Kobus Kotze. Daar waar die bus was
Wednesday, February 23rd, 2022
Daar waar die bus was
(Westdene-busramp 27 Maart ’85)
Daar waar die staalbus eens versuip het met al die kinders binne haar lyf
hulle stemme wat in die water saggies soos die organe van my ouma
koebaai gese het daardie dag toe ek nie daar kon wees nie het jy
my vir altyd alleen gelaat met die blinde afstand wat
tussen alle wesens en die lughawens binne ons bestaan
my mond het beweeg met die onvoorspelbaarheid van
vroegoggend karongelukke tussen plattelandse dorpe
vol kroeë met te veel spieëls & die grofkliphande van kensdronk
mans met ‘n dialek soos die van onbekende roofdiere skuim
om die mond en hygend oor alles wat nie meer is nie
& steeds, ek kon jou reuk nie peil nie maar jou wese wel
sien oopvlek soos ‘n vy uit ‘n lenteboom wat gegroei het
in ons siersteenhuiswoonbuurt waar oom Jakob homself
in die garage loop hang het een Sondagoggend voor kerk
Soos mank wildsbokke het ons daardie oggend langs die oopenjin
van my Opel-motorwrak op die hoek van daai straat in Westdene ons
verbystering aan mekaar toegegee & jy het die afstand tussen ons (h)erken
& het ek toe al geweet dat die vernis op die houtvloere waar ons geslaap
het lankal in die oop lug verdamp het om die vorm van ‘n ander aan te neem?
stil soos voëls wat noord migreer en sonder voorafkennis het ek toe gegaan
weg vandaar tussen die bouganvilliahuise en oorgrooterwe en dooie duiwe
& ek het die afstand tussen ons teen die wolkelose lug vrygelaat om met
die onbekendheid van ‘n nuwe asem ander lewe te loop soek
& vir nou sal ek in liefde ander rampe verken en die lig soek
ek sal die pad uit hierdie stad bestrooi met al die karkasse van waar ek eens was
en net die lug agterlaat voor ek sweef oor die stukke aarde waar die
jagter my nie meer met voorafkennis oop en veweer laat bloei nie
& ek weet nou ons moenie veg teen die gate wat hierdie inborende
staalreën in die wolke en blou blou lug en berge maak nie
& ons moet ons liggame maak in die vorme van Noorse skepe en ons harte
vol seersonsand hou sodat die skalpels van dokters en plastiese chiruge
en akupunktuur dit nooit kan oopvlek soos pers tuinblomme
of vye in die platteland nie.
© Kobus Kotze, 2022