Posts Tagged ‘Mari Grobler’

Toe dit nog vroeg was

Tuesday, March 8th, 2011

Toe dit nog vroeg was. Deur Mari Grobler. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04942-5. Prys: R130. 71 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

toe dit nog vroeg was

toe dit nog vroeg was

Mari Grobler, veelsydige en bekroonde skrywer uit die Oos-Kaap, se natuurliefde was die inspirasie vir die haikoe-agtige verse in Wat sigbaar is in amber. Dit was die bundel waarmee sy in 1990 gedebuteer het.

“Volkse” elemente, soos J.C. Kannemeyer dit stel in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, was toe al sigbaar in haar verskuns. Dít sou lei tot gedigte met die Khoi- en San-kulture en leefwyses as agtergrond in Eggo’s in bewolkte water (2004), haar tweede bundel.

Op die beskikbare gegewens oor die Khoi- en San-tradisies word voortgedig in Toe dit nog vroeg was, maar dié keer betrek Grobler ook die karige kennis beskikbaar oor die oer-strandlopermense wat die Khoi en San voorafgegaan het as bewoners van Suidelike Afrika. Die gedigte in die openingsafdeling, “Voortyd”, is spesifiek op laasgenoemde gebaseer.

Grobler verduidelik soos volg in ‘n onderhoud wat elders op die Versindaba-webwerf gepubliseer is: “Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord.” Sy erken dat die onderneming “‘n bietjie waagsaam” was, al was dit onderskraag deur relatiewe wetenskaplike ingeligtheid. Die strewe om die prehistorie so “sonder geskiedkundige gebeure” in momentopnames te probeer vasvang, laat iets van die haikoe-agtige aard van haar vroeër verskuns voortleef.

Verbeelding en verhaalvorming, al is laasgenoemde rudimentêr, was derhalwe haas onvermydelike hulpmiddele in haar poging. Vergelyk die suggesties in die volgende gedig:

 

Oer

 

Grotvloere hou vas

aan klip, been, skulp en as.

Vlermuise swiep soos onthou

uit rotsoorhange.

 

Dis vroeg

en die aarde is groot

met genoeg kos en tyd

om stories op die wind uit te laat loop.

 

Verromantisering (ver-eksotisering) is alte dikwels die gevolg van verbeeldingskryfwerk oor die oudste inwoners van Suider-Afrika. Iets van hierdie gevaar sien ‘n mens in die feit dat liefdesverhoudings ‘n belangrike rol in al vier die bundelafdelings van Toe dit nog vroeg was speel – soos ook die geval was in Eggo’s in bewolkte water. Waarby ‘n mens kwalik anders kan as om te begin dink aan die kritiek wat uit sekere postkolonialistiese teorie-oorde teen die (Europees-Westerse) neiging uitgespreek is om die amoreuse liefde as ‘n universele literêre tema te beskou.

Selfs in “Beweging”, die slotafdeling van Toe dit nog vroeg was en waarin die sjamaanfiguur in die kollig staan, ontbreek dit nie aan ‘n liefdeskinkel nie.  As die “reënman” (“Kxau”, die sjamanistiese reënroeper) te sterwe kom, verneem ons  eensklaps van die “alleen-vrou” wat hom nou moet mis:

 

die !gixa soek waar meisies voëls naroep

             kiewiete saamloop

             skadu’s onder reënswaar bome spook

sy luister met oë asof sy uit haar lyf is

       eien niemand nie

nes ‘n grysbok wat lank sonder water kan bly

moet sy gewend word sonder hom

[…]

 

Sulke bedenkings oor die hoof gesien, is daar veel aan te prys omtrent die grootliks oortuigende, meermaals bekoorlike wyse waarop Grobler die oer-leefwêreld uitbeeld en stilisties beslag gee. Één voorbeeld:

 

dors

 

die nag is twee mane vol

dryf luglangs in die poel

waar ek maanwater drink

 

sterre wat eers meisies was

weerkaats blink in die reëngat

breek as ek bakhand skep[.]

 

Grobler vertel in die genoemde onderhoud sy moes die hele tyd streef na eenvoud en “tydlose” woorde; geen “ontydige klanke” (waarskynlik bedoelende: anachronismes) moes in die verse opklink nie.

Die benutting van – meestal ráák en suiwer – woordkeuses en natuurbeelde val dwarsdeur die bundel op; daarby die korter, dikwels enkelvoudige sinskonstruksies, soms mét kompakterende, suggestiewekkende weglatings van veronderstelde woorde. ‘n Sfeer van die magiese te midde van konkrete eenvoud word oortuigend geëvokeer.

Ek het wel ietwat langtand gekou aan ‘n uitdrukking soos “berese seeboon” in hierdie verband. En gedink die digter moes twee keer gedink het voor sy nie-inheemse fauna soos “karp” en “tier” in hierdie Suider-Afrikaanse voorwêreld laat opduik het.

Hoewel Grobler nie noodwendig berge versit in die Afrikaanse poësielandskap nie, verteenwoordig haar drie bundels, veral die laaste twee, ‘n gewaardeerde bydrae tot ‘n nou al aansienlike Afrikaanse digterlike stroom van werke oor die Khoi- en San-ervaring. In hierdie verband kan ‘n mens haar werk in dieselfde asem noem as dié van Eugène Marais, Abraham Fouché, Donald W. Riekert, Piet van Rooyen en Antjie Krog.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Onderhoud met Mari Grobler

Friday, November 5th, 2010

Om jou tot strandloper te verbeel

Louis Esterhuizen in gesprek met Mari Grobler

 

 

Mari Grobler

Mari Grobler

Mari Grobler is op Uitenhage gebore waar sy steeds woon. Sy het een dogter, Cecily, ‘n musiekonderwyseres. Mari het Grafiese Kuns studeer. Sy het reeds twaalf boeke, waaronder jeugwerke, kinderboeke, romans en digbundels by verskillende uitgewers gepubliseer. Heelwat van haar werk het ook in versamelbundels verskyn. Drie van haar boeke word in skole gebruik.

Sy het onder meer twee ATKV-toekennings vir haar kinderboeke ontvang. Haar digbundel, Eggo’s in bewolkte water, het in 2004 by Protea Boekhuis verskyn en pas Toe dit vroeg was by Tafelberg Uitgewers. Haar debuutbundel, Wat sigbaar is in Amber het in 1990 eweneens by Tafelberg Uitgewers verskyn.

 

Mari, jou nuutste bundel vertoon ‘n besonderse tematiese ordening deurdat die verse uitsluitlik met die oermens en die vroegste beskawings te make het. Hoe het dié  idee by jou ontstaan en vanwaar dié belangstelling in oerkulture?

Nadat ek op die Khoi-San verse van my vorige digbundel, Eggo’s in bewolkte water voortgedig het, het ek interessante artikels in koerante gelees van ‘n argeologiese vonds wat by Pinnacle Point in Mosselbaai deur Jonathan Kaplan en Peter Nilssen ontdek is. Daar is verskeie grotte gevind wat duisende jare gelede  deur die oerstrandlopers bewoon is. ‘n Rekord van skulpkos-oorblyfsels is daar ontdek en volgens ‘n koerantartikel deur Elsabé Brits is bewyse deur navorsers gevind dat mense daar sowat 72,000 jaar gelede reeds vuur beproef het om gereedskap te maak. Die resultate van die vonds is ook in die vakjoernaal, Science, gepubliseer. Dit het my laat besluit om my bundel by die oer-aarde te begin, in die tyd toe die eerste mense strandlangs geloop het, ‘n bundel sonder geskiedkundige gebeure, oertydverse oor die oud-ou mense van dié mooi wêreld wat oor die Indiese Oseaan uitkyk. Ek gaan gereeld Mosselbaai en Hartenbos toe en ken die plekke goed. ‘n Mens kan jouself tot strandloper verbeel as jy daar seelangs loop. Ek het die grotte gaan opsoek en kon die oergeeste aanvoel, die vadergeeste waaruit hedendaagse mense gespruit het. Die begin van dit wat vandag is. Hulle het slim geword van al die skulpkos in hulle dieet. Hulle was daardie tyd se “moderne” mense. Toe het ek navorsing gedoen. Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord. Miskien was ek ‘n bietjie waagsaam, maar die gedigte moes geskryf word.   Ek kon hulle nie keer nie. Ek het die Khoi-San gedigte eerste nagevors en geskryf en het meer as vyf jaar aan die bundel gewerk.

In 2004 het jy gedebuteer met die bundel Eggo’s in Bewolkte Water. In dié bundel het jy ook ingespeel op die Khoi-San en ook Oosterse kulture. Is Toe dit vroeg was vir jou ‘n voortdigting op jou debuut of is daar ‘n wesenlike verskil tussen die twee bundels?

Eggo’s in bewolkte water is my tweede digbundel. Dis in 2004 deur Protea Boekhuis uitgegee. Ek het in 1990 gedebuteer met Wat sigbaar is in Amber, deur Tafelberg gepubliseer. My derde digbundel is ook deur Tafelberg uitgegee en die titel is Toe dit nog vroeg was. Dis nie werklik ‘n voortdigting op die vorige bundel nie, omdat ek in die derde bundel grootliks op die eerste mense, die strandloper-oermense en Khoi-San voortydse mense gekonsentreer het, wat toentertyd in die Mosselbaai omgewing gewoon het. Die vorige digbundel se Khoi-San was meer geskiedkundig, uit ‘n later tydperk toe daar witmense en Khoi met beeste was, uit die tyd van Vasco da Gama se seereise na ons land en die seepad na die Ooste. Die Oosterse kultuur in Eggo’s in bewolkte water is die kultuur waarmee Vasco da Gama te doen gekry het toe hy die seepad na die Ooste ontdek het.   In Toe dit nog vroeg was, het ek gepoog om geen ontydige klanke in die manuskrip te hê nie, net ‘n onnaspeurlike sinspeling van hoe die oertyd dalk kon wees of was, ‘n ontdekking van die eerste vleeslike en geestelike mense. Ek moes die hele tyd streef na eenvoud en tydlose woorde. Elke vals woord, sin of soms sommer hele verse, moes uit. ‘n Gedig mag by geboorte soms dronk van woorde wees, maar die eindproduk moet altyd nugter staan.

Jammer, ek het vergeet van Wat sigbaar is in amber … Nietemin, Toe dit nog vroeg was bestaan uit vier afdelings, te wete: “Voortyd”, “Pols”, “Storie”, en “Beweging”; elkeen met ‘n spesifieke fokus. Verduidelik hoe jy die gedigte in dié bepaalde afdelings gegroepeer het?

Die afdeling “Voortyd” se verse bestaan uit gegewens van die oer-mense. “Pols” handel oor die Khoi-San strandlopers en “Storie” is die verhaal van die vrou wat strandloper geword het nadat haar man haar by die geplooide berge gaan haal het. “Beweging” is ‘n paar gedigte oor die sjamaan, die reënroeper, wat die digbundel weereens sluit met die alleen-vrou wat na haar man soek, nes die vrou in die afdeling, “Storie“. Daar loop ‘n spoor dwarsdeur die bundel, die soeke van die vrou na haar man, wat hier wel voortdig  uit die bundel Eggo’s in bewolke water, waar Vasco se vrou ook tot die einde na hom gesoek het.  

Jy is bekend as ‘n veelsydige skrywer van romans, kinderboeke en digkuns. Gee ons ‘n bietjie ‘n kykie na jou werkswyse. Skryf jy byvoorbeeld volgens ‘n vaste roetine; werk jy aan meer as een boek tegelyk?

Ek werk tans aan ‘n kinderboek, ‘n jeugroman, twee romanses en my volgende digbundel. Ek skryf wanneer die lus my pak, enige tyd van die dag of nag. Ek het geen vaste roetine nie. Skryf is iets wat spontaan moet gebeur soos ‘n geboorte, anders sit ‘n mens op die ou ent met ‘n aborsie en die boek word nooit regtig boek nie. Elke skrywer strewe na erkenning en die begeerte om die leser te beïndruk.  Om eg te wees in dit wat jy skep, moet ‘n mens egter probeer om soms afsydig te staan van die leser,  anders is dit onmoontlik om glimpse van jou eie siel bloot te stel. Wat is skryf tog anders as ‘n ontbloting van die gees? Skrywers moet die heeltyd oop vir indrukke wees. Hulle moet leer om met ‘n dieper insig te kyk.   Hulle moet geweldig baie navorsing doen en dis ‘n eensame beroep.   Ek het eers dwarsdeur die nag geskryf, maar deesdae laat dit my werk rumatiese krampe toon. Ek skryf deesdae bietjies-bietjies soos die gier my pak. Iemand moenie in my nekhare asemhaal terwyl ek werk nie. Die muse duld dit nie. Sy is ook nie geneë met deurklokkies, telefone, blaffende honde, mensestemme en wanklanke nie. Ek is oud genoeg om my nie meer aan mense te steur nie.   Ek dra rooi skoene met goue strikke, dans soos ‘n boesman om vure, loop kaalvoet wanneer ek wil en hou die son uit my gesig met motgevrete hoede.

Wanneer ‘n mens jou gedigte lees, kan jy nie anders as om onder die indruk te kom van watter bron van inspirasie die natuur en natuurbelewing vir jou moet wees nie … Is ek korrek met so ‘n aanname?

Ja, my ouers is albei natuurmense en hulle het my grootgemaak in die natuur. My pa se stokperdjie was diepseevisvang en hy het my hartstogtelik lief gemaak vir die see. My ma is ‘n bosmens. Sy het my ore vir die taal van bome oopgemaak. Daarom het ek die bundel aan hulle opgedra. My eerste digbundel, Wat sigbaar is in amber, is reeds vol natuurglimpse, haikoes en oomblikke in die buitelug. Ek verstaan wat William Blake bedoel het met ‘To see the world in a grain of sand.” Ek hou daarvan om soms ‘n hele storie met so min as moontlik woorde te vertel soos bv. die volgende gediggie uit Toe dit nog vroeg was (p.41):

  

son oor die horison

/hom! val branders

in hul eie water terug                        

 

Is daar dalk nog iets anders wat jou kreatief inspireer? Musiek, byvoorbeeld; skilderkuns?

Ek het as kind ballet en musiek geneem en dit help my vandag met die ritme in my skryfwerk. Skyfkuns is tog maar net soos musiek. ‘n Mens toonset maar net met woorde in plaas van note. En as ‘n mens dit kan reg kry om die woorde te laat dans, word ‘n ware gedig of stuk prosa gebore. Ek het vyf jaar voltyds kuns studeer aan die Port Elizabethse Technikon. Ek hou soms uitstallings en die kunsagtergrond help my om visuele beelde met my woordkuns te skep.

Lees jy graag poësie? Is daar dalk enige digters wat jy sou kon uitsonder as persoonlike gunstelinge van jou?

My ma het my grootgemaak met poësie en daar is baie digters waarvan ek hou. My persoonlike gunsteling is Petra Müller. Ek verslind haar prosa en poësie en lees haar boeke oor en oor. Sy is vir my een van die beste skrywers in Suid-Afrika en my absolute rolmodel. My ander gunstelinge is Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel. Ek luister Breytenbach en Gert se CD’s oor en oor. Ek is ook mal oor Ilse van Staden se gedigte en Martin Versfeld se prosa.   Daar is ook baie Engelse skrywers waarvan ek hou.

Dankie vir die geleentheid om te gesels, Mari. As lusmaker plaas ek die gedig “soontoe” volledig hieronder:

 

die son se skemerpad maak geel strepe ver voor

blombos ruik na heuning

soutbos ruik na see

daar’s ‘n jagter se sweet in klipdaggaruik

 

hy slaan voet op ‘n nuwe pad

wind karring duine deurmekaar

dag blaas asem uit

volmaan loop in branders oor

 

*

 

son oor die horison

/hom! val branders

in hul eie water terug

 

© Mari Grobler (Uit: Toe dit nog vroeg was, 2010: Tafelberg Uitgewers)

 

/hom!: San-klank vir iets wat in water val

 

 

  •