Posts Tagged ‘Marlies Taljard onderhoud met Cas Vos’

Onderhoud met Cas Vos

Sunday, September 6th, 2020

 

 

 

 

Marlies Taljard gesels met Cas Vos oor sy bundel Beskut teen vrese. Naledi, 2020

 

Marlies Taljard: Cas, baie geluk met jou pragtige nuwe bundel Beskut teen vrese. Die voorblad van Karen Cronjé met ‘n voël wat teen ‘n agtergrond van bas uitstaan, is besonder mooi. Hoe hou die voorblad verband met die gedigte in die bundel?

 

Cas Vos: Die voorblad is ’n voortreflike sleutel tot die bundel. Die beeld is die van vrees en hoop op beskutting. In die bundel kom daar talle vrese aan die lig wat  mense angsbevange laat leef. Die vrese hou op een of ander verband met Corona.

 

MT: In die gedig “Woordenergie” (p. 4) skryf jy:

 

Om uit die onsin vers sigtig

’n canzone te skep, eis energie

wat uit die chaos orde skep

 

Die eerste vier gedigte, en verskeie ander in die bundel, hou verband met die skryfproses. Is daar ‘n tipiese proses van gedigskryf wat jou praktyk kenmerk?

 

CV: Ek gebruik die digambag om rekenskap van die digproses te gee en ’n flitsende aanduiding van wat in die bundel verwag kan word. Die gedig, My verse is my herder, maak die deur na die woonhuis van die digbundel oop. Daar is by my nie ’n tipiese proses van gedigskryf nie. Ek wag op die verrassing van die muse. Daarna ontwerp ek die grondplan van die gedigtehuis. Elke bundel stel sy eie eise en die skryfproses moet binne daardie raam gesien word.

 

MT: Die bundel open met die volgende reëls:

           

My verse is my herder,

ek het geen gebrek nie,

hulle verlei my na weivelde van lus.

 

Hierdie inspeling op Psalm 23 kom by herhaling in jou oeuvre voor. Ook ander intratekstuele verwysings (verwysings na jou eie werk) kom in Beskut teen vrese én in jou ander bundels voor. Waarom verwys ‘n digter/skrywer terug na sy/haar eie werk en hoe verryk of beïnvloed dit (in hierdie geval) enkelgedigte of ‘n hele bundel?

 

CV: Psalm 23 kom nie “by herhaling” in my oeuvre voor nie. Dit kom wel in Enkeldiep (”Jy is my herder”), die afdruk van ons hande (“Die Here is nie my herder nie”), Weerloos lewe (“my anima is my herder”) en in Voor-bode (“’n Variasie op Psalm 23”) voor. Alhoewel Psalm 23 die boustof van die vier gedigte verskaf, verskil die gedigte ten opsigte van tekstuur, struktuur en postuur hemelsbreed. In Beskut teen vrese kry Psalm 23 ’n totaal ander funksie. Dit word spoedig duidelik dat die verse die digter en leser teen Corona moet beskerm. Nog ’n voorbeeld van ’n intratekstuele verhouding is die gedig “Adam Small”, hy kó hystoe wat in ’n versamelbundel verskyn het. In Beskut teen vrese is dit uitstekend deur Anastatia de Vries in eietydse Kaapse Afrikaans omskep. Dit pas ook perfek in Afdeling IX. Tematies het elke bundel sy eie ontwerp.

 

MT: Benewens intratekstuele verwysings kom daar ook ‘n legio intertekstuele verwysings in die betrokke bundel voor. In moderne tye is dit ‘n belangrike digpraktyk. Die intertekste waarna digters in hulle werk verwys, is ‘n belangrike rigtingaanwyser en interpretasiesleutel. Daar is talryke gedigte in Beskut teen vrese waarvan die titel, die opdrag/subtitel óf die inhoud na antieke of Klassieke tekste verwys. Ek dink byvoorbeeld aan “Inferno” (p. 14), “Odusseus en Kirke se flirtasie” (p. 61), “Ode aan Aphrodite” (p. 67) en talryke motto’s uit en verwysings na Dante se Inferno.

 Jy sou daarvan beskuldig kon word dat jy jou werk sodoende ontoeganklik maak vir die “gewone leser”. Vir watter lesersgehoor is jou bundel bedoel?

 

CV: U edele, ek pleit onskuldig. Luister na my pleit. Die gedigte verklaar self wie die Griekse gode, karakters en mitologiese figure is. Wie weet nie van Helena en haar verleidingskrag nie? Sy bestaan vandag nog in haar volle glorie. Die skrikgodinne, Magaera, Alecto en Tisiphone, jaag ons steeds die skrik op die lyf. En vooraan kom Corona. Tussen hakies, in die gedig, “Skrikgodinne”, word hulle aan die leser bekendgestel.

Die bundel is bedoel vir elkeen wat poësie liefhet. Meer nog: dit is bedoel vir ons wat in die tyd van Corona leef. Dit is die donker tyd van vrese. Ek moet net duidelik stel dat antieke of Klassieke tekste ’n groot minderheid in die bundel vorm. En waar en wanneer dit voorkom, hou dit verband met die afdelings en die ander gedigte in die bundel.

 

MT: Watter waarde voeg verwysings na antieke en Klassieke tekste aan jou werk toe, veral in die lig daarvan dat baie lesers dit nie sal raaklees en/of nie die werk ken nie. Dink jy dat dié tekste tog met die moderne mens in gesprek tree of vir ons iets kan beteken?

 

CV: Voordat ek iets oor my werk skryf, wil ek dit duidelik maak dat die gode, godinne en mitologiese voorstellings lankal op die internasionale verhoog bekend is. Ek gee enkele voorbeelde. William Butler het “No second Troy” gedig. In Konstantinos Kavafis se gedigte is Odusseus en Achilles nóg fabelagtige en veraf karkters nóg moderne karakters. Hy oortuig sy lesers dat sy ervarings eerstehands is en dat die Trojaanse lyding steeds in sy tyd (en meer nog in ons tyd) aanwesig is.

Ted Hughes se gedig “Peleus and Thetis” word deur die Ilias gevoed. Die Nobelpryswenner vir Letterkunde in 1987, Joseph Brodsky het ’n indrukwekkende gedig wat handel oor Odusseus se woorde aan sy seun Telemachus geskryf. Dit is  asof die gedig hier en nou afspeel. Mahmoed Darwiesj se gedig “I walked on the remains of the heart” moet vanuit sy oorlogskonteks (sy Troje) verstaan word. Anne Carson het fragmente van Sappho van Lesbos in haar If not, winter uit Grieks vertaal.

Verwysings na die Romeinse tydvak kom by Van Wyk Louw voor. Caesar, Antonius en Cleopatra kom by hom voor. Louw verwys ook na Konstantyn Augustus, Licinius Augustus (“Keiserlike brief”), die Florentynse kardinaal, Ottaviano en Pous Innocentius III (Tristia). Herakles, die seun van Zeus en Alkmene, maak ook sy verskyning by Van Wyk Louw.  In Sheila Cussons se “Kombuis van Hera” word daar na Hera verwys. Die Homeriese afdruk kom ook by Cussons se “Athenaen ”Die brons Poseidon” voor (Die sagte sprong). Daar is ook Elisabeth Eybers se gedig, ”Drie geslagte. By T.T. Cloete word in “Modern times” na Zeus, Pallas, Athene en Afrodite verwys (Idiolek).

In die lig van die internasionale bekendheid van die Griekse gode, mitologieë en die Romeinse omgewing, is dit byna vanselfsprekend dat daar in Beskut teen vrese van die Griekse gedigte vertaal is. Sappho van Lesbos (630-580) se “Ode aan Aphrodite” is ’n tydlose liefdesgedig wat vandag se leser nog steeds sal aanspreek.“Die flirtasie van Odusseus en Kirke” bly steeds boeiend en aktueel.

Gode het die vrou gemaakdeur Simonides (7de eeu v.C) is vol humor en satire. Een strofe lui soos volg:

 

Onsalig die een wat uit ’n wildemakou kom,

sy waggel tussen paddaprinse van water

tot water met haar snawel soos ’n geslypte mes,

wanneer sy opstyg in haar vlug maak sy ’n flou

heesgeluid om skindernuus in ore te braak.

 

Die slotstrofe is darem ’n verligting:

 

Gelukkig en wys is die man wat sy vrou prys

en sy oë verby ander flikkerende vroue laat wei.

Vir só ’n man is sy vrou meer as korale werd.

Sy is die gode se geskenk aan hom,

liefde staan by hulle altyd in bloei en blom.

Dit is tog so bekend en eietyds.

 

MT: Antieke tekste werk dikwels met simbole. Watter simbole beskou jy as belangrik vir hierdie bundel, en waarom werk jy so dikwels met simbole eerder as met metafore?

 

CV: Indien onder simbole die Griekse gode en mitologiese figure bedoel word, sou ek saamstem met die opmerking. Zeus is die simbool van mag, Aphrodite van liefde, Apollo van profesie, poësie en musiek. Geryon is die voorloper van Corona. Corona is geen simbool nie, maar ’n vreesaanjaende werklikheid. Die simbool wat die gode verteenwoordig kan nie sonder metafore verstaan word nie. Die gedig “Godevergadering” is hiervan die beste voorbeeld. Die gedig oor gode word egter eietyds omdat die godevergadering oor Corona handel.

 

Almal hou asem op toe Asklepios, die god van genesing

opstaan en al hakkelend en verleë van ’n dodelike virus

berig: Corona het met mag en mening toegeslaan,

viroloë kan die klein verwoester nie opspoor nie,

die ganse wêreld is in Corona se noodgreep.

 

Dat ek “dikwels met simbole eerder as met metafore” werk, is vir my ’n verrassing. Simbole laat meer ruimte vir die misterie, die onsêbare. Op een of ander manier verwys simbole na die dieper werklikheid waarvan dit deel vorm. By simbole is daar sprake van ’n direkte, nie-rasionele of –begryplike kommunikasie met ’n ander werklikheid  (G. Lukken).

Beskut teen vrese is besprinkel met metafore en ander stylfigure. Om net een voorbeeld te gee:

 

As fotone weer die daeraad se kuif

voor skemer aanbreek rooi sal kleur

en liefde en hoop net weer in hierdie uur

die son en sterre sal beweeg en aanvuur.

 

 MT: Jy het onlangs gewerk met verskeie Klassieke tekste, soos die Odussea en die Ilias waaruit jy gedeeltes vertaal het. Jy het ook onlangs Dante se Il Paradiso en Hooglied vertaal. Ek merk spore van dié werk in jou nuwe bundel. Sou jy sê dat die vertaalwerk ‘n nuwe dimensie tot jou digkuns toegevoeg het en dat jy nou op ‘n manier anders dig (dalk ook anders kyk) as vantevore? Wat maak hierdie bundel anders as jou vorige bundels?

 

CV: Dante se skepping is oorspronklik en tydloos. Terloops, dit is merkwaardig hoeveel intertekstuele verwysings daar in sy werk oorkom. Ek verwys hier slegs na Vergilius en Ovidius se tekste. ’n Ontmoeting met Dante se Il Paradiso en Inferno laat ’n mens nie onaangeraak nie. Daar is soveel eietydse raakpunte. Om met Hooglied in die Hebreeus kennis te maak, is soos heuning op die tong. In die tyd van Corona moet ons steeds leer om aan die liefde vas te hou. Want liefde is sterker as die doderyk. Vertaling uit die bronteks maak die vertaler bewus van die andersheid en die eendersheid van die bron- en die ontvangteks. ’n Digter mag nie in ’n groef (graf) val nie. Hy/sy moet bly soek, dink en oor-dink. Om te vertaal is om na die presiese woord(e) vir die ontvangteks te soek.

Beskut teen vrese is anders as my vorige bundels in die sin dat dit so eietyds is. Dit handel oor ons vrese in die tyd van Corona. Selfs Mozart se Towerfluit word betrek. Daarom is die stylmiddele (metafore, vergelykings, ironie, satire, ens.) rondom Corona gerangskik. In my vertaling van ’n gedeelte uit Die Ilias, Boek l, word daar na “’n donker pes” verwys. Dit is die voor-loper van Corona.

 

MT: Cas, jy is ‘n bekende en gerekende teoloog, ‘n professor in die Teologie. Uiteraard vorm jou vakkennis ook jou kreatiewe werk. Jy is ‘n kenner van die Psalms en ander Bybelse poëtiese tekste. Jy ken antieke Griekse, Egiptiese en Babiloniese tekste wat in poëtiese vorme geskryf is. Vind ’n mens die poëtiese praktyke van dié tekste in jou poësie terug, en indien wel, hoe kom dit daar tot uiting?

 

 CV: Ek hoop om deur my vertalings uit ander taalbronne die verrassende varsheid van die bronteks oor te dra, maar dan met my eie metaforiese, satiriese en ironiese taalkleed. Ek is heeltyd op soek na die tekstuur, struktuur en postuur van die antieke gedigte en my eietydse gedigte. Soms daag ’n heerlike metafoor of vergelyking vir die ontvangstaal op.

 

MT: Ek wil hier aan die einde van die onderhoud tog nog ‘n moedswillige vraag vra. In die gedig Corona (p. 13) kom die volgende strofe voor:

 

“Waar is God in dié doodsbleek dae? Kyrie eleison!”

Sonder visum is Hy Italië toe om haweloses

op te spoor; Hy vind oral kreunende sterwendes

en doodsengele wie se vlerke oor kwylendes flapper,

al wat oorbly is die een doodloopstraat na die ander.

Het Hy sy rug op sy aardse ryk vol slyk gedraai?

 

Hoe kom dit dat jy as teoloog (en ek neem aan as gelowige) sulke gedigte kan skryf? Mag die leser hierin ‘n vorm van ongeloof lees, of ‘n suggestie dat God slegte dinge met goeie mense laat gebeur? Hoe sou jy gedigte soos dié (wat ook by herhaling in jou oeuvre voorkom) “verdedig”? Ek dink ook aan ‘n gedig soos “Die Here is nie my herder nie” – ek dink uit die afdruk van ons hande”?

 

CV: Die enkele gedigte wat uit Psalm 23 put, het elkeen ’n eie stem. Soms is dit ’n stem roepende in die woestyn! ’n Gedig is nie ’n stuk dogma of geloofsbelydenis nie.

Die Corona gedig is geskryf toe die krisis en vrees pas begin het. Dit is hoe talle mense gevoel en gereageer het. “Het God nie dalk sy rug op ons gedraai nie?” Nou is dit merkwaardig dat ons in die Psalm wat Psalm 23 voorafgaan die volgende woorde aantref: “My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie.” Ek het in die bundel ’n reeks van drie Jobgedigte geskryf. Die eerste gedig eindig soos volg: “Waar is jou Pa nou?

Marlies, jou vraag hoe dit dan gebeur dat slegte dinge met goeie mense gebeur?, is ’n boeiende en aktuele vraag. Dié vraag lei die gesprek na die teodiseevraagstuk. Die lyding wat mense tref, die ontploffing in Beiroet, die vernielsug in Amerika en Suid-Afrika, die lewensverlies van onskuldiges, natuurrampe, om net ‘n paar ellendes te noem, roep die teodiseevraag op: Hoe kan God dit toelaat?

Teodisee beteken letterlik “regverdiging van God”. Daar is verskeie pogings om die teodiseevraag op te los. Volgens die filosoof G.W. Leibniz, religieuse denker, het God in sy volmaaktheid die bes moontlike wêreld geskep, maar in feite is die wêreld onvolmaak. Vervolgens is daar die teodisee van die vrye wil. Voorts is daar ook die teodisee van die erfsonde wat die kwaad as straf vir sonde soos ’n epidemie oor die ganse wêreld versprei. Sedert die Verliging is die vraag hoe kan God toelaat dat die kwaad en rampe goeie deugdevolle mense tref? Job is “Elckerlijc”, sy lot kan elke mens tref. Ten slotte kan daar na die teodisee van vergelding verwys word.

Die laaste twee opmerkings het betrekking op my drie Jobgedigte. Die eerste gedig sluit met ‘n wanhoopsvraag: “Waar is jou Pa nou?” Die vriende het vir lewe en dood aan die vergeldingsteorie vasgeklem. Die formule van die vergeldingsteorie is:  Oortreding-straf-bely-vergifnis. My derde Jobgedig gee ’n heel ander insig. Lees dit asseblief maar self.

Dit deug nie meer om van immanent-transendent te praat nie. Ek en die internasionaal bekende en bekroonde teoloog Gerben Heitink verkies om die begrip immanent-transendent met die poreuse werklikheid te vervang. Ons het reeds uitvoerig hieroor geskryf.

Van Wyk Louw se worsteling met God in “Voorspel 1950”, ”sal ons u hele santekraam, Heer:”,“Die hond van God” het allermins met die teodiseevraagstuk te maak. ’n Ontroerende gedig oor God is Van Wyk Louw se “II. Ekstase.

 

MT: Cas, wat is jou gunstelinggedig uit Beskut teen vrese? Sal jy dit asseblief met ons deel.

 

CV: Met graagte, Marlies.

 

Bruid van Beiroet

4 Augustus 2020

Vir Coenie de Villiers

 

Die hemel het vir lieflike Israa Seblani

oopgegaan terwyl sy versier met ’n kant-

gewaad op die huweliksverbintenis wag.

Toe die skemer begin uitsak, verbeeld

’n video opname die glansryke oomblik.

Haar donker oë is vol liefde, haar are bruis

van opwinding en kleur haar wange rosig.

Haar liefsteling wag om liefde oor haar

te strooi, haar beker is oorlopens van geluk.

 

Uit die bloute is daar ’n ontploffing.

Dit is die ene hel, die plofslag blaas

haar ruiker weg en laat haar rok fladder,

beangs vlug sy en haar bruidegom weg.

Skokgolwe laat al wat leef angstig beef,

die aarde sidder, geboue stort in duie,

huise word tot geraamtes gestroop,

warm bloed vloei en dam tot poele op.

Gewondes word in ambulanse verpleeg

en asemloses laat lykswaens kreun.

 

Dit voel vir die bruid of sy in die puin

onder rommelhope begrawe gaan word.

Haar bruidsgewaad is vol stof en rook

en haar sluier lyk vuil en vervalle.

 

Die beeldskone gewaar die sterwende stad

met min hoop op oorlewing, alles is sat.

Haar Hippokratiese eed oorreed haar

om haar by die noodlydendes te skaar.

Sy buk langs hulle voor die dood se aangesig.

Haar hande is vol bloed en haar hart ontstig.

 

Sy sal opstaan en na haar beminde gaan

en na elders reis waar liefde nooit sal taan.

 

Marlies, baie dankie vir jou indringende en sinvolle vrae en vir die geleentheid om daarop te probeer antwoord.

 

MT: Cas, baie dankie vir jou insiggewende antwoorde wat die bundel toelig. Beskut teen vrese is beslis ‘n bundel wat op die rak van ernstige poësielesers behoort te pryk!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  •