Posts Tagged ‘Literatuurwetenskap’

Alwyn Roux. ‘n Geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans

Friday, March 5th, 2021

 

Bestaan daar ‘n geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans? Tans is ek besig met die opstel van ‘n kurrikulum vir ‘n voorgraadse kursus in literatuurwetenskap in Afrikaans. As deel van die taak, lees ek die eerste hoofstuk van Terry Eagleton se Literary Theory: An Introduction (1996 [1983]), getiteld “The Rise of English”, sowel as die eerste hoofstuk van Peter Barry se Beginning Theory: An Introduction to Literary and Cultural Theory (2009 [1992]), getiteld “Theory before ‘theory’ – liberal humanism”.

Hierdie inleidende hoofstukke se fokusse is albei op die opkoms van  literatuurwetenskap in die Engelse literatuur, ‘n studieveld wat sover ek weet totaal ontbreek in die bestudering van Afrikaanse letterkunde. Barry (2009:11-15) kyk byvoorbeeld na “The history of English studies” deur aanvanklik in sy hoofstuk vrae te vra wat mens moet laat dink aan hoe die bestudering van Engels aanvanklik daar uitgesien het. Vrae sluit in:

“1. When do you think English was first taught as a degree subject in England?: was it 1428, 1528,1628, 1728, 1828, or 1928?

2. At which institution was English first taught as a degree subject in England?: was it Oxford University, Cambridge University, London University, Southampton University, or none of these?

[…]

6. In the early twentieth century women could take degree courses in England, but were not allowed to receive degrees. True or false?”

Ek wonder juis of iemand al gepoog het om soortgelyke vrae oor Afrikaans as vakgebied te beantwoord. Dit is algemene kennis dat D.F. Malherbe die eerste professor in Afrikaans was, maar hoe en wanneer het Afrikaans as ‘n vakgebied ontwikkel? Watter literators se werk sou mens kon gebruik ter illustrasie van die wyse waarop Afrikaanse letterkunde doseer is alvorens die opkoms van “literêre teorie”? Ek vermoed N.P. van Wyk Louw se versamelde prosa en A.P. Grové se studies oor die tegnieke van poësie is belangrike voorbeelde hiervan. Dan sal ‘n mens ook moet gaan kyk na die opkoms van literêre teorie in Suid-Afrika. Wanneer het literêre teorie hoogty gevier in Afrikaans? T.T. Cloete is beslis een van die sentrale rolspelers in die vestiging van literatuurwetenskap in Afrikaans, maar hoe verloop die geskiedenis? Mens sou ook kon gaan kyk na die opkoms van literatuurwetenskap-departemente aan Suid-Afrikaanse universiteite en die literatuurwetenskap-kurrikula vergelyk met dié van Afrikaanse letterkunde en taalkunde. Mens sou natuurlik ook kon gaan kyk na talle ander akademici se werk in literatuurwetenskap, byvoorbeeld Cloete, Botha en Malan se Gids by die Literatuurstudie (1985), Heilna du Plooy se Verhaalteorie in die twintigste eeu (1985), André P. Brink se Vertelkunde: ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste (1987), Joan Hambidge se Postmodernisme (1995), Marisa Keuris se Die dramateks (1996) en Chris van der Merwe en Hein Viljoen se Alkant Olifant (1998). (Ek het so pas ook Joan Hambidge se lemma oor literatuurwetenskap op Literêre terme en teorieë se webblad afgekom, wat ‘n sinvolle plek is om verskillende skole binnekant die literatuurwetenskap te bespied, asook om die vraag na wat die literatuurwetenskap nou eintlik is te beantwoord.)

 

Mens sal ook moet gaan kyk na die totstanding van Tydskrif vir Literatuurwetenskap en die oprigting van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL), wat nou as die Letterkundeassosiasie van Suid-Afrika (LASA) bekendstaan.  Dalk kan onderhoude met belanghebbendes soos Marianne de Jong en Andries Oliphant gevoer word om die prentjie vollediger in te kleur.

Dan sit mens ook met die gegewe dat meeste literatuurwetenskap-departmente na afloop van die nuwe bedeling saamgesmelt het met verskillende taaldepartemente aan Suid-Afrikaanse universiteite. Lateraan ook met die wegval van Afrikaanse departemente by talle Suid-Afrikaanse universiteite. Vandag weer met die privatisering van Afrikaanse universiteite. Is laasgenoemde ‘n etiese uitkoms vir die oorlewing en oorlewering van Afrikaanse literatuurstudies en/of literatuurwetenskap in Afrikaans?

Vandag is daar ook baie nuwe tendense deel van literatuurwetenskap, wat reeds op vernuftige wyses geïntegreer is in die Afrikaanse letterkunde, byvoorbeeld Susan Smith en Susan Meyer se (onderskeie) artikels oor nuwe materialisme en die objek-geörienteerde ontologie en Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019), wat as ‘n gids gelees kan word by gesprekke oor dekolonisasie.

Dit is nodig om bestek te neem oor die verlede, hede en toekoms van literatuurwetenskap in Afrikaans, hoe dié veld vergelyk met dié van Afrikaanse letterkunde en taalkunde, en hoe ons vandag by literatuurwetenskap in Afrikaans kan baat vind, indien enigsins.