Posts Tagged ‘Marieta McGrath’

Marieta McGrath. God in ‘n ensiem

Wednesday, March 16th, 2022

 

Foto: Andrew Johnson (Unsplash)

 

 

God in ‘n ensiem

 

My dogtertjie weier

om verbruinde appelskywe te eet.

Jig! sê sy en klem haar arms vas.

 

Sy dink, glo ek,

iets boos het met

die appel gebeur.

 

Sy’s bang vir wat sy nie

verstaan nie.

Bang vir wat sy nie

kan sien nie.

Bang vir dit wat

sonder rede is.

 

Tot ek haar vertel

van oksiderende ensieme.

Sien, daar ís rede.

Dis nie toorkrag nie.

 

Skielik wonder ek:

Praat ek nou teen God,

die wonderwerkende God?

 

Wat’s ‘n chemiese reaksie? vra sy.

Ruk my terug na stoflikheid.

Dit maak alles nuut, sê ek.

Sit net suurstof

by ‘n appel

en maak van ‘n fenol ‘n kinoon.

Maar daarvoor benodig jy ‘n skuiling,

‘n koesterende ruimte téén

invloede van buite.

En dis wat ‘n ensiem is:

‘n katalisator, ‘n helpende hand,

‘n bystander wat deelneem,

chemies verander en tog

onveranderd bly – dis

wat ‘n ensiem is.

 

Maar hoe weet jy ensieme bestaan,

as niemand dit kan sien nie? vra sy.

Want ons sien hoe die appel verbruin.

Daar is uitvloeisel, sigbare vrug.

 

Dis soos God.

Daar is iets van God in ‘n ensiem

en iets van ‘n ensiem in God.

 

©Marieta McGrath, 2022

 

Marieta McGrath. Die skepping van Eva

Saturday, January 1st, 2022

 

Die skepping van Eva

 

Op vyf teken my kind

papiere vol geluk:

 

vierkanthuisies

met driehoekdakke

en rookkartels,

 

ballerinas, eenhorings, reënboë

met wolke as oorfone,

en ‘n son,

 

voëls, wenkbroue in vlug

of op mandjieneste

vol eiers,

 

blomme soos wagtorings

op groen grond, reën,

blou strepe reën,

 

en in die kombuis

teen die yskas

een

 

van ‘n bruid: stralend,

met ‘n glimlag soos

‘n waatlemoenskyf,

 

sonder ‘n neus,

maar met twee

spikkeloë

 

twee arms wat wyd

wegstaan van

haar lyf

 

en aan elkeen ‘n hand

met vyf klompvingers

ewe groot.

 

Uit een stomp hand spruit

blomme soos ‘n fontein

asof geheg met gare

 

en in die leegte bo haar

reën blomme, reën

blomme neer.

 

Sy dra ‘n kort, wit rok, blou omlyn,

en tussen dun beentjies

hang ‘n yl

 

sleep, die allerbelangrike sleep

wat haar as prinses

inwy.

 

Dan kom uit die kant van die bladsy

‘n hand, ook met klompvingers –

soos ‘n beer se poot –

 

wat na haar reik, na wie sy reik,

alreeds op vyf ‘n bruid wat smag

na ewigheid.

 

© Marieta McGrath, 2022

 

 

 

Wenner van die limeriekkompetisie

Friday, December 17th, 2021

 

 

 

Marieta McGrath se gedig “sareltjie slaplê van klawer” was is die wengedig.

Die beoordelaars het in hierdie kompetisie veral gelet op die korrekte vorm van die limerieke. Hierdie digvorm het vaste reëls, en indien dit nie nagevolg word nie, kan die gedig nie as ‘n limeriek beskou word nie. Verder het die beoordelaars gekyk na die laaste reël, die sogenaamde “punchline” wat verrassend en dikwels grappig is. Uiteindelik is daar in die meeste kompetisies ‘n hele paar potensiële wengedigte, en ook in hierdie kompetisie was dit vir die beoordelaars moeilik om uiteindelik slegs een wengedig aan te wys. Baie geluk aan Marieta McGrath wat met die kontantprys van R1 000 wegstap!

Hoewel daar byna 70 inskrywings vir hierdie kompetisie ontvang is, het minder as 20 gedigte as limerieke gekwalifiseer en is sommige gedigte wat baie goed was, gediskwalifiseer.

Baie dankie aan elke digter wat deelgeneem het. Dit is inderdaad soms vreesaanjaend om jou werk in die openbare domein te plaas, daarom het ons soveel meer waardering vir elke inskrywing!

Die beoordelingspaneel het bestaan uit die volgende letterkundiges:

Prof. Bernard Odendaal

Dr. Marni Bonthuys

Dr. Alwyn Roux

 

Wengedig

 

Sareltjie Slaplê van Klawer

Het heeldag gedut in die hawer

Toe steek hom ‘n wespe

Net onder sy gespe

Sareltjie Styfstaan van Klawer …

 

© Marieta McGrath, 2021