Posts Tagged ‘Koos du Plessis’

Nini Bennett. Poësie en kontemporêre musiek: Van Koos du Plessis tot Danie du Toit

Tuesday, June 14th, 2022

 

 

Baie digters is moedeloos wanneer hulle hul tantième-state ontvang – en dan is daar die blitsverkopers van poësie soos die hoofsanger, Danie du Toit van die alternatiewe rock-groep, Spoegwolf wat onlangs sy derde digbundel bekendgestel het. Dit lyk of Du Toit elke jaar ’n bundel selfpubliseer: Warmer voor die tuimeldroër (2020); Sterreval (2021) en Die tuin (2022).

Reeds in 2003 vra Elbie Adendorff in haar MA-verhandeling, Digdebute teen die millenniumwending: ’n polisistemiese ondersoek of die herstel van die poësiesisteem nie in die musieksisteem lê nie, aangesien poësie teen die millenniumwending reeds deel geword het van musiek. Sy verwys na die talle toonsettings van Afrikaanse gedigte in verskillende musiek- en subgenres, soos rock, ballades en die kunslied. Die wisselwerking tussen musiek en poësie het tot gevolg dat sangers ook as digters gereken word; daarom is die lirieke (of gedigte) van Koos du Plessis in Groot Verseboek en in Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 opgeneem. Die ontsluiting van die kanon, om gevolglik ’n verbreding daarvan teweeg te bring, beteken dat daar kennis geneem word van alternatiewe vorme van poësie. Die herlewing van die Afrikaanse digkuns vind onder meer gestalte in rock, rap (kletsrym) en blues. Afgesien van toonsettings, het die ontwikkeling van die elektroniese media ’n legio nuwe bemarkbare kanale vir poësie geskep. Die Om te Breyten-projek met die liedjieskrywer, Anton Goosen en klankingenieur, Albert du Plessis het gelei tot gewilde CD’s wat pryse soos die SAMA- en die Geraas-toekennings verower het. Mondmusiek met Breyten se eie voorlesings is eweneens ’n groot treffer. Die verhoogproduksie en CD van Hans du Plessis se bundel, Innie skylte van die Jirre het ook ’n bydrae gelewer om dié poësie aan ’n groot leserspubliek bekend te stel. Dit is nou amper 20 jaar later en met die innovasie en nuwe moontlikhede wat die internet en sosiale media bied, het daar ondertussen ’n groter verdraagsaamheid en akkommodasie rondom poësie ontstaan, wat nie die resepsiepraktyke van die tradisionele hoofstroombundels navolg nie. Die literêre polisisteem omarm inderdaad die “nuwe poësie” wat Adendorff bepleit het: die gekanoniseerde digters en tekste wat in die sentrum staan, sowél as ongekanoniseerde digters en tekste op die periferie. Dit is juis hierdie dinamiese aard van die interaksie tussen die verskillende subsisteme wat die literêre sisteem laat voortleef.

Volgens Adendorff is die literêre polisisteem se hoofkomponente die bemarking, verspreiding, mediëring en die resepsie van bundels. Met mediëring is die rol van die media as verspreidingsinstansie belangrik, terwyl literêre kritiek (soos meegaande resensies) se rol is om die bundel aan die leser bekend te stel, te interpreteer, waardeer of selfs te bevorder. Die bemarkingspotensiaal van digbundels bly egter steeds ’n tameletjie, want digbundels is as ’n reël nie goeie verkopers nie. Iets wat uitgewers terdeë besef. Toast Coetzer het al twee dekades gelede bepleit dat die bemarking van Afrikaanse boeke minder “boekerig” moet wees.

Aan bemarkbare potensiaal ontbreek dit Danie du Toit nié. Menige digter sal hom waarskynlik die innoverende idees op sy webtuiste beny. Op sy webwerf verkoop hy sy eie handgeskrewe gedigte teen R3 000 stuk. Die voornemende koper kan sélf die onderwerp van die gedig kies en Du Toit stuur dan ’n digitale, handgeskrewe kopie. Poëtiese artefakte van die digter, soos brillappies met stukkies van sy poësie op, asook soortgelyke poësieplakkers, word te koop aangebied. Volgens Du Toit probeer hy om ’n gedig ’n dag te skryf.

 

 

’n Jaar gelede het Danie du Toit op die sosiale media aangekondig dat die verkope van sy eerste twee bundels reeds die 5 000 kerf verbygesteek het. Dit beteken in effek dat, voordat insetkoste afgetrek word, die digter teen R260 ’n bundel op daardie stadium reeds R1,3 miljoen uit bundelverkope verdien het – daar kan gespekuleer word wat die insetkoste was. Die bedrag het na alle waarskynlikheid intussen baie meer geraak.

In ’n onderhoud met Floris Groenewald op LitNet vertel Du Toit: “Dis ’n ongelooflike voorreg. Op skool skryf jy ’n gedig en as jy lucky is dan lees jou pel dit. Dan voel jy nou moer cool as hy sê dis nice. Nou kan jy ’n kamer kry met 400 mense om te luister daarna; dis net ’n privilege.” Die digter skryf al sedert sy skooldae gedigte en het vroeër sy verse via selfpublikasie vir sy intieme binnekring – vriende en familie – laat druk. Volgens Du Toit het skrywers soos JD Salinger, Ernest Hemingway en Deon Meyer ’n invloed op sy digkuns gehad. Wanneer dit kom by die stories ágter sy lirieke en gedigte, glo hy dat inspirasie oral gevind kan word.

Maar laat ons ook Du Toit se rock-loopbaan in perspektief plaas: min mense sal van my verskil as ek beweer dat hy homself die afgelope aantal jare onderskei het as een van die gewildste en produktiefste kunstenaars van sy era. Hy is ’n boorling van die Paarl, ’n ontvanger van die HB Thom-beurs, het ’n meestersgraad in geskiedenis in 2016 aan Stellenbosch-Universiteit verwerf en is tans met doktorale studie besig. Hy is ’n voormalige dosent aan dié universiteit. Sy skoon beeld en byna kinderlike reinheid staan uit tussen sy tydgenote. Vir hom is poësie ’n noodwendige uitvloeisel van sy rol as liedjieskrywer.

Toe Danie du Toit 8 jaar oud was, het hy en sy boetie, Moskou en sy beste vriend, Albert ’n band met die naam “Kosblik” gestig. Na hoërskool het die groep se naam verander na “Ysterkoei” en het hulle ’n paar liedjies opgeneem. Meer as 20 jaar later staan hierdie groep bekend as Spoegwolf, die eerste Afrikaanse band om die eerste plek op Apple Music se Suid-Afrikaanse ranglys te beklee. Spoegwolf spog met 8 albums en meer as 47 000 volgelinge op Facebook. Afrikaanse rockers blyk ’n fassinasie met Breyten Breytenbach se werk te hê, byvoorbeeld die sanger Jan Blohm se verhoognaam is gebore na aanleiding van “Jan Blom”, Breytenbach se pseudoniem vir sy bundel Lotus (1970). Blohm se liedjies “Groen trui” en “Breyten se brief” sinspeel ook op Breytenbach se oeuvre, al vorm dit nie noodwendig ’n intertekstuele spel met laasgenoemde digter se werk nie.

Die rekordsyfers in sy bundelverkope ten spyt, sien Du Toit homself nie as ’n digter nie. “Hierdie is nie gedigte nie; hierdie is ramblings …Ons wag nog vir die volgende digter”.

 

 

Afrikaanse sangers wat reeds digbundels gepubliseer het, is byvoorbeeld Valiant Swart met Toorwoorde roep my (Lapa, 2010) en Stef Kruger met Triptiek (Cordis Trust Publikasies, 2015). In haar gunstige resensie van Toorwoorde haal Joan Hambidge vir Danie Marais op die agterflap aan waar hy Swart vergelyk met Leonard Cohen. “Volgens hom [Marais] behoort Valiant Swart in Groot Verseboek as Cohen in die Norton Anthology of Poetry opgeneem is. Cohen was egter ’n bekroonde digter voor hy sanger geword het en waarskynlik een van die mees behendige liriekskrywers nóg. Swart is wel ’n beoefenaar van “rock ’n roll”-ballades en volgens Danie Marais het hy homself al in die kollektiewe bewussyn van die volk ingegrawe.” Hambidge wys egter op die verskille tussen genres en herinner die leser: “Wanneer ’n song of lied gebloemlees word, dan vra dit om digterlike inspeksie. Dan kyk ’n mens na die ryme, die metrum, die refreine, die beelde. Natuurlik is dit andersoortige, nee eerder, eiesoortige poësie. Wat met ander as song kan werk, werk nie noodwendig as poësie nie.” Hierdie hibriede soort musiekliriek/-poësie vind met ander woorde ten beste uitdrukking in musiek. Die vergestalting van Afrikaanse sangers se lirieke en gedigte vorm egter onmiskenbaar deel van ’n groter Gesamtkunstwerk. By die 2015-Woordfees het die lirieke/gedigte in Toorwoorde roep my ook visuele kuns geïnspireer: elf hoogaangeskrewe beeldende kunstenaars is gevra om Swart se digkuns in ’n verskeidenheid media te interpreteer. Hierdie uitgesoekte groep het bestaan uit Strijdom van der Merwe, Shany van den Berg, Ingrid Winterbach, Cobus van Bosch, Karlien de Villiers, Clare Menck, Vernon Swart, Jaco Sieberhagen, Peter van Straten, Dot Vermeulen en Anton Smit.

 

donker droom

 

will I go down in flames
will I drown in the rain
sal ek sink
as ek swem teen die stroom
as ek sing oor wat ek sien
as ek dink oor wat ek doen
as ek dobbel met die engel
in my donker droom
my donker droom

(Valiant Swart. Toorwoorde roep my, 2010)

 

Nog ’n voorbeeld is die rymkletser, Churchill Naudé met sy digbundel, Drol innie drinkwater (2020), waarin sommige lirieke van songs op sy albums, Kroeskop vol geraas (2015) en Kroesified (2018) gebundel is.

Koos Kombuis het sedert die laat 1980’s bekendheid verwerf as digter en later aweregse kultusfiguur saam met Johannes Kerkorrel tydens die Eet Kreef-beweging, wat teen die Nasionale Partybewind geprotesteer het. Hulle rol het iets in gemeen met die Woodstock-beweging in die VSA in die laat 1960’s en vroeg 1970’s.

Die talentvolle akademikus, Andries Bezuidenhout is natuurlik ook bekend as rocker, digter en skilder. Hy is die stem van die rock-groep Brixton Moord en Roof Orkes en het ’n aantal solo-albums in die mark. Hoewel dit ’n uiters subjektiewe stelling is, is hy waarskynlik die rock-musikant wat homself die beste gehandhaaf het as digter, insluitend die feit dat hy ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns voltooi het.

Dan is daar natuurlik Afrikaans se Bukowski – Gert Vlok Nel se debuutbundel, Om te lewe is onnatuurlik is bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Hy gee ook albums uit met minimalistiese toonsettings van sy unieke oeuvre in Afrikaans.

Laastens, en omdat hulle werk dikwels in beide Nederlands en Afrikaans beskikbaar is: Herman van Veen en Stef Bos. Beide is liedskrywes in die Europese tradisie wat deur die Vlaams/Franse liedskrywer, Jacques Brel geïnspireer is. Iewers sedert die 1990’s het beide kunstenaars ’n Afrikaanse ondersteunersbasis ontwikkel – beide het natuurlik ’n goot gevolg in die Lae Lande.

Hierdie verskynsel is uiteraard internasionaal beter bekend en is op die spits gedryf toe Bob Dylan die Nobelprys in Letterkunde in 2016 ontvang het. Dit is aan hom toegeken vir sy bydrae tot die “Great American Songbook”. Hierdie toekenning was vir baie kommentators nie onverwags nie, veral as gevolg van die groot oeuvre wat Dylan oor dekades heen opgebou het, asook die invloed wat sy stem op ander ná hom gehad het. Dylan, soos ander tydgenote, se musiek vind iewers op die snyding tussen rock- en folk-musiek plaas. Wanneer daar na hom verwys word, is daar egter soortgelykes wat in dieselfde asem genoem word, soos Leonard Cohen, Paul Simon, Bruce Springsteen, Tom Waits, Joni Mitchell en Patti Smith. Behalwe vir Cohen en Simon is laasgenoemde voorbeelde van lirieke oor die tradisionele rock-narratief waarin daar dikwels verwys word na die versugtings en tribulasies van die werkersklas in die VSA.

Sou ’n mens die meer kontemporêre rock-musikante uit die indie-folk tradisie ondersoek, kan die name van Nick Cave, Damien Rice en Keaton Henson waarskynlik bygevoeg word tot die lys.

Die meeste fynproewers van poësie sal waarskynlik saamstem dat Leonard Cohen kop bo skouers staan bó ander liriekskrywers – en selfs diegene wat liriekkuns as ’n tipe digkuns negeer, moet Cohen meriete gee vir die poëtiese kwaliteit van sy werk.

 

The Goal

 

I can’t leave my house

Or answer the phone

I’m going down again

But I’m not alone

 

Settling at last

Accounts of the soul

This for the trash

That paid in full

 

As for the fall,

it began long ago

Can’t stop the rain

Can’t stop the snow

 

I sit in my chair

I look at the street

The neighbor returns

My smile of defeat

 

I move with the leaves

I shine with the chrome

I’m almost alive

I’m almost at home

 

No one to follow

And nothing to teach

Except that the goal

Falls short of the reach

 

(Leonard Cohen)

 

“The Goal” is ’n gedig wat met instrumentale dekor vir die eerste maal op 20 September 2019 op YouTube vertoon is. Wat natuurlik die vraag – en verwagting – na Leonard Cohen se postume album laat ontstaan het. En die meester het sy volgelinge nie teleurgestel nie: Thanks For The Dance is die laaste studio-album van dié Kanadese sanger en digter, en is vrygestel op 22 November 2019. Sy seun, Adam Cohen is die vervaardiger en het die CD liefdevol byeengebring met verwerkings van topmusikante soos Daniel Lanois, Damien Rice, Jennifer Warnes en Beck. Adam Cohen verdien al die akkolades wat na sy kant toe kom: as addendum tot You Want It Darker, bevat die album songs wat onmiskenbaar die Cohen-stempel dra – minder musiek, dalk, maar met ’n groter nadruk op die lirieke / poësie. Dit is een van Cohen se mees poëtiese albums nog.

Dit raak duidelik dat rockers, of sangers oor die algemeen, ’n andersoortige resepsie van hulle liriekkuns/digkuns as “gewone” digters kan verwag. Alhoewel die legendariese Jim Morrisson van die rock-groep, The Doors enkele digbundels tydens sy leeftyd gepubliseer het, het sy postume poësie steeds vir blitsverkope lank ná sy dood gesorg. Hierdie gedig tref in sy eenvoud en suiwer poëtiese segging:

 

And I came to you

for peace

And I came to you

for gold

And I came to you

for lies

And you gave me fever

& wisdom

& cries

of sorrow

& we’ll be here

the next day

the next day

&

tomorrow

 

(Uit: Wilderness, Volume 1)

 

 

 

Is Danie du Toit die voorste verkoper van Afrikaanse poësie? Waarskynlik. Volgens Gert Coetzer in Klyntji kan mens kan Du Toit se verse met Leonard Cohen se digbundel, The Book of Longing (2006) vergelyk. Du Toit is wel nie op Cohen se vlak nie, maar daar is strukturele ooreenkomste. Du Toit se verse getuig van ’n jeugdigheid; ’n eerlike of ‘rein’ aanslag; pogings tot surrealisme en ’n loslit-Afrikaans. Jeugdige, maar ongeleefde wyshede word aan die leser gebied as poësie. In al drie bundels is daar ’n verskeidenheid voorheen onbekende materiaal wat die bundels lyf gee en lewendig maak. Wat wel opmerklik is, is die herhaling van die temas van familie en grootword, liefde en vriendskap, verwysings na die Stellenbosch-omgewing, of geloofskwessies in heelparty gedigte wat die leeservaring op die lange duur laat vervaag in eenselwigheid.

In ’n artikel oor branding, of die vestiging van ’n digter se handelsmerk, moedig Gregory D. Welch selfvertroue by digters aan. Moenie bang of skaam wees nie, herhaal hy. En: jy as digter is jou eie grootste evangelis. Skep ’n reputasie. Inderdaad: die resepsiepraktyke van rockers soos Spoegwolf of Danie du Toit geskied heeltemal anders. Hy het onder meer ’n stewige en gewilde reputasie as musikant. Nêrens is enige van Du Toit se bundels onderwerp aan die beginsels van literêre kritiek nie, behalwe vir ’n kort leesoorsig deur Bibi Slippers, waarskynlik omdat dit selfpublikasie is, óf omdat die digter sy werk doelbewus onder die radar hou. Heel moontlik dig en selfpubliseer Du Toit voort sonder enige kontak met die literêre tradisie. Hierdie bundels is blitsverkopers danksy selfbemarking op Instagram, Facebook, Spoegwolf se amptelike webwerf, en deur word-of-mouth-bemarking. Du Toit doen ook voorlesings van sy poësie tydens vertonings, ’n tipe performance poetry waarin hy gebruik maak van musiek en persoonlike vertellings wat die verse in die bundels vergesel. Die woord “lesers” word vervang met “following” en “fans: ’n klomp bewonderaars wat gretig wag om hul held se nuwe digbundels te koop.

 

Thunderstruck

 

ons ry uit ’n vreemde dorp

Albert speel Thunderstruck

ses jaar terug het ons hierdie pad

met die droom van vandag gevat

dit reën, my oudste vriende, dit reën

en ek is nie meer heel nie

ek is vlees en bloed en die uitroep van die skare

my are is die drade en my hart pomp

by die luidsprekers uit

ons het gebid vir vandag

vir hierdie tyd

die reën teen die ruit, soos nog ’n gehoor

sit die wipers af, stop, laat ons hoor

vanaand as ons opstap, doen ons dit alles

van voor af maar beter

soos ’n man en ’n vrou wat lief is vir mekaar

en jaar na jaar bloeisels bloei tussen die merke

(blomme is net stilstaande vuurwerke)

this is it

this is what we hoped for

ons parkeer ons lewens hier

in die reën

langs die highway is die parkering verniet

maar ons tyd is nóg geleen

 

(Warmer voor die tuimeldroër, 2020)

 

Verwysings:

Du Toit, D. 2020. Warmer voor die tuimeldroër. Stellenbosch: Reënwolf PTY (Ltd).

Du Toit, D. 2021. Sterreval. Stellenbosch: Reënwolf PTY (Ltd).

Morrisson, J. 1988. Wilderness, Volume 1. New York: Vintage Books.

https://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/valiant-swart-toorwoorde-roep-my-2010.html?m=1&fbclid=IwAR3L48mtaYbNYp6m0tjSgpp1-U4fvluBxqA8x_wDfbNi80En6ItJQi-FxdU

https://5dok.net/article/toekoms-afrikaanse-po%C3%ABsie-afrikaanse-po%C3%ABsieveld.1y9o74dy?fbclid=IwAR3f7XzxU4nXe4ir6p0FUHhXtO9A0HLuwDBcVAjScdEzvIqzV7AdOX1e4w0

https://bettermarketing.pub/how-to-harness-the-power-of-your-personal-brand-as-a-poet-4bbe5dbab500

https://www.matiemedia.org/reenwolf-russen-die-skape/?fbclid=IwAR1P1rGQuEmdwy49zr6Plnk5THlS3smoIB6hXhw6OPuADBpEY2SqvPuaI90

https://www.litnet.co.za/n-onderhoud-met-danie-du-toit-van-spoegwolf/?fbclid=IwAR15Af4yq6fXPTBL2gj8iSx-805tYsY92SebhruUkpgmpVZklA2um6EoAGo

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/luister-spoegwolf-se-danie-nou-ook-digter/?fbclid=IwAR1cfi4-VuSrNlGZhjGjVcAZrnWRFXAcDy9en4pO-WxrFmDp-4NwP88mzT8

https://diematie.com/2021/06/danie-du-toit-vertel-poesiestories/?fbclid=IwAR2Is9Hd7B3_jMTsQpVDlzRGuXGm2MsjO_tK8IMOw0EBfMssU_gZlQYJxbQ

 

Nini Bennett. Vermiste mense

Sunday, November 25th, 2018

 

 

1.

 

Jou naam kom nooit na vore

Nie in grou geregskantore

Nie in lêers oor verhore nie

Jou diepste, verste spore loop ook dood

 

Ek kan dit nie verduur nie

Daar’s geen saak en geen dossier nie

Geen deure wat nog skanier nie

En die wete: Jy’s nie hier nie

Voel soos lood

 

Ek bly opsoek na lank vermiste mense

Maar almal bly my oninhaalbaar voor

Die jare skif tot newels voor die lense

En die hart verloor maar mettertyd die spoor

 

Die stad bars uit sy nate

En die rustelose strate

Sonder jou is leeg verlate

En ek weet in watter mate ek jou mis

Ons praat soms soos tevore

En ’n droom word weer gebore

Maar ’n wêreld lê verlore

In die leegheid van die woorde

Wat daar is

 

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense

Wat om my is, maar onbereikbaar ver

Wat langsaam uitgekring het oor my grense

Nog lokkend, maar afsydig, soos ’n ster

 

Koos du Plessis

 

Volgens kenners is daar oorkoepelend vier hoofoorsake waarom mense as vermis aangegee word. (1) Die persoon het doelbewus weggeloop vanaf die huis. (2) Die persoon was van plan om selfmoord te pleeg, en die weglooppoging ’n manier om eerder in absentia deur naasbestaandes onthou te word as om met die verdoemende tyding van selfdood gekonfronteer te word. (3) Die persoon het vermis geraak as gevolg van vuilspel soos ontvoering of moord. (4) Die persoon was ’n slagoffer van ’n ongeluk soos ’n natuurramp, ’n motorongeluk of ’n siektetoestand. Redes vir verdwynings kan verder in subklassifikasies geressorteer word, byvoorbeeld: die persoon verdwyn omdat hy voortvlugtend is vir die gereg (versuim om in die hof te verskyn); of as gevolg van geestesstoornisse soos bipolariteit, skisofrenie en demensie; die persoon verdwyn om ’n nuwe begin te maak onder ’n ander identiteit; óf om verantwoordelikhede te ontduik; dan speel verslawingstoestande, werkloosheid en huishoudelike konflik ’n rol. Uiteraard word die individu se potensiële betrokkenheid by misdaad, of selfs ’n fabrikasie van ’n eie dood vir versekeringsdoeleindes, soms ondersoek. Hoe dit ook al sy: om ’n verslag van ’n versmiste persoon saam te stel, is nooit goeie nuus nie.

Tussen Januarie en Desember 2015 is daar op nasionale vlak 941 mense as vermis aangegee. Die Weskaap het die meeste verdwynings gerapporteer (499) teenoor Gauteng se 380, terwyl die ander provinsies se statistiek relatief laag is (Grafika 24). Ongeveer 90% van hierdie individue is lewend (maar nie noodwendig ongedeerd) gevind nie. Die meeste verdwynings haal nooit die hoofstroommedia nie en is volledig aangewese op gemeenskapskoerante en -organisasies vir bewusmakingsveldtogte rondom vermiste mense. In hierdie verband is The Pink Ladies, ’n Artikel 21-maatskappy, van onskatbare waarde. Kriminoloë, sielkundiges en ander gedragskenners beywer hulself daagliks (in samewerking met die SAPD) om die vermistes op te spoor en die publiek te betrek by wyse van biljette, plakkate en die sosiale media. Daar word toegesien dat diegene wat teruggevind word, die nodige mediese bystand en berading ontvang. Die opspoor en behoud van verlore individue hang meer as ooit van Jan Publiek af, alhoewel daar nog polisiebeamptes is wat toegewyd is aan hierdie taak.

Agter elke verdwyning skuil ’n intrige en talle tergende vrae. 2 Februarie 2018 is Dylan de Beer (18) van Herculus, Pretoria as vermis aangegee. Sy voertuig is enkele ure later opgespoor in Mountain View – reeds te laat; die jong man het homself vergas. Op 25 September 2018 verdwyn ’n Chileense ingenieur en toeris, Slavko Yaksic (29) in KwaZulu-Natal. Dié goedgelowige rugsakpakker het ’n tent opgeslaan langs ’n straat in Bergville en ’n plaaslike pastoor het hom gewaarsku dit is Suid-Afrika dié: dit is gevaarlik, waarop hy geantwoord het dat hy al op gevaarliker plekke in Chili was, en dat vriendelikheid ’n mens ver bring. Yaksic se liggaam is op 28 September in ’n slaapsak aangetref. Hy is aan steekwonde dood. Alle verhale eindig gelukkig nie op ’n treurige noot nie. Op 2 Mei 2018 verdwyn die 13 maande oue Eden Laird van Brackendowns saam met die huiswerker. ’n Spesiale ondersoekspan is op die been gebring nadat ’n losprys van R6 miljoen op klein Eden se lewe geëis is – en die huiswerker is saam met vier Zimbabwiërs en ’n Suid-Afrikaanse man aangekeer. Die seuntjie is ongedeerd terugbesorg aan sy ouers.

Daar is geen wagperiode om ’n vermiste persoon in Suid-Afrika aan te meld nie. Hoe vinniger die nodige vorms by die naaste polisiestasie ingevul word, hoe beter. Die eerste 24-48 uur is van kritieke belang om iemand lewend terug te vind.

2.

Ek blaai deur die honderde plakkate van vermiste persone. Die anatomie van verdwyning vereis ’n baie noukeurige persoonsbeskrywing: die genadelose tentoonstelling van die liggaamlike idiosinkrasie. Die sigbare is nou onsigbaar; en die onsigbare word dwingend sigbaar gemaak. Die detail rondom jou tatoes en littekens (waar; hoeveel): wáárdevolle inligting. Liggaamsbou: swaar, medium, petite. Jou gewig in kilogram. Lengte. Die toestand van jou tande (jou eie; ’n kunsgebit; onegalige tande; vermiste tande – waar en hoeveel). Die kleur van jou hare, oë. Klerasie – tot jou skoene (die handelsmerk: Nike; Addidas). Alle detail kom onder die soeklig. Jou hele bestaan konvergeer tot een fokale punt, jou voorkoms en bewegings vóór die verdwyning. Dan word die plakkaat saamgestel en versprei, teen lamppale opgesit vir die publiek se honger oë en saam met gemorspos in voorstedelike posbusse gedruk. Jou laaste foto word ’n spookbeeld. Daar is min dinge juis so aanwesig as die plakkaat van ’n verdwene persoon. Dit word die beliggaming van eksistensiële angs.

Die naasbestaandes wat wag en agterbly, bly weifel tussen hoop en wanhoop, die digotomie van hulle bestaan. Vermiste kinders se kamers word vir jare onaangeraak gelaat. Die tyd het gaan staan. Maar in die grysland van die verbeelding is enige iets moontlik. Sommiges glo hulle geliefdes is weggeraap – dit staan immers in die Bybel – en dalk is dit genadiger só.

Ek het die afgelope paar maande van vermiste mense begin droom. In die kanon van drome is temas van verdwaal en vervreemding welbekend en dui dit waarskynlik op uitdagings of veranderende lewensomstandighede. Baie drome beland in die rommelhoop van die onderbewussyn; tog geluk dit mens soms om ’n fragment uit ’n ou droom te onderskep.

Die verlooptes

Wat oorbly, is dan die koffer met die dom hoeke, afgestomp deur reise, soos vrae sonder antwoorde. Ek droom van hekke wat bly toeskuif agter my, ek het die afstandkontroles lank gelede reeds verloor; en taxi’s met toeters, sketterend, die rugkante van mense met wapperende klere. Die wind is ongeduldig. Ek spaar suinig aan herinneringe, maar die nalatenskap is min, dog ryk: dis verlies wat nuwe leemtes opsoek en uiteindelik volkome word. Die gaping tussen onthou en gebeur word groter en die verweer is dun. Slotte swyg, toegeroes in die vagevuur van tyd. Die dooie sleutels word weggegooi. Ook die strate het wyer geword en die loopgang ontwykend. Die laaste skaduloop het begin. Lywe vloei weg sonder buitelyn of silhoeët, soos astrale wesens of diere wat in hulle digste kamoeflering sluimer. Teen die lamppaal pryk ’n plakkaat met ’n foto van ’n vermiste vrou en ek staar na die mense wat oopmond bly rondkyk en draai my gesig weg want dis ék wat in vakante ruimtes teen lang, dun pale skuil. Vermis is nie incognito nie. Dan is ek oral en die mis word swaarder en alles raak amorf soos ’n ou verdriet. Onuitgesproke. Die wit duisternis van mis.

Verwysings:

 

Morewitz. S.J. 2018. Handbook of Missing Persons. Switzerland: Springer International Organization.

Missing Children South Africa. Graphics 24.

Missing Minors. The Pink Ladies Organization NGO 2007. Facebook.

 

 

Niel van Deventer. Op ‘n idle Sondag

Monday, July 19th, 2010

Ek het gisteroggend met my Fender Telecaster deur my woonstel loop en speel toe ek skielik ‘n rumoer hoor en by die venster uit kyk en ‘n ambulans sien. Daar was baie ambulansmanne en ook ‘n oom wat ek al gesien het. Ek het dadelik vermoed dat daar iets fout is met my buurvrou Tannie Ans. Sy het verlede jaar September ‘n heupvervanging gehad en was eers onlangs weer van die krukke af. Dit was toe ook so, sy het snaaks gedraai en geval en heel waarskynlik haar heup weer gebreek. Gelukkig was sy op daardie oomblik op die foon met haar seun in Australië en kon hy vinnig hulp ontbied.

Koos du Plessis

Koos du Plessis

Ek  was op die oomblik wat ek by die venster uitgekyk het besig om die solo van Pink Floyd se “Wish you were here” te speel toe ek die ambulans sien en natuurlik het dit my genoop tot ‘n Sondag van onvermydelike introspeksie oor verganklikheid, ou mense, die wêreld en sommer simpel dinge soos bier en die feit dat ek hopeloos te min op daardie lekker kitaar van my speel.

Toe ek jonger was het ek dae om gesit en wonder wat ek sal wens as ek net een wens kon kry en nooit tot ‘n definitiewe konklusie gekom nie, vandag het ek gewens dat ek een keer vir Koos Doep kon sien optree, net hy en sy kitaar. Ek dink om die waarheid te sê dat ek honderd keer so gig sou kies bo enige ander.

 

“Daar was ‘n huis met ‘n kombuis en greinhouttafel

  en ses mense het gedeel in lief en leed

  en mettertyd het alles uitgerafel

  maar wat die leed was, het ek jare terug vergeet”

In elke woord wat daardie ou ooit geskryf het is daar vir my vandag steeds vir my relevansie te vind.

Die rede hoekom ek egter bogenoemde stukkie ge-quote het is omdat dit is wat die lewe al oor en oor vir my bewys het. Die mooi bly agter. Dis ook hoekom dit soms so moeilik is om ‘n slegte verhouding vaarwel te roep, want die goeie en mooi bly baie duideliker sit as enige iets anders.

My gunsteling oupa is hierdie jaar 5 jaar reeds oorlede, amper alles wat ek van hom onthou is dinge wat gebeur en gesê is voor hy ons begin vergeet het. Ek mis die dae in die 90’s toe ons nog nie heinings om ons huise gehad het nie en vergeet dikwels van die oorweldigende moeilikhede wat daardie dae gehad het vir ons land.

Die sokker is verby, Eugene Terreblanche is steeds dood en Julius Malema lewe nog net so lekker soos altyd. Partykeer is kommer oorbodig, tyd sorteer baie dinge uit en die mooi bly agter in ons harte.

Ek het later die middag by my tjommie, die verlamde akteur, Erik Holm gesit en tee drink. Ons produksiehuis, Palama Productions, gaan hom en sy suter Nike nou help om ‘n avontuur program genaamd Quadventures te vervaardig waarin hulle vir 13 episode gaan kyk wat dit is wat hy as kwadrupleeg nog alles kan doen (en nie kan doen nie). Dinge soos skubaduik, valskerm spring en baie ander dinge wat gewone “normale” mense nooit eers eenkeer in hul lewe probeer nie.

Toe ek daar wegry het ek gehoop dat Tannie Ans en almal anders wat pyn en seer het okay sal wees, watter kant toe ookal, en myself opnuut voorgeneem om op te hou kla oor alles wat ek voel sleg is in my lewe. Daar is geen sin in, as dit wat oorbly op die ou end vir my hopelik net die mooi gaan wees nie…

“Droom en bou, al vreet die vrees my vrede,

  want die wêreld is maar oral halfpad hol.

  En ek onthou.”

Ek het my kitaar neergesit en sommer net op my bank gaan lê en dink aan almal wat ek al verloor het en ook die wat ek nog gaan moet groet (as ek nie voor hulle gaan nie). Ek het my Mp3 player gaan soek en musiek begin luister. Koos du Plessis om presies te wees, Skadus teen die muur, Kinders van die Wind en Molberge – herrineringe aan Springs.

Andries Bezuidenhout. Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids

Saturday, July 3rd, 2010

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

 

My lewe lank probeer ek al om uit Johannesburg en Pretoria te ontsnap. Helaas, steeds onsuksesvol. Die gate wat die goudmyne hier gelos het, het een of ander magnetisme. Die mot en die myn. Deesdae vat ek soggens die snelweg noord. Donderdag by my nuwe kantoor ingetrek. Nou is ek vir ten minste nog drie jaar gecommit om hier te bly.

As ek by my kantoorvenster uitkyk, sien ek die Voortrekkermonument. Op die kampus is die Ou Merenskybiblioteek – die tipe art deco wat gewild geword het met die ontdekking van piramides in Suid-Amerika en Egipte. Dis deur Gerhard Moerdyk ontwerp, ʼn voorstudie vir die Voortrekkermonument. Dis in die foto hier bo, met die Geesteswetenskappegebou in die agtergrond. Dis waar ek op die oomblik sit.

Daar’s baie geboue op die kampus wat deur die Franse modernisme beïnvloed is. Dis meestal in die vyftigs gebou. As student het ek dit nie waardeer nie. Ek sal meer hieroor moet uitvind.

Argitektonies was die tagtigs en negentigs beroerde dekades; postmoderne argitektuur, met faux kasteeltoringkies en rooi bakstene. Selfs die sandsteen is fake, wat seker speels na die Ou Letteregebou moet verwys.

Daar word steeds gebou. Die nuwe Eeufeesgebou keer darem terug na die meer elegante modernisme van die Kanselliersgebou. Dis pragtig. Die kampus se tuine is ook lieflik, massiewe witstinkhout- en akasiabome.

Ek dink aan Koos du Plessis se lied:

Pretoria, jakarandastad,
waar ek so graag alleen
straat-op en -af geslenter het
in die lentereën;
waar meisies lank na middernag
nog deur die vensters loer
en dromend luister na die lied
van elke troebadoer.

Studentelewe. Koos du Plessis laat dit so onskuldig klink. My ouma het hier studeer. Sy’t nog in die Ou Letteregebou klasgedraf, in die dertigs. Haar pa (m.a.w. my oupagrootjie) het voor haar hier studeer, rondom 1904, aan die destydse Normaalkollege. Dis nou by die Universiteit van Pretoria geïnkorporeer. My ouers was hier in die sestigs. In die vroeë negentigs het ek my eerste studies hier aangepak.

Pretoria, jakarandastad,
die tyd gaan gou verby
en daardie jare lê soos
ylblou berge agter my.
Maar steeds is ek die troebadoer
wat almal wil vertel
van jou, ou jakarandastad,
met sang en snarespel.

Vreemd om nou terug te wees. Die plek lyk so anders. Dan is daar Bernoldus Niemand se minder vleiende lied oor Pretoria:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids in Pretoria
Ons is opsoek na net een skoon bo-lip in Pretoria
Want dit is die stad met geen bo-lip glad, dis Pretoria
Orals in die strate loop die fans van country plate, dis Pretoria…

Die grootste Afrikaanse stad in die Suidelike halfrond!
Hoe verder ek loop, dan hoe minder raak my hoop, in Pretoria
Dit lyk vir my ʼn snor is meer nodig as ʼn tjor in Pretoria
Hulle ry ʼn Ford Snortina en hul eet snorgasbord in Pretoria
Ek soek nou al jare, vir ʼn man sonder die hare van Pretoria…

O red my, Liewe God, van die nare snorkomplot in Pretoria
As ek ʼn terroris was, sou ek ʼn snorbom ontwerp het, Pretoria
O Meneer Snôrtjé, ek sien jou weer en weer en weer in Pretoria
Dis iets in die lug, dit trek die hare uit jou gesig in Pretoria

Ek wonder of ek nog my vakterminologie in Afrikaans ken. Ek hou van Bernoldus Niemand se anglisismes. Van die beste Afrikaanse musiek is deur Engelssprekendes geskryf – James Phillips, David Kramer, Rian Malan. So, hier sit ek nou met my snor. Darem ʼn baard ook.

In Pretoria…

 

Andries Bezuidenhout. Wynand op die vloer, Francois teen die muur

Monday, June 28th, 2010

"Die liefde is 'n skadu teen die muur..."

ʼn Kamer met ʼn parketvloer. Francois sit met kitaar en sing Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur”. Langs hom op die vloer lê ʼn kopie van Erfdeel – ʼn versamelbundel van al Koos du Plessis se lirieke en gedigte – asook Wynand, klaarblyklik dood of uitgepass.

Ek het baie van Johannes Kerkorrel se tribute aan Koos du Plessis gehou. Het Kerkorrel destyds die songs live gesien opvoer in Jargonelles in Brixton, Johannesburg.

Ek het ook baie van Battery 9 se weergawe van “Kouevuur” gehou. Het hulle dit live sien doen by Oppikoppi een Nuwejaar. Het begin dans – nog in my army boots – en nie opgehou tot vroeg die volgende oggend nie.

Dan is daar Gert Vlok Nel se afskeidslied aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand.” Ek het hom dit van agter my donkerbril hoor speel in ʼn tent – was dit Oppikoppi, Oudtshoorn?

En nou het Van Coke Kartel hierdie weergawe opgeneem en ʼn video daarvoor gemaak. Kyk dit hier.

Wynand Myburgh, Van Coke Kartel se baskitaarspeler, sê oor hulle weergawe van Skadu’s: “Ons vind aanklank by Koos se werk – en veral sy woorde. Ons het nog altyd van die song gehou en het gedink dit sal lekker werk met ʼn moderne klank.”

Oor die band se verwerking van Skadu’s sê Francois van Coke: “Die oorspronklike song is in ʼn majeur. Ons het dit na ʼn mineur verander want ons het gevind dit werk vir ons beter by die toon van die woorde.”

Ek hou ook baie daarvan en kan nie wag om te sien hoe hulle dit live doen nie.

Binnekort word ʼn versamelalbum van Koos du Plessis se musiek in Nederland uitgereik.

Wat is dit wat maak dat generasie op generasie steeds inspirasie vind in sy musiek?

Andries Bezuidenhout. Van Coke bo die grond roep na Koos onder die grond…

Wednesday, March 17th, 2010

Die een ding wat my steeds van Koos du Plessis verstom, is hoe hy musikale grense in Afrikaanse musiek oorbrug. Dink maar aan sy lied “Gebed,” wat keer op keer deur gospelsangers gesing word. Die mees oortuigende weergawe daarvan, dink ek, is egter Dozi s’n. Sy stem dra iets van die ware kwaliteit van die lied oor: ʼn Desperate kreet om hulp van ʼn alkoholis wat “elke afdraaipaadjie” kén – “elke keer het U my iewers kom haal, maak dit, Heer, die laaste maal.” Maar hy wéét dis nie die laaste maal nie.

Maar dis nie net skoolkore en gospelsangers wat deur Koos du Plessis betower word nie. Een van my gunsteling interpretasies van ʼn Koos Doep is Battery 9 se weergawe van “Kouevuur”. Paul Riekert gooi die wysie weg en werk net met die ritme van die liriek, een wat jy kan spoeg en grom. Absoluut asemrowend. Luister hier, sommer ook na “Lie if you have to”.

Dan het Johannes Kerkorrel ʼn hele CD met Koos du Plessis covers opgeneem. Hy het dit weer op sy manier geïnterpreteer, iets waaroor ek baie dankbaar is, aangesien Kerkorrel een van die groot geeste van een van die ander rewolusies in Afrikaanse musiek was. Ek is bly hy het op so ʼn manier hulde gebring aan ʼn voorganger.

Dan is daar natuurlik Gert Vlok Nel se pragtige afskeid aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand”… “Gert bo die grond roep na Koos onder die grond, kom in Koos, kom in, kom in…”

En nou voeg Francois van Coke ʼn nuwe generasie se stem by die res van die left field koor wat Koos du Plessis se songs laat aanhou sing. Nóg een van die voorlopers van ʼn nuwe rewolusie in Afrikaanse musiek. ʼn Nuwe interpretasie van “Skadu’s teen die muur” is te vinde op Van Coke Kartel se pas uitgereikte CD Skop, skiet en donner. Van Coke Kartel is die meer ongeskikte off shoot van Fokofpolisiekar, maar met hierdie album doen hulle amper wat die Fokofs met Monoloog in stereo gedoen het. Hulle gebruik akoestiese kitare en minder aggressiewe klanke. In sommige gevalle gebruik hulle geprogrammeerde perkussie en ander klanke. Ek dink ek hou daarvan.

Benewens “Skadu’s teen die muur” is daar twee ander covers – vreemde keuses – “Maniac”, wat in die 80s in fliek Flashdance te hore was, en JJ Cale se “Cocaine” uit die 70s. Ek weet nie heeltemal hoe diep Van Coke Kartel se tonge in hulle kieste met hierdie keuses sit nie, of selfs in wie se kieste hulle hul tonge ingedruk het nie. Maar van een ding is ek seker. Ek hou baie van hulle weergawe van “Skadu’s teen die muur”. Hulle maak ʼn anthem van ʼn bitter siniese liriek.