Posts Tagged ‘kwatryn’

Digstring: Martina Klopper. Kwatryn

Thursday, August 19th, 2010

Digstring

 

Kwatryn

Woorde krioel in jou mond

soos maaiers uit ‘n wond,

dikgevreet aan jou leuen

se versadigende gangreen.

 

© Martina Klopper (Uit: Nadoodse ondersoek, 2010: Human & Rousseau)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Martina? Hoe het dit ontstaan?

Januarie 2007. Die eerste weergawe van hierdie gedig was die resultaat van ‘n skryfopdrag om ‘n haikoe te skryf en het as volg daarna uitgesien:

Dikgevreet aan jou:

woorde wriemel in jou mond,

maaiers uit ‘n wond.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar is vier weergawes van hierdie gedig. Die grootste verandering van die eerste tot die finale weergawe was my besluit om eerder die kwatrynvorm te gebruik. Die beeld was te sterk vir die delikaatheid van die haikoe. Daarna was dit skaaf en soek na sinonieme en rymwoorde ensovoorts. Die woord “leuen” het hom in hierdie fase aangedoen as rymwoord vir “gangreen”. Dit het natuurlik die betekenis van die gedig gewysig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Dis altyd ‘n kombinasie van beide vir my. Die ratio verskil wel van gedig tot gedig. In hierdie gedig sou ek sê die “gegee : wroeg/sweet” ratio was 2 : 3.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Soos reeds verduidelik, het die kwatrynvorm meer sin gemaak. Die vereistes van die nuwe vorm het die inhoud van hierdie gedig laat wegbeweeg van die oorspronlike impuls.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Die gedig was bespreek in prof. Joan Hambidge se skryfskool. Haar kommentaar het daartoe bygedra dat ek die vorm verander het.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit verskyn in my debuutbundel, Nadoodse ondersoek (2010), drie jaar nadat ek dit voltooi het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Altyd ‘n moeilike vraag om te beantwoord, want in die skryfproses self word soveel van die oorspronklike impuls van ‘n gedig getransformeer. Die inspirasie vir hierdie gedig was ‘n baie welsprekende persoon wat heeltemal te veel gepraat het volgens my. Die gedig is egter heeltemal getransformeer/vervreem van hierdie “feit”.

In hierdie verband kan die gedig ook saam met ‘n gedeelte uit die laaste gedig, “Nawoordse ondersoek“, in die bundel gelees word:

Beelde is soepel:

as die liggaam suurstof verloor

en die proteïene in spiere

onnatuurlik verbind

soos geheue met die leuen

verstyf beeld to metafoor.

Die skryfproses vermeng feit met fiksie. Tot so ‘n mate dat die integriteit van ‘n gedig heeltemal afhanklik word van hierdie samekoms/ontmoeting.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die leuen as konsep en dat dit ‘n mens kan verswelg/vernietig.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nee.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Meestal nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek dink hierdie vers is redelik verteenwoordigend van my styl.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ja, ek kon. Ek is ‘n perfeksionis wanneer dit kom by die afhandel van ‘n gedig. Soms is die digter nie reg/gereed vir ‘n gedig nie, of andersom. Ek vind beide frustrasie en bevrediging in die uitdaging om die regte tyd te vind vir die regte gedig. As hierdie oomblik my ontwyk, wag ek tot die tyd reg is, of ek gooi die gedig weg.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Dis baie onlangs gepubliseer, so ons sal maar moet sien.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek onthou wanneer ek dit geskryf het (1997) en hoekom (onbeantwoorde liefde), maar ek het nie meer ‘n kopie daarvan nie; dit was in elk geval nie ‘n gedig nie. Dit was hoofsaaklik ‘n klomp lomp sinne in versreëls afgekap. Beslis nie my diepste uur nie.

Martina Klopper

Martina Klopper

Martina Klopper is in 1976 gebore en het grootgeword op  Reitz in die Vrystaat. Sy matrikuleer aan die Bethlehem Voortrekker Hoerskool.  Sy het haar B.Mus-graad in 1999 behaal by die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi in 2008 ‘n M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy  het begin werk as rekenaarprogrammeerder vir sowat vyf jaar lank,  hoofsaaklik databasis-ontwerp. Sy werk tans as ‘n besigheidsanalis in die finansiële dienste-sektor en woon in Kaapstad.

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Pieter Hugo. Die geboorte van ‘n middeljarige digter

Friday, March 12th, 2010

Dit is geen geheim nie. Van die 22 digters in Nuwe Stemme 4 is ek by verre die oudste. Ek word binnekort 50. Ek vind dit natuurlik baie vleiend dat daar so mildelik gepraat word van die ‘jong’ digters wat met Nuwe Stemme 4 gedebuteer het. Al weet ek daar word eintlik bedoel ons is jonk in die digterskap.

 

Dit is ook geen geheim dat Daniel Hugo my broer is nie. En dat hy in die vroeë 1980’s al gedebuteer het en intussen vele digbundels op sy kerfstok het. Die logiese vraag is natuurlik hoekom ek nou eers digterlik ontwaak?

 

Soos die meeste van ons seker, het ek wel op skool al ‘n paar gedigte geskryf, maar vandat my broer ‘n erkende digter geword het, het ek in ‘n digterlik geinhibeerde hibernasie van dekades gegaan. As ek wel nou en dan iets poeties gepleeg het, het dit net by volkskwatryne gebly. As ek waagmoedig was, dalk ‘n  limeriek.

 

Tot ‘n paar jaar gelede. My seun George, toe nog op hoërskool, het gereeld liedjies geskryf en met ghitaarbegeleiding vir ons gesing. Een aand sit en speel hy ‘n wonderlike nuwe melodie waarvoor hy nog nie lirieke het nie. Ek gryp ‘n pen en probeer woorde skryf vir sy song. Die resultaat was ‘n dramatiese flop. Iets soos: Vervlietend geel / het jou lippe my gestreel / dalk ‘n sweempie groen / agter jou soen? Die res was nog erger.

 

Ek het wel later gedink daar is moontlikheid in die “vervlietend geel”, sodat, toe ek ‘n week of wat later vir ‘n naweek by my broer gaan kuier, ek die geel gemors onder sy oe gedruk het. Hy het dit natuurlik as die gemors gesien wat dit was, maar die kans benut om my, weereens, te probeer inspireer om my hand te waag aan iets anders as volkskwatryne en limirieke.   

 

Of dit al die goeie wyn of die meesterlike broederlike leiding was, weet ek nie, maar daardie naweek in September 2004 was die keerpunt in my ontwikkeling van kwatrynrymelaar na digter. Dit het my eerste sonnet (Woordstof) geïnspireer. Daarna het ek ‘n swoegende jaar en ‘n half geskryf aan 15 sonnette in ‘n sonnettekroon, waar die laaste reël van die eerste sonnet gebruik word as die eerste reël van die tweede sonnet, ensovoorts. Die 15de sonnet, die pêrel in die kroon, bestaan in sy geheel uit die eerste reëls van elk van die vorige 14. Tussendeur het ek natuurlik baie ander gedigte ook geskryf.  

 

Toe George ‘n paar jaar later met een van sy gereelde ‘ghitaarbesoeke’ dáárdie melodie speel, steeds sonder woorde, spring ‘vervlietend geel’ weer in my kop. Die uiteindelike resultaat, na baie skuur en skaaf, is weliswaar nie lirieke vir ‘n song nie, maar tog wel ‘n heel gawe gedig (Kuns van die lewe).

 

Die ironie is dat die enigste van my gedigte wat George wel as lirieke gebruik, van my ou volkskwatryne is. Hulle werk perfek as blues songs!

 

 

 

Woordstof

 

Ek kuier lekker by my oudste broer

oor ‘n droomdis van vis en baie wyn.

Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:

enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

 

“Skryf ‘n sonnet. Dan is jy ‘n digter!”

daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,

maar kry net kwatryne. So breek die dag:

kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

 

Ons luister radionuus; ons lees koerant,

Ons sink weg, verdrink in die alfabet!

Ek stofsuig alles op, van A tot Z,

die ganse woordgemors, van hoek tot kant,

 

maar die suier verstop letterlik. Met

die skud verskyn figuurlik: dié sonnet.

                                               

 

 

Die kuns van die lewe

 

Gesien in sy geheel

is ons beraamde lewe

maar ’n enkele oogwink,

vlietend verbeel:

 

’n Verruklike geel . . .

Ons het ’n Van Gogh moment,

koringland, kraaie en wind,

vlugtig gedeel.

 

’n Glimlag wat byna speel . . .

Ek het vir ’n ewige oomblik,

soos Da Vinci van Lisa,

jou wese gesteel.

 

’n Skreeu, diep uit die keel . . .

Straks word ek, grafies versteen

in Munch se mono-angs,

die laaste toneel.

 

  •