Posts Tagged ‘kollektiewe identiteit’

Marlies Taljard. “Land van genade en verdriet”

Friday, July 30th, 2021

 

 

Anselm Kiefer. Die Orden der Nacht

 

7.

diepste hart der harte

hart wat net kan bars uit hierdie swart aarde

onverskrokke

met tande ferm

in die slagaar van die enigste waarheid wat altyd opstaan

en in dié land is goddank altyd dié wat opstaan

opstaan en opstaan

teen die ander in

teen die eie in

teen geweld en onreg in

ek besing dié verblindende medemenslike hart

met ‘n lied van hoort en behoort

die keel smeul in trane

vir een kortstondige skitterende oomblik is dié land

waaragtig ons algar s’n

 

o my allerhart, jy kom verruk op die been!

(“land van genade en verdriet”, Krog, 2000:41)

 

Dié gedig is deel van die siklus “land van genade en verdriet” in Antjie Krog se bundel kleur kom nooit alleen nie (Krog, 2000:37-44). In die tien gedigte in hierdie siklus word persoonlike perspektiewe en insigte aangaande die apartheidsgeskiedenis verwoord. Die siklus open met die woorde:

 

hoe verskriklik

hoe wanhopig

hoe vernietig breek dit tussen jou en my

(Krog, 2000:37)

 

Uit hierdie reëls spreek die geweldige kloof wat daar in hierdie land tussen verskillende mense en groepe bestaan en wat geëggo word deur klemlegging op stryd tussen “ander” en “eie” in die sewende gedig van die siklus: “en in dié land is goddank altyd dié wat opstaan[…] teen die ander in / teen die eie in”. In die volgende gedig word die moontlikheid van dekonstruksie van dié opposisionele diskoers gesuggereer deur die reëls:

 

hoor! hoor die opwel van medemenslike taal

            in haar sagte weerlose skedel

en hoor die stemme

die talige stemme van die land

            almal gedoop in die lettergreep van bloed en hoort

be-hoort die land uiteindelik aan die stemme wat daarin woon

lê die land aan die voete van verhale

            van saffraan en amber

            engelhaar en kwets

            dou en eer en draai

(Krog, 2000:38)

 

Medemenslikheid, verpersoonlik deur die hartmetafoor vorm ‘n leitmotiv in die siklus “land van genade en verdriet” en word op byna ekstatiese wyse deur die visioenêre uitroep in die sewende gedig van die siklus besing: “ek besing dié verblindende medemenslike hart / met ‘n lied van hoort en behoort”. “Hoort” en “behoort” is belangrike bepalers van identiteit wat in bostaande sitate duidelik in verband gebring word met taal, die poëtiese vergestalting van idees en die vertel van verhale waardeur narratiewe identiteit gekonstrueer word. Die terapeutiese waarde wat geleë is in die vertel van lewensverhale en die konstruksie van ‘n nuwe identiteit deur selfkennis wat voortspruit uit die skep van ‘n sinvolle lewensverhaal, is wel bekend en word deur die bostaande aanhaling onderskryf. Interpretasie van gebeure uit die verlede speel ‘n belangrike rol in die konstruksie van ‘n lewensverhaal wat veral gemik is op die herstel van ‘n bedorwe identiteit –  in gedig 8 van die betrokke siklus word byvoorbeeld  verwys na “geraamtes, oorsprong, skande en as”. In dieselfde gedig word die gelukkige einde van die proses waarin ‘n nuwe identiteit geskep word deur die vertel van en luister na mekaar se verhale in die vooruitsig gestel:

 

vanweë die verhale van verwondes

lê die land nie meer tussen ons nie

maar binne-in

 

Belemmeringe tussen mense kan dus by implikasie oorkom word deur die vertel van verhale wat ‘n gesuggereerde staat van ver-innerliking tot stand kan bring waarin vrede moontlik is. ‘n Mens sou met reg kon beweer dat die hele siklus “land van genade en verdriet”, wat in wese ‘n selfondersoek van die sprekende ek is na die omstandighede in die land en haar persoonlike betrokkenheid daarby, ‘n manier is om tot selfkennis te kom deur nuwe interpretasie van ou feite en verhale én ‘n poging om ‘n nuwe vreedsame wyse van saambestaan te bedink wat geskoei is op ‘n positiewe kollektiewe identiteit.

Dat ‘n gedeelde identiteit moontlik is, word gesuggereer deur sowel die eerste as die laaste reëls van gedig 7: “diepste hart der harte” dui beslis op ‘n soort kollektiwiteit wat bevestig word deur die woord “allerhart” in die slotreël wat “almal se hart” beteken en suggereer dat die hart deur almal gedeel word. Gedeelde identiteit is beslis ook die wens van die sprekende ek wat in die gedig “afskeid” (p. 100) die volgende versugting slaak:

 

om die omhulsel van jou ook as myne te erken

sou ek graag van jou wou

maar die reis het my bevry

van die tirannie van een

 

Snow (2001) sien ‘n duidelike verband tussen kollektiewe identiteit en kollektiewe aksie:

 

Embedded within the shared sense of “we” is a corresponding sense of “collective agency”. This latter sense, which is the action component of collective identity, not only suggests the possibility of collective action in pursuit of common interests, but even invites such action.

 

Dergelike kollektiewe handeling word gesuggereer deur “onverskrokke” optrede “met tande ferm / in die slagaar van die enigste waarheid” en mense “wat opstaan […] teen die ander in / teen die eie in”. Hoe radikaal dié handeling moet wees ten einde die gewenste doel te bereik, word deur die volgende beeld in die vyfde gedig van die siklus geïllustreer: “sny my […] / uit tyd uit willekeur en leuens uit die onhoudbare siddering / […] sny my vry / in berou” (p. 40). Soortgelyke handelinge dui op ‘n doelbewuste proses wat klem lê op die gemaaktheid van identiteite. Die voordeel van so ‘n gemaakte identiteit is dat identiteitskonstruksie nie afhanklik is van primordiale eienskappe soos ras, geslag en seksuele oriëntasie óf van strukturalistiese gemeenskaplikhede soos sosiale klas, etnisiteit of nasionaliteit nie, maar volgens behoefte gekonstrueer kan word. ‘n Verdere troosryke implikasie van doelbewuste identiteitskonstruksie is dat “real or imagined shared attributes” (Snow, 2001) aan die basis van kollektiewe identiteit lê en dat so ‘n verbeelde paradigma geskep kan word deur “‘n woordeskat nuut in sag, intieme keelklanke” (gedig 8, p. 42), dat taal in staat is om die oue te transformeer en die nuwe tot stand te bring: “‘n duisend woorde / skroei my tot ‘n nuwe tong” (gedig 8, p. 42).

Transformasie van ‘n politieke werklikheid wat gekenmerk word deur die nalatenskap van apartheid, is een van die vernaamste temas van die bundel kleur kom nooit alleen nie. Verkryging van ‘n nuwe identiteit, vry van die belemmeringe van die verlede, is een manier waarop transformasie in die Suid-Afrikaanse gemeenskap tot stand kan kom. Die liriese, byna visioenêre uitroep van die sprekende ek in die bo-aangehaalde gedig: “vir een kortstondige skitterende oomblik is dié land / waaragtig ons algar s’n” is die ideale uitkoms van ‘n sorgvuldige proses waarin ou, belemmerende identiteite gedekonstrueer word en versigtig vervang word deur ‘n nuwe, bevrydende kollektiewe Suid-Afrikaanse identiteit.

Klemlegging op ‘n nuwe, beletselvrye, gedeelde identiteit is een van die hooftemas van die bundel kleur kom nooit alleen nie. Dit is duidelik dat die digter doelbewus werk aan die totstandbring van ‘n gedeelde identiteit en dat sy identiteitskonstruksie as ‘n soort reis beskou wat nooit afgehandel is nie.

Nou, 20 jaar na die verskyning van dié bundel het ek dit weer gaan lees, en ook in die huidige politiek onstabiele toestande met haat en woede teenoor alle moontlike manifestasies van die Ander, is daar sin te make van hierdie meesleurende teks. Ons het die praktiese toepassing van die liriese teks pas gesien tydens die terreuraanvalle in Kwa Zulu Natal en Gauteng, waar gewone mense op menslike, etiese wyse by mekaars leed betrokke geraak het.

 

Bronnelys:

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

SNOW, David. 2001. Collective Identity and Expressive Forms. Centre for the Study of Democracy. (University of California, Irvine). Paper 01’07. [web:] http://repositories.cdlib.org/csd/01-07