Posts Tagged ‘little magazines’

Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte, Deel 2

Tuesday, September 18th, 2012

 

Sedert die reaksie op gister se blog het ek onderstaande voorberei en geskeduleer om soos gebruiklik môre-oggend vroeg op te gaan, maar aangesien dit myns insiens naatloos aansluit by Johann de Lange se uitvoerige kommentaar wat enkele minute gelede geplaas is, plaas ek onderstaande nou. Mét die kopknik dat wat ek wou sê, baie beter verwoord is deur hom.

***

Ek is nog altyd van mening dat elke leser van ‘n gedig ook ‘n skrywer daarvan is. Net so sal daardie leser ook graag ‘n aanslag op eie pogings wil lewer. Dog, waar hierdie pogings in vroeëre tye in die lessenaarlaai sou gebly het, stel die sosiale media alle liefhebbers en skrywers van gedigte in staat om dit met ‘n veel groter gehoor te deel. As sulks is dit goed en reg en beslis iets wat verwelkom moet word omrede dit die stuwingskrag van ‘n bepaalde digkuns verteenwoordig en die dinamiese aard daarvan ondersteun.

In ons eie digkuns bevind ons ons eintlik in ‘n besonder gunstige posisie vanweë die vele inisiatiewe en aktiwiteite rondom die fenomeen genaamd “kuberdigters”. Twee knelpunte wat egter onmiddellik na vore dring, is enersyds die aangewakkerde verdeeldheid wat bestaan tussen die sogenaamde “gepubliseerde” digters en hul vrylopende kuberbroers en -susters, met heelwat verdagmakery heen-en-weer oor wie nou eintlik die bloedlyn van die digkuns verteenwoordig. Andersyds is daar natuurlik die kwessie van gehaltebeheer.

Albei hierdie knelpunte het veroorsaak dat die gesprek wat sedert Maandag se blog op die webblad ontstaan het, ontaard het met die ongelukkige gevolg dat bepaalde kommentare, en ook gedigte van twee kuberdigters wat as illustrasie tot bepaalde standpunte geplaas was, op hul versoek verwyder moes word.

Verdeeldheid en wedersydse venyn strek die digkuns myns insiens hoegenaamd nie tot voordeel nie. Net so is dit hierdie webblad se uitgespelde doelwit om as ‘n “kollektief” bedryf te word; ‘n ruimte waar almal welkom en veilig sal voel. Gehalte en relevansie is inderdaad ons enigste voorvereiste.

Nogtans wil ek graag ‘n paar opmerkings rondom dié aangeleentheid maak omrede ek gehoop het dat die gesprek merendeels hieromtrent sou handel.

Sekerlik is die verskynsel van internet-diggroepe vergelykbaar met die era van little magazines in die 1970s en 80s. Trouens, dit behoort ‘n besonder interessante tema te wees vir ‘n vergelykende nagraadse studie, vermoed ek. Rondom die little magazines van toentertyd was daar immers soortgelyke groeperings; dikwels met die voorneme om die bestaande strukture te ondermyn ten einde die reikwydte van die digkuns te verbreed; hetsy tematies of by wyse van eksperiment. Ook was dié little magazines dikwels polities gemotiveerd aangesien dit die mees doeltreffende manier was om sensuur en diesulke prettige aksies te omseil.

Inherent problematies was egter die befondsingsprobleme en die uiters beperkte reikwydte van die little magazine. Daarom dat hul lewensduur in die meeste gevalle maar erg kort was. En natuurlik, die internet bied die perfekte oplossing tot dié probleem.

Wat my bring by die tweede punt.

In die 1990s het daar ontstellend min digbundels verskyn aangesien die meeste uitgewery drasties ingekort het aan publikasies wat onderpresteer by die kasregisters. Gevolglik het die little magazines en selfpublikasies die enigste manier geword waarop nuwe stemme na vore gebring kon word. Hierdie toedrag van sake het die vrugbare bedding waar ánder uitgewers kon begin spit en gaandeweg het die aktiwiteit rondom die digkuns en die blootstelling daaraan sodanig verbeter dat die aantal nuwe digbundels wat per jaar verskyn sedert 2005 telkens ongeveer 20 was. En dit, vermoed ek, is úíters indrukwekkend vir ‘n taalgroep soos Afrikaans. (Vir die volledige opgaaf van publikasies in die vorige dekade kan jy hier gaan kyk.)

Die internet en die geleentheid wat dit aan sowel aspirant as gevestigde digters bied om hul verse aan ‘n ander (waarskynlik groter) gehoor bekend te stel, vervul ‘n belangrike rol; trouens, dit is presies teen hierdie agtergrond wat Versindaba-fees in 2005 tot stand gekom het en die daaruitvoortvloeiende webblad in 2008 …

Net so is ek van mening dat enige manuskrip van enige digter wat publikasiewaardig is, vandag ‘n uitgewer sal vind. Waar daar byvoorbeeld enkele jare gelede nog waarskynlik net drie uitgewers van digbundels was, is daar vandag nie minder nie as 10 gevestigde uitgewers wat Afrikaanse digkuns publiseer.

En vir ‘n klein taalgroep soos Afrikaans is dit eweneens indrukwekkend.

Wat my by die volgende punt bring.

Primêr gaan dit hier oor verhoogde produksie en die belemmering wat dit plaas op sowel publikasie (met gepaargaande bemarking en verkope) as gehaltebeheer. Net soos wat nie alles wat op die internet verskyn goed is nie, is nie alles wat in boekvorm verskyn, van gehalte nie. Nie alle uitgewers is ewe streng ten opsigte van die gehalte van inhoud óf redigering nie. Dit op sigself is ‘n probleem; ‘n lekker probleem, toegegee, maar nogtans ‘n probleem.

Want die essensie van produksie is konsumpsie.

‘n Gerekende uitgewer het tydens ‘n gesprek oor die teleurstellende verkope van digbundels te midde van die frenetiese aktiwiteit daarrondom, aan my gesê dat hy van mening is dat die groot hoeveelheid gedigte wat op die internet te lese is, nadelig inwerk op bundelverkope. Waarskynlik is hy reg.

En maak dit hoegenaamd saak? Miskien tog, sou ek dink. Want die afname in verkope gaan maak dat uitgewers weer drasties gaan begin afskaal aan hul poësie-publikasies; iets wat ons gaan terugneem na die 1990s toe net ‘n handjievol digters as publikasiewaardig geag is en daar bykans géén ruimte was vir nuwe talente om na vore te kom nie.

En hoekom is dít ‘n probleem, hoor ek die kuberdigters grom; daar’s mos die internet.

Daarmee my volgende punt.

Een van die kommentators  onderaan Charles Simic se essay het dit besonder poëties gestel deur die plaas van gedigte op die internet te vergelyk met die skryf van gedigte op water.  Vandag kan ons steeds die verse van vervloeë digters geniet júís omrede dit in boekvorm verskyn het. Daarteenoor is die internet (of FaceBook) ‘n verbyskuiwende medium. Dit is en bly volledig in die “nou” en “hier” geanker.

Ja, hoor ek die gegrom: Jy kan mos gewoon die gedig of digter google en siedaar! Maar hoe kan jy ‘n gedig of digter google indien jy dit nie kan onthou (of van weet nie) omrede daar sedertdien duisende bygekom het?

En tog – is dit hoegenaamd ‘n probleem? Soos Leo van der Sterren dit in sy blog gestel het: “Het streven van de dichter om door en met zijn gedichten de status van onsterfelijkheid te bereiken is vervangen door de zucht om zoveel mogelijk teksten de openbare ruimte in te plempen. De kwaliteit van die teksten, niemand maalt er nog om. Maar het lot van onsterfelijkheid is slechts een miniem groepje van uitverkoren dichters beschoren. En dan nog maar met één of enkele gevleugelde woorden die tot algemene zegswijzen zijn uitgegroeid. “

Wat my bring by die kwessie van gehalte.

Die strikvraag waarmee bykans alle media-owerstes tans wêreldwyd worstel, is: Gee jy aan jou lesers/luisteraars/kykers/volgelinge wat hulle wil hê, of wat hulle nodig het? En solank ons ons in die verbruikerskultuur bevind waar produksie = konsumpsie = wins sal die neiging altyd wees om toe te gee aan die markdinamika wat vra vir entertainment en nie “skoling” nie.

Maar is populariteit en/of topverkope altyd ‘n aanduiding van gehalte? Sekerlik níé. Maak dit hoegenaamd saak? En wie bepaal dan ook wat “goed” is en wat nie? Die lesers/kopers/luisteraars of iemand anders (of instansie) wat ook maar weer deurlopend ondermyn en verdag gemaak word vanweë die gefrustreerdes wat nie kry wat hulle wil hê nie?

Soos Johann de Lange dit in sy kommentaar gestel het: Hoekom oor die kwessie van intellektuele (óf kreatiewe) vervlakking bekommerd wees wanneer ons reeds die barre soutpanne bereik het?

By wyse van groet haal ek graag sy kommentaar volledig aan: “Skryf voort, onderskraag mekaar, verkoop julle bundels voordat dit nog drukkers het. Tegnologie is aan julle kant, dis makliker as ooit tevore om te sê ‘ek is ‘n skrywer’. Maar moenie ergerlik raak as ander nie met julle saamstem nie. Die innerlike stemmetjie is mos die enigste een wat regtig tel, of hoe?”

En my innerlike stemmetjie sê hoeka: Kry nou klaar hiermee. Hirosjima was baie erger.

***

 

Gedrukte media vs opinieblogs

Friday, September 4th, 2009
Blogosfeer

Blogosfeer

‘n Mens kom deesdae al hoe meer beriggewing teë wat daarop dui dat die gedrukte media hulle bedreig voel deur die sogenaamde “opinieblogs” wat tans klaarblyklik elke halfjaar in getal verdubbel op die internet; in dié mate dat bepaalde koerantgroepe begin het om gratis toegang tot hul webblaaie te staak.

Op De Niewe Reporter se webblad het Nuuswekker egter interessante beskouings rondom dié kwessie raakgelees. Ene Hans van Willigenburg is naamlik hoegenaamd nie van mening dat die netwerk van “opinieblogs” enige bedreiging vir die hoofstroom-media kan wees nie: “In steeds meer gesprekken met mensen uit de journalistiek en de wetenschap kom ik, samen met hen, tot de eensluidende conclusie dat veel op internet – en ook het opinieblog – in verregaande mate schatplichtig is aan de zogenoemde ‘mainstream media’. Het opinieblog is secundair: het reageert, het spuwt gal, het bejubelt, het keurt af, het maakt zieke grappen, maar het initieert niet.” het hy gesê.

In ‘n groot mate is dit seker korrek, maar dat die gedrukte media vanweë ekonomiese faktore en dalende sirkulasiesyfers hulle binne ‘n nuwe mark-dinamika sal moet aanpas, is ‘n gegewe. Weliswaar is alle aanduidings daar dat dit wél besig is om te gebeur. In ‘n groot mate probeer ons plaaslike media júís om die internet-generasie te akkommodeer met die uitgebreide blogruimtes wat hulle die afgelope tyd huisves. Of dit egter kwaliteit van inset sal waarborg, is natuurlik ‘n totaal ander vraag …

Myns insiens is die fenomeen van “opinieblogs” niks anders as die “little magazines” van enkele dekades gelede nie: ‘n tuisbedryf wat deur enkelinge in stand gehou word met toegewyde ywer. Maar, anders as wat dit die geval met “little magazines” die geval was, is insetkostes minimaal en sal die bepaalde blog hopelik langer bly voortbestaan as die enkele uitgawes wat die kort leeftyd van die “little magazine” gekenmerk het. En al sou die “opinieblogs” dan tans gesien word as ‘n “vergeefs(e) gedoe in de kantlijn: huisvlijt, rancune, jaloezie, imiteergedrag en nog zo wat kinderachtige emoties,” bly dit as sulks ‘n belangrike bydraende faktor tot die gesprek wat rondom bepaalde gegewe – soos die digkuns – tot stand gebring word.

Volg gerus die skakel na die stuk by De Niewe Reporter. Kyk veral na die skakels aan die regterkant van hul hoofblad; daar word ‘n hele lys van verbandhoudende artikels aangedui; toevallig ‘n funksie en opset wat prakties gesproke nié in die gedrukte media haalbaar sou gewees het nie …

Ai. Is dit nie opwindende tye waarin ons lewe nie?! Laat ons dankbaar wees.

Maandag maak ons die nuwe stemme van Nuwe Stemme 4 bekend. Indien jy een is wat nie meer kan wag nie en die ure letterlik aftel, kan jy gerus hier gaan kyk hoeveel tyd daar nog oor is op die klok.

‘n Plesierige, dog geduldige naweek word jou toegewens.

Mooi bly.

LE

  •