Posts Tagged ‘Kuba’

Desmond Painter. Die eiland waar niks onmoontlik was nie

Tuesday, October 20th, 2009

Fidel Castro

 Familielede van Ernesto ‘Che’ Guevara, onder andere sy dogter, is hierdie week in die Wes-Kaap. Ek sal nie hulle voordrag by UWK kan bywoon nie; ‘n jammerte. Kuba bly ‘n maar ‘n plek wat die verbeelding aangryp. Ek was presies vier jaar gelede daar; ‘n ongelooflike drie weke. Om langs die Malecon te stap in die rigting van die Hotel Nacional, waar almal van Al Capone tot Ernest Hemingway al tuisgegegaan het, is werklik so romanties soos dit in Wim Wenders se dokumentêr, Buena Vista Social Club, lyk. Die branders breek oor die seemuur; blou Buicks uit die 1950s taxi verby.

So ‘n jaar gelede het ek My Life, Fidel Castro in gesprek met Ignacio Ramonet, vir Die Burger geresenseer. Dit is in 2007 in hardeband deur Allen Lane (Penguin Books) gepubliseer, maar is deesdae ook in sagtebandformaat beskikbaar. Dit, saam met Jon Lee Anderson se Che: A revolutionary life (Grove Press, 1997), is essensiële leesstof vir enigiemand wat in hierdie eiland belangstel.

Ek plaas my destydse resensie hier; gun hom ‘n tweede lewe! (Dit is die ongeredigeerde weergawe, so daar mag spel- en taalfoute wees…)

 ****

Enkele jare gelede, tydens ‘n besoek aan Kuba, het ek twee poskaarte gekoop met foto’s van ‘n jong Fidel Castro daarop. Op die een is die bebaarde, lenige Castro, toe maar skaars 33 jaar oud, besig om ‘n vurige toespraak te lewer. Op die ander, geneem tydens die Amerikaanse inval by die ‘Bay of Pigs’, spring hy atleties van ‘n pantservoertuig af. In die voorste linies, midde-in die aksie. So was dit nog altyd.

Die beeld van die jong Fidel Castro was omgeef met dieselfde romantiese bekoring en ruwe aantreklikheid wat sy kameraad, Ernesto ‘Che’ Guevara, ‘n kampusikoon sou maak en die skynbaar ewigdurende simbool van jeugdige verset.

Castro het, teen alle verwagtinge in, egter nie jonk gesterf nie. Daar was natuurlik deur die jare baie pogings om van hom ontslae te raak. Die CIA het so ver gegaan as om met die Mafia te heul in hulle komplotte om die kommunistiese regime op die VSA se drumpel te ontsetel. 

Waar Guevara die simbool geword het van ‘n soort draagbare revolusie wat enige plek te wêreld moes kon wortel skiet, was Castro benewens guerrilla ook ‘n pragmatiese en geslepe politikus. Waar Guevara se beeld Kuba uiteindelik sou transendeer, en amper engelagtig sou sweef bo die morsighede en kompromieë van werklike, dag-tot-dag regering, was en bly Castro onlosmaaklik verbonde aan sy Karribiese eiland.

Dit is juis die vloeibaarheid van Guevara se beeld wat hom die volmaakte pin-up vir beide revolusionêre fantasieë en kapitalistiese uitbuiting gemaak het. Vandag koop jy jou Che T-hemde immers in Mr Price en Truworths Man…

Miskien het die grys Castro op die voorblad van hierdie boek, met sy behoedsame, dog uitdagende blik, tog ‘n beter kans op ‘n betekenisvolle politieke oorlewing as Guevara. Ignacio Ramonet het hierdie outobiografiese onderhoude kort voor Castro se siekte in 2006 en sy uiteindelike uittrede vroeër vanjaar gevoer. Indien hulle enige aanduiding is van wat Castro nog in die arena van ideëpolitiek kan bydra, bevestig hy homself beslis as méér as bloot ‘n laaste stuiptrekking van die Koue Oorlog.

Castro is ‘n gehate figuur in die VSA en baie wit Suid-Afrikaners, hoofsaaklik weens Kuba se betrokkenheid destyds by die Angolese oorlog, voel dieselfde oor hom. Terselftertyd was en bly Castro ‘n held in die ontwikkelende wêreld. En met rede. Wat mens ook al polities teen Castro se halfeeu aan bewind kan sê, dit is ongetwyfeld so dat die menslike kapitaalontwikkeling wat onder sy leiding in Kuba plaasgevind het, ruimskoots beskikbaar gestel word aan ander ontwikkelende lande. Dit is veral die geval in Latyns-Amerika, waar Kuba ‘n wesenlike bydrae lewer met hulle mediese dienste, geletterheidsprogramme en volwasse opleiding.

Dit is egter nie nodig om positief oor Castro te voel om hierdie boek te waardeer nie. En in elk geval, selfs teenstanders erken dikwels ‘n wrokkige soort bewondering vir Castro se chutzpa en sy politieke oorlewingsdrang oor soveel dekades in die aangesig van Amerikaanse militêre en ekoniese aggressie. Orkane is nie die enigste storms wat sy klein, trotse eiland oor die jare moes trotseer nie. In Castro se eie woorde: “I can say that the little island that was so alone during the arm-wrestling between the dominant empire and the Soviet government – the latter which fell apart and the former of which became the single superpower – was able to resist, show that nothing is impossible” (p. 219).

Ramonet, redakteur van die invloedryke Le Monde Diplomatique, laat reg geskied aan sy gespreksgenoot deur hom ingelig en met empatie te benader. Hy skep ‘n ruimte waarbinne Castro uitgebreid en in diepte kan praat oor die baie dimensies van sy lewe, sy land en die politieke wêreld waarin hy ‘n rolspeler was. Die boek, met sy deeglike notas, sal waarskynlik ‘n standaardwerk word vir historici en biograwe.

Castro is bekend vir sy maraton-toesprake. In hierdie onderhoude, wat weens Castro se besige skedule dikwels laat in die nag gevoer is, bewys hy homself as ‘n ewe energieke gespreksgenoot. Dit is nie net dat hy baie praat nie; hy praat ook oor baie. Sy belesenheid oor onderwerpe van strek van wetenskap tot letterkunde, en van wêreldgeskiedenis tot die omgewingskrisis, is dikwels verbluffend.

Die boek sal nie net spreek tot lesers wat belangstel in die geskiedenis van Kuba nie. Dit sal in die smaak val van enigiemand wat geïnteresseerd is in die politieke geskiedenis van die era tussen die Tweede Wêreldoorlog en die einde van die Koue Oorlog. Castro is ‘n aantreklike historiese gids, want sy politieke ervaring strek oor soveel kontinente en dekades heen. Watter ander figuur was ‘n kameraad van beide Kroestjef en Chavez? Watter ander staatshoof het in een ampstermyn beide die Kubaanse missielkrisis en die gebeure van 11 September 2001 beleef? Castro het die wêreld meer as een keer sien verander, en te midde alles het hy ideologies probeer koers hou en probeer sin maak van die politieke teenstrydighede van sy era.  

Daarom is hierdie onderhoude met Castro meer as net ‘n opwelling van politieke herinneringe, of verhale van ‘n ou man wat in sy laaste jare mymer oor ‘n lewe wat haas verby is. Die Castro wat hier aan die woord is, is nog onvermoeid betrokke by die wêreld. Hy is ‘n ingeligte, byderwetse en harstogtelike kommentator oor die baie uitdagings wat ons vandag in die gesig staar, van die energiekrisis tot neo-liberale kapitalisme. 

Natuurlik kan ‘n mens Castro kritiseer. Dit strek Ramonet tot eer dat hy bereid is om Castro deeglik aan te vat oor die belangrikste punte van kritiek teen sy regime, en Castro dat hy bereid is om eerlik, beredeneerd en soms self-krities te antwoord. Die doodstraf, vryheid van die pers, tronkstraf vir politieke dissidente, en die gebrek aan ‘n veelparty-demokrasie is maar enkele van die knelpunte wat hier bespreek word.

‘n Mens verskil dikwels van Castro se benadering tot hierdie onderwerpe, maar moet toegee dat hy nie wegskram van kritiese besinning nie. Daar is in elk geval so baie wat hy wel sê wat stof tot nadenke bied. In ‘n era waarin neo-liberale kapitalisme dikwels voorgehou word as onaanvegbaar, is dit interessant om gekonfronteer te word met iemand wat ‘n ander werklikheid bepleit en probeer staande hou het.

Op ‘n stadium sê Ramonet aan Castro: “You’re still an incorrigible dreamer.” Hierop antwoord Castro dan: “There’s no such thing as dreamers, and you can take that from a dreamer who’s had the privilege of seeing realities that he was never even capable of dreaming” (p. 399).

  •