Posts Tagged ‘Maretha Maartens.’

Nini Bennett. Allerliefste, ek stuur vir jou…

Thursday, August 27th, 2020

 

I wish I’d said…SO1E09

 

Dit is die nostalgie van stofstrate, donkiekarretjies en rieldanse. Die Noord-Kaap; die leefwêreld van Lynthia Julius.

“Ek is 25 jaar oud en ’n digter,” sê sy pront. Met die eerste ontmoeting danksy AVBOB se gewilde poësieprogram besef ek dadelik: hiér is ’n baie sensitiewe digter. Mens wil haar vasdruk, haar beskerm teen die aanslae van die lewe. Maar Lynthia het in haar jong lewe reeds haar kwota pyn en swaarkry leer ken. Eers was dit die ontwrigting toe hul gesin moes wegtrek van haar geliefde Springbok na ’n klein dorpie, Ritchie, 40 km suid van Kimberley. En dan was daar die selfdood van ’n vriendin; die diagnose van ’n stoornis by Lynthia waarmee sy moes leer saamleef…en ’n selfdoodpoging van haar moeder. “Ek was kaal in my kuns, ek was naak en eerlik,” vertel sy van haar AVBOB wengedig (2017). Lynthia het ontdek dat sy haar verdriet kon myn tot poësie.

 

Vir Al Jarreau

 

Allerliefste, ek stuur vir jou

’n please call me

want niemand sal ’n student wat broke is

blameer nie

 

my ma het selfmoord try pleeg

en ’n houer pille geword

nou maak die nikotien nie die duiwels stil nie

en wyn bring nie waarheid nader nie

 

en as jy bel stuur tog jou hande

en as jy kom bring tog jou hitte

nie jou mond nie

ek weet jou mond word stom oor goed wat breek is

bring jou arm en ’n been

jou bene dra my as my oë glas is

 

bel tog

kom tog

 

ek weet nie

ek weet nie

of sy orrait gaan wees nie

ooit weer godin sal wees nie

ek is bang.

ek is bang sy dood

ek is bang sy lewe en sy’s dood

 

bel tog

kom tog

ek het nie airtime nie.

 

“Ek het altyd soos ’n buitestaander gevoel,” vervolg sy. “Ek het gevoel ek is anders as ander mense.” Dit is hierdie einste buitestaanderskap wat bygedra het tot die vorming van Lynthia se digterskap – en die kuns om fyn waar te neem. Die aanpassing as student aan die Noordwes-Universiteit het egter sy eie uitdagings gebied en sy het terugverlang huis toe. Springbok toe. Áltyd Springbok. Na legendes soos Oom Piet wat kitaar speel en vals sing met sy wyn by sy linkertekkie en ’n daggastompie by sy regtertekkie terwyl die braaivleisvure brand.

“Ek was moeg van die intellektualisme van goed / moeg van Celan en moeg van Chopin / moeg van Foucault, Mbembe, Nagel, Chomsky/ ek was moeg van die intellektualisme van goed / ek wou hardloop / die Noord-Kaap al in verby Griekwastad, Groblershoop, Upington, Keimoes / Kakamas, Pofadder, Aggeneys / ek wou hardloop tot in Mamma se huis / tot in die buitetoilet (…)”

Die narratief van die AVBOB Poësieprojek is dat daar vertroosting, genesing en hoop volg na die dood, of ná ’n pynlike, simboliese aflegging van iets kosbaar vir die digter. Verlies. En dít is met Lynthia ook die geval. Sy het die genesende krag van die woord leer ken. Nou kan sy lag oor die gedigte wat sy ingestuur het vir die AVBOB Poësiekompetisie: “Jy kry “we come bearing good news”, óf “we have carefully considered your poem”, dan weet jy jou gedig is nie aanvaar nie! Ek het ’n klómp gedigte ingestuur.”

Na afloop van die I wish I’d said-program het my gedagtes bly terugdwaal na daardie fyn nuanses tussen woord en beeld wat vir kyker verborge bly. Ek wou meer oor Lynthia uitvind en het besluit om haar te kontak vir ’n gesprek.

NB:  Lynthia, 2020 is ’n bedrywige jaar vir jou as digter. Eers het jou debuutbundel, Uit die Kroes die lig gesien – baie geluk daarmee! – en toe verskyn jy as een van die gekose digters op I wish I’d said. Jy vertel in die program van die blootstelling wat jy geniet, maar ook van die dualisme dat jy eintlik vir jouself, en nie vir ’n gehoor wil skryf nie – maar in dieselfde asem noem jy dat jy besef jou stem móét gehoor word. Vertel asseblief meer.

LJ:  Ek sukkel om gewoond te raak aan die blootstelling. Die I wish I’d said-program is in 2018 geskiet en toe het ek nog nie ’n clue gehad oor wat nog gaan kom nie. Daar’s ’n liedjie, “Dear old Nicki”, van Nicki Minaj (wat ek baie lief voor is) waar sy met haarself praat. Sy sê vir haar ou self “I live the life now that we would day dream.” Ek sou graag as twaalfjarige Lynthia wou hoor dat my melancholie nie my skuld is nie, dat depressie soos enige ander siekte is en daar hulp is. As ek nou kan ’n depressiewe kind help sal dit mos baie selfsugtig wees om te swyg.

NB:  Jy verwys na ’n onstellende diagnose, ’n geestesstoornis, waarmee jy moet saamleef. As mens kyk na die biografiese geskiedenis van sommige skrywers, skilders en komponiste, dan blyk dit dat stoornisse soos byvoorbeeld depressie of bipolariteit ironies ook hulle “voordele” gehad het as dit kom by die skeppingsproses. Melancholie is onder meer die katalisator van skeppende idees, ensovoort. Wat is jou siening of belewenis hiervan?

LJ:  Melancholie is die katalisator. Ek stem met dit saam, maar ai, hoe onregverdig is dit dat dit die prys van kuns moet wees. Ek lees laas ’n aanhaling raak wat lui, “You write so beautifully – the inside of your mind must be a terrible place.” Dit het my hartseer gemaak oor dit so waar is. Ek praat nou die dag met my vriend Douglas Reid Skinner die storie van die kunste wat uit soveel seer uit kom. Hoe sal ons maak? Vat, maar jou goijna (puch) vat en baie water drink.

NB:  Jy noem dat jy spyt is dat jy nie volledig in Nama gedigte kan skryf nie, en die taal baie graag wil aanleer. As jy jou drome rakende die oordrag en uitbou van die taal vrye teuels kon gee, wat sou dit wees?  Wat se projekte? Vertel ons asseblief, sonder énige beletsel op jou drome.

LJ:  ’n Kunsskool. ’n Kunsskool in Namakwaland. Ons van die Noord-Kaap moet gedurig plekke soos Joburg of die Kaap toe gaan om diep in die kunste te gaan. Ons het nie eers ’n kunstefees nie en hier is soveel talent en ons het soveel om te bied.

NB:  I wish I’d said…SO1EO9 is ’n aangrypende program en dit vang die essensie van die digter, Lynthia Julius, treffend vas. Vertel ons van jou belewenis van die verfilming van die produksie. Enige hoogte- of laagtepunte?

LJ:  Dit was lank. Ons het die Vrydag en Saterdag geskiet. Justin Strydom, wat die onderhoud met my gevoer het, was fantasties. Hy’t my op my gemak laat voel en ek het dit baie geniet, maar hier namiddag toe skop die moeg in en ons moet nog skiet. Dit was uitdagend. Ek weet nie hoe akteurs dit uithou nie. Ek het nooit beplan om oor Ritchie te praat nie. Ek het dit nie eens as iets gesien wat ’n belangrike rol in my lewe gespeel het nie. Toe my ma begin praat van hoe ek ontwortel was (sy het nooit voorheen daaroor gepraat nie), het ek eenkant gesit en begin huil. Ek het eers met die verfilming rêrig besef wat die trek Ritchie toe aan my gedoen het. Ek het dit al die jare net uitgeblok en nie daaroor gepraat nie. Dit was ’n eye opener.

NB:  Temas wat sentraal staan in die werk van bruin digters, is die heling van (heterogene) identiteite. Waarom dink jy is poësie so kragtige medium in die uitdrukking en genesing van hierdie identiteite?

LJ:  Ek dink nie mens moet ’n sekere tema as sentraal sien bloot oor die groep digters dieselfde ras het nie. Ek het altyd gehoor daar word gepraat oor digters in Afrikaanse poësie, maar in dieselfde asem word daar gepraat van ‘bruin digters.’ Ek het ’n broertjie dood daaraan. Ek hoor al hoe meer en lees al hoe meer raak dat ek ’n jong bruin digter is, of ’n jong bruin stem is. Niemand plaas die term ‘wit’ voor digters wanneer daar oor digters van my ouderdom geskryf word wat nie bruin is nie. Ek is baie huiwerig om vrae te beantwoord waar daar van bruin skrywers gepraat word.

En die wenner is…

Die groot dag het uiteindelik aangebreek: Op 6 Augustus het AVBOB hulle poësiepryswenners vir 2020 is tydens ’n aanlyn galageleentheid bekend gemaak. Maretha Maartens het weggestap met die eerste prys, ’n bedrag ter waarde van R10 000 en ’n boekgeskenkbewys van R2 500. Tydens hierdie spoggeleentheid is die AVBOB Poësie-bloemlesing, volume 3, ook bekendgestel. Op ’n AVBOB Poësieblog word die belangrikheid van dié projek onderstreep: “Met die vierde kompetisie wat op 1 Augustus geloods is, sou ’n mens weliswaar kon redeneer dat die projek as ’n nasionale juweel beskou moet word – ’n kernbelangrike argief wat ons kultuur getrou boekstaaf, en ’n sosiale hulpbron wat mense in staat stel om hul emosies te verwoord en uitdrukking te gee aan hul waarhede op maniere wat nie in die gewone daaglikse handel en wandel moontlik is nie.”

Vir meer inligting besoek www.avbobpoetry.co.za

Verwysing:

https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=3414610435269516&id=100001617786153

 

  •