Philip de Vos. ‘n Tyd om Koebaai te sê
Wednesday, August 3rd, 2011‘n Tyd om Koebaai te sê illustrasie: Piet Grobler
Soos Koning Salomo 0p 18 April 2584 vC aan een van sy derduisende vrouens voor ’n aand van lepellê gesê het: “Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan, en vanaand is dit ongelukkig die tyd vir laasgenoemde, want selfs gepoeierde renosterhoring het vanaand sy effek verloor.”
En nou, nes, die wyse koning, weet ek is dit nou tyd om koebaai te sê, al is dit miskien net vir ’n klein rukkie.
Op 17 Augustus is ek op pad oor die groot waters (iets wat alreeds deur my frenoloog in 1957 voorspel is – lees gerus my eerste bloginskrywing;
https://versindaba.co.za/2009/08/05/van-mooi-dinge-in-die-lewe/
Maar – as ek dalk genoegsaam deur Mount Rushmore en deur Disneyland geïnspireer word, is daar miskien teen einde Oktober weer ’n inskrywing of twee op hierdie blog om mense te laat weet watter diep dinge ek dink.
Intussen moet ek maar liewer soos my skapie sê:
Slaap kindjie slaap
daar buite
loop ’n skaap.
En as skapie
loop en mê,
wat wil skapie
eintlik sê?
“Kriewel
met jou vingers
deur my
warm
troetelwolletjies.
Moet my
net nie druk nie
anders los ek
tjoklitdrolletjies . . . ”
Slaap kindjie slaap
daar buite
loop ’n skaap.
Skapie blêr
en skapie mê . . .
Skapie het
sy sê
gesê.
En indien die VSA met al die MacDonalds en Colonel Sanders-hoenders my nuwe muse gaan wees, skryf ek dalkies weer my diep gedagtes op papier neer.
Maar as dit miskien nie gebeur nie, wil ek net noem dat my bloginskrywings begin volgende jaar as boek deur Proteaboekhuis gepubliseer gaan word. En hierdie is dalkies die omslag: