Posts Tagged ‘Marcelle Olivier’

Marcelle Olivier. Onderwater

Thursday, November 11th, 2010

Nuus uit Brittanje: Onderwater

‘n Klompie maande gelede was ek by die Universiteit van East Anglia se Fees van Wêreldliteratuur, wat in Norwich gehou is.

Norwich

Norwich

Dit is ‘n ou stad met ‘n pragtige katedraal, ‘n tradisionele groentemark, ‘n gerespekteerde kreatiewe skryfwerk departement, en die tuisgrond van die sêding ‘Normal for Norfolk’ (NFN) – op sy dag ‘n algemene mediese term om die sogenaamde ‘slow of wit‘ in hierdie deel van die land te beskryf. O, en Norwich was ook in Julie vanjaar ‘n redelike suur verloorder in die wedstryd vir die titel van Britse Stad van Kultuur (Londonderry het gewen, en Noord-Ierland beplan om in 2013 vir ‘n jaar lank in verskillende kunsvorms die simboliek van die ‘duim-aan-neus’-posisie oor die Ierse See Engeland se kant toe uit te druk.)

Norwich is sentraal geleë in die oostelike uitgroeisel van suid-Engeland bekend as East Anglia, wat deesdae die moderne graafskappe van Norfolk, Suffolk, Essex, en Cambridgeshire insluit. Groot dele van Norfolk, Cambridgeshire, asook bietjie noord in Lincolnshire, is veenland, in die 1600s en 1700s deur ingevoerde Hollandse werkers gedreineer om veral landbou te fasiliteer (die stadswapen van die Suid-Cambridgeshire munisipaliteit, die familieleuse van hoofingenieur Cornelius Vermuyden, lees Niet Zonder Arbyt). Dit is waterig orals: in Norfolk en Suffolk – in die noorde verplat met mooi witsandstrande, in die ooste klippiesrig en steil – verdwyn tussen 30cm en 1m van kuslyn jaarliks in die blou-bruin Noordsee in. Elke paar maande sien jy nog ‘n tranerige gesin op die plaaslike televisiekanaal wat vertel hoe hulle huisversekering gekanselleer is omdat hulle voorheining en soutgeroeste tuindwergie oornag in die see ingeval het.

Het iemand my skuur gesien? Die gevolge van erosie op die Norfolk kuslyn. (c) Pat Gowen

Het iemand my skuur gesien? Die gevolge van erosie op die Norfolk kuslyn. (c) Pat Gowen

Dit is natuurlik ‘n ou-ou probleem, hierdie tilt van die Eiland wat veroorsaak dat die Noordsee en East Anglia so in en oor mekaar slaap. Op die Suffolk-kus sal jy die oorblyfsels van die stad Dunwich vind – op sy dag die sesde-grootse in die hele Engeland. Vandag is dit ‘n gehuggie met die noodgedwonge kerkie en pub, ‘n handvol huisies, die ruïnes van die Greyfriars, en ‘n verskrikking van ‘n kafeteria en parkeerarea vir die busse wat pensionaris-toeriste op £5 koerantkoepon-vakansies uit die Daily Mail of Sun see toe bring. Die strand is vol klippies, die water koud, en die lug grys, maar ek hou van die idee van die plekkie. So belangrik was dit gedurende die Middeleeue dat dit tot en met 1832 twee volle parlementslede in Londen gehad het, selfs al was daar teen die 19de eeu slegs omtrent 200 inwoners oor. In die sonderlinge dorpsmuseumpie kan jy meer oor die geskiedenis van Dunwich lees: ‘n hawestad wat vir meer as ‘n millenium die ooste van Engeland gedomineer het; ‘n tuiste vir Romeine, Saxons, en Vikings; vir Middeleeuse studie; ‘n belangrike speler in die wolhandel, en religieuse en sekulêre judisie. ‘n Paar verbleikte dioramas en ‘n kort videotjie sal jou wys hoe die hawe oor die jare begin opsilt het, hoe die stad telkemale probeer herbou is na verwoestende storms wat letterlik myle en myle van die kus weggevreet het, en hoe die menigte kerke, kapelle, en abdye hulle een vir een tot die godsverlate Noordsee se meedoënlose, selfsugtige visie versoen het.

Op die rand van die krans digby die Middeleeuse ruïnes van Greyfriars, tussen bosse en netels wat klou aan hulle strokie aarde, kyk ‘n laaste graf uit oor die golwe, opsoek na die ewige rus waarheen dooie bure eeue gelede al vervoer is. Volgens oorlewering kan jy die kerkklokke onder die onstuimige soutwaters hoor lui wanneer Poseidon kwaad word. Dis nou te sê as jy bereid is om op ‘n stormagtige aand buite in die koue reën te staan en luister, of as jou gehoorapparaatjie goed genoeg werk om die kattemaai van jou £5-busgenote se bestellings vir olierige koppies tee en kurkerige rosyntjieskons uit te skakel.

'n Uitstappie strand toe, Dunwich 1909. Die ruines sigbaar op die foto het dekades gelede al verdwyn.

'n Daguitstappie strand toe, Dunwich 1909. Die ruïnes sigbaar op die foto het dekades gelede al die see in verdwyn.

Maar voordat ek myself heeltemal in die geskiedenis verloor, kom ons keer terug na Norwich en sy koffiewinkels, poësiekafees, en ‘n fenomenale inheemse geen wat jou met webvlerkies tussen jou tone laat gebore word sodat jy maklik deur die watervelde kan plons sonder om te sink. NFN. Of so hoor ek.

Die Dinsdagaand van die Feesweek woon ek die Suid-Afrikaanse voorlesings by. Dit is ‘n indrukwekkende lys: Zoë Wicomb, Jonty Driver, Gabeba Baderoon en JM Coetzee. Ek weet nie of die organiseerders van die fees ooit verwag het dat Coetzee, ‘n man wat so selde sy stem aan iets verleen, ‘ja’ sou antwoord op hulle uitnodiging nie, maar hy is inderdaad daar. Die saal is propvol – en ek wonder onwillekeurig hoe baie van die gehoor weet werklikwaar wie die ander skrywers is. Nie dat ek dink hulle nie belangstel in Suid-Afrikaanse skrywers of skryfkuns nie, maar die dwelm dié aand is duidelik Coetzee – almal is hier vir daai een fix. Behalwe Coetzee vertel die skrywers almal ietsie oor hulle agtergrond, wat hulle inspireer, en ook natuurlik oor hulle ervaring van Suid-Afrikaanse literatuur en oorlewing. En dit voel nogal of die tema van die aand ‘oorlewing’ is, want daar is nuanses van beide verlies en koppigheid/standvastigheid, en ‘n onsekere maar tipiese Suid-Afrikaanse idioom wat sylangs kla oor die presiese verwagtings van die konsep van heimwee.

Baderoon lees onder andere oor haar pa, en lees gedigte oor die minuskule aardskuddings wat amper ongemerk in die normale dag verlore raak en eers later ontoereikbare vibrasies jou lewe indring. Wicomb se voorlesing handel deels oor die gesag van geskiedenis en die effens deurmekaar teks wat beide die verwagtinge van ‘hier’, van die interne gemeenskap, en die drama van ‘daar’, van die eksterne politiek, probeer saamsmelt. Driver fokus op ontworteling in sy leeskeuse: fisiese en emosionele afstand tussen kulture, plekke, en ‘n doelgerigte besluit om oorlewing. En Coetzee se verhaal handel oor vervreemding van landskap, kennis en menseverhoudings – die onverklaarbare droë logika wat kom met ‘n diep wantroue van menswees wat jy gedwonge moet uitleef selfs al bly die aard daarvan onverstaanbaar.

Dit was ‘n goeie uur of twee, gevolg deur baie wyn en aandete saam met die deelnemers van Suid-Afrika en elders, en ‘n ongoddelik heerlike basiliekruid-kaaskoek vir poeding. Maar nieteenstaande die genot wat luister en saamkuier en kaaskoek bring, was dit effens teleurstellend om te sien dat die twee digters en Wicomb ‘n rusbank en ‘n sessie op die verhoog gedeel het terwyl Coetzee apart verskyn het. Ek is lief vir Coetzee, en dit is nie dat ek nie dink dat dit belangrik is om sy internasionale status te respekteer nie. Maar binne die konteks van ‘n voorlesing getiteld ‘An Evening with Four South African Writers’ was dit dalk effens nepotisties om die skrywers so ooglopend te skei dat daar basies ‘n opening act en ‘n main act was. En dis hartseer, want van wanneer af is ‘n digter van Baderoon se kaliber ‘n opening act? Eintlik, as almal eerlik daaroor kan wees, was dit ‘An Evening with JM Coetzee and Three Other South African Writers.’

En daar was iets anders wat my opgeval het daardie aand, iets wat onder my vel ingekruip het terwyl ek ook weet dat ek nie werklik in ‘n posisie is om daaroor te kla nie. Maar tog… Hier is vier bekende Suid-Afrikaners. Vier diverse kunstenaars wat openlik oor die Suid-Afrikaanse ervaring – en meer belangrik oor die individu se verwagtinge, skuld, misnoeë, en hartstog ten opsigte van daardie ervaring – skryf. Vier skrywers wie se metafore altyd torring aan die helderkleurige draadjies wat die public en die private so saam-saam laat ontrafel, en wat oorlewing in een of ander vorm, in een of ander emosie, beliggaam. En nie ‘n enkele een woon op die oomblik permanent in Suid-Afrika nie. Coetzee bly in Australië, Driver en Wicomb in die VK, en Baderoon in Amerika.

Coetzee lees voor by die fees. © Martin Figura

Coetzee lees voor by die fees. © Martin Figura

Hoekom is dit belangrik? Ek is nie seker nie, maar ek voel tog dit is. Ek voel dit is grootliks Amerikaners of Australiërs of Britte wat akademies baat, nie Suid-Afrikaners nie (maar ek is bewus daarvan dat hierdie skrywers soms kom klas gee in Suid-Afrika). Ek voel dat dit op een of ander manier hipokrities is om te praat en te skryf oor die hier as dit eintlik daar is; dat die Suid-Afrikaanse letterkunde iets verloor. Ek voel verneder dat daardie Dinsdagaand-gehoor nie met teoretiese implikasies wil speel nie, maar net ‘n simpatie vir die eksotiese sou oorhou wanneer hulle die saal uitstap.

Ek voel ook dat ek verkeerd is om hierdie dinge te dink, en dat dit amper erger is om dit te sê – my huisie staan, op stuk van sake, op die rand van die veenlande van East Anglia, nie in Kaapstad nie. Want jou ervaring is nie minder werd omdat jy die kraak van Weskus-sand moet onthou eerder as tussen jou tande kan proe nie; omdat jy maande laas R5 aan iemand moes gee om jou kar in Loopstraat op te pas nie. Jou kop werk nie anders omdat die wind deur Europa se populiere met ‘n ander aksent huil as deur dié in die oker Karoo nie, of omdat jou bure se kinders grootword met ‘n desperate wantroue vir ander gelowe eerder as om te wonder oor die vreemde rol wat velkleur in hulle geskiedenis speel. Jou storie is nie minder belangrik nie, jou besluite nie onderhewig aan jou kreatiewe rol nie: niemand, insluitende jyself, sê jy moet in Suid-Afrika bly om die land se letterkunde te bevorder nie.

Maar dit pla my nog steeds (en dikwels) op ‘n manier wat ek self nie heeltemal verstaan nie of vertrou nie. Ek weet dit gaan meestal glad nie oor Suid-Afrika nie en dat ‘Herkoms’ slegs een uit ‘n menigte potensiële keuses van lees is, veral in poësie. Dat die Suid-Afrikaanse idioom anders funksioneer as jy ook self besig is om te krap aan ‘n self-toegediende rofie. Miskien maak dit nie saak waar jy hoed ophang nie, solank die hoed en sy veer aan jou behoort; miskien gee niemand eintlik om oor wie waar woon of wie saam met wie op ‘n verhoog verskyn behalwe vir ‘n handjievol hipokritiese individue wat veels te snobisties oor koerantkoepon-busvakansies op die Britse Ooskus optree. Dalk was ek net vies omdat ek nie ‘n tweede sny basiliekruid-kaaskoek mog gekry het nie. Tog, êrens-êrens beitel die see weg aan die krans se fondasies. En dalk nie net aan myne nie.

*

I cannot myself

Gabeba Baderoon

To come to this country,
my body must assemble itself

into photographs and signatures.
Among them they will search for me.

 

I must leave behind all uncertainties.
I cannot myself be a question.


 

Marcelle Olivier. Die Studio

Thursday, September 16th, 2010

Gedagtes uit Brittanje: Die Studio

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Ek sit op ‘n kussing in ‘n vriendin se nuwe studio in sentraal-Cambridge, met my Mac gebalanseerd op my swart jas en op my skoot. Daar is ‘n klein skoollessenaartjie teen die een muur en ‘n ongemaklike kombuis-tipe stoel, en ‘n goedkoop, leë boekrak met drie en ‘n halwe rakke langs ‘n besem teen die ander muur. ‘n Verflenterde Suid-Amerikaanse kombers met swart en wit vierkantpatrone lê op die vloer onder my voete. Die krag werk nie, so die lig hierbinne is eintlik maar net dieselfde gryserige weer van buite wat deur die groot vermelkte vensters spoel, en aangesien dit ‘n koue dag en hier geen verhitting is nie, is my arms hoendervel. Dalk moet ek maar weer my jas aantrek…

Die mure is roomwit gepleister en, sover ek kan agterkom, gemaak van sponserige karton bo-oor sement, behalwe waar ‘n hoekkamertjie met twee stukke laaghout tussen vloer en dak opgerig is; ‘n paar grys matvierkante (van dié soort wat jy in kantore kry) en ‘n plastiekhouer is al dekorasie binne wat ek aanneem eens ‘n stoorkamer was. Daar is plek-plek gate in die kartonmure, spikkels kleurverf, en kolle bruin vog wat in die dak- en kamerhoeke bloei. Die vloer is gemaak van ou houtplanke, jare laas afgeskuur of gepolitoer, met ‘n reuk wat my herinner aan die ou Bloemhof gebou in Stellenbosch waar ek laerskool geloop het (en terwyl dit leeg was, alleen in die solder en op die dak rondgeklouter het), voor dit in ‘n kunsmuseum omskep is.

Die Cambridge studio se vloer is vol blou en pienk en geel verfspatsels en kwasmerke – een van die vorige huurders was seker ‘n kunstenaar. Hier en daar, knus tussen die planke, lê miniatuur glaskraletjies. Iemand het ‘n deel van die houtvloer grys geverf, ‘n groot kragprop met vet, grys slagare wat langs die vloerlys afloop in ‘n muur ingeslaan, en ‘n losstaande brandblusser ingedra. Daar is ‘n geroeste waterpyp en kraan wat soos ‘n dooie tak vasgewortel staan, en twee kaggels met baksteenskoorstene, waarvan die een dalk nog bruikbaar mag wees. Die plafon self is hoog, driehoekig, met twee gekettingde ligte wat van die dwarsbalke wieg. Die wind kla in onder die hangdeur met sy Yale-slot.

Dit lyk nie eintlik na ‘n watwonderse plekkie nie…

Kaggelteëltjie

Kaggelteëltjie

 

Maar die rede hoekom ek hier sit en skryf het niks te doen met die bostaande lysie onromantiese tekortkominge van die ateljee nie. Dit is eintlik as gevolg van die noordelike end van die kamer, ‘n area wat omtrent ‘n vyfde van die totale vertrek beslaan. ‘n Kaggel-paneel hier (die kaggel self is gemaak van geroeste yster, en toegestop met ‘n klomp supermark-plastieksakke) is van ‘n ligte hout, met handgeverfde teëls in skakerings van oker, pers, en porselein-blou. Party is kru, party vol detail, en vertoon Bybeltonele, plante, Engelse landskappe en kerke; iemand wat ploeg; voëls en vrugte. Die teëltjie wat in die middel bo die kaggel geset is, lees: O mirkle is the powerful ware that lies in herbs, plants, stones and their true qualities: for nought’s so vile that on earth doth live, but to the earth some special good doth give. Die mure hier is antieke donkerbruin houtpanele wat uit Cambridge se All Saints-kerk herwin is gedurende die verskuiwing en herbou van die gebou tussen 1863-1870. Twee piepklein rame is uit die donker panele gekerf om plek te maak vir helder-gekleurde loodglasvensters wat oos en wes uitkyk. Van naby blyk die werkmanskap effens power – die seksies is oneweredig, die kwashale in die tints is duidelik sigbaar, en die etse lyk soos iemand se sketse uit ‘n rofwerkboek. Dis die stained glass-doodles van ene William Morris.

William Morris is natuurlik bekend vir sy werk as kunstenaar en tekstielontwerper. Hy was die leier van die Engelse Arts and Crafts-beweging wat vanaf ongeveer 1880 vir tradisionele dekoratiewe ontwerpe en vervaardigingsmetodes geveg het, en ‘n vername lid van die Pre-Raphaelite broederbond; sy vrou, Jane, was een van Dante Gabriel Rossetti se gunsteling modelle. Saam met onder andere Rossetti het Morris ‘n maatskappy begin wat vandag nog een van die beroemdste tekstielname in Brittanje is, en Morris & Co. ontwerpe op hout, gordyne, en glas is te vinde in kerke, universiteite, en country houses oor die hele land heen. Morris word veral onthou vir sy muurpapier en meubeloortreksels, maar hy was ook ‘n aktiewe en wyd-gepubliseerde Sosialis, ‘n vertaler van Noorse, klassieke en Middeleeuse literatuur, ‘n belangrike voorloper van romantiese fantasie-fiksie, en natuurlik ‘n digter. In 1892 is hy die Poet Laureateship aangebied as opvolger van Tennyson, maar het om politieke redes dit nie aanvaar nie. Sy verse is deesdae nie meer wyd bekend nie, en die sterk romantiese aspekte daarvan kan op plekke nogal soetsappig voorkom as die leser nie die filosofiese konteks in ag neem nie. Vir diegene wat geïnteresseerd is om bietjie meer van sy werk te lees het Marxist Internet Archive ‘n aanlynkatalogus van baie van sy skrywe, insluitende essays oor kuns en kultuur, die politiek, en akademie, asook uittreksels uit romans, digbundels, en vertaalde werke.

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n selfportret van William Morris

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n William Morris selfportret

 

To The Muse Of The North

O muse that swayest the sad Northern Song,

Thy right hand full of smiting & of wrong,

Thy left hand holding pity; & thy breast

Heaving with hope of that so certain rest:

Thou, with the grey eyes kind and unafraid,

The soft lips trembling not, though they have said

The doom of the World and those that dwell therein.

The lips that smile not though thy children win

The fated Love that draws the fated Death.

O, borne adown the fresh stream of thy breath,

Let some word reach my ears and touch my heart,

That, if it may be, I may have a part

In that great sorrow of thy children dead

That vexed the brow, and bowed adown the head,

Whitened the hair, made life a wondrous dream,

And death the murmur of a restful stream,

But left no stain upon those souls of thine

Whose greatness through the tangled world doth shine.

O Mother, and Love and Sister all in one,

Come thou; for sure I am enough alone

That thou thine arms about my heart shouldst throw,

And wrap me in the grief of long ago.

 

 

 

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

In 1863 is William Morris self, asook sy maatskappy Morris & Co., gevra om die muurskilderye en van die vensters vir die nuwe All Saints-kerk in Cambridge te ontwerp. My vriendin se studio waar ek nou sit, in ‘n onbeduidende systraatjie en met sy vuil vloere en verrotte dak, was deel van Morris se werkswinkel gedurende hierdie taak, en die twee oorblywende venstertjies deel van die beplanning en proses. Hy het gevra dat die ou kerk se houtpanele hierheen gebring moet word voordat dit as weggooimateriaal verbrand of verkoop is, en waar my jas lê en stof vergaar het hy en van sy span patrone bedink en geteken, lood getrek, en glas getint en gesny voordat die finale produkte oorgedra is Jesus Lane toe om in die groot kerkvensters vasgemessel te word.

Ek sou aanneem dat, nadat die projek voltooi is, die werkswinkel dadelik uitverhuur is aan iemand anders – dalk was daar meer van Morris se oefen-vensters wat oorspronklik agtergebly het en oor die jare die niet in verdwyn het; dalk was dit maar altyd net dié ou tweetjies wat so in vanmiddag se dowwe sonlig sukkel om die kamer in te kleur. En wie presies verantwoordelik was vir die teëltjies rondom die vuurherd kan die eienaars nie sê nie, en ek gaan nie eers probeer om te spekuleer nie. Want vandag is dit vir my eintlik heeltemal genoeg om te weet dat ek my wegneemkoffie kan drink en na die herfsreën kan luister in dieselfde vertrek waar een van Brittanje se bekendste kunstenaars dalk glas-splinters uit sy vingerpunte probeer suig het.

 

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio

 

Marcelle Olivier. Dit is die maand Augustus…

Tuesday, August 17th, 2010

Nuus uit Brittanje: Dit is die maand Augustus…

 

 

Dit is middel-Augustus, en hier op die Eiland het die nuwe sokkerseisoen sopas begin. En dit is werklik al wat ek daaroor te sê het. Verdere verwikkelinge is dat die goewerment die yskas leeggemaak het, die oond by die muur afgeskakel het, en gesorg het dat die lig by die agterdeur permanent aan is. En aangesien nuus in Brittanje bykans altyd iets met die politiek te doen het, is dit dus nou die sogenaamde silly season – wanneer die koerante enigiets sal publiseer om verkope stabiel te hou terwyl omtrent die hele parlement op vakansie is.

Dis nou die hele parlement behalwe vir Nick Clegg. Want terwyl Herr David Cameron vanjaar op die wit strande van Cornwall rinkink en saam met die gepeupel vis en tjips uit koerantpapier eet (want dit is mos belangrik dat ons kan sien hy is net soos ons, selfs al deel hy sy konserwatiewe bloedlyn met die koningin) moet die arme adjunk op die trappie by die voordeur van No.10 Downingstraat sit om te sorg dat niemand by die land inbreek nie. Vir die volgende maand van huisoppas sluit Clegg se tydverdrywe in: uiters langdradige aanlyn en telefoniese V&A sessies met die publiek; ‘n paar quasi-belangrike aankondigings soos ‘Ons wil meer werk skep!’ wat Cameron hom langtand gegun het; en wegkruipertjie speel met die oorblywende LibDem ondersteuners wat wil weet hoe hulle party uit hierdie koalisie-gemors gaan kom.

Nick Clegg hou homself besig...

Nick Clegg hou homself besig...

Intussen is die silly season in volle swang. Daar is die skokkende nuus dat die frekwensie van hooi-diefstal in Engeland die afgelope paar maande die hoogste ingeskiet het, dat David Beckham se suster £164 (R1870) per week van die regering kry omdat sy kies om werkloos te wees, en dat daar vanjaar ‘n ongeëwenaarde DRIE buiksprekers by die Edinburgse Fringe Festival optree, wat seersekerlik aandui dat die kuns besig is om ‘n herlewing te ondergaan. En wil jy nou meer, ‘n splinternuwe Sherlock Holmes BBC dramareeks hou die Kuns en Vermaak-seksies vol suikerige kommentaar deur kolomnistas wat nie kan ophou skryf oor hoe pragtig Benedict Cumberbatch in sy romantiese bemantelde staat lyk terwyl hy die skuldiges aankeer nie. Dis ook maar net in Engeland waar iemand wat by geboorte met ‘n naam soos Benedict Cumberbatch geskend is ‘n pin-up kan word.

Die BBC se nuwe Holmes en Watson

Die BBC se nuwe Holmes en Watson

Ek moet bieg dat ek nie een van die drie Sherlock-episodes gesien het nie, grotendeels omdat ek nie eintlik baie van Mnr. Cumberbatch óf Sir Conan Doyle hou nie, maar ook omrede ek die eerste program – en dus ‘n hele verwysingsraamwerk en sommer ‘n vet spul leidrade – gemis het. Maar blykbaar was dit ‘n uitstekende reeks, en veral die episode waarin Holmes en Watson die misterieuse verdwyning van ontelbare bale hooi uit ‘n landery in Buckinghamshire ondersoek, ‘n enorme sukses.

Vir diegene hier wat ‘Sherlock’ gemis het omdat hulle net nie televisie kyk nie, of dalk nie die stywe £183 (R2084) kon bekostig om die trein van Londen na Edinburgh toe te neem vir die kunstefees nie (dit is op stuk van sake meer as ‘n hele week se ‘inkomste’ vir Me. Beckham!) is daar darem die Perseids. Die verskyning van duisende meteore wat vir ‘n week of so die somerhemel in die noordelike halfrond opkikker, is elke jaar ‘n belewenis.

'n Sterretjie val oor Stonehenge gedurende die 2010 Perseids

Toe ek jonk was het ek vir ure op my rug in ons agtertuin in Stellenbosch gelê in die hoop om ‘n verskietende ster of twee te sien terwyl ek satelliete en die kleure in pulsarsterre getel het, en baie aande het ek maar koud en teleurgesteld gaan slaap. Nou, jaarliks in Augustusmaand, stap ek buitentoe met ‘n koppie tee en binne vyf minute het daar alreeds tientalle blink strepies voor my oë kom dans; party val so rustig, is so groot en so helder, dat dit voel of jy ‘n vinger kan uitsteek om hulle aan te raak. Ek noem my vriendin se seuntjie wat laasjaar gedurende die vroegoggend-spits van die meteoorstorm gebore is Perseus, maar ek weet nie of hy ooit die mitiese romanse van die naam sal waardeer nie.

Ek plaas hier onder twee uiteenlopende kosmologiese gedigte wat ek dink tog op ‘n tematiese vlak, oor herkoms, met mekaar praat. Die eerste is ‘n vers van Ruth Padel uit die nuutste ‘Poetry Review’ – haar groot-oupagrootjie was Charles Darwin en sy skryf graag oor die natuurwetenskappe; die tweede, ‘reconnaissance,’ is my eie. ‘n Bietjie poësie vir ‘n andersins droë Engelse Augustus.

*

Letter To A Portugese Cosmologist
Ruth Padel

The Universe has no doors and no edges. There is nothing stopping us from seeing what is going on in any direction except the cosmological horizon. – Pedro Ferreira, The State of the Universe

You talk of Godel, truths that can’t be proved,

the surface-of-last-scatter

origins of light. You pit tokens of dark matter,

shrinking us, against a mysterious safety

pushing everything further apart,

but don’t know how to answer where you’re from.

You look for things that do not shine,

mathematics of connectedness

in what the rest of us see as spotted lacquer.

 

Then add in Africa

where your grandfathers were born.

Shanty-towns, streetcorner Kwaito music,

glottal grammar

of too-quick-to-follow

Xhosa chat shows, acacia tines

on sulphurous horizons,

surnames you recognize from Portugal

on fading turquoise petrol-station signs.

 

We don’t know, you say, how the first stars

were born. If the universe wraps round itself

we should see tapestries of repeating lights,

distant copies of ourselves, our galaxy

and neighbours, as they were in the past.

I’m at the kitchen table, moon above my head

and night, pretending to be naked,

is flaunting her dark energy.

All that pushing apart!

 

We close our prayers, most inward when

most looking out, on open numbers, three, five,

seven, nine. We come home to ourselves

following a silver-paper-trail

among elliptic nebulae, light-paths

through strings of misalignment,

rough space that’s never empty.

Fire at the synagogue.

The hot dense core of stars.

 

*

reconnaissance

 

the milky way grows on a finger-tip.

i point to my breast, and the stars spin

hard against the nail, and hard against the heart.

 

i point to my tongue, and a current conquers

the bow of the lip; fracted comets ignite the teeth.

it guts my speech black – and fucks with my mouth.

 

brim over – a fostered bowlful of cosmic ash:

it is difficult to breathe; it is difficult to swallow.

 

i should blame the brevity of life for the morals

of this galaxy. i bename a core: i point to creativity.

 

[© marcelle olivier]

Marcelle Olivier. Somer (ii)

Tuesday, June 22nd, 2010

Gedagtes uit Brittanje: Somer (ii)

*

november, here

and now i see you everywhere:
in the tracks of ice, whispers caught, fish, a motion
like a wave. i am found staring, and taken in.

it is harrowing, the shedding of the sun
on winter afternoons; watchers see the leaves
crack and curl; birds eating fast at the dropped corns.

i see you, sitting with them, a live wire spun
like a strand of glint, an invisible web
holding you afloat to the skinny wind. once again

i am found staring, and taken in, like a child.
your ash-yellow hair at the market. coarse
ringlets at the cinema, bouncing to your shoulders.

everyone is wearing you like a fashion:
like wools and felts are seasonal luxuries this year;
soon every lock will be frozen, see, everywhere.

boats do not move; fake fires glimmer in the water.
it lies, and the reeds play on like a confidence, to
the breeze, to the rambler-marksman’s winter-walk.

there is your untidy fringe leaning to the pharmacist,
his mouth close to yours, and you are breathing.
i see your head in a hat at the buses, haloed fumes;

a late butterfly awkwardly flung to convections.
i see you everywhere, not waiting for me, and the season
an open grate, raw embers for a reading; a motion

like a playful trot on a polished floor; glowing
across. far away i hurt myself for you. everywhere
i am caught staring, and taken in, far from you.

marcelle olivier

*

Die somersweer in Engeland hierdie jaar was tot dusver maar redelik mislik, en ek voel genoop om deur my winter-verse te kyk en om te skryf oor reën. Dus die aanbied van die bostaande gedig, wat ‘n paar jaar gelede in dieselfde bundeltjie verskyn het as die gedig van Bernard O’Donoghue wat ek laasweek genoem het. Ook in daardie boek ontdek ek toe vandag ‘n vers van Andrew Motion (hier onder geplaas), wat my skuinsweg gestuur het om te dink oor die koue klammigheid wat jy partykeer op die lug kan voel in die uur of so voor sonsopkoms, en wat my toe herrinner het aan ‘n oeroue tradisionele samekoms op die Salisburyplein in die suid-weste van Engeland.

Op die 21ste Junie is dit die somersonkeer – in Latyn die solstitium, soos ook deur Pliny beskryf in sy verreikende oorblywende tesis, Naturalis Historia – en dus die langste dag in die jaar. Daarna begin die dae weereens korter word, en sleep ons saam terug winter toe. Die week of so rondom dié dag is midsomer, en in Brittanje word hierdie feestyd deur die verbasend sterk-gevestige druïde-gemeenskap gevier, en groepe kom byeen by henges en klipsirkels oor die land om te dans, te bid, en offeringe te maak.

Sonsopkoms by Stonehenge op 21 Junie 2010

Sonsopkoms by Stonehenge op 21 Junie 2010 (www.guardian.co.uk)

Die meeste van hierdie sirkels kan met sekerheid geassosieer word met die astronomiese posisie van die sonsopkoms gedurende die somer- en wintersonkeerpunte of die lente- en herfsnagewenings. Soos met die prehistoriese burial mounds wat veral in Skotland en Ierland voorkom, waar die son op spesifieke dae en om spesifieke tye met miniskule presisie deur dun openinge in die klipmure sal skyn (soms om ‘n sentrale steen weggesteek in ‘n partykeer ontoeganklike binnekamer vir slegs een minuut slegs een keer ‘n jaar te verlig), is die netjiese beplanning van monumente soos Stonehenge en Avebury nogal inspirerend. Die rituele en intellektuele kapasiteit van mense om so iets te bou is natuurlik op ‘n evolusionêre vlak baie, baie ouer as die skamele 10 000 jaar wat die area rondom vandag se Stonehenge as rituele ruimte gebruik is, maar daar is nogsteeds iets wonderliks magies omtrent die feit dat observasies van die natuur se patrone op so ‘n argitektoniese manier tot uiting gekom het.

Daar is opsigself kommersiële en onreligieuse aspekte van hierdie vierings ook, en English Heritage (wat Stonehenge administreer en met ‘n toegewyde druïde-raad spog) en die polisie sukkel maar partykeer om ‘n middeweg te vind tussen die beskerming van die monumente, en die regte van mense om hulle geloof (of ‘n hippie-partytjie) uit te oefen. Dit help natuurlik ook nie dat Stonehenge deesdae letterlik in ‘n driehoekige stuk plein tussen twee besige paaie sit nie – dis partykeer moeilik om die mistiek van die sirkel in te sien of te waardeer terwyl 18-wiel lorries konstant by jou verby donder. Geld en planne om Stonehenge se besoekersfasiliteite op te gradeer, en om die A303-pad wat ‘n katspoegie suid van die hoofsirkel af lê, te verskuif, is sopas deur die nuwe Britse goewerment van die tafel gevee.

Begeleiding van 'n somersonkeer-seremonie

Begeleiding van vanjaar se somersonkeer-seremonie by Stonehenge (www.guardian.co.uk)

Dit is hartseer nuus vir beide argeologie en toerisme en, ek neem aan, ook vir die paganiste wat dalk sou voel dat wyer kennis en meer respek ‘n positiewe invloed op die persepsie van hulle geloof sal hê. Gedurende die belangrike feesdae by Stonehenge is daar altyd ‘n vlaag arrestasies vir dwelm- en drankmisbruik, iets wat nie juis ‘n wesenlike impressie van die geloof inspireer nie. En as gevolg van die aksies van idiote wat geneig is om hul name te graffiti of om selfs stukkies klip van die stene af te kap, word fisieke toegang tot die sirkel gewoonlik streng gekontrolleer; in die verlede was daar tye waar slegs die hoof-druïdes binne die afgebakende areas mag gaan om die stene aan te raak. Maar daar was vanjaar min genoeg mense (slegs ongeveer 20 000 het vir die somersonkeer opgedaag) dat English Heritage en die polisie besluit het om die hekke vir die al die aanwesiges oop te maak – ‘n rare kans om jouself ‘Tess of the d’Urbevilles’-styl op te offer as jy sou wou.

As jy wel die pad Stonehenge toe neem, vir ‘n ewenings-ervaring of nie, maak tog seker jy mis nie Avebury uit nie. Die dorpie is so 30km direk noord van Stonehenge geleë, en gebou midde-in ‘n wydverspreide en uiters mooi kolleksie van sirkels en losstaande stene. Hier kan jy tussen die skapies loop en mooi rustig na alles kyk, en in die dorpmuseum kan jy meer oor die geskiedenis en gebruik van die spasies leer. Avebury het nie dieselfde imposante dwarslêers nie, en van die stene is nie so netjies afgewerk soos Stonehenge se monumente nie, maar die klipsirkels is ten minste nie omring deur hoë draadheinings wat in elkeen van jou foto’s ‘n verskyning sal maak nie. Diegene wat al deur Brittanje en Ierland gereis het of hier gewoon het sal hopelik met my saamstem dat, alhoewel Stonehenge werklik pragtig is, die menigte kleiner klipsirkels en henges wat nog staande is mens partykeer meer kan vertel.

Uitsig oor die Cotswolds en 'n omgevalle uitloper-monument by Rollright

Laasjaar, gedurende ‘n trek rondom Mull in die Binne-Hibride, het die naamlose klipsirkel naby die oewer van Loch Buie, ver in die suide van die eiland, my sterk aangeraak. Die laatsomerlandskap was deurdrenk met kleur; die sirkel se vorm is perfek, en daar is ‘n uitloper wat die rigting van die enigste pas oor die berge noord – binneland toe – aandui. Ek kon my hier werklik insien hoe belangrik die praktiese en rituele aspekte van oorlewing in die ysige winterseisoene in daardie deel van die wêreld eens was. En so het ek ook een jaar, op die wintersonkeer, my by die Rollright Stones in die Cotswolds bevind. Dit was skemer, selfs om drie-uur die middag, en bitterlik koud, en drie van ons was die enigste besoekers. In mussies en serpe en handskoene het ons rondom die stene gestap met ‘n gidsie oor die klipsirkels van Engeland aan hand en, omdat mens tog deel word van so iets, grepies uit die mitiese geskiedenis wat in geheue lê gesoek sodat ons ook iets gehad het om aan iemand se gode te bied. Die modder was amper gevries, die lug waterig, die plaashekke geroes en die gras groen, en dit was ‘n wonderlike ervaring. En, soos oraloor maar, kom somer of winter, was daar ‘n troppie skape wat tussen die klippe aan’t wei was.

*

Gate Crashing

Everyone’s face is a clock
with the hands at midnight,
which makes me think
this must be new year
or something very like it.

My own face is invisible;
however I look in the mirror
en route to the dance floor,
all I can ever make out
is the back of my own head.

It’s best not to mention that.
I don’t want people to know
I was never in fact invited
to what they’re already calling
the party of a lifetime.

Andrew Motion

Klipsirkel, Mull Eiland, Binne-Hibride

Klipsirkel, Mull Eiland, Binne-Hibride

 

Marcelle Olivier. Somer (i)

Friday, June 11th, 2010

Gedagtes uit Brittanje: Somer (i)

Blykbaar is dit somer in Engeland. Dis nou volgens die seisoenale kalender, maar hier reën dit konstant en dis koud genoeg vir jas dra as jy uitgaan. So drie weke gelede was daar wel ‘n naweek van sonskyn toe die Britse gepeupel hulle skouers en neuse flenters verbrand het, en almal instant barbeques gekoop en hulle varkworsies gaan braai het langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain in Hyde Park.

Vir dié wat nie weet nie, ‘n ‘instant barbeque’ is ‘n vierkantige, A4-grote pannetjie van harde foelie gemaak, met kitskole onderin en ‘n draad-roostertjie bo-oor; jy kan dit by elke supermark vir so R60 koop. ‘n ‘Varkworsie’ is wat mense hier op hulle braai sit – in sy mees bekende gewaad ‘n om-en-by 12cm-lange silinder van pulperige pienk vleis (binne) en bros swartverbrande vel (buite). Dis amper soos regte wors, maar glad nie. Die ‘Memorial Fountain’ is ‘n vlak, ovaalvormrige granietvoor op ‘n mooi stuk gras in London, gebou ter herinnering van Prinses Diana. Daar is polisie om te sorg dat jy nie in die stroompie loop nie, want soos met baie dinge in Engeland is die gevaar dat jy sal omval en nat word veels te groot; partykeer kan jy darem jou voete in die water rus as jy veilig op die rand sit. Ek weet nie of Prinses Diana van varkworsies gehou het nie, en instant barbeques was seker na haar tyd, maar ek’s seker sy sou baie bly wees om te weet dat mense haar oor somernaweke met ‘n braaivleis en ‘n bier in die son eer.

Somer langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain

Somer langs die Diana, Princess of Wales Memorial Fountain

Alhoewel dit op die oomblik buitekant my venster sous, sal dit volgens die weervoorspelling Saterdag-middag vir ‘n paar minute ophou reën en effens warmer word, so verkope van instant barbeques sal weereens die hoogte inskiet. Dit is ook goeie nuus vir Diana se skoonma, Koningin Elizabeth, wat vanjaar haar offisiële verjaarsdag op Saterdag die 12de Junie vier (haar regte verjaarsdag is eintlik in April, maar nou ja, as jy monarg is…) en dus nie ‘n sambreel na die tuinpartytjie hoef saam te sleep nie. Die Britse pers meen dat daar vanjaar minder mense langs die pad gaan staan om die perde en baniere, die koets en die klein handjie wat statig uit ‘n goudgeraamde venster waai, te kom sien: iets van ‘n voetbalwedstryd of drie waarna mense op die televisie sal wil kyk? In elk geval, Elizabeth sal soos gewoonlik ook hierdie Saterdag nuwe ridderskappe en ander rojale titels aan diegene wat dit verdien, uitdeel. Tydens verlede jaar se Birthday Honours is ‘n ridderskap aan Andrew Motion, ons vorige Poet Laureate, toegeken, onder meer in ruil vir die agt koninklike gedigte wat hy gedurende sy tien jaar in Haar Majesteit se diens geskryf het. Volgens hom was die taak van komponeer vir die Koningin sy moeilikste ooit, en sy opvolger, Carol Ann Duffy, het alreeds ontdek hoe maklik dit is om kritiek op te gaar as jy so ‘n publieke amp beklee. En aangesien ons nou alreeds die sokker genoem het, hier is haar gedig oor David Beckham se arme enkel, wat gemengde reaksies van die literati ontlok het:

Achilles

(for David Beckham)

Myth’s river – where his mother
dipped him, fished him, a
slippery golden boy flowed on,
his name on its lips.

Without him, it was prophesied,
they would not take Troy.

Women hid him, concealed him
in girls’ sarongs; days of
sweetmeats, spices, silver songs …

But when Odysseus came, with an
athlete’s build, a sword and a shield,
he followed him to the battlefield,
the crowd’s roar,

And it was sport, not war,
his charmed foot on the ball …

But then his heel, his heel, his heel …

Duffy se pa was bestuurder van Stafford Rangers en sy is ‘n groot aanhanger van die sport. Ek neem aan sy gaan Saterdagaand die Beckham-lose Engelse span ondersteun, en het dus vroegtydig ‘nee’ gesê vir verjaarsdagkoek saam met Elizabeth II, ten spyte van haar Laureate-verpligtings. Ek self verwag natuurlik nie ‘n uitnodiging na die Koningin se partytjie nie. Ek het haar in 2003 ontmoet en dinge het nie glad verloop nie. Om die waarheid te sê, ‘ontmoet’ is nie heeltemal die regte woord nie. ‘Beledig’ sou meer akkuraat wees. Nie aspris nie, moet ek haastig byvoeg, maar ek is seker dat as dit die jaar 1674 was, is ek vir hoogverraad in die tronk gestop. In Maart van 2003 is ek uitgenooi na die Britse Statebond Dag seremonie in Westminster, en is saam met ‘n paar ander beurshouers langs die Koningin se roete deur die katedraal gestasioneer; Tony Blair en sy blink hare het so skuins oorkant my gesit. Toe die Koningin voor my stop om ‘hallo’ te sê het ek my so verkyk omrede die feit dat sy nes my ouma lyk dat ek geensins aandag gegee het aan haar vraag nie. Selfs erger – ek het hopeloos vergeet om te curtsy! En toe ek uiteindelik onthou het, het Tant Bettie al moed verloor dat ‘n antwoord ooit sou kom en aanbeweeg na ‘n volgende onderdaan, en my knieknik was outomaties vir ‘n glurende man in ‘n swart pak wat, ek is seker, gedink het ek maak ‘n erg-onvanpaste anti-koloniale verklaring teen die geskiedenis en/of die monargie. Maar dit was net haar oulike, piepklein tweestuk-pakkie wat my in vervoering gehad het! Soos my ouma s’n. Somerson-geel, as ek reg onthou.

Ag, ja – die somer tog. Hier moet ek dan ook bely dat ek al self ‘n instant barbeque gekoop het (maar ter verdediging was dit vir ‘n egte vleisbraai op ‘n leë strand en ‘n visbraai op ‘n verlate heuwel vol heide, doer in die noordweste van ‘n herfserige Skotland waar ons eenmaal gekampeer het). En ook dat ek self drie weke gelede ontdek het dat my vel aan die effe rooi kant van bruin verhit is na daardie naweek in die son, en verdwaas op die internet moes soek vir ‘n tuisgemaakte remedie vir die vreemde on-Afrika-tipe seer van my skouers. Ek blameer natuurlik die voorafgaande agt maande van serpe en langmoutruie dra, maar dalk het my oordeel al so ver-Engels dat ek, soos almal hier, heeltemal kop verloor as die son uitkom. Wie weet, oor vyf jaar sien jy my dalk selfs my bierblikkie in Prinses Diana se watervoortjie afstuur soos ‘n doodgewone Brit. En miskien, net miskien sal die Koningin my dan vergewe vir my misstap – blykbaar was sy nie ‘n groot Diana-fan nie.

Hierdie Koningin-storie herinner my ten slotte aan ‘n veel beter staaltjie wat die Ierse digter en kenner van Middeleeuse Engelse literatuur, Bernard O’Donoghue (‘n aktiewe ondersteuner van Manchester City se voetbalklub, as iemand daar buite belangstel in ‘n bietjie (ir)relevante trivia) verdig het:

Bernard O'Donoghue

Bernard O'Donoghue

History

Then they talked together until Dunstan spoke about St Edmund, as Edmund’s sword-bearer told the story to King Æthelstan, when Dunstan was a young man and the sword-bearer was a very old man.’ – Ælfric’s preface to ‘The Life of King Edmund

Magie Din Beag, aged four in 1865,

was lifted on to her father’s shoulders

at Abraham Lincoln’s funeral.

Her father said to her: ‘Never forget

that you were at Abraham Lincoln’s funeral!’

He said it at the time, she told me, and again

at intervals throughout the rest of this life.

She told it to me in 1956

when I was ten, and said: ‘Never forget

that you once knew an old woman

who had been at Abraham Lincoln’s funeral

when she was four.’ Fifty years ago now;

so what I say to you is: never forget

that you once read something by someone

who said they had known when they were young

someone who said their father told them

they had been to Abraham Lincoln’s funeral,

or something. Which they probably hadn’t.

Marcelle Olivier. Gode en godeskemerings

Thursday, June 3rd, 2010

Nuus uit Brittanje: Gode en godeskemerings

 

‘The shades work like the wind, invisibly.

And they have always been our companions,

dressed in the flesh of the children they reared,

[…]

not such spirits that they can’t be scolded

not such mortals that they can be profaned’

 

 

Bostaande reëls kom uit Chris Mann se bekende gedig ‘In praise of the Shades’. Iemand het my onlangs gevra oor gode in Afrika, en dié vraag het toe aan ‘n lang gesprek oor mites en mitiese karakters geboorte gegee. Per toeval het ek weer kans gehad om Mann se gedig te lees binne die konteks van my gedagtes oor hierdie gesprek, nadat ek gaan registreer het vir hierdie jaar se eleksie vir Oxford University Professor of Poetry.

Oxford Universiteit

Oxford Universiteit

Die pos is gesog, en lesers sal dalk laasjaar se storie onthou, toe Ruth Padel die eleksie gewen het nadat Derek Walcott onttrek het as gevolg van ‘n anonieme veldtog teen sy aanstelling. Briewe en fotokopieë van ekstrakte uit ‘n boek wat handel oor die aard van Walcott se verhoudings met van sy vrouestudente is aan studente, lektore en College-hoofde gestuur (elke student en dosent by die Universiteit het ‘n eie posbussie, en dit is redelik maklik om te sorg dat almal wat jy graag wil bereik jou stukkie papier in die hande sal kry). Padel het kort voor die begin van die akademiese jaar bedank (en tegnies dus nooit die eerste vrou geword om die amp te beklee nie) nadat sy verantwoordelikheid aanvaar het dat van haar epos-kommentaar teenoor joernaliste van Oxford Universiteit veroorsaak het dat iemand (nie Padel self nie) die veldtog begin het.

Dit was ‘n nasionale skandaal aan hierdie kant, en digters, akademici en joernaliste het vir weke lank in die koerante en op die radio daaroor gedebatteer en, as ons dan juis oor gode wil praat, het hierdie episode Oxford ‘n groot tree nader aan ‘n godeskemering gebring. Maak nie saak hoe positief mens voel oor die intellektuele kwaliteit of ryk geskiedenis van Cambridge en Oxford nie, dié universiteite bly plekke van diep-gesetelde en soms baie eng persepsies en tradisies wat hulle reputasie binne Brittanje self, erg aantas. In Suid-Afrika, seker amper oral anders in die wêreld, hoor mens nie van al die argumente teen die voortbestaan van hierdie twee Universiteite in hulle huidige gewaad nie. Die feit dat hierdie skandaal eintlik by enige ander universiteit kon gebeur het, het nie saak gemaak vir dié wat gevoel het dat dit aanduidend is van die bekrompe, elitistiese, en insestueuse kultuur wat hier gekweek word nie. Dus het die gode net ‘n klein bietjie nader aarde toe geval. Nie te ver nie, natuurlik, maar nog steeds – dit was nie goeie PR nie. In elk geval, ‘n diskussie van die goeie en slegte kante van Oxford en Cambridge is eintlik ‘n storie vir ‘n ander blog. So, kom ons keer terug na die digterlike gode.

Die pos van Oxford Professor vir die Digkuns het toe vir ‘n jaar bly lê – stof en sulke dinge – en begin van laasmaand is die nuwe nominasies vir die vyf-jaar ampstermyn bekend gemaak. Alle lede van die Konvokasie mag stem, maar tot en met vanjaar moes jy dit in persoon doen by die Universiteit se Eksamenskole; nou kan ek my kruisie in die virtuele ruimte trek. Ek het gaan registreer vir my aanlyn-stembriefie, en toe gaan loer presies wie die kandidate is. En daar is sommer ‘n hele spul meer as die gewone drie of vyf genomineerdes. Omdat beide ek en hy by Keble College studeer het, het ek geweet dat Geoffrey Hill op die lysie is (hy blyk verreweg die vernaamste – en soos dit op die oomblik lyk, mees-populêre – kandidaat te wees), maar groot was my vreugde toe ek ons eie Chris Mann ook op die webwerf raakloop. Hy was ‘n Oxford Rhodes Scholar, en ek dink nogal daar is iets te sê vir sy aktiewe, en baie persoonlike, belangstelling in Suid-Afrikaanse kultuur en politiek wat ‘n belangrike rol sou kon speel in hoe ons literatuur in die buiteland waargeneem word. Die feit dat Walcott ‘n Karibiese agtergrond met hom sou saambring was een van sy groot verkoopspunte voordat hy onttrek het, en ek sou hoop dat dieselfde argument – ‘n literêre geskiedenis wat gedeeltelik en soms met moeite op Brittanje se koloniale invloed rus – dalk ook sou kon geld vir Mann. Jy kan sy verklaring hier gaan lees, terwyl jy terselfdertyd asseblief styf duimvashou.

Chris Mann

Chris Mann

 

 

Ander nuus is dat die Hay Literêre Fees op die oomblik in volle swang is – ‘n week en ‘n half van praatjies en prentjies deur allerlei gode uit die ryke van die kunste, die politiek, en die akademie. Soos elke jaar is die fees hierdie jaar naby aan uitverkoop, selfs al weet feesgangers die Walliese reën gaan weereens almal se skoene laat muf trek, die anti-terrorisme polisie gaan jou kaas-en-tamatie toebroodjie uitmekaar skiet as jy dit by die tent probeer insmokkel waar Pervez Musharraf sy onderhoud het, en ten minste een persoon gaan aangekla word van iets verskrikliks omdat hy ‘n foto van sy twee-jarige kind geneem het waar sy kaal in ‘n waterplas staan en roomys eet. Selfs al weet feesgangers dit gaan hulle meer kos as ‘n tweeweke lange vakansie in ‘n vyfster hotel in Kreta. Want tussendeur die reën en die verkeersknope is daar die kans om langs Stephen Fry in die tou vir bier te staan, om vir Nick Clegg direk te vra of hy verkies om aan die linkerkant of die regterkant van sy en David Cameron se huweliksbed te slaap (sien laasweek se blog), om ‘n verflenterd-geleesde, geliefde kopie van ‘Oranges are not the only fruit’ deur Jeanette Winterson te laat teken, en om ‘n vetkryt met Quentin Blake te deel. Om ‘n tent langs iemand op te slaan wat uit die goedheid van sy hart vir jou ‘n ekstra slaapsak sal leen, omdat jy joune aan ‘n Bob Dylan-tipe karakter met ‘n vergeelde kitaar oor sy skouer verkwansel het in ruil vir ‘n kaartjie om Nadine Gordimer te hoor praat oor die boekwaarde van woorde. Orraait, ek moet seker toegee dat die slaapsakstorie nou nie met my gebeur het nie, maar dit kon wel met iemand daar gebeur het. Die punt is: Gode, van watter aard en in watter gedaante ook al, loop hier tussen ons.

Ongeveer 80 000 gode sak in Meimaand toe op die dorpie van Hay-on-Wye met sy 1450 inwoners (Hay spog met een boekwinkel vir elke 36 van daardie 1450!) – slegs omrede daar oor boeke en skrywers gepraat word. Moet ook nie dink Hay is so populêr omdat dit die enigste groot literêre fees nie; daar is menigte ander okkasies vir boekerige dinge, insluitende die Latitude Festival. Laasgenoemde het ook musiek en drama, maar daar is aparte verhoë vir digkuns, prosa én nie-fiksie. Hier, soos met Hay, is mense ook bereid om in die modder te kampeer en geduldig in ‘n lang tou voor ‘n ry blou latrines te wag asof dit Glastonbury of Woodstock is, solank hulle ‘n kans het om Kazuo Ishiguro te hoor voorlees en enige een van die twee David Mitchell’s se hand te kan skud. En, soos met Hay, verdwyn die kaartjies so vinnig soos tradisionele Victoria sponskoek by ‘n Engelse gehuggie se kerkbazaar sodra die program gepubliseer word.

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

Ek is lief vir die feit dat mense hier in Brittanje dit so entoesiasties normaal dink om te lees. Elke televisiekanaal het ‘n joernalis wat vir tien dae permanent in Hay gestasioneer is, op soek na daardie eerste scoop van ‘n hittige argument tussen twee Groot Digterlike Name oor die realistiese toekoms van die haiku-vorm in moderne rap-musiek, en die BBC Radio saai daagliks ‘n paar hoogtepunte uit vir die van ons wat by die huis sit en tee drink. Die groot dagblaaie publiseer elke dag ‘n opsomming van die vorige 24 uur se gebeure, komplimenteer fees-sessies met addisionele koerant-onderhoude, en sit audio-skakels op die web. Selfs die ponie-koerante maak spasie daarvoor – nou dalk nie op bladsy drie nie (daar waar ‘n godin van ‘n totale ander aard haar verskyning maak), en dalk nie noodwendig met ‘n fokus op hogere intellektualisme nie, tog ‘n beriggie of twee sal daar altyd wees. Maar hierdie jaar was daar ook ‘n paar meer ernstige stories, want terwyl Ian McEwan by Hay gelamenteer het oor die feit dat niemand anders boeke skryf oor klimaatsverandering nie, was die Sweedse skrywer Henning Mankell (wat veronderstel was om te praat oor sy beminde maar droewe gods-tipe karakter Wallander – onlangs weer deur Kenneth Branagh vertolk) in ‘n effense meer dringende posisie. Dit nadat hy as deel van die flotilla wat hulpvoorraad aan Gaza probeer bring het deur die Israeli goewerment in hegtenis geneem is. Godeskemerings, inderdaad.

 

En nou lees ek weer grepe uit ‘American Gods’, Neil Gaiman se opus oor die ewigdurende bedrog van gode en die bedrieglikheid van godeskemerings. Gaiman se studie van moderne en mitiese snoodheid (en dié woord moes ek gaan opsoek, om seker te maak dit is wat ek wel bedoel; ek het dit baie lanklaas gebruik) en attraksie, en die ophemeling van rede, invloed, en afhanklikheid in die individu se soeke na sin of onsin, is uniek selfs al sou dit net wees vir die normalisering van die ou persepsie dat gode vlees van ‘n aard is en saam met ons leef.

‘He don’t want to see you. I don’t want to see you neither. You bad news.’

That’s because I don’t come if it isn’t important.’

Ek het nogal lank getob oor hoe die betekenis, en implikasies, sou verander as die sin hier bo sou lees: ‘That’s because I only come if it is important.’ Op die ou end het ek besluit dat dit gaan oor wie in beheer is: die gode – dié (on)gewone mense wat ons lewe so beïnvloed dat ons selfs plek maak vir hulle in ons drome – ís, en is selfsugtig. Dat daar ‘n verskil is tussen wat belangrik is vir ons omdat dit ons aangaan, en wat belangrik is vir ons omdat dit die gode aangaan. Dalk is dit veiliger om ons daarby te berus. ‘[D]ressed in the flesh of the children they reared‘.

Dít sal ek dan ook in ag neem wanneer ek later die week voor my virtuele stembussie gaan staan en vir iemand anders se god stem.

Marcelle Olivier. Die Driepennie-opera inderdaad

Tuesday, May 25th, 2010
Marcelle Olivier

Marcelle Olivier

Marcelle Olivier is ‘n digter en argeoloog wat haar tans in Cambridge, Engeland bevind, waar sy in ‘n herboude eende-skuur in ‘n appelboord op die wal van die Cam Rivier bly. Ná skool op Stellenbosch het sy BDram en Engels honneurs by Maties studeer, en daarna by Oxford Universiteit meesters en doktorale navorsing in feminisme en prehistoriese rotskuns gedoen. Sy het klasgegee in menslike evolusie en argeologiese teorie by Oxford en Cambridge Universiteite, maar werk deesdae as vryskutskrywer en deeltyds ook as hoofeksaminator vir Afrikaans vir University of Cambridge International Examinations. Sy dig meestal in Engels, en jy kan van haar werk lees in onder andere New Contrast, Carapace, Oxford Poets, en The May Anthologies.

 

 

Nuus uit Brittanje: Die Driepennie-opera inderdaad

Die onlangse Britse eleksie is nie eintlik die tema waarmee ek op Versindaba sou wou begin blog nie, maar dalk skuil daar tog wel iets poëties daarin. The Guardian het die afgelope paar weke baie oor Gordon Brown se tyd as Eerste Minister geskryf, en Lucy Mangan het dit wonderlik tragies opgesom toe die nuwe Konserwatiewe-LibDem goewerment uiteindelik verklaar is: ‘[The Conservatives] are easy to laugh at. And you are a better person for laughing at them. Laughing at Gordon Brown always felt wrong. It made you as unhappy as he is. Was. Is.’

Gordon Brown se opgang en ondergang in die VK Arbeidersparty was inderdaad iets wat ou Will Shakespeare kon geskryf het. Na jare se wag in die ante-kamers wat Tony Blair se skaduwees so sonder skaamte om homself gegooi het, en met ‘n relatiewe suksesvolle en stabiele tydjie as Kanselier agter die rug, het Brown die mantel, sonder nasionale eleksie natuurlik, van Blair oorgeneem en probeer om ‘n beter man as sy voorganger te wees. Die tragedie is dat dit vanselfsprekend altyd ‘n ramp sou wees – êrens in die agtergrond was daar ‘n heks, ‘n gatekeeper of fool, wat alreeds die hele storie in ‘n driepootpotjie of glas port sien uitspeel het, Brown iewers in die stegies van Westminster voorgekeer het, en die boodskap van sy toekoms enigmaties aan hom voorgelê het. Dalk met behulp van ‘n stokkie ‘n prentjie in die ekstra-netjiese Engelse roosbeddings geteken het, of ‘n Harrods-spieël voor hom opgehou het en gesê het: Kyk mooi! Wat sien jy? Of, eintlik: Wat sien jy nie?

Want dit was nie Gordon Brown se politiek wat die Arbeidersparty so erg omver gewerp het dat hulle die 2010 eleksie verloor het nie. Dit was sy totale onvermoë om charismaties met die media te kon werk wat hom (en seker maar die publiek ook) nagte lank wakker gehou het. En ‘n gebrekkige gevolg wat heeltyd rondom hom Grieks-koor ‘Glimlag! Glimlag!’ in die dwase hoop dat Brown eendag net so oppervlakkig-natuurlik soos Blair met ‘n groep kettingrokende tiener-ma’s in ‘n sement-parkie in een of ander godsverlate noordelike voorstad kan omgaan. Brown se hele verhouding met die media kan in sy pre-stemdag faux pas vasgevang word; Blair was, soos hulle sê, savvy genoeg om sy eie vooroordeel goed van die kameras te kan kamoefleer.

Toe Brown die week voor laas die laaste keer by 10 Downing Street uitstap (o, en gaan loer gerus na hierdie foto en die meegaande analise van Brown se laaste minute in die ‘oorlogskamer’ in Downing Street), met sy twee klein seuntjies hand aan hand, het almal gewonder hoekom hy so lank op hierdie pakkie dinamiet gesit het – almal weet tog dat familie-foto’s van gelukkige ouers en oulike kinders stemme win! En tog het die feit dat hy en sy vrou hulle gesin so diep agter die swart deur weggesteek het dalk sy hele houding teenoor sy pos geïllustreer. Dalk wou hy net sorg dat die land aanhou funksioneer; deur al die simpel Afganistan- en Irak-gemors, die wêreldwye finansiële krisis, en die parlementêre-skandale kon kom sonder om te veel internasionale gesag te verloor. Dat dit nie oor sy persoonlikheid (of te wel sy tekort aan ‘n populêre persoonlikheid) sou wees nie. En dalk het hy gehoop, ten spyte van die orakel se waarskuwings, dat die noodlot hom nie vooruit beseël is nie. Dit is in elkgeval hoe baie dit sou wou sien. Hoe dit ook al sy, ek het nooit een keer gedurende my dekade-lange vertoef hier in die VK Brown naastenby so ontspanne gesien as toe hy saam met sy gesin die pad vat weg van Downing Street af om, in een van daardie eksentrieke Britse tradisies, die Koningin te gaan vra of hy maar liewers nie meer EM kan wees nie. Nou dat ek weer daaroor dink, miskien is dit nie ‘n ware tragedie nie – Gordon Brown is dalk blind, maar wees – soos arme Lear of Malvolio – is hy definitief nie.

David Cameron, ons nuwe EM (Nick Clegg, die LibDem-leier, is sy adjunk), is uiteraard Blair-gereïnkarneer, met ‘n media-gerigte charisma wat die stemme laat inrol het. Cameron het al dieselfde vooroordele van Tony Blair (en ‘n hele paar meer natuurlik – moet tog nie vergeet hy is ‘n Konserwatiewe man nie!) maar steek hulle net so goed weg soos Blair. Hy het ook die vermoë om skynbaar ontspanne en gelukkig voor te kom maak nie saak of hy met een voet in die graf en die ander in Clegg se mond staan nie, om ernstig te lyk en ernstig te klink wanneer hy oor ernstige dinge debatteer, en het ‘n kaalvoet, swanger vrou wat sopas haar werk opgegee het om, so neem ons aan, in die 10 Downing Street kombuis te gaan staan en kos kook. Soos dit ‘n goeie eggenote betaam. Dit is dus nie verrassend dat Jan Publiek eerder vir ‘Dave’ as vir Gordon Brown op hulle koerant se voorblaaie wou sien nie. En wat presies ons gaan maak met die Nick Clegg-effek – SuperClegg, soos party koerante hom gedoop het – in terme van persoonlikheid, sal net die volgende vyf jaar van koalisie-regering ons kan leer. Hy het wel onlangs genoem dat die lewende persoon wat hy die meeste bewonder JM Coetzee is, terwyl beide Brown en Cameron (en omtrent elke ander MP in Westminster) Nelson Mandela gekies het. Dalk is die pad wel korter as wat dit op die oomblik lyk…

'n Natuurramp?

Vir die rekord, die koalisie tussen die Konserwatiewe en LibDem Partye het ‘n groot bohaai veroorsaak, veral onder die jong, idealistiese Britte wat voel dat Nick Clegg hulle verraai het. Ek sit self nog en wonder oor die presiese redes hoekom hy langs Cameron in die bed ingekruip het (ek hoop heimlik dis deel van ‘n groter plan om die Tories permanent êrens in ‘n ou skoorsteen in te sement), maar dalk is my immigrant-perspektief effens anders as dié wat hier onder die waterige son gebore en getoë is. Dis opsigself ‘n interessantheid op sy eie – ek wat kan stem omdat Brittanje óf nog steeds skuldig voel oor kolonialisme óf op ‘n agterbakse manier graag ‘n vinger in die Commonwealth-pastei wil hou (en kom ons sit maar nou die tragiese Shakespeare-verwysings finaal opsy; en ja, ek weet dis nie werklik so simplisties nie – die Commonwealth is ‘n vreemde ou dierasie…). Dus, op die 6de Mei 2010 het Suid-Afrikaanse ek, soos met elke plaaslike en nasionale eleksie die afgelope tien jaar, afgehuppel na ‘n dorpsaaltjie iewers in die land en my reg om ‘n kruisie met ‘n stomp potlood te trek, uitgeoefen. En soos dinge hier in Engeland maar werk daag jy sommer net op, of jy nou jou ID by jou het of nie, sê jou/’n naam vir die outjie of vroutjie by die tafel en wys met jou vinger na jou/’n adres op die lysie, en siedaar! – ‘n stembriefie in die hand. Ek kon maar eintlik enigiemand gewees het, Gordon Brown-glimlag of te not. Ware demokrasie, as jy my vra. Aan die ander kant, die honderde mense wat nog in toue gestaan en wag het toe die deure om 10nm op stemdag in hul gesigte toegeslaan is, het heelwaarskynlik ‘n ander siening van ‘ware demokrasie’.

Wat my terugbring na die quasi-romantiek van die Brown-affêre. Nie dat ek ooit eintlik van die man gehou het nie, maar soos Lucy Mangan het ek altyd effens skuldig gevoel wanneer ek vir hom gelag het. Mens moenie eintlik lag as iemand dit nie kan help nie. Of dalk net blootweg: as iemand nie kon help nie. Om die bekoorlike Dorothy Parker hier aan te haal: ‘They were progressive days. We thought we were going to make the world better – I forget why we thought it, but we did.’ Brittanje het ‘n fantastiese reputasie vir politiek-gerigte satiriese komedie, en ek moet sê dat ek so baie daarna uitsien om vir ‘n verandering weer vir ‘n Eerste Minister te kan lag sonder om die kwilt oor my kop te gooi en net so met een oog deur die hekel-gaatjies na die televisie te loer. Selfs ons stoere Poet Laureate, Carol Ann Duffy, weet dat ‘n bietjie swart humor ongoddelik belangrik is, en publiseer die dag na die eleksie die volgende gedig:

Democracy

Here’s a boat that cannot float.

Here’s a queue that cannot vote.

Here’s a line you cannot quote.

Here’s a deal you cannot note …

and here’s a sacrificial goat,

here’s a cut, here’s a throat,

here’s a drawbridge, here’s a moat …

What’s your hurry? Here’s your coat.

Dalk het die storie van die Konserwatiewe MP Douglas Hogg, wat meer as £2,000 (dis ‘n goeie R23,000) van die Goewerments-pot geeis het om die grag rondom sy herehuis (onder wie se vorige bewoners die skoonsuster van Geoffrey Chaucer tel!) te laat skoonmaak, tog die Suid-Afrikaanse koerante gehaal? Daar was ook die £1,600 eis vir ‘n drywende eend-huisie van Peter Viggers (nog ‘n Konserwatiewe MP) en ‘n £10 kwitansie vir twee blou films wat Jacqui Smith, MP vir die Arbeidersparty, se manlief van die internet af gelaai het. Die lysie is nimmereindigend, en die messe in rûe erg tragies. Tragies? Wat sê ek tog! – ek bedoel: snaaks. Erg snaaks. Ja-nee, die parlementêre skippie gaan maar sukkel om by die hawe uit te kom, maar ten minste lyk dit of die vermaaklikheidsentrum op die HMS Westminster se Lido-dek in goeie werkende orde is.