Posts Tagged ‘Liu Yung’

René Bohnen. Waterdraak

Monday, January 23rd, 2012

Sommer omdat die Sjinese Nuwejaar so aanhoudend gevier word in Johannesburg en omdat ons gister by die tempel in Bronkhorstspruit was, plaas ek vandag  ʼn paar foto’s. Nie almal is gister geneem nie, dit kom ook van ander jare.

2012 is die jaar van die Waterdraak wat blykbaar “gentle transformations” bring. In Johannesburg stroom mense elke jaar na Commissionerstraat (wat die “ou” Chinatown is) se middernagvieringe (dis nogal ‘n belewenis om middestad toe te ry in die nag en dan wemel dit van voetgangers). In die “nuwe” Chinatown, in Cyrildene, begin die jolyt vroegmiddag reeds – gedekte tafels staan op die teerstraat, kos word op die sypaadjies voorberei, mense kom in hul feesklere (babatjies in satynfrille en juwele) en wanneer dit donker is begin die vuurwerke wat die draak moet wakker maak. By die Nan Hua tempel word die draak sommer helder oordag wakker gemaak.

Vieringe vind ook plaas by etlike winkelsentrum en parke. Wensboompies vorm deel van baie mense se Nuwejaarsgebruike en hulle skryf dit op klein papiertjies wat in die boompies se takke bly hang en wapper nadat dit (amper soos muntstukke in fonteine) in die blare gegooi is.

Die groot Nan Hua tempel by Bronkhorstspruit word met Nuwejaar omskep in ʼn plek van samekoms en fotogeleenthede vir almal. Gister het ek gedink daar is meer fotoklubs teenwoordig as Sjinese! Dit is ʼn noemenswaardige verandering sedert die heel eerste keer dat ek Nan Hua se nuwejaarsvieringe beleef het iewers in die 90’s. Toe was ons omtrent tien Westerlinge wat gegaan het.

En dit is seker vir my die lekkerste van die Sjinese Nuwejaar hier – die diversiteit van ons samelewing is duidelik sigbaar en almal meng ewe vrolik. Dit gee my altyd moed. Wit, swart, Indiër, Sjinees, Frans, Duits; al hierdie tale het ek gister gehoor – en dis so gerusstellend om weer te sien dat alle kinders dieselfde is: hulle gil, lag en hardloop vir dieselfde redes, laat val roomyse en kerm vir koeldrank.

Ek het baie van hierdie mense afgeneem, alhoewel ek nie graag herkenbare kindertjies op die internet plaas nie (maar hulle bly vir my pragtig)

Die feit dat die tempel groot gronde het, baie gras en bome, asook die gevoel van veiligheid, help ook dat kinders hier taamlik vryelik kan speel en ontspan, selfs sonder hul ouers rondbeweeg.

Daar is goths en feetjies ook, jongmense in kostuum, soms. Maar sommige kulture is vanself kleurvol.

Die Sjinese Nuwejaarsvieringe is ʼn kulturele fees, nie ʼn godsdiensfees nie. Ek het verneem dat verskeie van die geleenthede geboikot word as gevolg van ons renosterkwessie. Ek kan net hoop dat bewaring vir almal ewe belangrik sal word, sodat die grense wat tydelik opgehef word uitgebou kan word. Dalk kan die Waterdraak daardie transformasie meebring, ek weet nie. Maar ek vermoed die draak gaan ʼn rol moet speel in die oplossing van die probleem.

Ek plaas ʼn gedig wat deur J.P. Seaton in Engels vertaal is en in 2008 in Afrikaans deur my verwerk is omdat ek een oggend langs die Boesmansrivier in Estcourt gedink het landskappe kan kulture transendeer. Dis nie ʼn Nuwejaarsgedig nie, maar praat wel oor verlange en broosheid.

A leaf this boat

A leaf this boat, its light sail rolled

lies moored by the Ch’u’s south bank.

As dusk descends on the lonely wall, the post horn

draws mournful notes like those of a Tartar whistle.

The waters vast,

wild geese on flat sand

settle, startled, scatter.

Mist gathers in the cold woods,

the painted screen is spread,

horizon’s far, the mountains small

like faintly traced eyebrows.

Old joys cast off lightly,

I’m here to seek an official post

but weary of this journeying

and the waning year.

The manners and the sights of this strange place

are desolate and mournful,

the eyes despair,

the capital’s far away,

the towers of Ch’in cut off,

the soul of a traveler dismayed.

The fragrant grass spreads in

empty vastness

and the evening glow spreads

no news of her,

a few broken clouds

far off.

Liu Yung (fl. 1034)

Vrye verwerking van “a leaf this boat” (Liu Yung)

’n Blaar hierdie boot

hierdie boot is ‘n blaar

te water gelaat een winternag

met seile van sis wat wapper –

dryf op ‘n oker stroom

van Monk’s Cowl en Giant’s Castle

na die dorp en dagha

’n Blaar hierdie boot, haar seile van lig opgerol

waar sy vasmeer op die oewerklei

van die Boesmansrivier

Skemer daal oor die verlate kraal,

ʼn kiewiet draf-draf op kieselklip

Die fabrieksfluit ’n bees se eensame bulk;

die kiewiet vlieg-skrik-vlieg

Skimbeelde tussen die wilgers se wortels

– borduurlap oopgesprei –

die horison is ver, die drakensberg klein

(verbeelde wenkbroue van ʼn verbeelde god)

My ou vreugdes ʼn verslete beschu,

is ek moeg van hierdie kranse se bergpad

op soek na werkwoorde

en so verloop van my stat

Die pieke en assegaaie stomp geslyt

die soetgras swyg onder ʼn nagkaros

Geen aandvuur-vers ontbrand nie;

ver en verskriklik breek die wolke los.

René Bohnen 2008

  •