Posts Tagged ‘Louis Esterhuizen gedig’

N.P. van Wyk Louw 50. Louis Esterhuizen

Monday, July 6th, 2020

 

Veel liefliker is dit

(In die spore van NP Van Wyk Louw se “Groot ode”)

 

Laat daar dan dinge wees

wat die mens nie begryp nie, dinge

waaraan hy hom sal wil meet,

 

maar geen berekening vind nie.

Laat daar spieëls wees. En raaisels,

laat hom verward staan

 

voor die wydgevlerkte geduld

van ’n voël in die voue van die wind,

want wat ontbreek, kan nie

 

getel word nie. Laat daarom

die weg van ’n man by ’n vrou

sonder rede wees,

 

want wat baat dit hom –

’n ete van droë brood is immers

beter as maaltye in ’n huis

 

van twis. Ja, wat baat liefde

wanneer daar dinge is wat hy nie

begryp nie, dinge

 

wat afgemete lê in skale

van afskeid en berou: ook dit

kan nie getel word nie,

 

want teen skemertyd

loop hy manhaftig dog droef

en wil dat alles aan sy aard

 

gelyk wees: getuies vir mekaar,

inderdaad, met niemand om namens

húlle te getuig wanneer

 

 

die boom in die agtertuin

sy vrugte swel en sonder huiwering

grond toe stuur nie.

 

Laat daar dan dinge bestaan

wat die mens nie begryp nie, dinge

soos die skramse spel

 

van hande, die fluisterstem

van begeerte, want ja, ook dít vergaan

sonder rede. En vergifnis, los maar

 

vir hom tussen die flenters

van sy refleksie hierdie oomblik,

so sonder vraag

 

of verwyt, en noem dit vreugde

terwyl die drif nog bestaan

vir die mens om ironies te wil leef

 

en die liefde steeds

te behou.

 

 (Uit: Sloper. 2007: Protea Boekhuis)

N.P. van Wyk Louw 50. Louis Esterhuizen

Friday, June 12th, 2020

 

 

 

 

Twee herbesoeke, ʼn ander eeu

 

  1. Germanicus

 

Generaal, o generaal –

 

nou’s nié die tyd vir hinkepink nie,

nie die plek om jou ore met praatjies te stut

daar tussen die tente waar konkoksiestories

in die potte prut nie.

 

Nou is sterftyd. O deurlugtige, die vaandels

en trompetgeskal in aantog oor die vlaktes

is jou nié ter wille nie, die rooksinjale

oor jou stede van geen vreugdevuur –

 

dis eie vestings wat brand. O generaal,

nou is nié die tyd vir skuinskyk nie,

want in hierdie uur

sterf ons: aan hierdie

nou

en hier.

 

 

  1. Raka-ka-ka

 

Die hekke lê oop, die hoekpale omgestoot.

 

Niemand kom na buite of gaan binnetoe –

in iedere skuilte smul die eens gevreesde

nou as vertroueling aan

elke kouseltjie wat in die rondte

gestuur word.

 

Kyk, die hekke lê oop, die grensdrade slap.

 

Ongediertes loop vry in toegegroeide strate

en wonder waar almal heen is: stig brand,

breek af, niemand kom na buite

of gaan na binne. In elke tuiste word

vrees opgedis

 

asof dit gekook tot troos is, want wanneer hoop

 

bloot soos ʼn liggaam lê, koud en stil in die gras,

en die huis word met ʼn harder gebrul

en ʼn nuwe woede

gevul

 

moet skrik, hongerte en dors soos brood

in stilte gebreek word waar

iedereen

 

op sy eie is. Alleen. Met geen hek

om ooit weer dig

te maak.

 

© Louis Esterhuizen, 2020

 

  •