Posts Tagged ‘Marieta McGrath gedig’

Marieta McGrath. Hawelose met kombers 

Wednesday, June 8th, 2022

 

Hawelose met kombers 

 

Vroegoggend val jou karligte op hom;

jy neem hom skaars bewustelik waar:

 

die man met sy grys komberstoga

en sy kop vol woestynbossies.

Hy wieg soos ‘n riet in die wind –

wat het jy uitgekom om te sien?

‘n Wandelende prediker? Profeet?

 

Nee, een wat van hierdie lewe

reeds alles weet.

 

©Marieta McGrath, 2022

 

Marieta McGrath. Afgesaag

Thursday, April 21st, 2022

 

Foto: Dustin Humes

 

 

Afgesaag

 

Die grappies van die mantis sonder kop –

wat kóp verloor het, en dít oor seks – moet stop.

Die storie raak nou afgesaag.

En tog, iets bekends daaraan bly knaag …

 

© Marieta McGrath, 2022

 

Marieta McGrath. Aardse goed

Tuesday, March 15th, 2022

 

Aardse goed

 

Vanoggend het my kind per ongeluk

my koffiebeker van die tafel afgestamp.

 

Verlies is soms so klein.

Dis net ‘n koffiebeker,

aardse goed, nie genoeg

om woedende vuur

op ‘n kind te laat neerreën nie.

 

Maar dit voel dieselfde die wêreld oor,

die verlies       aan beheer,

dat niks aan ons behoort nie,

dat alles behoort aan die

wat om mag sug –

 

ek dink aan Oekraïne:

 

‘n Vrou en haar kind kom,

ná ‘n nag van bomme,

ongedeerd uit ‘n moltreinstasie,

 

en al haar koffiebekers, haar fotoraampies,

haar versigtig getroetelde orgidee,

die merke van haar kind se groei teen die deurkosyn,

ja, die kosyne, die struktuur, die onderdak,

die vloer onder haar voete

lê in ‘n hoop verlies,

 

‘n universele hoop verlies.

 

Sy druk haar kind teen haar vas,

voel hom warm in haar insmelt –

 

in ‘n oorlog

is aardse goed onbelangrik.

 

© Marieta McGrath, 2022

 

Marieta McGrath. Ovaria

Thursday, December 30th, 2021

 

Ovaria

 

Kyk mooi na ‘n tekening van

die baarmoeder en ovaria:

twee arms, breë bors, die heupies smal,

‘n liggaamsbouer wat sy spiere bal.

 

© Marieta McGrath, 2021

 

Marieta McGrath. mens

Thursday, December 23rd, 2021

 

mens

 

in die begin was daar lig

en lig was beide stof en golf

en daar was lug – ruach, gees –

en die lug het onder stof kom woon:

 

‘n pap vel kry asem

staan op

halfdier halfengel

vol saad net soos die grond

vol saad en volkome versadig

‘n gegronde amper-engel sonder vlerke

 

toe kom ‘n regte engel, sy bakkopvlerke sis

mensss maak jou losss van die grond

ek gee jou vleuelsss styg op na die ssson

 

dit was die val

 

die amper-engel was nou meer grond as tevore

meer dier meer futlose vel

wat hom ‘n engel waan

 

toe kom God Hy druis

kom ons maak die dier meer as die engel

kom ons blaas die vel

vol ruach

kom ons maak die dier God

 

dat Hy kan opstaan

 

eers sal hy net op water loop

dan deur ‘n bovertrek se geslote deur

later sal hy opstyg

op die wolke na die son

 

©Marieta McGrath