Hannalie Taute. Op n ander noot…
Tuesday, November 6th, 2012Vandag, volgens die nuus-hooftrekke, word daar nuut gedrukte geldnote versprei. Verblydend behou die groot vyf darem nog hul regmatige plek.
Destyds as hotelpoppie (lees ontvangsdame in hotelbedryf) het ek geld ontvang van ʼn Switzerse gas, en daarop was kunswerke van Giacometti gedruk. Dit was vir my merkwaardig dat Switzerland ʼn kunstenaar se werk so “vereer “(is dit die regte woord?)
Vir meer inligting besoek hier.
Gestel die kunste was belangrik in ons land (wat ek tans betwyfel), watter kunstenaar/s se werk sal gedruk word op ons geld? Wie is ons land se groot vyf?
Hier volg my lysie: (glad nie akademies, net ʼn persoonlike keuse- voel vry om met my te verskil)
- William Kentridge (ek was nou die dag in gesprek met iemand wat glad nie weet wie hy is nie- hoe is dit moontlik?)
- Willem Boshoff
- Jane Alexander (ek dink die ‘Butcher boys” sal pragtig lyk op ʼn honderd rand noot)
- Wim Botha
- Marlene Dumas (tel sy, aangesien sy met een been in ons land en een in ʼn ander land staan?)
Noudat ek my lysie so beskou is daar dalk een groot probleem- nie een van die bogenoemde was voorheen benadeel nie.
Dit is sekerlik ʼn onbegonne taak om die groot vyf in die beeldende kunste te nomineer. Wat is goeie kuns, en volgens wie? Is kuns ooit n belegging? Sal die kunswerk wat op ʼn R10 noot minder belangrik wees as die op ‘n R100 noot?
Maak dit regtig saak?
Ek wil graag afsluit met die gedig:
EK IS OEK IMPORTANT – PETER SNYDERS
As al julle geldgatte
julle geld gespendit,
en julle bananaskille
innie slootjie gegooi het,
en julle bustikkits
soes confetti gestrooi het,
en julle staain en cool drinks
opgedrink het,
en julle borrels en blikkies in ʼn gangetjie gesit het,
en julle visgraatbolle
en vrot vrugte
en stukkene boksies
en papiere
rondgegooi het….
dan kom ek
en maakie wêreld weer skoon:
soe,
ek is oek important.