Posts Tagged ‘lojaliteitskaarte’

Nini Bennett. Die duurste mahala nog.

Thursday, December 22nd, 2016

mahala-prent

Ek koop vir my ’n lang beurs wat soos ’n konsertina ooprol om plek te maak vir al my koopkragkaarte. Dis amper kersfees en tyd vir groterige jaarlikse aankope. Maar toe ek uit die kar klim, kyk ek ’n hond se slagyster mis en trap daarin. Onmiddellik ruk ek my been op of iets my sool brand en hink ’n paar treë verder. Ek loer sku onder my kuif uit: net die dolende motorwag, hande agter die rug, het my gewaar. Gelukkig is hy ver en ek vermy oogkontak, want ’n groet of kopknip kos jou nou al ’n minimum van R5. Ek verwens die hond en gaan staan op ’n graseiland, waar ek kasueel my Moses-sandaal teen ’n graspol skoonskuur. Winkelsentrums is nié my koppie tee nie.

            My eerste stop is Pick n Pay.

            “Sma’shoppa’ca?” vra die kassiere by die betaalpunt, en ek sien die geduld in haar oë.  Sy moet dit honderde kere ’n dag vra.

“No,” sê ek, en sy kyk my bot aan. Ek is nie deel van die uitverkore winskopers nie. Sy druk ’n pamflet vir die Smart Shopper Card in my hand, wat in vier dele, soos ’n konsertina oopvou.

            “Carrier bag,” sê-vra sy, en dan: “Remember the card”. Ek kan nie help om die verwyt in haar oë te lees nie.

Met koopkragkaarte kry die verbruiker ietsie mahala terug van die bloedsweet wat hy spandeer. ‘n Knypie vet van die offergeld word na die altaar gebring.

            SMART SHOPPER IS GIVING YOU MORE AND MORE REASONS TO SMILE. YOU GET 1 POINT FOR EVERY RAND YOU SPEND AT PICK N PAY. A-ha, dink ek. SSS. Shop, spend, swipe ― só eenvoudig. Die beloning wag.

            “Sliep”, sê die kassiere, en bondel ’n lang strokie en spul tollende sente in my hand sonder om oogkontak te maak. Dit gebeur altyd ― waarom maak kassieres nie oogkontak nie? Maar, ten minste kry ek ’n paar Stikeez, een vir elke R150 wat ek spandeer. Dis een van my geheime: ek versamel Stikeez en ryg hulle teen my kombuisteëls op, waar hulle gulsig vassuig. As ek bedruk voel, skiet ek met my wysvinger die diepsee-avaters, die seekatte, -perdjies, -sterre, dolfyne en ander diertjies, dan vibreer hulle soos springvere. En hulle het name, het ek gaan Google: Blinker, Rattles, Snap, Cee Cee, Wok, Zup, Grumpa, Oscar, Winker…

Die volgende stop is Clicks. Ek wonder, die glansbiljet steeds in my handsak, hoeveel duisende ’n mens nou éintlik by PnP moet spandeer om ’n mahala terug te kry.

            Ek beur met my trollie tussen die malende vakansiegangers wat loop en roomys eet. By tye steek hulle onverwags vas vir ’n dringende lek of slurp, dan onderdruk ek my padwoede. Kinders wat lyk of hulle Ritalin kort peul uit aankomende trollies en waai vir die kersbome met die dolleë toegedraaide boksies. Vrouens met glasige koopkoors-uitdrukkings, en hulle gades met die gatvol gesigte… Party mans sit op die bankies en wag met dieselfde verlore kyk as iemand wat op ’n longdrop sit.

            “Clicks’club’ca,” vra ‘n stem skerp.

            “Ja”, sê ek, en haal my tydelike kartonkaartjie uit die lang beurs; gee dit nederig vir haar, soos ’n melkkoepon.

            Die kassiere kyk my met gemengde gevoelens aan. Haar naellak roes. Dan skandeer sy my frommelkaartjie.

            “Plastic?” vra sy, waarop ek knik, bly om met my heraangepaste Kaapse ore weer ‘n Gautengse klank te hoor. ‘n Plastieksak is ‘plastic’, oftewel: in die ou Transvaal praat ons van ‘plêstic’.

            Op die rak agter my staan ‘n ry gips-Jesusse. Ek tel een op, en merk die groot goue plakker onder die beeldjie: MADE IN CHINA. 3 vir die prys van 2.

            Terwyl die kassiere my aankope verveeld verby die betaalpunt sleep, verwonder ek my aan haar vlegsels, soos kunstige makrami om haar kop.

            “Remember your permanent card, Ma’m, ” betig sy my toe ek loop.

Die inkopiesentrum het meer afdraaipaaie as ’n Groot Blokraai, en dis nog net die één sentrum wat ek besoek. My volgende stop is Dis-Chem.

            Ek vler my konsertinabeurs oop soos ’n royal flush en spring die kassiere voor: “Loyalty Benefit Card”. In die staandertjie op die toonbank pryk die glanspamflette dan ook: DIS-CHEM REWARDS. LOYALTY POINTS. Hoe edel! Lojaliteit is die vergieting van jou geld by een winkel.

            Hierdie kassiere is vriendelik. Haar gholfhempie span om haar bolyf en ek kan haar vetrolle tel, hulle beweeg soos ‘n akkordeon, eers dié kant toe, dan weer dáái kant toe soos sy op die kroegstoel haar bolyf ronddraai. Rolle soos die segmente van ’n ruspe.

            “Ons het ’n lucky draw,” sê sy opgewek en wys na ’n glaskas vol speelgoeddiere. “Kom ons kyk gou Mevrou se nommertjie”.

            Sy skuif my kaart deur die magneetleser…en ’n winkelhaakfrons spring tussen haar wenkbroue.

            “Ma’ Mevrou het dan gewen?!” vlieg sy op, en dit lyk of sy my om die hals gaan val van blydskap.

           “O…”, sê ek stomgeslaan, en kyk hoe ’n ander kassiere met ’n skaterwit glimlag vir my ’n reuse speelgoeddolfyn bring. Die duurste mahala nog. Dis nie sommer ’n kommin teddie dié nie ― my ma se Yorkie sal vir ure kan head bang met die dolfyn in haar mond, meegevoer deur haar terriër-drome van terreur.

           “As mevrou die dolfyn los sou koop, kos hy R480,” sê die kassiere met blink oë. En ek knik dankbaar, nou ’n goeie burokraat van kapitalisme.

Die volgende stop is Edgars. My lang beurs flap moeg in segmente oop.  Waar is die kragtelose koopkrag? Soos ’n wyse verbruiker pryk al my kaarte opgeryg: ‘n duur verwagting.

            Die kassiere by Edgars is nie vriendelik nie. Hulle personeel is altyd so, suur, en baie stadig.

            “Edgars ThankU”, sê sy skerp, en ek kyk onbegrypend na haar. Ek het nie só kaart nie.

            “You have a card, Ma’m.” Nou ongeduldig.

            Ek: “Nope”.

            Sy: “Why not?”

            Ek kyk verslae na haar. Nie eens toe ek in die beskuldigdebank gestaan het, kon die aanklaer die wind só uit my seile neem nie.

            Ek antwoord nie, staar net verleë na die dolfyn in my trollie. Dan draai sy haar kop weg en weer terug na my, daardie agterdogtige kyk as iemand iets slegs ruik. En ek onthou: my Moses-sandaal en die hondebol. Hemel, die vrou ruik goed…of verbeel ek my dit alles?

            “No card,” sê ek apologeties, en dink dat ek myself nogal as ‘n connoisseur van koopkragkaarte geag het, maar ’n mens kan net nie byhou nie.

            Sy sug swaar en begin my items tydsaam op te lui.

           MAKE YOUR SOUL SMILE! groet die rooi dubbeldoor-pamflet in die staanrakkie voor my. Dís intens, want dit verg baie om my siel te laat glimlag. Hier is ’n afwysing, ’n intensivisering, sien, dis waarom die mense wat hier werk, so omgesukkel is. Die slagsinne soos EAZY SHOPPING en SUPER-, TOPS- en KWIK ken ek al, maar SHOP NOW, SAVE FOREVER, of MAKE YOUR SOUL SMILE is té dolché en driftig vir my.

Gelukkig is my aankope min en my koopkrag gevaarlik laag toe ek weer die sentrum se trollieverkeer aandurf. Die mense in Somerset-Wes is heterogeen en heel kosmopolities. In Pretoria-Oos, byvoorbeeld, is die bedorwe vrouens maer en die mans oorgewig, want binne ‘n hoër inkomstegroep werk die mans bedags in kantore terwyl die vrouens gim en spa en duurder laevet-hoë-proteïen-kosse eet. In Pretoria-Wes, weer, is die vrouens oorgewig (hulle sit by die huis en eet hoë koolhidraat-kosse), terwyl die mans maer is, want hulle beoefen oorwegend ambagte en hulle is dun gedrink.

            Ek haal diep asem. Hier kom Woolworths.

            “MySchoolCard?” vra ’n stem vriendelik. Ek vang die kassiere se ondeunde oog. En ek hou dadelik van haar.

            “Het nie een nie,” sê ek pront.

            “Haai Mevrou!” Sy kyk my geamuseerd aan.

            “Wat behels so kaart alles?” vra ek versigtig.

            Sy begin gulhartig verduidelik. “Met ’n MySchoolCard skenk Mevrou ’n deeltjie van Mevrou se inkopies vir liefdadigheid. Soos vir skole…” en nou flap sy nóg ’n glansende konsertinapamflet oop: “Kyk, MySchool, MyVillage, MyPlanet…dit alles gaan vir ’n goeie saak”.

            “Ek sien,” hoor ek myself sê, “maar my outonomie van handeling word mos geskaak, of hoe? Wie sê ek wíl geld skenk vir liefdadigheid? Ek kan seker self daaroor besluit?”

            Ek sien hoe haar kakebeen oopgaan en in my geestesoog word haar tande langer van verbasing terwyl sy na my betoog luister.

            “Nou dra ek hierdie kaart saam met al die ander ― ek het nie meer plek in my beursie vir al die kaarte nie, en al wat ek in ruil gaan kry, is julle spam en e-posse…”

            “Kyk,” vervolg ek en ek sien hoe haar oë groter rek, “’n filantroop is nie noodwendig iemand wat geld gee nie. Geld is nodig, ja, maar ’n ware filantroop gee sy tyd vir ander mense, want tyd is nie ’n verrekenbare kommoditeit nie”.

‘n Vrou met ’n outydse gentian violet-perm soos ’n krismisroos tik my op die skouer. Nou vat ek eers vlam.

            “Is Woolies se beloning dat jy nou ’n filantroop word…met elke transaksie word jy beloon met jou eie welwillendheid? As dit nie rewards is nie, is dit loyalty of charity. Nou slaan kapitalisme sy tande ook in ubuntu…”. Ek bly stil, oordink Woolworths se bemarkingstrategie (eintlik baie slim), en glimlag dan sereen vir die verbaasde kassiere. Haar goue naambordjie wys “Josephine”.

            “Jammer dat ek op jou afkom, Josephine, maar dis omdat jy so nice lyk en omdat ek warm kry en in ’n ding getrap het”. Weer rek haar oë, maar nou begin sy borrelend en diep uit haar maag te lag.

            “Ek verstaan, Mevrou. Maar soos ek sê, dis alles vir ’n good cause,” beaam sy opreg, en my hart krimp ineen met ’n skielike skuldgevoel. “Mevrou, vandag is die specials by SPAR ook alles goed wat ek nie gebruik nie, Maizena, Marshmallows…”

            “En Bennetts Baby Bum Creme,” voltooi ek haar sin vir haar.

             Dan glimlag sy geheimsinnig soos Mona Lisa, en skielik tref dit my dat die reuse dolfyn in my trollie ook soos Mona Lisa glimlag. Ja, Mona Lisa glimlag misterieus, soos ‘n dolfyn.

Ek stap uit en gaan soek eers ’n bankie om te rus. Die inkopiesentrum is drukkend en bedrywig. Onder ’n plastiekkersboom met vals sneeu kom ’n kersvader skielik orent en sit ’n skreeuende kleintjie neer. Hy klad verleë met ’n sakdoek die ronde nat kol op sy skoot. Die opwinding van kersfees raak ook te veel vir sommige kindertjies…

            Toemaar, jy is nie alleen nie, dink ek, en glimlag in ’n onsigbare spieël vir myself.

Vinnige Feel Good Rewards; Loyalty Points, en tydskrifte wat aanmoedig: koop nóg. Die welwillendheid van kapitalisme met liefdadigheidsprojekkies en -kaarte wat die verbruiker laat voel hy gee vir ‘n égte saak. Die Magna Carta se nuttelose oktrooie. Die filantrope, die sakemanne wat die onderhandse kunsies van belastingvermyding kén. In “The Wolf of Wall Street” sê Jordan Belfort: “Money doesn’t just buy you a better life, better food, better cars… it also makes you a better person. You can give generously to the church or the political party of your choice. You can save the fucking spotted owl with money”.

            My kop duisel en ek flap my beursie oop, blaai deur my trofeë: Woolies Rewards Card (waar pas dit nou weer in?). SAVE OUTOMATICALLY. Die Checkers Convenience Card. CHECKERS BETTER AND BETTER. En nog: EARN AND SPEND EBUCKS AT CHECKERS SHOPRITE STORES…THE MORE YOU SAVE, THE MORE YOU SMILE. Waarom dié onnosel een? En die eBucks-kaart. EBUCKS NEVER EXPIRE. Wéér die hiperbolisme, ever, never, soul. Dis diep bemarking hierdie, en die verbintenis met die winkelier is vir ewig. Kapitalistiese koopkrag vat ook hande, jy kan tot vlieg, fliek en uiteet, alles teen ‘n laer tarief. Maar die beste een van almal: Checkers X-tra Savings sê as jy hulle kaart het, dan gaan hulle diens outomáties verbeter.

Ek besluit ek het genoeg inkopies gedoen vir een dag; môre besoek ek ’n ander winkelsentrum.

            Toe ek in die parkeerarea kom, stuur ’n vreemde motorwag op my af. “Ek het mooi gekyk, Madam,” sê hy, en wys verkeerdelik na ’n rooi Golf. Ek draai my kop weg, want hy kaap deur sy oogkontak my reg om rond te kyk, soos motorwagte altyd doen.

            “Ek ry nie ’n rooi Golf nie”.

            “Ek kyk na ál die karre in die lot…hierso, orals”, hou die kansvatter vol. Ek sug en grawe in my konsertina vir kleingeld, ’n klein prys om van die pes ontslae te raak.

            “Dis al change wat ek het, die res is net kaarte”, sê ek geduldig, en gee vir hom R5.

            “Maar die ATM is mos dá as Ma’m vir my wil gaan geld trek..? Ek sal wag.”

            Ek draai my kop na hom. “Néé. Jy het verkeerde kar opgepas”.

            Dis egter ’n heel ander toneel wat my aandag trek. Drie motors van my af staan Josef van Betlehem. Hoog teen die spreilig se lamppaal blink ’n Betlehemster gedrapeer in tinsel.

            “Middag,” groet ek die seun. Hy is seker so 14 jaar oud, maar hy kan ouer ook wees te oordeel aan sy tenger liggaamsbou. Hy het ’n omgesoomde laken en oorgroot strepiesjapon met opgerolde moue aan. Deur sy visplakkies loer ‘n paar vuil tone. Hy hou ’n kierie kiertsregop in die een hand vas.

            Ek skreef my oë agter die donkerbril: ’n spierwit vadoek van ongebleikte linne is om sy kop gedraai as hoofdoek, die japon se belt argeloos om die hooftooisel geknoop.

            “Maria moet nog kom,” sê hy verleë: “Sy het gaan koeldrienk koop”.

            Ek kyk af, na Josef se voete, waar ’n yslike Kewpie-babapop in ’n wit handdoek binne-in ’n houtlaai vol strooi lê. Ek gee ’n tree nader: die pop is toegedraai in ’n splinternuwe Glodina-handdoek; die etiket wys trots “Black Label”.

            “Management jaag ons weg, dan kom ons maar weer,” sê die seun, en glimlag skamerig.

            Nou kyk ek na die kind voor my se gesig. Sy oë is smagtend en donker en vogtig; dis die weerlose oë van ’n rob. Dan sien ek die verslete kerkhoed waar dit langs die laai lê, asof dit om verskoning vra vir iets. Dieper onder in, dúskant die gevlekte voering, blink ’n handjievol munte.

            Ek rol my konsertinabeurs oop, vou ’n R200-noot in ’n blokkie, en sit dit in die hoed.

            Dan hoes die seun onverwags. Hy hoes vorentoe soos ’n ou roker, of dalk is dit TB. Nou eers gewaar ek die winkeltrollie met sy aardse besittings in ― drie rooi OK-drasakke. Ek kan hom al sien loop, die hees gekners van die trollie deur die strate.

            Sy oumensgesiggie skeur in ongeloof toe hy die geldblokkie in die hoed sien. Vir ’n sekond lyk dit asof hy gaan huil, maar dan sien ek hy lag.

            “Kan ek vir Tannie kleingeld bring? Ek kan gou na die biltong-shop draf…”

            “Nee, nee, dis nie nodig nie”.

            Hy staar my ongelowig aan, draai dan na sy trollie en rits ’n drasak oop. “Dan moet ek vir Tannie ook iets gee. Niemand wil dit hê nie, hulle lees dit nie eers nie”.

            Hy haal ’n voosgevatte vel papier vol krake uit. “My gedig,” sê hy trots.

            Ek frons, maak die verslete vierkant oop en lees die gedig. Hy het ’n klein beitelskriffie; dis die ontwikkelde handskrif van ’n jong intellektueel of iemand wat duidelik baie skryf en vloeiend dink. Maar dis die gedig sélf wat my onkant vang. Ek voel hoe die trane diep agter in my oogkasse opvlam en sit ’n bedonnerde pose op.

            “Dis goed,” sê ek saaklik. En: “Gebruik jy tik…of enige iets anders?”

            “Ek het ’n paar kere tik gebruik, maar dit was lank terug”. Ek kyk in sy eerlike ― en skuldige ― oë, en weet dat hy die waarheid praat. Dan sien ek die letsels waar sy voorarms by die opgerolde japonmoue uitsteek: dit is skeurwonde wat sonder die weelde van steke moes genees.

            “Wys my jou hande, Seuna,” sê ek sag. As kriminoloog weet ek waarna om te let.

            Hy draai sy palms wantrouig na my. Nes ek vermoed het: in die regterpalm grif ’n dik wit litteken wat eens ’n messteek was. Skielik krimp hy ineen. Dit is die uitgangswonde van trauma wat nooit genees nie. Ek druk die onverwagse bewerasies in sy hande ferm vas en streel oor sy kneukels, kyk af in sy verskrikte oë. “Ek is nie ’n gangster nie,” sê hy, en ek knip my oë stadig en gerusstellend. Nee, jy is die slagoffer van gangsters, maar ek sê dit nie.

            Vir laas takseer ek hom. Sy oogappels lyk skoon en helder, die pupille normaal, geen onnatuurlike psigomotoriese aktiwiteit nie. Op die oog af lyk dit nie of die kind dwelms gebruik nie. Hy het net ’n tam uitdrukking in sy oë, maar dít is omdat hy gedigte skryf.

            “Geen dop, gom, dope of tik nie, okei?” sê ek harder. “’n Digter moet sy verstand oppas”. Dan flikker sy gesig op, want ek het hom ’n digter genoem; en weer grawe hy in die rooi drasak en bring ’n bondeltjie papiere te voorskyn.

            “Hier is nog gedigte,” sê hy, en ek herken die kyk van ’n digter, die angs, die outoriteit in die oë wanneer hulle persoonlike verse ter sprake kom.

            “Vat dit vir jou, Tannie,” sê hy, en reik die kreukelvelle na my. Skielike tref dit my dat hy sopas sy kosbaarste besittings vir my gegee het.

            “Het jy enige huis of shelter?” vra ek bekommerd.

            “Nie meer nie,” antwoord hy stomp.

            “Raait, jy gaan nie langer hier op straat sit en skryf nie. Jy gaan in ’n skool of shelter of iets sit en skryf, laat ek net gou by die huis ’n paar oproepe gaan maak. Is vanaand nog hier, dan bring ek vir jou fotostate van jou gedigte en dan praat ons verder?”

            “Ja, Tannie”.

By die huis tjirp die windklingels die taal van afwesigheid.

            Ek sit my sakke en die dolfyn op die eetkamertafel, skop my Moses-sandale verlig uit, en maak ’n beker Earl Grey.

            Dan gaan sit ek agter my lessenaar, en potlood in die hand, begin ek deur die stapeltjie gedigte te lees; maak regmerkies by die reëls wat belofte toon.

Nie lank nie, of ek sit die potlood neer en reik na die foon. Ek het ’n klein Bukowski om na om te sien.

 

  •