Desmond Painter. Oor Marthinus Versfeld gepraat
Tuesday, March 15th, 2011‘n Resensie van my oor die heruitgawes van Marthinus Versfeld se Our Selves en Oor Gode en Afgode het gister in Die Burger verskyn. Nee, eintlik nie ‘n resensie nie: Versfeld se boeke hoef nie meer ‘geresenseer’ te word nie. Hulle is keiharde klassieke in die Suid-Afrikaanse lettere. Hulle is boeke in die volle, self-genoegsame sin van daardie woord, werke wat nie ag slaan op die onderskeid tussen literêre en ‘akademiese’ literatuur nie.
Versveld was ‘n denker, ‘n skrywer, ‘n wysgeer; hy was ‘n aardse intellektueel, ‘n metafisiese kok, ‘n kraaikwaaie weerhaan vir die tye waarin hy geleef het. Akademiese werk in die geesteswetenskappe word toenemend geprofessionaliseer, gestandaardiseer en gesteriliseer. Die funksies van die ‘openbare intellektueel’ word verskraal tot die verskaffing van mediavriendelike klankgrepies oor die verbygaande dit-en-daai. Sou Versfeld in die hedendaagse omgewing van die korporatiewe universiteit hoegenaamd aanstelbaar en bevorderbaar gewees het? ‘n Mens twyfel amper…
Om Versfeld vandag te herlees is om herinner te word aan wat die denke kan vermag, wat universiteite eintlik behoort te wees, en hoe ‘n onpretensieuse, kompromislose en menslike intellektueel lyk. Protea Boekhuis verdien beslis groot lof vir hierdie heruitgawes van Versfeld se boeke. Benewens Oor Gode en Afgode en Our Selves het heruitgawes van Pots and Poetry, Klip en Klei en Die Geneukery met die Appelboom ook al verskyn.
Terloops, onthou julle daardie pragtige gedig, ‘Boland, ‘n reisrefrein (by die roudiens vir Marthinus Versfeld)’, wat Breyten Breytenbach (oftewel, Jan Afrika, in die bundel Papierblom) oor Versfeld geskryf het? Dis ‘n langerige gedig; ek plaas net twee van die strofes hier:
***
ou wysgeer, ons het jou gedenk met die geheue aan knoffel
en klei en pampoene onder die tentdoek van jou kis
wanneer die asem weggeneem word
want daar was geen genooide of gasheer meer
en ons was bly om by jou te wees
in die uur van die aangesig van die langwag
dit was nog nie nag nie
kyk verbygaan is maar ‘n verduistering van gedagte
wanneer jy stip op die dood konsentreer
***
ou sterwer, mag die paddas jou onthou
mag jou oë aljaar soeter word en voller van die kennis van stilte
mag jou vriende wyn saambring vir die kuier
want wyn maak die mens se hart bly
mag die tentdoek wat jy gespan het deurtrek bly
met die geur van sederhout en malvablare en knoffel
en pampoen
mag die sterre en die berge en die verbygaan oor jou en jou gesin bly waak
nou en môre en elke môre en aand
en elkeen van daardie tye se langwag