Posts Tagged ‘Marietjie du Plessis resensie’

Resensie: Beskut teen vrese (Cas Vos)

Thursday, October 15th, 2020

 

 

 

Beskut teen vrese deur Cas Vos. Naledi, 2020.

Resensie: Marietjie du Plessis

 

Cas Vos, wat sedert sy digbundel Vuurtong in 1999, bykans jaarliks ’n digbundel die lig laat sien, skryf vanuit ’n wye verwysingsveld. As teoloog en afgetrede akademikus verskyn daar ook teologiese werke van hom, en as uitstekende vertaler verryk hy die Afrikaanse letterkundetradisie deur sy herskepping van onder andere Griekse, Latynse en Italiaanse klassieke tekste uit die wêreldletterkunde. Die wedervaringe van onder meer Odusseus en Achilles lewe vers- en prosagewys in Afrikaans saam met die immer teenwoordige wraaklustige Zeus en sy medegode van Olimpus in Fragmente uit die Ilias (2014) en Fragmente uit die Odusseia (2016) as vertalings van Homeros se werke. Canto na Canto reis lesers ook in Afrikaans saam met Dante Alighieri na God, die Ewige Lig in IL Paradiso (2018). Verder laat Cas Vos die Griekse digters, Konstantinos P. Kavafis en Giorgos Seferis, ’n Afrikaanse buiging maak in sy digbundel Voor-bode (2015).

Die nege afdelings in Cas Vos se pasverskene digbundel Beskut teen vrese (2020) word voorafgegaan deur die aanhaal van A. Vloemans se boektitel De mens als waagstuk (1949). As God die skepper van die mens is, en as laasgenoemde ’n waagstuk is, impliseer dit dan dat God ’n waaghals is? Op p. 97 lyk dit of “… die goddelike vinger huiwer / omdat Hy weet die skepping is riskant.” Voeg hierby die aangehaalde “Dat pyn bestaan, is nodig, Heer” van N.P. van Wyk Louw, asook die knap rymende woordspeling van die digter met “Corona”, “kroon” en “onttroon” en die leser vermoed dat dié bundel oor die wel en weë van hierdie “waagstuk” gaan. Die mensdom word inderdaad uitgebeeld met sy pyn en sy prestasies – tot met die verwoesting van Covid-19. Corona, die Latyn vir “kroon”, en “krans” in Grieks, hang soos ’n stralekrans van ’n heilige oor die mens se daaglikse gang. Geen vorstelike dade kan egter aan Covid-19 gekoppel word nie.

Die eerste afdelingstitel Verse teen vrese toon ’n ongewone metatesis met die omruil van die e- en r-letters in die woorde verse en vrese. Die fonologiese klankverspringing in woorde soos present en persent, asook in turksvy en truksvy verander nie die betekenis van hierdie woorde nie. Die klankverspringing in verse en vrese bring egter ’n insiggewende betekenisverandering in elke woord teweeg wat ook die skeppingsproses verteenwoordig. Vrese word met die skryf van gedigte kreatief omgesit in verse en die verse besweer weer die digter se vrese; dus ’n beskermende kousale proses.

Aansluitend by hierdie reddende proses is die teenstellende woorde, “beskut” en “vrese”, in die bundeltitel. “Vrese” as blootstelling aan iets onaangenaams en “beskut” as beskutting teen onaangename dinge verkry saam die betekenis van beskerming; in so ’n mate dat die digter sy verse in die openingsgedig op p. 3 bestempel as sy alles voorsienende herder na aanleiding van Psalm 23: My verse is my herder, “ek het geen gebrek nie”, Sy verse skerm hom af teen vrese vir selfs die “donker elegieë” (in Afdeling VIII). Die opnoem van sonnette, tankas, haikoes, ensovoorts in die derde strofe is ’n versterking van die helingsmotief van die digkuns.

Ongeag die funksionele gebruik van “beskut” en “vrese”, is die bundeltitel verbeeldingloos. Die woorde, “beskut” en “vrese”, is te ordinêr, te geyk om die las van die misterieuse koronavirus en dié van die mensdom in die bundel te dra. Dieselfde idee kan met meer oorspronklike woorde uitgedruk word. Vergelyk hierdie titel met byvoorbeeld die digter se prikkelende, paradoksale bundeltitel, Intieme afwesige (2009) en Voor-bode (2015) met ’n koppelteken wat ’n dubbele betekenis suggereer.

“Woordenergie” en “Woordsmid” op p. 4 en 5 in die eerste afdeling is ars poëties; en verwysend na “Ons klein en silwrige planeet” van N.P. van Wyk Louw trek die digter in “Aarde” (p. 6) ’n parallel tussen die skepping van die aarde en die skepping van ’n gedig: “duisternis het kolkend oor jou (die aarde) gedryf, / net soos woorde op papier rondskuif”  (my hakies).

Die titel van Afdeling II, naamlik Die bedreigdes, ontlok die vraag: Wie word bedreig en deur wat? Pyn staan hier sentraal met die mens wat uitgelewer is aan magte buite sy beheer. Julius Caesar word in “Die Idüs van Maart” ’n prototipe van die mense wat in die skadu van die dood lewe. Ongeag sy eretitel van “dictator perpetua” wat onsterflikheid vir Julius Caesar suggereer, saal die “skrikgodinne” ’n “nagmerrie” vir hom op (p. 30). Die skrikgodinne (Magaera, Alecto en Tisiphone, asook skrikgode) is regdeur die bundel teenwoordig: “Die duister het die skrikgodinne losgelaat / om snags drome met ’n skrikbewind te skaad” (p. 17). Die rymlose gedig “Skrikgodinne” vertoon egter opvallende paarrym in die eerste twee en laaste twee versreëls, naamlik “losgelaat” en “skaad”, asook “hel” en” kwel” waardeur die vreesaanjaendheid van die skrikgodinne funksioneel beklemtoon word.

Peste en plae tot by die huidige pandemie wat as Corona opduik in talle gedigte, kenmerk Afdeling II. Hierin lê die aktualiteit van verskeie gedigte wat van hierdie bundel  ’n tydsdokument maak. Die koronavirus word die skrikgodin van ons tyd. In “Nagmerrie Geryon” hou die monster, Geryon, met sy drie liggame uit die Inferno-deel van Dante Alighieri se La Divina Commedia (1308 – 1320) verband met die veelstammige koronavirus. Apollo se “donker pes” in Boek I in Cas Vos se vertaling Fragmente uit die Ilias (2014) kan ook in hierdie verband genoem word. ’n Ontstellende assosiasie word verder met die Egiptiese plae in Afdeling II getrek.

Die feit dat dié afdeling met die peste die meeste gedigte bevat, verteenwoordig die omvattendheid van die menslike kondisie. In “Ontnugtering” tree die mens weliswaar “als waagstuk” na vore – hoewel hy “skaars minder as die engele” is en sy prestasies “verstommender” as talle wonders is (p. 9). In nie minder nie as tien strofes word ’n historiese oorsig gegee van die mens se uitsonderlike vermoëns, sy vindingrykheid en helaas ook sy wandade; laasgenoemde met ’n bloedspoor van Nero af tot by die onlangse dood van die swart Amerikaner, George Floyd, onder die knie van ’n geregsdienaar. Die slagoffer se “Help me! I can’t breath!” (p. 11) gee ook vatkans vir asemnood weens die koronavirus. Die “lewensvernietiger”, Corona, word op p. 10 nou die digter se apokaliptiese herder. Ironies dat die mens wat die dood weens die oral  insypelende virus wil vermy, se eie “merktekens van geweld” sigbaar is “op elke hoek en draai” (p. 34). Die bomontploffing in “Bruid van Beiroet” span verder die dodelike korona-kroon op die mens se vergrype.

Ellende weens natuurverskynsels en mensveroorsakende ellende word dus teenoor mekaar gestel. Hiermee word die teologiese kwessie van God se wil en die mens se vrye wil en optrede aangeraak. Farao word met tien plae gestraf. Terselfdertyd verhard God volgens sy eie wil Farao se hart tot ná die voltrekking van die tiende en ergste plaag (Exodus 10:27).

Die plasing van die gedig “Corona (p. 13) saam met die Egiptiese strafplae (p. 18-27) kan moontlik verband hou met die opvatting dat die virus Goddelike straf op die mens se sonde is, en/of dat God die mens verlaat het: “Waar is God in dié doodsbleek dae? … / Het Hy sy rug op sy aardse ryk vol slyk gedraai?” (p. 13). Sommige wetenskaplikes skryf Covid-19 ook toe aan die wyse waarop die mens met die aarde omgaan. Volgens “Pes” word selfs die diere nie gespaar van die pesplaag nie. In “Mens op aarde” (p. 93) word die opdrag geïmpliseer dat die mens die aarde moet beskerm. ’n Tweede opdrag  is dat die aarde as “Moeder Aarde” aangespreek moet word. Dié versorgende aard van die benaming behels ook respek teenoor die aarde.

Die plae kry sterk beeldend lewe tot met die dood van die eerstelinge (p. 27) met hoofsaaklik paarrym wat die aantog van die dood markeer. Visuele beelde en woordvondste dra by tot die verskrikking soos swere wat op die huid “bot” (p. 23), die “steekvernuf” van die steekvlieë (p. 21) en paddas “bespring” (alliterend!) “elke bedekende bed kwaakgewys” (p. 19). In “Sprinkane” word die koronavirus uiters gevat gesuggereer in ’n idoom: “Die swerm steek die koning na die kroon” (p. 26), en in “Paddas” word ’n vaste uitdrukking rymend en effektief aangepas op p. 19: “In die bakoonde verdring hulle al die brode / Alles wat hulle hier doen, is om den dode”.  Die digter wend hier tersines en skakelrym (aba cdc efe) aan.

Die strafmotief word versterk in Afdeling III met In Job se skoene as titel. Die mens se vrye wil, erfsonde en die regverdiging van God se dade is ter sprake terwyl Job se vriende die vergeldingsleer voorhou.

Die Job-verse word ’n soort Middeleeuse moraliteitspel en Job ’n soort Elckerlijc, verteenwoordigend van die gewone man: “Nou sien hulle wat die mens is” (p. 39), is die gevolgtrekking waartoe die Jobsvriende kom. Op p. 37 word “Man uit Us” afgesluit met ’n spottende vraag: “Waar is jou Pa nou?”

God en mens kom as’t ware teenoor mekaar te staan met die buitengewone versboufunksie  van die tipografie van “Jobsvriende”. Die eerste strofe bou tipografies met langerwordende versreëls van Job af op tot by God se wil en handelinge waarin Job berus: “God skink wyn, maar ook asyn. Dit is nou tyd vir die bitter kelk”. In die tweede strofe word die mens tipografies met korterwordende versreëls afgebreek tot net sy “leë hande” (p. 39), terwyl die “verwytende harte” die mens se insigloosheid uitdruk.

Afdeling IV, V en VI bevat onderskeidelik ses kwatryne, sewe haikoes en vyf tankas. Die kwatryne toon wisselende tot geen rymskema nie. Vrese wat eers na dese sal verdwyn, liefde wat nie te vertrou is nie, Corona, God wat die digter in die steek laat en  pyn word in die kwatryne gekontrasteer met hoop, geloof, ’n aandagtige gewag op God se “roering” (p. 45), ’n versugting na geluk en ’n verlange na “Genadedal” (p. 46).

In Homeros se tekste soos onder meer in Cas Vos se vertaalde, genoemde Fragmente uit die Ilias en Fragmente uit die Odusseia is die natuur as ryk geskakeerde simboliek en metaforiek altyd teenwoordig in die karakters se lewe. Die verse in Beskut teen vrese (en in ander bundels van Cas Vos) dra dieselfde stempel met stemmingsvolle natuurbeelde soos in “Die maan” in Afdeling VII wat vir die aarde “’n beker vol lig” en “vlugte van verbeelding” (p. 57) skenk. Hierdie beelding word oorgedra na van die haikoes in Afdeling V. Met die tradisionele drie versreëls en 17 lettergrepe toon die tweede haikoe op p. 49 byvoorbeeld ’n impressionistiese beeld met ’n gepaardgaande allitererende s-klank wat bydra tot die ritme en die beweging wat die werkwoord “sleep” skep:

 

Bome se some

sleep oor dansende skadu’s

as windklokke sing.

 

Die tankas hou by die tradisie van vyf versreëls en 31 lettergrepe as 5-7-5-7-7. Die meeste tankas bevat ’n visuele natuurbeeld wat emosie ontlok soos die wind en melankolie, en die son se nuwe dagreis wat hoop bring (p. 53). Die enjambement in die tweede tanka op p. 53 skep ’n gevoel van afwagting op uitkoms:

 

Ons is verliefdes,

spartelend in die soutsee,

is ons verstrengel

in mekaar se arms, sug

ons na die strand se uitkoms.

 

Afdeling VII getitel Omweë van die liefde, is gelaai met kontraste, ironieë, satire en humor. Die eerste gedig is ’n pryslied aan die veelsydige maan wat onder meer “drome se wit gloed oor die liefde se hartland skyn” (p. 57).  Ná hierdie vrygewigheid van die maan volg, ironies, verse vol verydelde liefde wat aansluit by die “omweë” van en mistastings oor die liefde.

Met “Verbode liefde” word intertekstueel aangesluit by Dante Alighieri se Inferno en die liefdesverhouding van Francesco en Paolo vol “liefdesklagtes” op p. 59. Odusseus en Kirke, die towergodin, se liefde vlam weer op (p. 61), en Sappho, liriese digteres, en Aphrodite, godin van die liefde, is teenwoordig in verlangende verse (p. 67 en 72).

Maar die liefde neem ’n duisend vorme aan … Donker, kortstondige genot word in “Caféterras in die nag” (p. 62) en in “Voorspel” aangebied met ’n skitterende metafoor: “In ’n straat waar vuurvliegies plak” (p. 69). Die speelse trant van “Voorspel” bring heerlike afwisseling in hierdie plaagbewuste bundel. In “Eens toe jy nog myne was” (p. 71), ’n toespeling op C. Louis Leipoldt se “Wys my die plek”, en in “Nalatenskap”(p. 74)  word liefdesverlies en afskeid deur die dood betreur met hoop wat weer opvlam in oë wat “skitter” in “Afskeid”. Soos “Voorspel” bied “Gode het die vrou gemaak” (p. 63-66) komiese verligting met enersyds voortreflike metafore en lagwekkende, verwronge insigte oor vroulief tot by die Bybelse korale-vrou.

Saam met Covid-19 tree die verganklikheid van die mens na vore in Afdeling VIII. In “Plaag en wrok” (p. 77-78) en “Voorspel tot Hektor se dood” (p. 79) maak die Trojane en Achajers kennis met dié werklikheid, asook met die god Apollo wat “plae soos muise uitstuur” (p. 78).

Sangers wat die lewe in al sy skakerings besing, word ook betrek, en in “Die Boheemse Rapsodie” vra Freddie Mercury wrang op p. 82 “Who wants to live forever?” as nog ’n faset van die verganklikheidsmotief in die bundel. ’n Elegie aan Marthinus Beukes volg met die titel “lewe en dood”; drie woorde wat ’n hele lewensloop omvat en wat ook eggo in die titel van die laaste afdeling, Slot van ’n reis as die afloop van ’n lewensreis.

Die eerste gedig in Afdeling IX, naamlik “Adam Small, hy kô hystoe”, skep dan ook die verwagting van paradys toe gaan. Dié titel is ’n kombinasie van die eerste drie versreëls van Adam Small se gedig, “Kô, lat ons sing”, en die titel van sy toneelstuk, Kanna hy kô hystoe. Asklepios, die god van genesing, se virus-berig (p. 90) en die toestand op aarde noodsaak egter die “Godevergadering” (p. 89). Corona, wat die skrikgodinne, elkeen met haar eie boosaardige funksie, as “wegbereiders” het, ontbloot die menslike psige van armoede tot by rassisme (p. 89 – 90).

Met “voël” as simbool van die koronavirus word die voëlvanger, Papageno, en Tamino met sy towerfluit genader om die “geluk””en “vrede” te herstel. Die verskrikking van Corona wat nou byna eienaamstatus geniet, word emfaties saamgevat in die paarrym aan die einde van die twee laaste versreëls van strofe twee en die slotstrofe.

“Waagstuk” (p. 97), die slotgedig, sluit siklies aan by een van die bundelmotto’s “De mens als waagstuk”. Teen die agtergrond van Michelangelo se kunswerke in die Sistynse Kapel raak God Adam se vinger aan. God se “eksperiment” misluk egter, maar net “momenteel”. Hoop en liefde verskyn net soos Corona en pyn oral in die bundel en die belofte op p. 82:” Wees stil, wag maar, alles word nuut” gaan in vervulling met ’n “her-skepping” wat wag op p. 89.

Die integrasie van die eietydse mens se lotgevalle met die verhaalgegewe en die karakters in klassieke werke tot ’n sinvolle poëtiese geheel is indrukwekkend. Die plasing van die skrikgodinne in die laaste afdeling as die huistoegaan vir die mens al in die vooruitsig gestel is, herinner aan Odusseus se langverwagte huiswaartse reis vol ontberings. Gegewens uit die klassieke tekste word in ’n mate deur middel van voetnote toegankliker gemaak vir lesers. Die digbundel kan egter eers tot sy volle reg kom met ’n bietjie agtergrondkennis van die klassieke en ander historiese karakters en gebeure.

Van die gedigte het al in ander publikasies verskyn, en die plasing daarvan in Beskut teen vrese geskied volgens tema net soos die tematiese insluiting van klassieke tekste.

As romantikus skryf Cas Vos beeldryk en gevoelvol met treffende beelde wat ongelukkig soms in clichés en sentiment verval. Die beelding in dieselfde toonaard kan ook voorspelbaar raak. Óórskrywing kom ook voor, soos byvoorbeeld “Wie? Wie? Wie?” nadat die idee al gevestig is in: “Corona dra die kroon. / Wie kan hom onttroon?” op die motto-bladsy. Herhaling van dieselfde woorde soos “glans”, “skink” en samestellings soos “luglangs” en “kombuislangs” raak lastig. Hierteenoor is daar wonderlike woordskeppings soos “egverneuker” (p. 28) en “steekhaarmoddersog” (p. 63). Van die binnerym is slim en geslaagd, maar ongelukkig is daar te veel gevalle van rym ter wille van rym. Om die wêreldveranderende virus waaroor daar teruggekeer word na die sanggebed, “Heer, wees ons genadig” (Kyrie eleison) op p. 13 aan te kondig as: “Corona laat almal wat lewe bewe”, is ’n antiklimaks.

Ongelukkig is daar ook talle agtelosige spelfoute soos “altwee” as een, in plaas van twee woorde op p.15, “instandhou” as een, in plaas van drie woorde op p. 45, en nog ander.

Maar ’n briljante, wyd georkestreerde bundel met al die klanke van die menslike kondisie. En ja, die vrese neem ook ’n duisend vorme aan …

 

  •