Posts Tagged ‘Kopskuif’

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Charl-Pierre Naudé)

Tuesday, November 15th, 2011

 

Kopskuif is ʼn nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As tweede bydrae plaas ons Charl-Pierre Naudé (foto) se reaksie.

*** 

Charl-Pierre, kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Die vlak van diskoers is beroerd, maar het begin verbeter sedert die lae vlak daarvan in die openbaar veroordeel is. Wat beteken dat ‘n groot rede vir die beroerdheid gewoon kansvattery is. Dis rede 1.

Daar is nog redes. Nr. 2: Debatte word dikwels gevoer vanuit die eie identiteit en die sug om daardie identiteit te bevorder. Dit gebeur uiteraard op strydvaardige wyse. Daar word nie gedebatteer  oor aangeleenthede of sake nie en ook nié vanuit ‘n strewe na groter insig nie. Ons identiteitspolitiek van die verlede en van die hede lê ten grondslag hiervan.

Rede nr. 3: Die “waarheid” in Suid-Afrika word nie gesien as iets wat feitelik begrond hoef te wees nie maar iets wat aanvaarding moet geniet. Dit was so in die verlede en is weer so. Tydens die Protestantste rasoligargie van apartheid het onder andere “geloof” pleks van feitelike begrondings die septer geswaai. En vandag is dit die  heersende fasiele opvatting van  “demokrasie” of verantwoordelike  besluitneming as gewoon die mees wyds aanvaarde idee, sowel as die feit dat die nuwe Suid-Afrika ‘n media-skepping (dus blatant ‘n “storie” is). EN nog iets: die postmoderne verval van vaste etiese basisse. Al drie hierdie dinge lê op húl beurt ten grondslag van rede nr. 3.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ʼn bepaalde meningsverskil dikwels in ʼn persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Ek het die vraag hierbo beantwoord. Maar ek sal ‘n verdere voorbeeld gee. Die flagrantste oortredings en minagtings ten opsigte van openbare argument kom dikwels van individue wat voormalig of huidiglik hulself verdruk voel, soos swartes en byvoorbeeld sommige homoseksuele persone. Maar dan kan mens vra: Waarom is organisasies soos Solidariteit of Afriforum nie ewe skuldig hieraan nie, huidiglik is daar ook sprake van diskriminasie teenoor húlle mense? Dit lyk of daar bykomstiglik ‘n opportunistiese houding teenoor jou eie morele kapitaal aanwesig moet wees. Hier wil ek graag ‘n kostelike passasie uit die mond van ʼn karakter uit Orhan Pamuk se roman “Snow” aanhaal: “It is not enough to be oppressed, you must also be in the right, because most oppressed people are in the wrong to an almost ridiculous degree.” Die probleem kom dus juis in wanneer “verdruktes” dink hulle hoef nie meer reg te wees of te probeer wees nie want hulle beweerde “verdrukking” regverdig alles en enige houding.     

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

‘n Groter bewustheid van die “reëls” van argumentering. Die opponering en dekonstruksie van redes 1 – 3 genoem hierbo, en ‘n meer onverbiddelike houding deur mense wat in ʼn posisie is om daardie reëls te bevorder.  

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

Die onlangse debat oor skuld en apartheid was konstruktief. Mense het hul heilige dolosse op die tafel geplaas, ander het dit met argumente stukkend geslaan. Dit was konstruktief omdat die pretensie tot ontleding minstens bestaan het, die debat het in die filosofiese sfeer ontstaan. Nog ʼn konstruktiewe debat is die huidige kritiek op die fondasies van die verbruikerskapitalisme, soos beliggaam in die Wall Street betogings. Die betogings is weliswaar strydvaardig maar die argumente ter stawing daarvan word daagliks in die pers gevoer.   

 

– Charl-Pierre Naudé

 

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Gerrit Brand)

Friday, November 11th, 2011

Kopskuif is ‘n nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad wil begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ‘n stel vrae aan ‘n aantal belanghebbendes te stuur vir hul kommentaar. As eerste “kopskuif” fokus ons op die belangrike kwessie van openbare diskoers aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ‘n verdagmakery as wat daar konstruktief oor ‘n bepaalde aangeleentheid besin word.

As eerste skuif plaas ons graag Gerrit Brand (foto) se bydrae.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Gerrit Brand: ‘n Mens moet versigtig wees vir veralgemening. Daar word wel van tyd tot tyd sinvolle openbare gesprekke gevoer, onder meer op ruimtes soos Versindaba en LitNet. Trouens, ‘n kenmerk van ons tyd is dat, danksy die internet, meer moontlikhede ontstaan het vir hoëgehalte-gesprek, ook tussen kleiner groepies mense wie se stem dalk andersins nie gehoor sou kon word nie. Terselfdertyd het dit nadele – soos dat dit dalk té maklik is om van ‘n mens te laat hoor, dat minder sorg dus geneem word om deurdagte, logies gestruktureerde standpunte te stel. Die vinnig-dink-vinnig-skryf-kultuur kan tot oppervlakkigheid lei; dit laat ‘n mens toe om iets te kan sê sonder dat jy self weet presies wát dit is wat jy nou eintlik probeer sê. Daar is in ‘n mate ‘n aantreklikheid aan “van my te laat hoor” as ‘n doel insigself. Niks hiervan is egter noodwendig nie. Dieselfde faktore wat dit moontlik maak, maak dit ook moontlik om oop en intellegente gesprekke te hê. Die vraag oor die gehalte van openbare diskoers roep verder sekere vrae op: Wat maak ‘n diskoers openbaar? Was daar ooit ‘n openbare diskoers wat in die algemeen deur hoë gehalte gekenmerk is? Vertrek ons met die vraag na die gehalte van openbare diskoers nie van sekere romantiese aannames nie?

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

GB: Is dit iets nuuts dat meningsverskille in persoonlike twisgesprekke ontaard? Ek is nie so seker nie. Ja, die internet – om weer die nuwe god ter sprake te bring – maak dit vir mense maklik om mekaar sleg te sê en af te kraak sonder gevolge vir hulself, maar in die verlede was daar ook skuilname en dies meer. Wat my die laaste twee of drie dekades opval, is hoe sensitief ons geraak het vir robuuste debat wat alte gou persoonlik opgeneem word. Vryheid van spraak, dink baie mense, beteken dat ek jou, of jy my, uitlatings nie mag kritiseer nie. Daar was ‘n tyd (sê die romantikus in my!) toe mense publieke kommentaar kon skryf soos: “Ek sit hier in die kleinste vertrek in die huis met u manuskrip voor my. Dit sal binnekort agter my wees.” (Die oorsprong hiervan is omstrede, maar dit is regtig geskryf.) Sal ernstige intellektuele vandag nog so skryf? Ek weet nie, ek wonder maar net. Natuurlik is dit lelik wanneer debatte persoonlik en beledigend raak, maar ek is nie seker dat dit in ons tyd meer voorkom as in die “goeie ou dae” nie. Vryheid van spraak – ook dom en onbeskofte spraak – is myns insiens belangriker as mense se lang tone. John Stuart Mill het gesê liberalisme beteken elkeen kan doen wat hy of sy wil, mits dit nie iemand anders “injure” nie – en daaraan toegevoeg dat “offense” nie as “injury” kwalifiseer nie. As jou gespreksgenoot jou persoonlik beledig, het jy altyd die opsie om nie tot dieselfde soort taal verlei te word nie (dis seker ook soms lekker …), maar die gesprek na die inhoud van die geskil terug te bring. Met ander woorde: doen dit soos jy dink dit gedoen moet word, en knip daai tone korter sodat jy nie te gou weghol wanneer die vonke begin spat nie!

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

GB: Dit hang van die soort gesprek af. Goeie spekskiet lyk anders as goeie akademiese diskoers, byvoorbeeld. Wanneer dit om beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling gaan, dan is die kriteria, nou ja, beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling. Daar is ‘n element van aanvoeling en sjarme by betrokke: hoe praat of skryf ‘n mens in hierdie verband? Wat is goeie styl? In sekere kontekste moet ‘n goeie gesprek veral genotlik wees. In ander kontekste is dit ‘n wapen in die stryd. ‘n Goeie spreekkunstenaar verstaan die konvensies, maar weet ook wanneer om hulle te rek en sodoende iets reg te kry wat die moeite werd is. Te veel rekkery kan egter die hele praktyk in duie laat stort. Dalk is dit waaroor mense bekommerd is wanneer hulle oor die lae vlak van openbare diskoers kla? Dat sekere sóórte gesprekke al hoe skaarser raak omdat al hoe minder mense nog ‘n smaak en aanvoeling daarvoor het?

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

GB: In Nederland het ek greeld byeenkomste van al die universiteite se godsdiensfilosowe (dosente en doktorale studente) bygewoon. By elke geleentheid het een dosent en een student die geleentheid gehad om ‘n lesing te gee. Op daardie lesing is dan ook voorbereide repliek gelewer deur iemand anders, en daarna kon almal aan die gesprek deelneem. Die repliek en gesprekke was dikwels heftig; geen doekies is omgedraai nie, maar ek het bitter selde die indruk gekry dat mense kwaad word vir mekaar, en na afloop van die lesings het almal saam ‘n gesellig borrel geniet. Onlangs was ek weer in Duitsland, waar daar ‘n openbare debat oor pre-implantasie seleksie tussen ‘n teoloog en ‘n bekende skrywer was. Laasgenoemde is nie aan die kerk verbonde nie, maar beskou homself as sekulêr. Hulle het skerp verskil oor die onderwerp, maar sjoe, kan hulle hul argumente verwoord! En hulle neem mekaar se argumente ernstig. Die gevolg is dat daar uiteindelik tog ook ‘n sekere oorvleueling van standpunte ontdek word. Waar ek werk in ‘n teologiefakulteit het ek ook die voorreg om daagliks met kollegas in gesprek te wees wat dit geniet om aan ‘n verskeidenheid standpunte blootgestel te word en daarmee te worstel. My ervaring is dus dat daar daar nog baie goeie en leersame gesprekke in die wêreld gebeur. Wat hulle gemeen het, is ‘n gedeelde liefde vir saam dink en saam verstaan.

 

– Gerrit Brand