Posts Tagged ‘Margaret Atwood’

Andries Bezuidenhout. Jou kinders het hul hande gesny – ʼn vertaling

Thursday, May 2nd, 2013

Ek lees weer Margaret Atwood. Haar gedig “Your children cut their hands…” val my op, deels oor die slinkse manier waarop sy die woord “red-handed” letterlik vertaal. In Afrikaans sou dit vertaal word as “op heterdaad betrap”. Hoe sou mens die manier waarop die betekenis verdraai word in Afrikaans vertaal, sonder om die woordspeling te verloor? Ek verkies vertalings wat so naby as moontlik aan die oorspronklike betekenis bly. Met hierdie een het ek egter gesukkel:

Jou kinders het hul hande gesny met glas
toe hulle deur die spieël tas
na waar die geliefde sou skuil.

Dít so onverwags:
Jy dog hulle soek na geluk,
nie verskeurdheid nie.

Jy dog geluk
sou eenvoudig opdaag, moeiteloos
en sonder ʼn geswoeg,

soos voëlgesang,
ʼn blom padlangs,
of ʼn skool silwerige visse,

maar nou’t hulle hul hande met liefde
gesny en huil heimlik
terwyl die gevoel in jou eie hande verdwyn,

want jy kan niks daaraan doen
dat jy hulle nooit aangemaan het nie

omdat jy dog
dis onnodig
en nou glasskerwe orals
en jou kinders wat met bloed op hul hande

gryp na weerklank en maan
en skaduwees en hol gebede
soos jy lank gelede.

Oorspronklike gedig: “Your children cut their hands…” in Margaret Atwood se bundel The Door (2007, Virago), pp. 28-29.

Andries Bezuidenhout. Af

Thursday, November 10th, 2011

Hier is ʼn vertaling van “Down”, ʼn gedig deur Margaret Atwood. Moeilike een. Sy gebruik eindrym, baie subtiel. Dalk is my poging se eindrym ʼn bietjie oordadig. Woordspelings raak ook verlore met vertaling. Ek probeer so naby as moontlik aan die oorspronklike weergawe hou, maar het liberties gevat ter wille van rym en metrum. Erkenning aan Ingrid Winterbach se laaste boek vir woorde.

1
Hulle was verkeerd oor die son.
Snags daal dit nie neer
benederyk toe nie.
Die son verkas net
en die benederyk meld aan.
Dit kan enige tyd gebeur.

Dit kan in die oggend wees,
jy in die kombuis begaan
met jou middelbare roetine.
Bord, koppie, mes.
Eensklaps g’n blou nie, g’n groen nie,
g’n waarskuwing nie.

2
Ou draad, ou inkstreep
wat die leegte
wat ons “ruimte” noem in wink
waarheen wat jy my di
é
keer sleep?
Verby stoof, verby tafel
verby die horisontale greep
van die vloer, verby die kelder,
verby die vertroude,
af, die duisternis in
waar jy omdraai en blink.

3
Eers dink jy dis engele,
hierdie albino stemme, hierdie stemme
soos ongeverfde standbeeldoë,
hierdie stom stemme soos handskoene
sonder hande in,
hierdie mot stemme wat verbysterd
om jou ore fladder,
hulself hoorbaar probeer maak.

Wat wil hulle hê?

Jy maak ʼn kepie in jou vel,
klein gaatjie
vir die pyn om in te kom bly.
Jy laat drie druppels bloed vry.

4
Hierdie is
die koninkryk van die ongesproke
die koninkryk van die sprakelose:

almal deur oorlog verpletter
almal wat aan hongersnood ly
almal dood gemoker
en in putte begrawe, almal aan flarde gesny
vir gewin of geld
almal wat gegrendel
in kamers snotter, al die geofferde
kinders, al die afgemaaide bruide
die selfmoordenaarshuide.

Hulle sê:
Praat vir ons (met wie)
Party s
ê
: Wreek ons (op wie)
Party s
ê
: Neem ons plek.
Party s
ê: Getuig.

Ander sê (en hierdie is vroue):
Wees vir ons bly.

5
Daar’s trappe,
daar’s die son.
Daar’s die kombuis,
bord met aarbeikonfyt en ʼn sny,
jou pap verskoning,
jou lam lugspieëling.

Bloedige hande, op heterdaad betrap.
Met grond, klip en gras
wil jy dit afwas.

Hoe moet jy uiteindelik
oor s
óveel verlies verduidelik?

Oorspronklike gedig:
“Down”, deur Margaret Atwood, uit Morning in the Burned House (Houghton Mifflin, 1995), pp. 72-75.

Andries Bezuidenhout. Eensaamheid van die oorlogsgeskiedkundige

Friday, July 1st, 2011

(vertaling van Margaret Atwood se “The Loneliness of the Military Historian”)

Bieg: dis my nering
wat jou ontstem.
Die rede vir seldsame uitnodigings vir aandete,
die Here weet, ek gaan nie uit my pad om vreesaanjaend te wees nie.
Ek dra rokke van dienlike snit
en onopvallende roomkleure,
ek ruik na laventel en gaan haarkapper toe:
geen doemprofeetboskasie hier,
met slange wat kinders sal bangmaak nie.
As ek my oë rol en brom,
my hart vasgryp en angsgille gee
soos ʼn derderangse aktrise wat ʼn mal toneel afkou,
doen ek dit in privaat en niemand sien dit nie
behalwe die badkamerspieël.

In breë trekke mag ek met jou saamstem:
vroue behoort oorlog nie te deurdink nie,
behoort taktiek nie onpartydig op te weeg nie,
of die woord “vyand” te vermy nie,
of beide kante, sonder oordeel, in te sien nie.
Vroue moet vir vrede protesteer,
of wit vere uitdeel om heldhaftigheid uit te lok,
hulself op bajonette te spit
om hul babas te beskerm,
wie se skedels in elk geval in twee gesplit sal word,
of, na herhaalde verkragting,
hulself aan hul eie hare op te hang.
Sulke dade verskaf algemene troos.
D
í
t, of die brei van sokkies vir troepies
en ʼn tipe morele voorsang.
Ook: rou vir die dooies.
Seuns, minnaars, en so meer.
Al die vermoorde kinders.

In plaas van dít, vertel ek
wat ek hoop sal deurgaan vir die waarheid.
Iets stomps, nie aanskoulik nie.
Die waarheid word selde verwelkom,
veral met aandete,
alhoewel ek goed is met dit wat ek doen.
Ek dryf in waagmoed en gruwels handel.
Ek bestudeer dit en verdoem nie.
Ek noteer dinge soos dit gebeur het,
of so goed as wat onthou kan word.
Ek vra nie “hoekom” nie, want dis meestal dieselfde.
Oorlog breek uit want diegene wat dit verklaar
dink hulle kan wen.

Soms wel swier in my drome.
Die Vikings verlaat hul landerye
elke jaar vir ʼn paar maande se moord en plunder,
amper soos seuns wat gaan jag.
In werklikheid was hulle boere.
Met skatte keer hulle terug.
Die Arabiere vaar teen Kruisvaarders uit
met lemme wat sy
in die lug kan sny.
ʼn Vinnige kap na die perd se nek
en ʼn pantserkolos tuimel
soos ʼn toring. Vuur teen metaal.
ʼn Digter mag beweer: romanse teenoor banale.
As ek wakker is, weet ek van beter.

Propaganda ten spyt, is daar nie monsters nie,
of geen wat beslissend begrawe kan word nie.
Speel met een klaar en omstandighede
en die radio baar ʼn volgende.
Glo my: ganse laers het toegewy
voor God bely en dit bedoel
en is desnieteenstaande afgeslag.
Wreedheid kry gereeld die oorhand
en die groter geheel die gevolge van die uitvinding
van meganiese toestelle, soos radar.
Toegegee, heldhaftigheid tel soms iets,
soos by Thermopilae. Soms word om reg te wees –
alhoewel die hoogste deug, deur tradisie besleg,
deur die oorwinnaar bepaal.

By tye werp mans hulself op granate
en bars soos papiersakke vol derms oop
om hul kamerade te red.
Dit kan ek bewonder.
Maar rotte en cholera het menige oorlog gewen.
D
í
t, en ertappels,
of die gebrek daaraan.
Nutteloos om al daai medaljes
aan dooies se borskaste vas te steek.
Indrukwekkend, maar ek weet te veel.
Grandiose togte maak my depressief.

Ter wille van navorsing
het ek velerlei slagvelde bewandel,
eens sat van verpulpte
mansliggame en besaai met opgeblaaste
doppe en versplinterde bene.
Elkeen reeds weer groen
met my aankoms.
Elkeen inspirasie vir ʼn paar goeie aanhalings.
Hartseer marmer-engele broei soos henne
oor grasneste waar niks uitbroei nie.
(Die engele kon netsowel “vulgêr”,
of “genadeloos” wees, afhangende van die kamerahoek.)
Die woord “glorie” figureer op vele poorte.
Ek pluk natuurlik ʼn blom of twee
by elk, pars dit in die Hotelbybel
as aandenking.
Ek’s net so menslik soos jy.

Nutteloos om ʼn laaste stelling van my te vra.
Soos ek s
ê, ek werk met taktiek.
En statistiek:
Vir elke jaar van vrede was daar tog
vierhonderd jaar oorlog.

Andries Bezuidenhout. Kleinburgerlikheid as die mees kosmopolitiese toestand

Wednesday, June 8th, 2011

My kop in Kanada. Binnekort sal die eerstejaarvraestelle my terugroep Suid-Afrika toe. Dis omdat ek alweer Arcade Fire se The Suburbs in die dieseltrok luister. Dit het pas 300 000 op die klok geslaan en ʼn liggie waarsku my om alweer die “T-BELT” te vervang. Dis baie duur. Ek luister spesifiek na “Suburban War” – hier is ʼn video met die tune. As Arcade Fire dit live speel, klim een van die bandlede aan die einde van sy klavier of orrel af en gaan sit op ʼn ekstra stel tromme. Dan looi hulle – twee stelle tromme op een slag. Goeie video (nie deur die band self nie), maar dit sou beter gewees het as hulle dit net ʼn paar sekondes vroeër laat eindig het.

Arcade Fire is van Montreal af. Ek hou van die stad. In die laat-1990s het ek ʼn slag al die pad van die middestad af tot by L’Université du Québec à Montréal (ek moes die spelling op Google gaan soek) gestap. Dit het my ʼn dag geneem, maar die son het my nie gebrand nie. Die osoonlaag is nog heel daar bo in die noorde. Plate en plate en plate voorstedelike huise. Die ouer deel van die stad is pragtig. Victoriaanse en Edwardiaanse huise. Die dele wat in die sewentigs gebou is, is ook vir my mooi, maar op die manier wat Vereeniging, Secunda of Walvisbaai mooi is. Sulke diners waarin mense slaptjips met ʼn vreeslike bruin sous en ʼn wit soort kaas op eet. Daar’s ʼn naam daarvoor wat ek nie nou kan onthou nie, maar dit klink amper soos Rusland se president se van.

Dis vreemd dat Montreal se voorstede selfs vir my so bekend kan voel. Moeg en gaar in die taxi as ʼn mens na ʼn aand op die Plateau huis toe ry, straatligte wat verby waggel. Alistair, jou voormalige tromspeler Ockert se nuwe band member wat van Yellowknife af kom, ʼn dorp in die noorde waar De Beers diamante myn. Sy Koreaanse meisie wat ook van een of ander voorstad af kom. Voorstedelinge herken mekaar, al praat die Arcade Fire song van ʼn suburban war – “and now the music divides us into tribes, you choose your side, I’ll choose my side…” Ek weet nie. Iewers is daar ʼn diep erkenning en herkenning, maak nie saak van watter land jy af kom nie. Kleinburgerlikheid is universeel.

Dalk besef die Kanadese dit maar net nie, omdat die hele Kanada ʼn voorstad is. Kelowna was ʼn bietjie soos Potchefstroom vir my. Dis ʼn dorpie ʼn ent van Vancouver af, aan die ander kant van die land. Jong mans het met ʼn bakkie (“pickup truck”) verby gery en vir my geskree: “Faggot!” My sommer tuis laat voel. En siende dat Wal-Mart nou hierheen (dis nou Suid-Afrika toe) kom en McDonalds reeds deel van die landskap is, hoef Suid-Afrikaners nie eers meer Noord-Amerika toe te emigreer nie. Dis net ʼn kwessie van tyd voor die elite hier in limo’s ry. (Daar’s baie Suid-Afrikaners in Kelowna spesifiek.)

Om by gedigte uit te kom. Ek lees Margaret Atwood se ouer gedigte. The Circle Game is in 1966 gepubliseer, ʼn paar jaar voor my geboorte. “The City Planners” lees so:

Cruising these residential Sunday
streets in dry August sunlight:
what offends us is
the sanities:
the houses in pedantic rows, the planted
sanitary trees, assert
levelness of surface like a rebuke
to the dent in our car door.
No shouting here, or
shatter of glass; nothing more abrupt
than the rational whine of a power mower
cutting a straight swath in the discouraged grass.

But though the driveways neatly
sidestep hysteria
by being even, the roofs all display
the same slant of avoidance to the hot sky,
certain things:
the smell of spilled oil a faint
sickness lingering in the garages,
a splash of paint on brick surprising as a bruise,
a plastic hose poised in a vicious
coil; even the too-fixed stare of the wide windows

give momentary access to
the landscape behind or under
the future cracks in the plaster

when the houses, capsized, will slide
obliquely into the clay seas, gradual as glaciers
that right now nobody notices.

That is where the City Planners
with the insane faces of political conspirators
are scattered over unsurveyed
territories, concealed from each other,
each in his own private blizzard;

guessing directions, they sketch
transitory lines rigid as wooden borders
on a wall in the white vanishing air

tracing the panic of suburb
order in a bland madness of snows.

Ek wens ek het die tyd en energie gehad om dit in Afrikaans te vertaal. Maar of een of ander rede is my kop nou in Kanada en kan ek nie. Ek dink aan ou vriende. Arcade Fire: “All my old friends are staring through me now.” Ek wonder hoe gaan dit met Ockert in Montreal. Ons het lank gelede saam ‘n band begin – of was dit ‘n tribe?

Andries Bezuidenhout. ʼn Man kyk: Vertaling van ʼn gedig deur Atwood

Monday, January 24th, 2011

ʼn MAN KYK
(Vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

ʼn Man kyk na ʼn pragtige vrou
wat hom by ʼn deur probeer inhelp,
hom en sy beenstut: lomp getimmerde
karapaks van metaal,
skrapnel aan sy lyf se buitekant
uit ʼn oorlog waarvan hy moes vergeet het
of nooit in geveg het nie. Een of ander priem
haak daar onder vas. Sy buk vooroor
en hy kyk na haar bekoorlike kruis, dink kruis,
dan dink hy: peer op ʼn piering,
en onderaan, twee appels.
Hy kan nie glo hoe banaal hy kan wees nie,
soos ʼn slordige, tweedehandse skilder,
en s
ó van haar verwyder. Is daardie nie dye nie?
Is hierdie nie hare nie? Hy maak die bene oop, streel die hare,
niks roer nie. Hy dink harder, probeer vulva;
ʼn woord soos ʼn motorenjinonderdeel,
iets uit rubber, ʼn olierige klep
wat saampers en dan omdop.
Hopeloos. Eens
sou hy haar kon ruik,
prikkel van lentevlei en sagte ui
gemeng met skugter reukwater,
knoopsgaatjie en kieliebak, benewens dit
die neurie van wilgers, sonnige loof
van kruid gekneus onder haar lyf,
maar nou’t sy geen stralekrans van di
é aard nie.

Sy staan op en glimlag vir hom,
ʼn glimlag so deurskynend
dat hy daarin kreukel, soos die vlies
op gekookte melk.
Hy’s bloot bagasie vir haar,
wat sy van kamer tot kamer moet sleep,
of ʼn siek hond wat genade vra.
Sy s
ê: “Sal ons weer probeer?”
Hy dink: Ek is kwaad. Sy neem sy arm.
Hy dink: Ek gaan binnekort dood.

Oorspronklike gedig: “A Man Looks” uit Margaret Atwood se Morning in the Burned House (1995, Houghton Mifflin), pp. 37-38.

Andries Bezuidenhout. ‘n Vertaalde gedig oor ‘n digter met ‘n geel oortrektrui

Tuesday, November 2nd, 2010

POËSIEVOORLESING
(rowwe eerste vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

Hou die digter dop – die befaamde digter –
die gestroop van sy binneste, die blootl
ê
van sy pakkamer vol moorddadige gedagtes
en skaamgesig drange,
sy muwwe hatighede, sy flou, maar rou ambisies,
jy weet nie of jy dankbaar moet wees of spot nie:
die biegwerk doen hy namens ons almal.

Hy’s in ʼn sagte oortrektrui gehul,
aspris nie swart nie, maar ʼn blekerige geel
soos ʼn roomsorbet, die kleur
wat jy vir kleuters koop as jy nie seksisties wil oorkom nie,
en sy gesig met bekommerde voorkop
dobber teen die verhoog se donker agtergrond,
gelaatstrekke effe obskuur
soos die son deur mis

en dan begryp jy hoe hierdie gesig was, eens,
toe hy ʼn vervaarde klein seuntjie was
wat op sy tone die spieël in staar
en vra: Hoekom kan ek nie soet wees nie?
en later: Is hierdie my regte ouers?
selfs later: Hoekom maak die liefde so seer?
g later: Wie veroorsaak oorloë?

Jy wil hom in jou arms vashou
en vir hom lieg.
Gewone mense vra nie oor hierdie dinge nie,
sou jy kon s
ê. Kom ons het eerder seks.
Jy weet vroue wat meer onnosel as jy is
het hierdie kuur vir al daai kwale
van siel en gees voorgeskryf. Jy’t gesweer jy sal dit nooit doen nie,
so jy maak ʼn groot uitsondering hier.

Hy sal maar net antwoord:
Ek het jou vertel van my rowe en drange,
my morsige tormentasies, my gebrek aan menswaardigheid –
ek sal jou net vuilmaak.
Hoekom moeite maak met my?

Dan sal jy teëwerp:
Niemand het jou gedwing om dit te doen nie,
hierdie geneuk met lettergrepe en leed,
hierdie naakte rondrol in netels
en jou tong in spykers steek.
Jy kon ʼn messelaar gewees het.
Jy sou ʼn tandarts kon wees.
Dikvellig. Afgestomp.

Maar dis nutteloos. Vele messelaar
het al sy brein met bokhael weggeblaas
weens verskraalde smart. Die koers vir tandartse is selfs ho
ër.

Miskien is dit in plaas van, hierdie poësie.
Miskien is die snoer woorde
wat nou soos ʼn afgeskilde aar by hom uitkom
al wat hom vashou
aan hierdie paar vierkante voet aarde.

So jy hou aan dophou, soos hy homself gesel
in ekstatiese selfverwyt;
nou nog net sy onderbroek oor,
die hempige hare, die kettings –
N.B., hierdie is metafore –
en jy bespeur dat na alles
daar ʼn koue vakmanskap daaraan is, soos met kraalwerk
of die oopvlek van ʼn snoek.
Daar’s tegnieke, truuks.

Maar net as jy gekul voel
bly hy skielik stil. Daar’s ʼn knikkie,
ʼn glimlag, ʼn verposing,
en jy voel die intrek van jou asem
soos lug wat jou ʼn vuishou gee,
en jy klap saam hande.

Uit: Margaret Atwood, The Door (2007, Virago).

Andries Bezuidenhout. Die laaste rasionele man: ʼn vertaling

Wednesday, April 21st, 2010

Verlede week staan ek in die National Union of Mineworkers (NUM) se kantoor in Port Elizabeth. Dis in ʼn hoë gebou naby die hawe, waar karre op die dokke in die son wag om Australië toe ontvoer te word. Ek wag vir die vakbond se streeksvoorsitter om op te daag. Buite hoor ek hoe sing mense, stap na die venster toe en kyk af na die optog van die South African Municipal Workers’ Union (SAMWU) onder in die straat.

Die werkers keer asblikke om so ver hulle gaan. In een van die asblikke is hompe vleis. Bloed loop in die straat af tot by ʼn stormwaterdrein. Dis eers rooi, maar word swarter soos die son daarop skyn, leksels vuilgeel aan die kante. Karre, vragmotors en minibustaxi’s ry oor die rommel in die strate. Kleure verdwyn en dit word ʼn grys pappery.

Van die Oos-Kaap af ry ons Vrystaat toe. In Welkom praat ek met mense oor die onwettige mynbouaktiwiteite wat daar plaasvind. Sommige beweer daar is meer onwettige myners onder die grond as mense wat vir mynmaatskappye werk.

Welkom is in 1948 gestig. Sir Ernest Oppenheimer het persoonlik ʼn ogie oor die beplanning en uitleg van die dorp gehou. Dis as ʼn garden suburb ontwerp. Verkeersirkels is as ʼn revolusionêre konsep in werking gestel.

Deesdae maak die mynskagte een vir een toe. Vandaar die probleem met die onwettige myners, of zama-zama’s, soos mense hulle noem.

Oral in Welkom ry mense in sirkels. Krieketvelde staan vol onkruid en die kiewiete verken lappies gras waar mense eens paaltjies geplant het. Klubhuise se vensters is gebreek en parkeerplekke staan leeg.

In die aand, in my hotelkamer, lees ek The Door van Margaret Atwood. “The Last Rational Man” tref my. Ek dink oor Julius Malema en Jacob Zuma. Banaal. Bizar. Selfs dalk vulgêr. Ek is nie seker watter woord om te kies om die tye waarin ons ons bevind te beskryf nie. Ek probeer om dit in Afrikaans te vertaal:

DIE LAASTE RASIONELE MAN

Tydens die bewind van Caligula

Die laaste rasionele man neem sy ou Senaatsitplek in.
Hy weet nie hoekom hy nog hier is nie.
Hy’s seker op een of ander lys.
Laasjaar was daar meer soos hy,
maar hulle het een-een “permanent verdwyn”.
Elke dag was hy homself, beoefen stadige asemhaling
en die leerstellings van die Stoïsyne.
Verloor jou kop, herhaal hy vir homself,
en jy sal alles verloor.
Hy word nogtans moeg.
Die inspanning om sy mond te hou mergel hom uit.
Die ander in hul rykmansklere
skerts versigtig, hou by onderwerpe
wat al hoe minder word; selfs die weer
is dryfsand; só ook die son,
want die Keiser beweer hy beheer die een
en hy ís die ander.

Hier kom hy nou, met sy kwetterende gevolg
van besoldigde gatkruipers vol wriemelende bonhomie;
in vrank smaak is hy verguld, blink soos ʼn strydwa,
pas terug van ʼn vars segetog.
Hy gryns en waai sy vetgesmeerde vinger:
mandjies skulpe stort op die vloer uit
en die vertrek stink van gevrekte molluske.
Kyk, sê die Keiser, die skatte!
Deur die onoortreflike krag van my heil
het ek die Koning van die See verslaan!
In sy oë die venynige glinstering
van ʼn kranksinnige leuenaar
wat wéét hy lieg, en teëstribbeling uit wil lok.

Die ander juig hom toe. Die laaste rasionele man
dwing homself om saam te juig.
Die Keiser se blik is ʼn balk
wat deur die saamgeperste lug reg in sy rigting boor.
Hulle lei die Keiser se perd nader,
soos ʼn pensdanser met kranse bekroon.
Ek stel hom as Senator aan,
tril die Keiser. Verwelkom jul nuwe broeder!

Die laaste rasionale man betrap homself reeds staande.
Soos hy sy mond oopmaak sien hy
die rooi badwater, sy polse gesny,
sy huis beroof, sy seuns onthoof.
Dis net ʼn perd, sê hy.
Hopeloos hang die woorde,
soos die vaandels van ʼn stad
wat reeds verower is, oorgelewer aan plunderaars.
Hoe, dink die laaste rasionale man,
kan ʼn mens beweer dat ʼn plek soos dié nog bestaan?

Om sy kop kristalliseer die stilte
soos ʼn stralekrans van ys.
Daar staan hy.
Niemand kyk na hom nie, behalwe die Keiser
wat vir hom glimlag, amper simpatiek.

Nobelprys – Wat sê die beroepswedders?

Friday, October 2nd, 2009
Amos Oz

Amos Oz

Na aanleiding van gister se Nuuswekker oor moontlike kandidate vir vanjaar se Nobelprys vir Letterkunde, het ek so ‘n bietjie verder rondgesnuffel op die internet. Ek land toe op Earth Times se webblad waar hulle die Top 10 volgens die beroepswedders, Ladbrokes, aandui.

Hiervolgens is Amos Oz die gunsteling om vanjaar bekroon te word. Weddenskappe ten gunste van dié Israelse skrywer is tans 5 teen 1. Volgens Earth News se kommentator was Oz al meermale ‘n sterk teenwoordigheid op die Sweedse Akademie se kortlys. 

Voorts is Oz se uitgesproke steun vir ‘n twee-staat oplossing vir die probleme in die Midde-Ooste; ‘n standpunt wat die Sweede Akademie dalk sou wou bekragtig deur ‘n goue medalje om die nek van die hoof-agitator te hang …

Op Ladbrokes se voorkeurlys word Oz gevolg deur die Algerynsgebore Franse skryfster, Assia Djebar, met ‘n loting van 6 teen 1, asook die Spanjaard Luis Goytisola met 7 teen 1. Volgens Earth Times is dié twee kandidate in ooreenstemming met Ladbrokes se verwagting dat die wenner vanjaar uit Latyns-Amerikaanse geledere gaan kom …

Die res van die Top 10 bestaan uit die Amerikaanse hoop in die persone van Joyce Carol Oates en Philip Roth (albei met 8 teen 1), die Siriese digter Adonis (Ali Ahmad Said Asbar) op 9 teen 1, gevolg deur die Italiaanse paar Antoni Tabucchi en Claudio Magris, die Japannese reus Haruki Murakami, en nog ‘n gereelde gunsteling: Thomas Pynchon. Al die laasgenoemde kandidate met ‘n loting van 10 teen 1.

Bob Dylan, oor wie ek gister berig het, se kanse is ‘n skamele 26 teen 1, so ook die Kanadese duo, Alice Munro en Margaret Atwood.

Al bogenoemde in ag genome, is ek tog van mening dat dit vanjaar ‘n Amerikaner gaan wees … Wat dink jy? Laat weet ons; hetsy as kommentaar hieronder of in ‘n brief aan die Brieweboks gerig. Ek onderneem om ‘n gratis kopie van die Versindaba 2007 DVD as beloning te gee aan almal wat reg voorspel.

Lekker spekuleer en laat kom daai briewe!

Hieronder is ‘n aanhaling deur Amos Oz wat ek op hierdie webblad gevind het.

***

Vanoggend kan jy jou verlustig in Bernard Odendaal se resensie van Carina Stander se bundel woud van nege en negentig vlerke”. Nog ‘n toevoeging is Charl-Pierre Naudé se nuutste blog waarin hy sy kritici antwoord met ‘n gedig, onder andere.

Lekker lees en hê pret vandag. Die naweek is net ‘n oogknip ver … 

Mooi bly.

LE

 

“Two children of same cruel parent look at one another and see in each other the image of the cruel parent or the image of their past oppressor. This is very much the case between Jew and Arab: It’s a conflict between two victims.” –
  —  Amos Oz

  •