Louis Esterhuizen. “‘n Villanelle vir die aarde”
Monday, April 20th, 2015‘n Villanelle vir die aarde
Want ‘n klip is die aarde se dagboekinskrywing
en ons vertrou daaraan toe die inskripsies van ons verblyf:
van grafsteen tot monument, van bouwerk tot ruïne.
En jy staan in die middel van ‘n veld tussen berge,
weeg in jou hand die geswolle gewig van ‘n stromatoliet.
Want ‘n klip is die aarde se dagboekinskrywing.
En jy bekyk die uiagtige stulpings van bakterie
en sediment: soveel water, soveel groei,
van grafsteen tot monument, van bouwerk tot ruïne –
En delikaat met die kalksteenlagies vergroei, die tyd
wat skelet geword het in die karstvlaktes van ons verblyf,
want ‘n klip is die aarde dagboekinskrywing.
En jy weet nie wat om daarmee te doen nie; jy onthou
soveel klip wat gebreek word, die hamer en pik
van grafsteen tot monument, van bouwerk tot ruïne –
Die hordes mense uiteengedryf, verlore langs skrikroetes
van soveel gebalde vuiste en opeengestapelde vrees.
Want ‘n klip is die aarde se dagboekinskrywing
van grafsteen tot monument, van bouwerk tot laaste ruïne.
(c) Louis Esterhuizen / April 2015