Posts Tagged ‘Kobus van der Riet’

Jacobus van der Riet. ‘n Nuwe naam vir Stellenbosch?

Saturday, June 6th, 2015

       

O Aldarin! o name, o versugting!

Op Pelgrimsrus in die Transvaal

wil ek weer hoor hoe klink my taal

skoner, welluidender as Provencal.

.

(Is Afrikaans welluidender as Provencal? Maar dit daar gelaat…)

 

Die eerste of selfs enigste Afrikaanse gedig waarvan ek op skool gehou het, was Uys Krige se Tram-ode, deels omdat hy die verrukking wat hy by die aanskoue van die Aldarin ervaar het so goed kon verwoord – ek het as kind graag in die Kaapse dokke rondgedwaal en met verlange na die slanke skepe met hul eksotiese name en hawens van registrasie gekyk – en deels natuurlik oor hy al die wonderlike plekname so vaardig kon opstapel. Die wanhoop en verdriet waaroor hy dit ten diepste had, kon ek destyds nog nie begryp nie.

Die plekname wat Krige gekies het, was meestal besonder welluidend en evokatief. Onder die Afrikaanse plekname tel dan Dwaal, Ruitersbospas, Baardskeerdersbos, Pelgrimsrus, Putsonderwater, Waenhuiskrans, Bontebokskloof, Leeukop, Tamboerskloof en Swellendam. Van al hierdie name kan gesê word dat hulle sag op die oor val. Die name is oorwegend beskrywend en verbeeldingryk: dit roep telkens ‘n prentjie of ‘n gevoel op, behalwe Swellendam wat maar ‘n sameflansing van vanne is.

Dis trouens ‘n kenmerk van die beste Afrikaanse naamgewing, die beskrywende aard daarvan. Dikwels is dit dan ook welluidend. Die Afrikaanse dorpsname wat na mense vernoem is, is daarenteen bra niksseggend, bv. Humansdorp, Groblersdal, Delportshoop, Ventersdorp en Ventersburg – beslis nie name wat ‘n mens in Tram-ode sou verwag nie. Bg. dorpsname het wel ‘n sekere ritme, maar dis ook al.

Nou is my voorstel dat die twee kenmerke, t.w. beskrywendheid en welluidendheid, eintlik deur die Plekname Kommissie in gedagte gehou moet word wanneer naamsverandering oorweeg word, naas ander oorwegings, soos om vroeëre inheemse name te heraktiveer en die behoefte om aan name met koloniale assosiasies te ontkom. ‘n Mooi naam is sielsverkwikkend, maar ‘n lelike naam is sieldodend. Vra maar vir enige kind wat swaar dra aan sy of haar naam.

In ‘n land met so ‘n klomp uiteenlopende nasionalismes is dit dalk wys om plekname wat aan persoonsname gekoppel is, te vermy, veral die name van politici en koloniale amptenare. Dit sou wel die doodsklok kon lui vir Tulbagh, Graaff-Reinet, Stellenbosch en Swellendam met hul VOC assosiasies, maar ook vir Wellington, Montague, Caledon, Durbanville, Carnarvon, Worcester, Somerset-Wes en -Oos ens. wat die Britse tydperk verteenwoordig. Sal ‘n mens bg. name mis? Mense raak immers geheg aan name al is die name eintlik verspot, bv. Carnarvon in die middel van dieKaroo! Dalk sal die gebrekkige kennis van die geskiedenis die meeste van hierdie dorpsname tog wel red.

Plekname wat aan Voortrekkerleiers gekoppel is, is, soos ons reeds weet, bra omstrede, so daar gaan Pretoria, Pietermaritzburg, Potchefstroom, Piet Retief en Louis Trichardt, indien nie sonder ‘n veldslag by Vegkop nie. Die pleknaamPretoria is boonop nie juis welluidend nie, veral nie met die meer harde Cisvaalse uitspraak nie. Dan word dit bykans onuitstaanbaar. Tshwane is wel eufonies, maar dis ook ‘n persoonsnaam en daar bestaan skynbaar onsekerheid oor of die man werklik geleef het, en dit laat ons dus met die moontlikheid van Apies, n.a.v. die rivierstroom wat by tye daardeur vloei. Desnoods, indien Apies as bedenklik beskou sou word, kan die voorstad Rietfontein sy naam aan die stad self verleen, ‘n voorstel wat ek om begryplike redes sal ondersteun.

Schweizer-Reneke is vernoem na twee offisiere van die ZAR wat in ‘n skermutseling met die Korannas omgekom het. Voor die oorlog, wat die lewe van 150 Korannas en 9 ZAR soldate geeis het, het die plek Mamusa geheet, toe dit nog die kraal van wyle Dawid Massou, die Korannaleier, was. Watter een van hierdie twee name, Mamusa of Schweizer-Reneke, sal ‘n mens in ‘n wiegelied wil gebruik, afgesien van die vraag oor wie die held in hierdie stryd was?

Vir die Kaapse dorpe sal ‘n mens telkens moet gaan kyk of daar nie welluidende Khwe-Khwe name (oftewel Khoi-Khoi name) is wat die VOC of  Britse assosiasies kan vervang nie. Wat is bv. die Khwe-Khwe naam vir Stellenbosch? Die Tweeling Pieke moes tog die Khwe-Khwe se verbeelding geprikkel het, en so ook die soms vinnigvloeiende Eersterivier. Skynbaar het die plek ook destyds as Wilde Bosch bekend gestaan, vandaar die Bosch wat deur Van der Stel aan sy eie van geheg is om die ietwat simpel naam te vorm. Die Universiteit van Wildebosch en die Wildebosse Woordfees dus? Die Fynproewersgilde sal dan ook die naam van hul boek verander na “So eet ons in Wildebosch”.

Tulbagh sou kon terugkeer na Roodezand, of, indien die Nederlands as aanstootlik ervaar word, na Rooisand, hoewel die ontwikkelaars van leefstyllandgoedere ongetwyfeld die meer “verhewe” Roodezand sal verkies.WorcesterkanRoodewal of Rooiwal oorweeg (soos een woonbuurt aldaar reeds heet), dog hopelik kan die Khwe-Khwe erfenis ons hier te hulp snel met iets fraaier. Wellingtonval sag op die oor, maar Wagenmakersvallei is meer evokatief. Durbanville kan met vrug terugkeer na die oorspronklike Pampoenkraal, Caledon na Zwartebergbad of Zwartberg, Colesberg na Toverberg, Napier na Klippedrift, Williston na Amandelboom, Laingsburg na Vischkuil (aan de Buffels Rivier) of sommer net Viskuil,  Carnavon na Schietfontein, Upington na Olijvenhoutsdrift of Kharaes, die Khwe-Khwenaam, en Victoria-Wes na Zeekoegat. Besoekers aan lg. sou dan kon bespiegel oor die waarkynlikheid al dan nie van seekoeie se aanwesigheid in daardie geweste. Maar hoe sal die Beaufort-Wessers voel om die naam Hooyvlakte te herwin?

Die dorpe wat na dominees vernoem is, is nie so omstrede soos dié met politieke assosiasies nie. Robertson is nie evokatief nie, maar darem ook nie juis hard op die oor nie. Merweville daarnteen is nòg verbeeldingprikkelend, nòg soetklinkend. Fraserburg is maar so-so. McGregor het voorheen Lady Grey geheet, so dis om’t ewe.  Calvinia se voormalige naam was Hantam. Diegene wat van die naam Calvinia hou, sal seker frons oor Sint Helenabaai en Paternoster. Vir my is Hantam wel effens mooier as Calvinia, maar ek is vermoedelik bevooroordeeld teenoor die streng ikonoklas wat aldaar onthou word.

Die Sendingstasiename is oor die algemeen heel melodieus met velerlei assosiasies van ‘n woestyntrek of ‘n voorvaderlike avontuur om die verbeelding te stimuleer, hetsy Elim, Salem, Bethel, Mamre, Saron, Pniel of Zoar. Dan moet ‘n mens egter nog Bybel lees in ‘n eeu van afvalligheid en ongeletterheid, om dié name te kanwaardeer.

Die name van Meiringspoort se driwwe is veral baie mooi: Eerste/Laaste Drif, Opmetingsdrif, Wasgatdrif, Bloupuntdrif, Pereboomdrif, Rooiuitspanningsdrif, Derde Tol-drif, Ontploffingsdrif, Watervaldrif, Uitspanningsdrif, Witfonteindrif, Wadrif, Ou Toldrif, Witperde, Herriedrif, Sanddrif, Perskeboomdrif, Dubbele drif, Nooiensboomdrif, Aalwyndrif, Skelmkloofdrif, Boesmansdrif, Damdrif, Skansdrif en Spookdrif. Kan Oudtshoorn en Plettenbergbaai nie hul VOC assosiasies afskud en uit bg. name inspirasie put vir iets nuuts nie? Die skrywer Pauline Smith se skuilnaam vir Oudtshoorn was Platkop. Dalk verwys dit na die volstruis se gebrek aan ‘n imposante voorhoof, wie sal weet? Of is dit ‘n toespeling op die naam Langenhoven? Indien Ashton moet voortbestaan, wat nie noodwendig bewysbaar is nie, kan dit die naam Ontploffingsdrif leen by Meiringspoort se driwwe, as erkentenis van wat die argitektuur aldaar verdien en selfs om smeek.

Anders as die driwwe se lieflike name, is name soos Sasolburg, Westonaria, Carltonville, Evander, Germiston, Rawsonville, Ohrigstad e.d.m. bykans onuitstaanbaar en moet dit noodwendig die inwoners psigies knou of knak. En dan swyg ons maar oor Parow. Of verwar ek nou die naam met die ding self? Terloops, Germiston was oorspronklik Elandsfontein. Kan daar enige argument wees oor watter een van die twee name die hart verbly?

En dit bring ons dan by Kaapstad. Die Khwe-Khwe se naam vir die berg is Hoerikwaggo en vir die plek self is dit glo //Hui-!geis. ‘n Mens moet sekerlik die tong klik of hik om dit uit te spreek. Die naam Kaapstad is maar bra prosaïes, en hoewel dit in Tram-ode voorkom, is dit nie een van die name wat Krige in vervoering het nie. Dis bloot nog ‘n plek waar die hart sy verdriet ken, iets waarvan ek wel kan getuig. Hoerikwaggo het heelwat meer allure. Maar Snoektown sou ook kon deug, omdat dit die essensie van die dorp so goed raakvat. So nie, Drieankerbaai wat ‘n lieflike naam is.

As ek moet kies tussen Durban en eThekwini, kies ek sondermeer lg. Veral in Afrikaans uitgespreek, is Durban haas ondraaglik. Tlokwe is ook vir my mooier op die oor as Potchefstroom. Polokwane is effens welluidender as Pietersburg, hoewel Pieter ‘n besonder mooi naam is. Net so is Johannes aangenaam op die oor en kan dit in Johannesburg se guns tel. Die mooiste naam is natuurlik Witwatersrand en dit sou as naam vir die stad kon dien, indien Afrikaans ‘n lingua grata in die huidige bedeling was. Maar helaas. Dan maar Kliptown, om ‘n tweeluik met Snoektown te vorm.

O wakker mars van name deur my gees van stede, dorpe, plase –

plekke waar ek eens gewees het,    

waar ek verlang het om nog eendag te wees,   

toe ek as seun, verruk, onder die lamplig saans van hulle gelees het.

 

Maar geen seun sou saans by lamplig met verrukking kon verlang om eendag nog in Sasolburg te wees nie. Dis net nie moontlik nie.

.

Bronne:

Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek. Kaapstad: Suid-Afrikaanse   Boeksentrum.

Pettman, C. 1985. South African Place names, Past and Present. Johannesburg: Lowry Publishers.

Raper, P.E. 1989. Dictionary of Southern African Place names. Johannesburg. Jonathan Ball.

Wikipedia: Meiringspoort.

 

 

 

 

Kobus van der Riet. Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor

Monday, May 11th, 2015

Die WAT en die Bomwerper in die Ovaal Kantoor

 

 

Ons gons uit die blou.

Ons dreun bo die aarde.

Luister! Luister!

 

Soos ons almal seker teen dié tyd weet, onderteken Pres. B.H. Obama van die VSA op Dinsdagoggende die doodsvonnise van almal wat in verre lande deur middel van onbemande afstandbeheerde vliegtuie se missiele om die lewe gebring moet word, hetsy vermeende lede van Al Qaida of die Taliban, hetsy hul Amerikaanse meelopers of ander ongewenste persone. En daarmee saam enigeen wat toevallig op die toneel mag wees, soos bv. begrafnisgangers of bruilofsgaste. Die regsproses word nie by hierdie doodsvonnisse betrek nie, dog die handtekening word steeds nodig geag. Die dodetal behels reeds ten minste 2887 mense in Pakistan, Jemen, en Somalië, waarvan honderde burgerlikes was, selfs onskuldige kinders.

Ons is mooier as die albatrosse,

ons is witter as die seemeeue,

ons is vinniger as die mens se gedagte:

nog voor julle ons sien,

as julle ons nog skaars gehoor het,

val ons skaduwee op julle…

 

In Engels staan hierdie aktiwiteit as “drone killings”, “drone strikes”, “targeted killings” of  “drone assassinations” bekend en die opperbevelvoerder van daardie moondheid is dus ‘n “drone killer” of “drone assassin”. Nou kan ‘n mens vra wat die Afrikaanse term vir hierdie belangrike hedendaagse begrip is, sou ‘n mens se eie doodsberig dit benodig of sou die draadlose radiostasie van RSG daaroor wou verslag doen. Ooglopend is “onbemande afstandbeheerde vliegtuig-sluipmoord” te lomp en lank om aan die skielike verskyning uit die niet van hierdie dodelike tuig reg te laat geskied. So wat is die moontlikhede?

‘n “Drone” is ‘n hommelby. Die naam is gepas omdat die bepaalde vliegtuigies seker wel ‘n ligte dreuning voortbring. Die woordeboek erken “hommel” as ‘n korter weergawe van “hommelby”, en hoewel hommelbye na my wete nie besonder gevaarlik is nie, is dit nietemin ‘n by, en suggereer die naam deur assoasiasie dus tog pyn en lyding, afgesien van mededinging om die guns van plompe koninginne.

Sou die WAT dan tevrede wees met “hommelmoord” en “hommelbom” om dié byderwetse aktiwiteit te verwoord? ‘n Mens sou dan kon verwag om ‘n berig oor die nuus te hoor soos: Mnr. So-en so en sy bruilofsgaste is vanoggend deur ‘n hommelbom gedood, in ‘n klaarblyklike hommelmoord, op las van die hommelbevelvoerder in die Withuis. Die oorskot van so ‘n hommelbomaanval, beide menslike weefsel en argitektoniese afval, kan desnoods as “hommelrommel” afgemaak word, sou Afrkaans ooit in die Withuis se gange gebesig word. Maar laat ons verder dink en ander moontlikhede ondersoek.

Afrikaans het maar min woorde om reg te laat geskied aan treffende begrippe soos “killer”, “strike”, en “bomber”, aangesien Vlakplaas klandestien bedryf is en die woordeskat wat daar ontwikkel is, nie aan die groot klok gehang is nie.  Afrikaans is tans nog nie so soepel nie en moet voortsukkel met omslagtige woorde en beskrywings wat nie na behore reg laat geskied aan die Pentagon se kragdadige, kliniese werkswyse nie.

 


Die vlag van die staat Borduria, waarvan die heerser Maarskalk Kurvi-Tasch is (Tintin, 1956).

 

“Moordenaar” het weliswaar nie gewoonlik ‘n militëre verwysing nie, en is dus nie heeltemal gepas om met “hommel” gekombineer te word nie. Maar wat is die alternatief? “Slagter” miskien? Dus, die Hommelslagter President B.H. O’Bomber? Of die Hommelbombardier? ‘n Bombardier is klaarblyklik ‘n onderoffisier in die artillerie, so dit is moontlik tog die regte woord om die werklike bevelvoerende ervaring van die Withuisbewoner te verwoord.

Wat is die Afrikaans vir “strike”? “Aanval” is effe vaag en gee nie die vernietigende trefslag weer nie. Dieselfde geld vir “aanslag”. Dan maar “hommelslag” of  “hommelslagting”, veral indien selfs die toevallige omstanders ook vermorsel of versap word. In Engels, oftewel Newspeak, word van “collateral damage” gepraat. Maar wil ons Afrikaans tot op daardie vlak verlaag?

 

Kyk na ons, kyk na ons!

Julle wat die rooi lemoene

pluk in die boorde.

Julle wat op bruin donkies

mark toe ry deur die wit stof

van die slingerpad oor die berge.

Julle wat buk-buk gaan

al tussen die goue koring

en dan as julle ons hoor,

jul sekels half laat hang

oor die knikkende are

terwyl julle die sout sweet vee

uit jul donker oë.

Kyk na ons, kyk na ons,

sodat julle ons sien

en ons julle sien,

opdat ons julle verdelg

soos onkruid van die aarde!

 

..

Die lied van die hommelbom

 

Kom, bruid en bruidegom, met jul hele gevolg,

kom met kaftan en tulband van katoen en satyn

kom met tabberd en sluier in bloeiselkleure

slaan die drom, rinkels die tamboeryn

opdat julle my nie hoor nie

want ek ken jul koördinate

ek mik op julle af

sekuur tot op die duim en sekonde

dit is immers die plek en uur

bepaal deur die hommelbombardier.

 

Kyk, ek verskyn uit die niet

ek is die gas wat julle nalaat om te nooi

uit newels van die nag of helder oordag

uit die ligblou lug of wolke  of rook of mis

bring ek fakkels bring ek vuur

vir die bruilofsfees van lig en duisternis

kyk, ek strooi blomme, almal, almal rooi,

in patrone van spatsel, smeer en plas.

 

Kom, roubeklaers, kom na die graf

kom met geskeurde  klere, kom in sak en as

maak los jul hare krap jul wange en kla

slaan swaar die somber snare

opdat julle my nie hoor nie

want ek ken jul koördinate

ek mik op julle af

sekuur tot op die duim en sekonde

dit is immers die plek en uur

bepaal deur  die hommelbombardier.

 

Kyk, ek verskyn uit die niet

ek is die begrafnisganger wat telkens verras

wat reis oor heuwel, laagte en vallei

kyk, ek droog die trane vir altyd af

ek ruk ‘n  gat uit die grond

ek skroei die wond ek snoer die mond

ná die slag bring ek stilte

waar daar pas nog weeklag was.

 

Dit is immers die plek en uur

bepaal deur die hommelbombardier.

 

© Kobus van der Riet / 2015

 

Bron:

Alle aanhalings kom uit “Lied van die Fascistiese Bomwerpers” deur Uys Krige, uitgesonder eie gedig.

 

 

  •