sy bloemlesings van ander digters se werk, byvoorbeeld die bundel pandemiegedigte, Maskers en Mure, wat Hugo en die digter Francois de Jongh saamgestel het en wat binnekort by Turksvy Publikasies verskyn.

Hugo se betrokkenheid by die Afrikaanse, asook die Nederlandse en Vlaamse letterkunde strek diep en wyd: hy is/was o.m. ’n RSG-aanbieder, akademikus, resensent en ankeraanbieder van die AVBOB-poësieprogram, Ek wou nog sê…

Hugo se jongste bundel dui op ’n voortsetting van vernufpoësie, wat so eie aan sy oeuvre is. Dit is ’n intellektuele spel met die versvorm, stylfigure en met die tipografiese, spellings-, fonologiese, morfologiese, sintaktiese en semantiese moontlikhede van die taal.

Hugo het per geleentheid gesê dat sy poësie ’n produk is van sy brein en dat emosie ondergeskik is aan die digprosesse. Met sy verse allereers as taalkonstrukte, kan mens tereg vra of die digter nie die risiko loop om fasiele poësie te skryf nie. Nee, inderdaad nié. In Klinkklaar wissel die luim tussen geestigheid en erns; elegiese verse kom byvoorbeeld voor in deel “IV Lamento”, en daar verskyn aangypende verse elders in die bundel. Of Daniel Hugo nou woordsmid, poëet of kulkunstenaar van die taal is, hy daag die leser uit om as kreatiewe medeskepper van betekenis die digproses te voltooi. In die persverklaring word Klinkklaar o.m. getipeer as “geslepe” poësie; met die herlees van die verse ontdek die leser telkens nuwe betekenisassosiasies: die digter speel, terg, toets die leser.

Etimologies dui die betekenis van “klinkklaar” (uit die Nederlands) op ”suiwer, onvermeng m.b.t. metale, waar ’n suiwer allooi ’n helder klank gee; in ’n hoë mate; volkome; volledig; klaar; duidelik; louter.”

Die soeke na, of preokkupasie met die trefseker rymwoord in die bundel roep Opperman se bekende segging voor die oog: “Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: / jou doen en dink, jou soek na ander en jou wag.”

Die bundel is gerubriseer in ses dele en handel tematies oor die digter-spreker se verblyf in die Lae Lande, die liefde, seisoene, die dood, Covid-19 en Ars poëtikale prosesse. Geloofskwessies word sardonies bedig, en Hugo wys sy slag met die vertaling van enkele klassieke gedigte. Vorige leitmotiewe, byvoorbeeld die eikebome of ander waarnemings in die digter-spreker se tuin, kom weer in Klinkklaar voor.

Die sonore titel as die helder klank wat die muntstukke (van ’n suiwer allooi) voortbring as hulle teen mekaar klingel, figureer in ’n paar verse.

Die opdraggedig:

 

Vir Marlene

 

woorde kan soos kleingeld in ’n broeksak

klingel totdat ’n vuis hul vasvat:

die vers wat soos ’n beursie toeklik    (p. 5)

 

En die titelgedig, waarin 1 Korintiërs 13 se metale resoneer:

 

Klinkklaar

jy hoor dadelik

die dowwe klank

van ’n vals munt

 

oombliklik herken jy

’n swak allooi

 

in die smeltkroes

van jou liefde

 

is ek gepuur

en opnuut gegiet

 

tot ’n klinkende

metaal, ’n suiwer

simbaal

 

hoor net hoe

my verse

fluister en skal       (p. 14)

 

Asook die vers op p. 87 waarin die digter ’n paar munte aan sy volhardende lesers wil nalaat. Hugo se droë humor is prikkelend.

 

Kennisgewing

ek het nou genoeg ryme verslyt

in die klinkende munt van die taal:

die voorraad is byna uitgeput

 

ek wil nog graag enkeles nalaat

vir ander wat nagte gaan deursit

en reken op ’n sinryke slot

 

hiermee gaan ek my rekening sluit

 

Kwatryne soos dié op p. 11, “Jacob Israel de Haan: kwatryne” en p. 17, “Twee winterkwatryne”, waar Prometheus as vuurdief en aanstigter van die liefde verbeeld word, bevestig die digter se meesterhand met die kwatryn as digvorm. In “Kuberpos” (p. 18) word Edward Lorenz se metafoor van die vlindereffek met betrekking tot die chaosteorie ingespan om te illustreer hoe skynbaar nietige aktiwiteite kan eskaleer in groot, onvoorsiene, of kosmiese gevolge:

 

’n vlinder klap sy vlerke in ons tuin:

’n tifoon tref Japan

 

ons hond vang ’n bal:

die aarde hou dadelik op met tol

 

ek steek my pyp op:

die Amasone bars uit in vlamme

 

jy stuur vir my ’n eenwoord-e-pos:

ek hoor die musiek van die sfere

 

“Grysland” (p. 20) tree in gesprek met Opperman se bekende “Ballade van die Grysland”, maar Hugo ekstrapoleer die grysland tot ’n angswekkende astrale ruimte; die nalewe selfs. Verse soos “Bieg” (p. 21) en “Naskrif” (p. 22) spot tong-in-die-kies met die naderende dood.

In “III Lente” word die intieme skryfruimtes, soos in Hugo se vorige bundels, weer betrek, byvoorbeeld die eik in “Lente” (p. 26):

 

die eikeboom is ’n klooster

met heeldag die dreungesang van bye

 

monnikke wat neurieënd werk

in die biblioteek van die tye

 

Die ekosisteem van bye, tortels, valke, insekte en eekhorings inspireer die spreker, word sy muse, en uiteindelik versmelt Ars poëtikale prosesse met dié van die natuurlewe, soos “Eik” (p. 27) ook illustreer. Die digterspreker se leefruimtes in Stellenberg, Durbanville, en Prins Albert in die Groot Karoo word, soos in vorige bundels, liries belig.

“Duif” (p.28) ontroer as ’n huldeblyk aan die ontslape digter, Gisela Ullyatt. Met p. 29 se “Digteby” krap die leser vir ’n oomblik kop oor die “heuning se soet raaiselrym”. Dié verwysing kom waarskynlik uit Rigters 14:14. Nadat Simson ’n swerm bye in die karkas, van die leeu wat hy verskeur het, ontdek het, het hy hierdie raaisel aan die Filistyne gevra: “Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets.”

 

hy vlieg dan terug met ’n geheim

wat onontsyferbaar bly:

die heuning se soet raaiselrym

 

Liriese gedigte oor bye bevestig ook die spreker se ekologiese bewustheid: die planeet se vername bestuiwers is ‘n bedreigde spesie.

Daar word die draak gesteek met met C. Louis Leipoldt (en sy bekende sekretarisvoëlgedig) in “die digter mor” (p. 31), die slotstrofe: “en voëls wat raas / brom sekretaars”. Die geraas word voorgestel as ’n distorsie van die woord, “sekretaris”, en Hugo se nuutskepping skuif na die bywoordposisie.

Deel “IV Lamento” bevat verse oor gestorwe geliefdes, die dood, die pandemie, asook enkele vertalings. Die wiegelied, die verbeelde bootjie na kammaland word op aangrypende wyse as die sterfgang en uitvaartslied van ’n bejaarde moeder beskryf. Die metafoor van die rivier as moeder word voortgesit in “Gammams”, (p. 39), opgedra aan “Ma Marieta” waar die spreker nostalgies ’n jeugherinnering met sy broers en moeder voor die gees roep. Die spreker ‘troos’ egter homself (én die leser) in die opvolgverse, “Digterstroos” en “Jobstroos” (pp. 40 – 41), maar werk doelbewus selfironisering in die hand, want die gewaande troos word ál erger (die humor word wranger). ’n Paar vernuftige vertalings van bekende gedigte volg: “Herinnering” (“Memory” – W.B. Yeats); “Moenie gelate gaan” (“Do not go gentle into that good night” – Dylan Thomas); “Ballade van die seisoene” (“anyone lived in a pretty how town” – e.e. cummings); en “Die rit” (“Because I could not stop for Death” – Emily Dickinson). Die vertalings beïndruk as netjiese Afrikaanse omdigtings in dieselfde templaat, toonaard, styl en tyd(sgees) waarin die verse oorspronklik geskryf is.

In die apokaliptiese vers, “Gedoemde domein” (p. 51) word die invloed van aardverwarming en die mens se laissez-faire-houding as ’n tipe selfvervullende profesie beskryf. Bybelse metafore word slim versluier: “al roep die klippe hul mening” – (Lukas 19:40: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe uitroep (dat Ek die Seun van God is).”

Die Duitse popsanger, Peter Schilling se liedjie, “The Noah Plan” (1982) kan dalk as interteks dien vir “Noag redivivus” (p. 52) as die spreker in die slotreël verklaar: “ek kry my ruimteskip gereed.” Geen tematiek is te donker nie: die spreker se antidoot teen dood en noodlot is humor, al is dit ook aan die donker kant.

In deel “V Lugtig” word die spot gedryf met insekte (dié wat die mens irriteer of sy rus verstoor). “Lugtig” dui op die dubbelbetekenis, naamlik “versigtig” en/of “in die lug”. Reeds met die vers, “Diagnose” (p. 55) in die vorige gedeelte word die vlieg uit die Egiptiese Plae-boek beskryf as “’n donner met ’n fyn reuk vir verrotte vlees.” Die spreker se gekorswel met hierdie vlieënde wesens word geestig beskryf, behalwe in “Vliegkuns” (p. 58), waar vier vlieë die ‘mededigters’ van ’n vers word.

“Die god van die vlieë” (p. 62) flankeer met William Golding se The lord of the flies, terwyl die geslaagde “Slaaploos op Prins Albert” (p. 63) op speelse wyse A.D. Keet se “Muskietejag” as interteks parodieer:

“Verwekker van malaria / sing maar jou laaste aria” (A.D.K) – “Verwekker van hierdie walm / poep maar jou laaste psalm” (D.H.)

Perdebye en wespe kom ook onder die soeklig. In “Studeerkamer II” druk die spreker heel satiries sy afguns jeens ’n wesp uit:

 

[…] – ek retireer

voor die giftige angel: sy vier

 

die triomf van die analfabeet

haar heksagone oortref my

slordige strofes keer op keer    (p. 67)

 

Deel “VI Klinkklaar” inkorporeer natuurelemente as Ars poëtikale prosesse, soos reeds genoem: “Gul muse” (p. 72), “Brenton-on-Sea” (p. 73), en “Karootuin ná die reën” (p. 74), om enkeles te noem. Die liriese Griekse digter, Pindaros, praat uit die graf met die spreker, en prosodie word beskryf as die voorganger van geënkodeerde tekskarakters – “Morse se kil kode” (p. 76). Die digter gee ’n kopknik (en glimlag) in die rigting van die taalkundige en digter, Jaap Steyn (Onomastiek, p. 77), die literatuurgeskiedkundige en studieleier betrokke by Hugo se doktorale proefskrif, prof. J.C. Kannemeyer (“Fondament”, p. 79), asook die skreeusnaakse “Vir my kritici” (p. 81). Die verdere ontginning van taal en betekenismoontlikhede word in dié afdeling voortgesit, byvoorbeeld die stuitige “II Let op die deelteken”:

 

ek gaan my op die poësie toelê

hoor ek ’n jongeling sê, maar:

die poësie laat haar nie toelê nie

en sy het altyd die laaste sê       (p. 78)

 

Die skryf van poësie as futiele aktiwiteit  resoneer met Auden se retoriese “poetry makes nothing happen.” Die laaste vyf verse het ’n geestelike – én geestige – strekking: ’n bittersoet herinnering aan die vader as predikant, asook die ambivalensie wat die spreker as on-/gelowige Christen beleef. Die bundel eindig ironies met die vers, “Götterdämmerung” – wat o.m. die einde van ’n era beteken – maar steeds is dit het einde niet. Die bundel is nie klinkklaar, binne die betekeniskonteks “klaar; verby” nie – dit open weer met ’n nuwe begin:

 

Götterdämmerung

 

in die hand van die Skepper

terwyl al die sterre verwelk

word ’n gravitasiekolk

die laaste godeskemerkelk

 

’n yskoue planeet kom

plons in die kelk – met ’n groot knal

spat dit uiteen en laat blom

’n verdomde nuwe heelal      (p. 95)

 

Met hierdie bundel lewer die digter ’n klinkklare bewys van ’n soliede digterskap. Dit is ’n bundel wat as ’n hoogtepunt in Hugo se oeuvre geboekmerk kan word, maar ook vir die liefhebber van poësie baie vreugde sal verskaf.