Posts Tagged ‘Marlies Taljard resensie Pelgrimsverhale’

Resensie: Die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (vert. deur John Boje)

Thursday, January 7th, 2021

 

 

 

Die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer vert. deur John Boje. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020.

 

Resensie: Marlies Taljard

 

Wanneer `n mens met `n teks soos Die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer voor jou sit, `n teks waaraan die vertaler meer as 60 jaar gewerk het, is dit moeilik om die regte woorde te vind. Hoe begin `n mens? Hoe laat jy die boek in `n kort resensie tot sy reg kom? Die doel van `n resensie is nie om oor `n deeglike studie van `n literêre werk verslag te doen nie, maar om die leser te prikkel om self die werk aan te skaf en te lees. Dit sal ek hier in `n beperkte aantal woorde probeer doen.

Boje se vertaling van Chaucer se bekende Canterbury Tales is die mees volledige vertaling van dié teks wat in Afrikaans bestaan. Die ontstaansgeskiedenis, teoretiese verantwoording en filosofiese raamwerk wat die vertaling onderlê, kan gevind word in Boje se PhD-proefskrif wat by die volgende skakel beskikbaar is:

https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/74353/Boje_Save_2019.pdf?sequence=1&isAllowed=y

Volgens Boje is die doel van `n literêre vertaling “the removal of a text from its historical linguistic, literary and cultural context in order to recreate it in a different linguistic, literary and cultural context” (Boje, 2019:1). Dit kan maklik verstaan word dat `n Middeleeuse teks wat in Middelengels geskryf is binne `n streng Katolieke opset, moeilik getransponeer kan word na `n 21ste-eeuse Afrikaanse opset waarin die Protestantisme steeds `n belangrike rigtinggewende verwysingsraamwrk vorm. Oor dié netelige probleem berig Boje volledig in sy proefskrif. Volgens prof. Ilse Feinauer (op die agterflapteks) is een van die belangrikste bydraes wat hierdie vertaling lewer, dat dit die teks makliker verstaanbaar maak vir Afrikaanse studente wat dit moet lees. Sy wys ook op die waardevolle toegevoegde waarde in die vorm die parateks, wat belangrike verklarende voetnote bevat. Hierdie aspek van die boek plaas die vertaling, benewens sy literêre aard, ook binne die sfeer van akademiese navorsing.

Op `n eerste vlak van die leesproses het ek die “storie” soos dit in 441 kleingedrukte bladsye vertel word, besonder lesersvriendelik gevind. Die Canterbury Tales is oorspronklik in jambiese versvorm geskryf, hoofsaaklik in rymende koeplette. Boje sê in sy Voorwoord hy het so ver as moontlik by dié vorm probeer hou. Groot digters het hulleself al in die skande gesteek in `n poging om so `n teks te vertaal, aangesien dit `n vorm is wat byna bomenslike eise aan die digter/vertaler stel, veral in hierdie geval, gegewe die tekslengte. Boje wys egter daarop dat die metrum heeltyd op die agtergrond moet bly en nooit die natuurlike gesprekstoon mag oorheers nie (Boje, 2020:ix). Dit kry die vertaler besonder goed reg en ek wil hom van harte daarmee gelukwens. Ek haal ter stawing willekeurig aan uit die Kannuniksverhaal. Benewens die vertaler se bedrewenheid met rym- en ritmiese aspekte, blyk uit hierdie passasie ook in welke mate die vertaling in hedendaagse idiomatiese Afrikaans praat:

 

Van ’n heer kanunnik-regulier gaan ek

vertel wat ’n hele stad met die omtrek

van antieke Rome, Troje, Ninevé

en Aleksandrië, plus nog een of twee

met al sy swendelary sou kon besmet.

G’n skrywer op dees aarde, wil ek wed,

kan hom beskryf, al had hy ’n duisend jaar;

in valsheid was hy ongeëwenaar.

So ingewikkeld was sy redenasies,

versier met soveel slinkse fieterjasies;

met sy gladde tong was hy daartoe in staat

om enigeen ’n gat in die kop te praat,

tensy dié net so ’n duiwel was soos hy.

Hy het al baie om die bos gelei

en sal daarmee aanhou so lank as wat hy lewe.

Tog is daar dié wat hul myle ver begewe

ten einde hom te sien, met hom te praat,

onkundig van sy gruwelike kwaad.

Gun my die kans om daarvan te vertel;

ek sal dit alles aan die orde stel.

(Boje, 2020:381-282)

 

`n Woordelikse Afrikaanse vertaling van `n teks so kultuurvreemd soos die Canterbury Tales sou waarskynlik vir moderne lesers byna net so vreemd gewees het as die Middelengelse teks self. Hoewel die vertaler met so `n positiwistiese instelling begin vertaal het, moes hy sy vertaalstrategie egter in die loop van die vertaalproses dramaties aanpas. Hy skryf:

 

… even as I was translating, an epistemological revolution was taking place. I grew up in a world of apparent certainties, and when I first embarked on translating Chaucer, similar certainty prevailed also in relation to that task. I perceived my source text as an immutable datum, like an object in a laboratory, which I approached “objectively” with a view to rendering the units that comprised it, the words and phrases with their fixed meanings, by means of “equivalents” or, at any rate, approximations, sourced with the help of a bilingual dictionary (Boje, 2019:2-3).

 

Uitindelik het die outo-etnografiese metode, `n metode wat sterk ooreenstem met die Duitse filosoof Schleiermacher se insigte dat die gaping tussen die kultuur van lesers van die bronteks en lesers van die doelteks in ‘n vertaling verklein word, vir Boje die mees doeltreffende vertaalstrategie blyk te wees. Dit is `n strategie wat die vertaler noop om persoonlik by die leeshandeling betrokke te raak en om kwalitatiewe besluite oor sy vertaling te neem. Dit behels refleksie oor die teks, sy betekenis en toepaslikheid op die kultuur wat die doelteks in gedagte het. Uiteindelik is dit `n transformerende metode wat die teks toeganklik maak vir hedendaagse Afrikaanse lesers. Boje verdedig sy keuse van vertaalstrategie soos volg:

 

In keeping with these insights, I have adopted an autoethnographic method as described by H. Chang. This is a qualitative research method developed to supersede such totalizing metanarratives (the grands récits of Jean-François Lyotard) as the unification of knowledge and human liberation. Autoethnography is therefore premised on a self-reflective interrogation of experience, which uncovers multiple layers of identity to connect the personal and the cultural (Boje, 2019:4).

 

Tog verhoed hierdie metode nie dat die tipies Chauceriaanse elemente van die teks verlore gaan nie. Vervreemding (Verfremdung), `n term wat deur die Russiese Formaliste gebruik word (vgl. Viktor Shklovsky), behels die effek van vreemdmaking – die essensie van alle kuns ten einde die aandag op sekere aspekte van `n kunswerk te vestig. Boje volg myns insiens `n gebalanseerde strategie waarvolgens bepaalde elemente van die teks geakultureer word, maar ander aspekte hulle vreemdheid vir die Afrikaanse leser behou. Dikwels word dié vreemde elemente dan in voetnote verduidelik. Ek dink byvoorbeeld aan die gebruik van verouderde Afrikaanse woorde, ongewone sinskonstruksies, die blomryke styl waarin die Ridder byvoorbeeld sy verhaal vertel en aan bepaalde beskrywings van emosies wat tipies van die Middeleeuse Ridderlike styl is, byvoorbeeld die reaksie van Palamon toe hy die skone Emilie gewaar:

 

Dis nie gevangenskap wat my laat ly;

ek het eerder deur my oë seergekry

tot in my hart

– my doodsteek

’s dit voorwaar.

Die skoonheid van `n dame wat ek daar

onder in die tuin sien wandel het, Arkiet,

is die oorsaak van my trane en verdriet.

Ek weet nie of sy vrou is of godin,

maar Venus moet dit wees, dink ek my in.’

Toe sak hy op sy knieë neer en bid: ‘Venus, in die vorm van `n vrou het dit

vir jou behaag om aan my te

verskyn,

`n arme wese wat in wanhoop kwyn (…)

(Boje, 2020:26)

 

Die pragtige verhewe register van Afrikaans blyk uit hierdie en talryke ander teksdele – dit is `n register wat vandag nog deur weinig skrywers beheers word en waarin die vertaler iéts van die styl van die oorspronklike Chaucer-teks probeer weergee.

Aan die ander kant kom Chaucer se aardsheid en boertigheid, wat heerlik op die Afrikaanse tong lê, onder andere in die verhaal van die Meulenaar na vore, soos in die volgende passasie:

 

“Nou luister almal,” sê die Meulenaar.

“Eers lê ek dié erkent`nis aan jul voor:

ek weet ek’s dronk; aan my stem kan ek dit hoor;

en as my tong my in die steek sou laat,

verkwalik my nie: dis die bier wat praat.

`n Stigtelike storie kry jul nou

aangaande `n timmerman en dié se vrou;

hy’s horings opgesit deur `n student.”

Die Meier het geantwoord: “Kry tog end

met al jou gomtor-, dronk vuilpratery.

Dit is `n sonde, asook sotterny,

om mans te hoon met dié beswaddering

en vroue-eer in die gedrang te bring.

Daar’s baie ander goed om oor te praat.”

(Boje, 2020:69).

 

In 1990 word die Akademieprys vir Vertaalde werk aan John Bojé toegeken vir `n gedeeltelike vertaling van die Canterbury Tales wat hy later uitgebrei het en wat die Akademie in 2020 uitgegee het as Die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer. Die slotparagraaf van die kommendatio wat tydens die oorhandiging van die Akademieprys in 1990 gelewer is, is steeds van toepassing op Boje se volledige vertaling van die Canterbury Tales:

Met sy vertaling van Chaucer se Canterbury Tales toon John Boje dat hy teksgetrou én leesbaar kan vertaal. Chaucer praat inderdaad twintigste-eeuse Afrikaans sonder dat sy reis deur die eeue hom stroop van die kwaliteite wat hom een van die groot skrywers van alle tye maak (Boje, 2019:28).

Ek beveel hierdie vertaling aan vir een en almal wat `n liefde het vir klassieke tekste, enige iemand wat hom- of haarself verbly in die keurige gebruik van Afrikaans en enige iemand wat nog nooit die moed gehad het om Chaucer in Middelengels te lees nie. Chaucer se karakters, elk met ‘n eie tipies menslike identiteit, elk met sy foute, sy strewes en sy passies, spreek oor ses eeue heen deur hierdie vertaling op so ‘n wyse tot ons dat ons as moderne Afrikaanse lesers onsself steeds met hulle kan vereenselwig.

 

Bronverwysings:

Boje, J.G. 2019. “Save oure tonges difference”: Reflections on translating Chaucer’s Canterbury Tales into Afrikaans. Ongepubliseerde PhD-Proefskrif. Universiteit van Pretoria.

Boje, John. 2020. Die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.