Posts Tagged ‘Marlies Taljard’

Ek wou nog sê: Episode 1 – 14 Desember 2020

Saturday, December 12th, 2020

 

 

Episode 1 van Ek wou nog sê begin Maandagaand om 19:30 op VIA. Daar is ‘n heruitsending op 20 Desember om 22:00.

In hierdie episode voer Daniel Hugo onderhoude met Adriaan Bester van AVBOB, Marlies Taljard (inhoudsbestuurder van Versindaba en met die wenners van verlede jaar se AVBOB Poësiekompetisie in die afdeling vir Afrikaanse gedigte.  Joan Hambidge resenseer Tussenganger van Marius Crous.

 

‘n Voorskou van die nuwe Ek wou nog sê … reeks kan by die volgende skakel gesien word:

 

 

’n Woordkunswerk in eie reg sonder die beitelmerke van die vertaler

Thursday, December 10th, 2020

 

 

 

Marlies Taljard gesels met De Waal Venter oor sy vertaling van Tranströmer, Alles keer om.

 

Marlies Taljard: De Waal, ek het pas jou pragtig versorgde bundel Alles keer om ontvang wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee is. Baie geluk met ‘n waarlik indrukwekkende vertaling van die digter Tomas Tranströmer se werk, ‘n Sweedse digter wat hoofsaaklik deur jou vertalings op Versindaba, en nou deur hierdie bundel, aan die Afrikaanse leserspubliek bekendgestel word. Dankie dat jy ingestem het tot ‘n gesprek op Versindaba oor dié reuse onderneming én oor jou vertaalfilosofie.

De Waal, Om watter rede sal ’n digter tipies ’n gedig vertaal?

 

De Waal Venter: Daar is seker ’n hele paar redes waarom iemand sal besluit om ’n gedig te vertaal. Natuurlik is alle vertalers nie digters nie. En wanneer ’n digter vertaal, is daar geen waarborg dat hy noodwendig goed sal vertaal nie.

Eerstens dus: die gedig in die brontaal vind aanklank by die vertaler. Die gedig spreek tot hom, ontroer en verruim sy geestelike lewe. Die vertaler voel die drang om hierdie besonderse taalkunswerk ook in sy moedertaal te kan lees en geniet. As daar nie ’n ander vertaling bestaan nie (of een wat nie bevredig nie!) moet hy self die taak onderneem.

Die volgende gedig van Tomas Transtromer is ’n voorbeeld hiervan.

 

Ansikte mot ansikte

 I februari stod levander still.

Fåglarna flög inte gärna och själen

skavde mot landskapet så som en båt

 

Van aangesig tot aangesig

In Februarie het die lewe tot stilstand gekom.

Voëls was traag om te vlieg, en die siel
het teen die landskap geskuur soos ‘n boot

teen die brug waaraan dit vasgemeer is.

Bome het gestaan met weggedraaide rûe.

Sneeudiepte is gemeet aan dooie gras.

Voetspore het oud geword in die sneeukors.

 Onder ‘n seil, vervagende taal.

Op ‘n dag kom iets na die venster.

Werk word gestaak, ek kyk op.

Kleure brand, alles keer om.
Die grond en ek spring na mekaar.

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

 

Die tweede laaste reël van die gedig lewer die titel van die bundel op: “Alles keer om”. Dit is moontlik die mees tiperende eienskap van Tranströmer se oeuvre. Hierdie ervaring, soos in die gedig beskryf, kan verstaan word as ’n tipe epifanie. Meteens word “gewone” dinge vir die leser anders en wonderlik. Dit bring ’n nuwe besef en waardering vir aspekte van die werklikheid waarin jy jou bevind.

Verder is daar die heerlik vars en verrassende metafore wat die Sweedse digter gebruik: “die siel het teen die landskap geskuur soos ’n boot”. En: “Bome het gestaan met weggedraaide rûe.”

Die helderheid en oënskynlike eenvoud van die poësie wat in werklikheid geweldige diepgang het, bekoor my en vind aanklank by my. Ek wou, toe ek vir die eerste keer kennis gemaak het met Tranströmer se werk, baie graag dit ook oopmaak vir Afrikaanse lesers. En in 2011 het ek dus begin vertaal.

 

MT: Hoe gaan jy te werk wanneer jy gedigte uit ander tale in Afrikaans vertaal?

 

DWV: Eerstens moet mens die brongedig natuurlik verstaan en dit waardeer as ’n woordkunswerk wat verdien om ’n wyer leserskring te hê. Dit gedaan, begin die vertaalproses.

Ek weet van vertalers wat eers ’n taamlik letterlike vertaling maak en dit dan verder verfyn. Albei weergawes word gepubliseer. Dit doen ek nie. Die proses om die gedig in verstaanbare Afrikaans om te sit, gebeur hoofsaaklik in my kop. Wat ek neerskryf, is so na as moontlik aan die eindproduk. Maar dan hersien ek die vertaling, soms dae later, en bring verdere verfynings aan.

Vir ’n vertaler in ons tyd is daar baie hulpmiddels. Dit wissel van tradisionele woordeboeke tot elektroniese hulpmiddele. Masjienvertalings is geredelik beskikbaar en dit kan gebruik word as ’n basis waarvandaan jy verder kan werk.

Dan vind ek dit baie nuttig om ander vertalers se weergawes te lees en te sien hoe hulle die gedig benader het. In die geval van die Tranströmer-gedigte het ek veral Bernlef se Nederlandse vertalings nuttig gevind. Maar ook Franse en Duitse, asook Engelse vertalings het nuttige insigte gebied.

Uiteindelik dan, wanneer ek die finale weergawe afrond, is my mikpunt om ’n woordkunswerk in eie reg daar te stel, ’n gedig wat op sy eie bene kan staan en sonder die beitelmerke van die vertaler aangebied word.

  

MT: Watter digters se werk vertaal jy by voorkeur en hoekom juis dié digters?

 

DWV: Party Europese tale is vir my toeganklik en ek beperk my vertaalwerk tot daardie tale. Die Spaanse digter en Nobelpryswenner, Pablo Neruda, was my eerste keuse omdat sy geweldige groot oeuvre ’n ryk verskeidenheid van vernuwende en meesleurende gedigte bevat. Hy is ook, waarskynlik in Engelse vertaling, bekend en gewild in Suid-Afrika.

Die tweede groot vertaaltaak het uitgeloop op die gepubliseerde Tranströmer-vertalings. Hy is minder bekend in Suid-Afrika, maar na my mening (en dié van die Sweedse Nobelpryskomitee!) is hy een van die grootste digters van ons tyd.

Ek vertaal ook graag gedigte van Fernando Pessoa, die Portugese digter wat sy opleiding hoofsaaklik in Suid-Afrika ondergaan het. Hy is veral bekend vir die “heteronieme” wat hy geskep het – name wat hy gegee het aan poësie wat hy in verskeie uiteenlopende en selfs teenstellende style geskryf het.

Verder het ek ’n handvol van Cesar Vallejo (Spaans) se gedigte vertaal en dan ’n klompie van die baie interessante Franse digter Jacques Roubaud wie se gedigte wissel van kinderlike eenvoud tot matematiese verwikkeldheid.

Hier is ’n voorbeeld van een van sy nogal guitige gedigte oor die digkuns.

 

Art poétique

Jacques Roubaud

 

              Ce que disait le poème, je l’ai oublié

              Jai su ce que disait ce poème, mais je lai oublié

              Le poème disait cela, mais cela que disait le poème, je

              l’ai oublié

 

Digkuns

 

Dit wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Ek het geweet wat die gedig gesê het, maar ek het vergeet

Die gedig het dit gesê, maar dit wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Dat die gedig dit gesê het, is dit wat die gedig gesê het? As dit is wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Miskien, sonder om te weet wat die gedig gesê het, toe ek die gedig gesê het, (op die oomblik toe ek die gedig gesê het), het ek dit al klaar vergeet

maar as dit is wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Jy sien, wanneer ek die gedig sê, weet ek nie dat ek die gedig sê nie,

want wat die gedig gesê het, het ek vergeet

Dit is waarom dit wat die gedig sê, nie regtig is wat die gedig gesê het nie

en dit het ek vergeet

Uit Frans vertaal deur De Waal Venter

 

Ek hou ook van ’n paar van die jonger Spaanse (Spanje, nie Suid-Amerika nie) digters: Coral Bracho, en David Huerta byvoorbeeld, asook die Franse digter Claude Esteban.

Tans is ek besig om te werk aan gedigte van die Meksikaanse digter, Octavio Paz, met die oog daarop om dit as ’n bundel te publiseer.

Ek vertaal nie uit Nederlands en Duits nie omdat daar talle knap vertalers is wat uit hierdie tale in Afrikaans vertaal. Ek probeer eerder om Afrikaanse lesers toegang te gee tot die ander tale wat minder in Afrikaans weergegee word.

 

MT: Vertaal jy graag die oorspronklike gedig uit die oorspronklik taal – hoekom?

 

 DWV: Ek vertaal altyd uit die oorspronklike taal omdat ek die gedig so getrou moontlik wil herskep en nie ’n herskepping wil herskep nie.

Indien ’n gedig in, sê nou maar Engels, vertaal word, kry die gedig gestalte wat nie presies dieselfde kan wees as die oorspronklike gedig nie. Wanneer ’n ander vertaler dus hierdie vertaling vertaal, is die eindresultaat onvermydelik nog verder verwyder van die oorspronklike gedig – woordkeuses, atmosfeeer, verwewing van betekenisse en idees, subtiliteite, ens. skuif al hoe verder weg. Vertalers kan selfs foute begaan. Hier is ’n voorbeeld:

In Pablo Neruda se meesleurende gedig uit “Canto General” met die titel: “Algunas Bestias” (deur my vertaal as “’n Klompie gediertes”) kom die reël voor:

 

“el hormiguero monacal pisaba

con melodioso pie la selva”

 

’n Engelse vertaler het dit weergegee as: ”the monastic ant-heap was melodiously

teeming in the undergrowth,”

 

My vertaling is:

 

“die monnikagtige miervreter

het met musikale voete deur die oerwoud gestap”

 

Die woord “hormiguero” kan wel vertaal word as “miershoop”. Maar ’n miershoop wat in die oerwoud met musikale voete rondloop, het nie vir my sin gemaak nie. Ek het kopgekrap en uiteindelik besef dat Neruda kortpad gekies het. Na my mening het hy “oso hormigeuro” bedoel, wat “miervreter” beteken. Die Engelse vertaler het gemeen dat hy by die letterlike “miershoop” moes bly.

 

 MT: Hoe behoort mens ‘n vertaalde gedig te evalueer? Moet dit byvoorbeeld woordeliks korrek wees?

 

DWV: Hierbo het ek al heelwat gesê oor hoe ’n gedig na my mening vertaal behoort te word. Ek dink só daaraan: stel jou ’n glyskaal voor. Aan die een kant is daar die letterlike vertaling. Dit is soos vertalers van politieke toesprake probeer vertaal sodat elke woord se presiese betekenis weergegee word, sonder enige poing om die toespraak oratories aantreklik aan te bied. Aan die ander kant is daar die vertaler wat so vrylik vertaal dat dit min ooreenkoms toon met die oorspronklike. Die vertaler het die oorspronklike gedig gebruik as basis om iets heel anders te skep.

Ek dink ’n vertaalde gedig behoort êrens tussenin te lê op hierdie glyskaal. Dit moet nie styf letterlik vertaal wees nie en ook nie so wild weg van die oorspronklike dat die oorspronklike nie meer daarin herken kan word nie.

En dan moet die vertaling ook geëvalueer word met die kriteria waarvolgens enige gedig beskou word: oorspronklikheid, trefkrag, klankrykheid, betekenis, ens.

 

MT: Watter wenke kan jy vir beginner-vertalers gee?

 

DWV: Eerstens moet jy jouself vergewis van al die beskikbare hulpmiddels. Dit wissel van masjienvertalers (Google Translate e.a) tot woordeboeke en webruimtes waar gedigte bespreek en verklaar word. Daar is ook talle blogs bedryf deur gewone lesers en waar jy menings kan kry – natuurlik moet jy nie alles vir soetkoek opeet nie! Enigiemand kan feitlik enigiets kwytraak in die elektroniese media en mens moet jou goeie oordeel gebruik.

Tweedens moet jy soek na vertalings in enige ander taal of tale wat jy ken. Dit is baie waardevol om ’n vertaler in ’n ander taal se poging met joune te vergelyk.

Derdens moet jy die vertaalkunde navors indien jy nie reeds ’n akademiese kursus volg nie. Vertaalkunde het veral vanaf die sestigerjare van die vorige eeu die status begin kry van ’n gerespekteerde en waardevolle dissipline. Veral die taalnavorser André Lefevere het baie gedoen om vertaalkunde stewig te vestig. Hy het ’n paar boeke die lig laat sien wat sy idees en metodes baie goed toelig.

En, anders as met die skryf van ’n gedig wat meesal in een sessie geskryf word, hoef ’n vertaler dit nie te doen nie. Jy kan ’n ent ver vertaal en dan later weer terugkom en verder gaan. Die oorspronklike gedig is daar op papier en sal nie verdamp soos jou inspirasie wel kan wanneer jy self ’n gedig skryf nie.

einde

 

Marlies Taljard. Apokalips, gelykmaking, heronderhandeling en versoening

Sunday, December 6th, 2020

 

 

 

In hierdie artikel herbesoek ek ‘n gedig en temas wat daaruit voortspruit waaroor ek reeds vantevore geskryf het, maar wat in die Jaar van die Virus weer relevant geword het. Toe Corona-19 uitgebreek het, is wêreldwyd in die media oor verskeie apokaliptiese moontlikhede bespiegel, en selfs vandag is dit nog nie duidelik wat die uiteindelike effek van die virus op die aarde en haar bevolking gaan wees nie. Die gedig “klaaglied” uit Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie het die Rwandese burgeroorlog as tema – ‘n meer skrikwekkende apokalips kan mens jouself eintlik beswaarlik voorstel. Tog verval die digter nie in wanhoop nie, maar, soos ek sal aantoon, kom verskeie positiewe aspekte in dié skrikwekkende gedig aan die lig. Hoewel die psigoanalise in moderne tye nie meer in die sielkundige praktyk gebruik word nie, bied dit steeds verruimende interpretasiemoontlikhede vir literêre tekste, soos uit die artikel sal blyk.

 

klaaglied

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die dood   die kappende, dolwende dood

(daar’s gister en môre, maar nou is ondraaglik)

deur voetsool en kraakbeen druis dood deur die donker

dis die gouddonker hart van Rwanda

op ‘n godlose dag in April

 

die lank ingehoue skreeu skreeu

 

uit vrees, uit waansin, uit skuimende angs

val gekaptes in omhelsings van bloed

‘n ma met ‘n kind aan haar pelvis gekap

‘n ligpienk panty in die femur gekerf

oor ‘n vlerkdun skapula druip ‘n stringetjie krale

‘n baba tot turksvymoes in ‘n vysel gekap

elke ledemaat wéér

elke tong draai weg

elke arm ontdek alleen haar stilte

 

net die dood alleen weet

dat die hand van ‘n broer dodeliker

regeer as die dodelikste maaier deur God bedink

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die kappende, dolwende, snuiwende dood

(daar’s gister en môre, maar nóú is ondraaglik)

in die gouddonker hart van Rwanda

– (die skitterswart hart van almal)

kap ‘n panga die tande dwars in sy gesig

kloof ‘n panga haar vagina tot ravyn

skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui

die heuwels word wakker in ‘n droesem van bloed

en die onwelvoeglike spektakel van been

 

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse

koffie, avokado, heuning, honde

‘n uitspansel kraaie word gevoed met bloed

die dood draf voort in my skoene

driehonderd en dertig dooies per uur

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf-draf die dûende, dorstige, dom dik dood

(daar’s gister en môre, maar vandag is ondraaglik)

kyk hoe verkneukel die dood hom in fyn stiksels harspan

vermurwende neusbeen   uitspattige tande

lip en tong en oog en hart

is nóóit mensblywend genoeg om te duur nie

 

geruisloos maaier die hart van Rwanda

die skitterswart hart van almal

(gister en môre stort weg in die nou)

die uitgepakte mummifiserende lyke

is nie meer man of vrou of swart of wit

is net onafwendbaar

onontwarbaar

mensloos mens

geslag deur die hande van dié wat reeds dood is

 

ons is Rwanda

ons ís onvermybaar

 

in die dood het jy jou hart verloor

die gouddonker hart van Rwanda

die swart skitterhart van ons

(Kigali/Butare, Junie 2000) (77-78: Waar slegs ‘n getal tussen hakies verskyn, word verwys na Krog 2000.)

 

Die simboliese onthegtingsproses van die moeder en daaropvolgende identifikasie met die vader word in ‘n psigoanalitiese raamwerk soos dié waarin Julia Kristeva skryf, beskou as een van die belangrikste identiteitskeppende prosesse in menslike ontwikkeling. Vir Kristeva lê die basis van die onthegtingsproses waarin die kind ‘n eie identiteit konstrueer, in die verwerping van die liggaam van die moeder deur die kind in sy pre-simboliese fase (Lacan se term). Ofskoon ‘n normale kind dikwels sy hele lewe lank ‘n sterk geestelike band met sy/haar moeder behou, behels dié liefde nie liggaamlike kontak in die sin dat die kind hom-/haarself as deel van die moeder se liggaam beskou nie. Dit beteken dat die liggaam van die moeder vir die kind op metaforiese vlak afstootlik word:

 

… the symbolic is not, of its own accord, strong enough to ensure separation; it depends on the mother becoming abjected. The abject would thus be the “object” of primal repression (Lechte, 1990:159).

 

In die psigoanalise word groot waarde geheg aan die openbaarmaking of belydenis van die afskuwelike of, soos Kristeva dit noem, die abjekte:

 

But precisely ‘what is the point of emphasizing the horror of being?’ The short answer is that the control exerted by horror – the abject – can only be the greater if it remains hidden, unknown – unanalysed … Through a refusal to confront the abject, therefore, a fundamental aspect of individual and social life remains in oblivion, and our understanding and capacity to cope are thereby greatly diminished (Lechte, 1990:158).

 

Begeerte na die moeder se liggaam kan gesien word as die basiese taboe, soos dit ook vergestalt word in die Oedipus-mite. Kristeva vergelyk die noodsaaklikheid van die formulering van die abjekte met die verswyging van taboes binne ‘n gemeenskap. Sodra openhartig oor taboes gepraat kan word, kan letsels wat as gevolg daarvan ontstaan het, begin genees. Dit is insiggewend dat sy die terapeutiese be-skrywing van die abjekte spesifiek beskou as die taak en die opdrag van die kunstenaar en die skrywer (Smith, 1998:39).

Die inkantiewe oproep van die abjekte in gedig na gedig vorm in Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie ‘n belangrike stap in die proses van versoening. Verskeie gedigte in die twee siklusse “dagboeke uit die begin van die twintigste eeu” en “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” uit Afdeling 2 van die bundel, kan, vanweë die grusame aard van die gegewe, beskou word as gedigte waarin terapeuties oor die abjekte gepraat word.

Die gedig “klaaglied”, die eerste gedig van die laaste afdeling, “bindweefsel”, is egter beslis dié gedig in die bundel waarin die mees eksplisiete beskrywing van die afskuwelike en weersinwekkende voorkom. Die beskrywing van gruwelike verminking van veral vroue en kinders tydens die burgeroorlog in Rwanda geskied met ‘n byna obsessiewe beheptheid met wreedaardige detail wat die grense van menslikheid en welvoeglikheid oorskry.

Die gedig met sy apokaliptiese trekke vertoon sterk ooreenkoms met die karnavaleske hiperrealistiese werk van na-oorlogse Europese skrywers en digters, maar dit vertoon ook duidelike ooreenkoms met wat Kristeva in haar bespreking van Céline se werk die “apokaliptiese lag” noem:

 

… Céline’s writing ‘speaks’ horror. It brings it into view in carnavalesque fashion, and reveals the other repressed face of human existence – the one with a direct line back to the mother who gives life, but also death, who thus wrecks ‘the infinite’. In this sense Céline writes beyond the symbolic: the evil which he shows and embodies is not moral, that is to say philosophical evil; it is rather barely symbolizable apocalyptic evil. Céline, says Kristeva, is inside horror desperately striving to give it a name – to speak it (Lechte, 1990:165).

 

Openhartigheid oor die afskuwelike/abjekte maak dit moontlik om die trauma te begin verwerk. Onderdrukking gee aanleiding tot groter trauma, maar ‘n bepaalde soort “lag” – apokaliptiese lag – in die aanskyn van onrepresenteerbare gruwel, bring bevryding.

Die gedig “klaaglied” (77-78) begin met ‘n apokaliptiese refrein wat (met variasies) in totaal vier maal in die gedig herhaal word:

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die dood   die kappende, dolwende dood

(daar’s gister en môre, maar nou is ondraaglik) (77).

 

Hierdie refrein met sy d-assonansie herinner aan Germaanse towerspreuke in stafrym (Krell & Fiedler, 1968:4-5). Die herhaling van die d- en p-klanke in ritmiese reëlmaat wat die klank naboots waarmee ‘n panga ‘n liggaam tref, is ‘n bindende faktor dwarsdeur die gedig en lê op paradigmatiese vlak klankmatige relasies tussen belangrike woorde wat op vernietiging dui, soos “dood”, “donker”, “draf”, “bloed”, “beendere”, “dûende”, “dorstige”, “dom”, “dik”, “ondraaglik”, “kap”, “panga”.

Die karnavaleske aard van die gedig lê in die personifiëring van die dood as apokaliptiese figuur wat die Wet van God parodieer en die ander kant van die menslike natuur ontbloot wanneer hy die goddelike gebod vernietig en ‘n eie wetmatigheid van vernietiging en verskrikking skep waardeur God, alle outoriteit en sosiale norme uitgedaag word (Kristeva, 1987 (b):41-49). Die metafoor “geruisloos draf die dood …”, waarin die dood metafories as ‘n “drawwende” gedaante voorgestel word, roep beelde op van Middeleeuse voorstellings van die dood wat met sy sens oor die aarde loop en mense afmaai. Dié beeld van die dood as wrekende figuur word versterk deur terme soos “kappende”, “dorstige”, “dom” en “dik” wat as attribute saam met “dood” gebruik word, maar ook meer eksplisiet deur reëls soos “kyk hoe verkneukel die dood hom in fyn stiksels harspan” (78). Die dood as vernietiger van menswees word egter die beste geïllustreer deur die groot gelykmakings- en ontmenslikingsproses wat in die dood plaasvind:

 

die uitgepakte mummifiserende lyke

is nie meer man of vrou of swart of wit

is net onafwendbaar

ontontwarbaar

mensloos mens

geslag deur die hande van dié wat reeds dood is (78).

 

Die implikasie van hierdie reëls, naamlik dat harmonie tussen swart en wit, tussen man en vrou eintlik slegs in die dood moontlik is, laat ‘n mens sidder. Die slotsom “lip en tong en oog en hart / is nóóit mensblywend genoeg om te duur nie” (strofe 7) sluit hierby aan met sy troostelose suggestie dat alle lewe vir die dood bestem is, ‘n lewensingesteldheid wat sterk herinner aan Eugéne Marais se bekende refrein uit “Skoppensboer”:

 

Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag

is Skoppensboer.

(Marais, Eugéne, in: Brink, André P., 2000:30).

 

Die gedig “klaaglied” steun sterk op herhaling: eerstens in die vorm van alliterasie en assonansie, maar ook herhaling van woorde en verwante frases, soos:

 

elke ledemaat wéér

elke tong draai weg

elke arm ontdek alleen haar stilte (77).

 

In hierdie aanhaling versterk die oordrywing “elke” wat “ledemaat”, “tong” en “arm” bepaal, die totale gebrek aan beskrywende woorde om die gruwel te representeer. Opeenstapeling van weersinwekkende beelde elders in die gedig laat iets van die apokaliptiese lag, wat Kristeva as stylkenmerk van Céline eien, weerklink – die wellus van die beskrywing van naakte gruwel:

 

‘n ma met ‘n kind aan haar pelvis gekap

‘n ligpienk panty in die femur gekerf

oor ‘n vlerkdun skapula druip ‘n stringetjie krale (77).

Hierdie sintaktiese konstruksie word in strofe 5 herhaal met ewe gruwelike detail:

in die gouddonker hart van Rwanda

kap ‘n panga die tande dwars in sy gesig

kloof ‘n panga haar vagina tot ravyn

skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui

die heuwels word wakker in ‘n droesem van bloed

en die onwelvoeglike spektakel van been (77).

En in strofe 6 nog ‘n maal:

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse

koffie, avokado, heuning, honde

‘n uitspansel kraaie word gevoed met bloed (78).

 

Ironie vorm in hierdie gedeeltes die basis van die weersinwekkendheid wat daaruit spreek – die skreiende kontras tussen die normale betekenis van woorde en die gruwelike verband waarin dit hier gebruik word. Let byvoorbeeld op die ironiese relasie wat tot stand kom deur die klankmatige ooreenkoms tussen “skapula” en “kap”, of op die ironie van ‘n stringetjie krale wat “druip” oor die skapula van ‘n kind wat na alle waarskynlikheid reeds dood is. Die vergelyking “skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui” is niks anders nie as ‘n onwelvoeglike oortreding van beskaafde sosiale norme. Dit is trouens opmerklik hoe dikwels die beskrywing van lyke en verminking geskied in kos-terminologie: “‘n ligpienk panty in die femur gekerf“, “‘n baba tot turksvymoes in ‘n vysel gekap“, “skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui“, “koffie, avokado, heuning … word gevoed met bloed” (my kursivering – MT). Hierdie stylkenmerk word trouens ook deur Kristeva verbind met die karnavaleske wat dikwels gekenmerk word deur opposisies soos “high and low, birth and agony, food and excrement, praise and curses, laughter and tears” (Kristeva, 1987:49) wat ook omruiling van magsposisies impliseer.

Die gedig “klaaglied” maak veelvuldig gebruik van klankmatige en sintaktiese herhaling en refrein. In ‘n frase soos “geruisloos draf die dood deur die donker / draf die dood   die kappende, dolwende dood” sou ‘n mens op ‘n transsintaktiese vlak in die herhalende donker o-vokaal ‘n argetipiese weeklag kon hoor en  in die plofklanke d, p en k die nabootsing van die geluid waarmee ‘n panga ‘n liggaam tref. Die transsintaktiese inskripsie van emosie wat geleë is in die ritme en intonasie, die sterk inkantiewe, melodiese inslag van die gedig as geheel en die uitdagende eise wat aan die sintaksis gestel word, aktiveer in hierdie gedig die semiotiese vlak van taal.

Semiotiese betekenis steun veral op die meerduidigheid of polisemie van die woord soos vervat in die konsep van zero-twee-logika, wat deur die wiskundige Dedekind uiteengesit word. Waar die relasie 0-1 in die wiskunde normaalweg dui op die verskil tussen “waar” en “vals”, dui die relasie 0-2 op die subtiele meerdimensionele en onbepaalde aspek van ‘n relasie waar die terme “waar” en “vals” nie die relasie bevredigend kan beskryf nie. Kristeva gebruik dié begrip om ambivalensie in poëtiese taal te beskryf. Ook in poëtiese taal is dit nie belangrik of ‘n bepaalde uiting “waar” of “vals” is nie, maar gaan dit veral om die verhouding tussen die woorde, konsepte of dinge waarvan die gedig “praat” (Lechte, 1990:113).

Op die vlak van die bundel vertoon die gedig onder bespreking sterk ooreenkoms met  onder andere die gedigsiklus “land van genade en verdriet” (37-44) uit die tweede afdeling van die bundel, sowel wat betref die woordgebruik, metaforiek én die strekking. Die opvatting dat die mens bestem is vir die dood, word veral in die vierde gedig van die siklus geïllustreer deur die aanvangstrofe:

 

ons dra die dood

in duisend klowende gedaantes

drummelend

droef

dra ons die dood (39)

 

In dié gedig word die dood simbolies van die beroulose houding en die versteurde sosiale verhoudinge binne ons land, soos blyk uit die slotstrofe van die vierde gedig in “land van genade en verdriet”:

 

die dood klap sy beroulose kleppe in ons taal

ja, die onverdrote deeglike dood (39)

 

Sodoende word die web van die bundel verdig en word verbande gelê, nie slegs tussen gedigte onderling nie, maar ook die onderlinge verband tussen ons eie situasie en die situasie elders in Afrika word vrugbaar ontgin. Op die abstrakte vlak word skokkende verbande blootgelê tussen die wreedhede van ‘n burgeroorlog in Rwanda en die onverdraagsaamheid wat heers tussen burgers van hierdie land.

Ofskoon die gedig “klaaglied” duidelik die Rwandese burgeroorlog as basiese gegewe het, soos ook blyk uit die datering van die digter aan die einde van die gedig: (Kigali/Butare, Junie 2000), is daar tog duidelike aanduidings dat die gedig ook op ‘n meer universele vlak gelees moet word. Die tweede strofe van die gedig, wat uit ‘n enkele reël bestaan, “die lank ingehoue skreeu skreeu”, het heel waarskynlik Edvard Munch se bekende skildery “Die Skree” as interteks. Ook Picasso se “Guernica” (1936), die skildery wat die Spaanse Burgeroorlog uitbeeld en waarin die skreeuende perd en die wenende moeder die sentrale gegewe vorm, word deur dié apokaliptiese reël opgeroep. Hierdie twee intertekste verbind die gedig aan universele wanhoop en aan oorloë en hulle verskrikking oral ter wêreld as universele gegewe.

Die verwysing na “beendere” roep weer die gedig “roofsonnet”, een van die sentrale gedigte in die bundel, op:

 

littekens kom oral voor behalwe in been

as skelet bly ons die langste mens

daar waar ons dieselfde is, gaan ons die moeilikste tot niet (31).

 

Die boodskap wat uit dié gedig spreek, is een van hoop en versoening. Dit is ‘n gedig wat klem lê op ooreenkomste tussen mense ten spyte van verskille in velkleur of politieke oriëntasie. Die teenstrydige aanname dat ‘n mens as skelet die langste mens bly, dui onder andere daarop hoe moeilik dit is om menslikheid “tot niet” te maak.

Verder verwys strofe 6 waarskynlik intertekstueel na D.J. Opperman se bekende gedig “Gebed om die Gebeente”. Vergelyk Krog se:

 

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse (79)

 

met die slotreëls van Opperman se gedig:

 

Maar soveel beendere lê onder die roosmaryn …

Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd –

ek ken as moeder ná ‘n halwe eeu van pyn:

een land vol skedels en gebeente, een groot graf

waaroor u noordewind die droë dissel waai

en spruit en krans vul met die afloskrete van

die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai

– dat ons as een groot nasie in dié grammadoelas

met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,

en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas

ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

(Opperman, D.J. in Brink, André P, 2000:249)

 

Ooreenkoms tussen Krog en Opperman se gedigte is egter nie beperk tot die beeldmateriaal alleen nie. Ook in die tema van versoening tussen die verskillende rassegroeperinge in hierdie land wat in sowel Opperman se “Gebed om die Gebeente” asook in Krog se bundel as geheel die tema vorm, lê ‘n belangrike ooreenkoms opgesluit. Die tema van versoening wat uit Opperman se gedig spreek, spreek dus ook implisiet in die Krog-gedig mee.

Die ooreenkoms met ‘n teks soos Esegiël 37, wat trouens ook ‘n interteks vir Opperman se gedig is, val eweneens in Krog se gedig op. Dié gedeelte handel oor ‘n gesig wat die profeet Esegiël gesien het:

 

Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

Toe vra die Here vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe. Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

(…)

Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor … So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe …”

(Esegiël 37: 1b-6; 11-12).

 

Die saamlees van bogenoemde twee tekste met die gedig “klaaglied”, bied ‘n verruimende positiewe perspektief op ‘n oënskynlik uitsiglose gegewe. Die boodskap van versoening tussen strydende politieke groeperinge en die belofte van heropstanding en nuwe lewe kan, saamgelees met groot dele van die bundel Kleur kom nooit alleen nie, gesien word as deel van die versoeningsproses wat een van die sentrale bundelgegewens is.

Maar ook die slotreël van die gedig: “die swart skitterhart van ons”, soos gekontrasteer met die reël “die skitterswart hart van almal” wat in strofes 5 en 8 voorkom, dui op ‘n verruiming van insig. In ‘n woord soos “skitterswart” is “swart” (in sy negatiewe konnotasie waarskynlik, as “skitterend in sy swartheid”) die kernwoord. Veral as dit saamgelees word met die frase “die gouddonker hart van Rwanda” in die vorige reël is daar motivering om “swart skitterhart” as negatiewe beskrywing te ervaar.  Daarteenoor is “hart” (slotreël) die kernwoord in “skitterhart” (skitterende hart). Die woord “skitterhart” dra besliste positiewe betekenis, soos in “skitterskoon”/”skitterblink”, ens. Die persoonlike voornaamwoord “ons” in kombinaie met “skitterhart” dui op insluiting, in teenstelling met die woord “almal” (verwysend na die gesiglose massa) in kombinasie met “skitterswart”.

Die beswerende funksie van die teks waardeur die abjekte na die oppervlakte gebring word, korreleer op teoretiese vlak met psigoanalitiese praktyke waardeur die psigose uit verdringing opgediep word om dit te kan hanteer. Psigoanalise berus op die aanname dat rou en medelye, skuld en vergiffenis eers moontlik is met kennis en konfrontasie.

Dit is bepaald betekenisvol dat Krog nie in die apokaliptiese en afgryslike bly vassteek nie, maar dit transendeer deur steeds die positiewe te laat deurskemer – sy dit dan ook slegs deur indirekte intertekstuele verwysing. Hierin kan ‘n besliste vereenselwiging met die vrou-figuur as draer van lewe gesien word in teenstelling tot die na-oorlogse Europese digkuns wat dikwels in vertwyfeling en wanhoop bly vassteek in ‘n uitsiglose toekomsperspektief.

 

Bronverwysings:

BRINK, André P. (Oorspronklik saamgestel deur Opperman, D.J.). 2000. Groot Verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

BYBEL. 1989. Verklarende Bybel (1983-vertaling). Kaapstad: Lux Verbi.

KRELL, Leo & Fiedler, Leonhard 1968: Deutsche Literaturgeschichte. Bamberg: C.C. Buchners Verlag.

KRISTEVA, Julia.  1980.  Desire in Language: a semiotic approach to literature and art. Thomas Gora, Alice Jardin & Leon S.  Roudiez (trans.)  New York: Columbia University Press.

KRISTEVA, Julia. 1987. Word, Dialogue and Novel. Alice Jardine, Thomas Gora & Léon S. Roudiez (trans.) In: Moi, Toril (Ed.). 1987. The Kristeva Reader. Oxford: Basil Blackwell.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

LECHTE, John. 1990. Julia Kristeva. London: Routledge.

SMITH, Anne-Marie, 1998: Julia Kristeva: Speaking the unspeakable. London: Pluto Press.

 

Marlise Joubert. Aankondiging: nuwe Inhoudsbestuurder vir Versindaba.

Thursday, August 1st, 2019

Marlies Taljard

Aankondiging: nuwe Inhoudsbestuurder vir Versindaba.

Versindaba het einde April vanjaar sy tiende verjaarsdag gevier!

Om as webmeester hierdie inisiatief (wat aanvanklik ook jaarlikse poësiefeeste aangebied het) te bestuur op verskillende vlakke, was nie net ʼn enorme voorreg nie, maar een van die mees bevredigende denkbaar. Boonop is ek beloon met entoesiasme en ondersteuning, met goeie vriendskappe, wonderlike bydraes en welwillendheid deur ons lesers, digters, akademici en borgskappe. ʼn Kollektiewe onderneming gewis.

Maar soos met alle goeie dinge kom daar ’n tyd om ook afstand te doen van jou skip en dit te oorhandig aan iemand anders; júís om nuwe hande aan boord te kry, maar ook om met nuwe idees en werkywer voort te bou aan hierdie interaktiewe webblad sodat dit voort kan gaan om nie net die stand van die Afrikaanse digkuns verder te reflekteer nie, maar ook om ’n  omvattende databasis te vestig en in stand te hou vir navorsingdoeleindes.

Daarom is dit vir my aangenaam om Marlies Taljard op die brug te verwelkom om as Inhoudsbestuurder oor te neem. Dis ‘n posisie wat Louis Esterhuizen behartig het tot ongeveer 2 jaar gelede en daarvoor is ek groot dank aan hom verskuldig. Hy was ‘n entoesiastiese meeloper, staatmaker en motiveerder as dit by onderhandelings, idees en hulp gekom het.

As webmeester sal ek steeds tot die einde van die jaar behulpsaam wees met instandhouding, waarna die volle bestuur van die webblad vanaf Januarie 2020 aan Marlies en haar bestuurspan oorhandig sal word. Enige donasies om haar te ondersteun in haar taak om mee te begin, sal absoluut welkom wees, asseblief. Uiteraard is insette op dié tydstip van kardinale belang – so ook enige moontlike finansiële steun en/of voorstelle ten opsigte hiervan. Haar kontakbesonderhede is hier te vinde.

Enkele biografiese agtergrond oor Marlies Taljard:  Sy is verbonde aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Fort Hare waar sy hoofsaaklik verantwoordelik is vir navorsing oor Afrikaanse Letterkunde en Literêre Teorie. Sy promoveer in 2007 met ʼn proefskrif getiteld Die representasie en konfigurasie van grense, liminaliteit en hibriditeit in “Kleur kom nooit alleen nie” (Antjie Krog). Talle artikels van haar het in geakkrediteerde vaktydskrifte verskyn en sy het hoofstukke in verskeie versamelbundels wat plaaslik en internasionaal verskyn het, bygedra.

Marlies Taljard tree ook op as artikelkeurder vir nasionale en internasionale akademiesetydskrifte en as manuskripkeurder vir uitgewers en skrywers. Sy is ʼn ervare teksversorger wat spesialiseer op akademiese tekste, verhandelinge en proefskrifte. Sy tree dikwels op as kritiese leser vir aspirant- en gevestigde skrywers en digters.

Sy het reeds talle referate op nasionale en internasionale kongresse gelewer, tree dikwels op as spreker by openbare geleenthede, dien op die uitvoerende bestuur van die South African Literary Awards (SALA) en insgelyks as keurder vir literêre pryse. Daar het reeds heelwat meer as 100 resensies oor Afrikaanse publikasies uit haar pen verskyn.

Op hierdie webwerf waarvan sy nou beheer gaan neem, behartig sy die afgelope jare al ʼn solo-blog oor die digkuns en dien sy ook op die paneel van resensente. Ander publikasies is byvoorbeeld enkele kortverhale, ʼn vertaling van Dostojefski se Die droom van ʼn belaglike man, ʼn reeks Afrikaanswerkboeke vir Graad 5-12 en verskeie letterkundegidse vir matriekleerders. Op navorsingsterrein is sy tans betrokke by navorsing oor die Afrikaanse letterkunde, met die fokus op poësie, en toegepaste linguistiek.

Ek kan my beswaarlik aan ʼn beter gekwalifiseerde en meelewende persoon voorstel om hierdie baie spesiale inisiatief aan toe te vertrou. Van harte geluk, Marlies! Met dankbaarheid en vertroue handig ek en Louis die skip se stuur aan jou oor as die nuwe Kaptein van Versindaba.

Mag die Afrikaanse digkuns steeds van krag tot krag gaan en mag hierdie webblad onder jou leiding altyd daar wees om hierdie prestasie vir die poësieliefhebber te dokumenteer.

Marlise Joubert

WEBMEESTER

Versindaba

Nini Bennett. Die moderne gesig van eetversteurings

Friday, June 7th, 2019

 

 

“Haar oë glim soos ’n roofdier s’n van honger en dissipline.” Só beskryf Etienne van Heerden ’n dame, wat altyd op dieet is, in sy roman Casspirs en Campari’s. En ’n mens dink onwillekeurig aan die tagtigerjare met sy dieetfoefies soos Fibretrim, Nataniël se bruinrys-en-lensie-dieet, amfetamien-eetlusdempers wat bewerasies en paranoïa veroorsaak, en nog later, die Tim Noakes-dieet. Om enkeles te noem.

Anoreksie, of anorexia nervosa en haar nare tweelingsuster, bulimia nervosa het as die twee bekendste eetversteurings in wese dieselfde gebly. Maar daar het iets bygekom, ’n belangrike impetus wat as’t ware hierdie eetversteurings voed: ons sosiale media-platforms. Lys dan manoreksie, oftewel anoreksiesimptome wat waargeneem word by manlike modelle en die sogenaamde plankdun ‘metromanne’ …of orthoreksie, ’n ongesonde obsessie met gesonde kos en die lys raak kommerwekkend. In die geval van orthoreksie meng die preokkupasie met ’n gesonde leefstyl in met die lyer se algemene welsyn en kan die persoon gemoedsversteurings ontwikkel of homself sosiaal isoleer om ‘verkeerde’ kosse te vermy. Hierdie mense is lief om hulle etes af te neem en byvoorbeeld op Instagram te plaas. Die bord kos word as ’n reël vergesel van ’n rits hutstekens langer as ’n spoorlyn, en kan iets in dier voege wees: feeling great, gevolg deur nonerefinedsugar, glutenfreevegan, dairyfree, lactosefree, ensovoort.

 

 

Sedert die begin van die internet het #anoreksie, of kortweg #pro-ana en bulimie, of #pro-mia op webtuistes en mediaplatforms as gemeenskappe begin floreer. Hierdie destruktiewe gedrag word aangebied as ’n ‘leefstylkeuse’; en lyers leef in interaksie met ’n virtuele gehoor wat ’n subkultuur van koestering en aanvaarding bied. Só sal ’n anoreksielyer byvoorbeeld op Instagram suggereer dat een like gelykstaande is aan een uur se vas, en dan, met die aanmoediging van haar gehoor, haarself stelselmatig verder uithonger. Sosiale netwerke bied oorgenoeg kameraderie van gedeelde obsessies, vergelykings, kompetisie, wenke en bemoediging tussen mense wat gewig wil verloor. Motto’s soos pretty girls don’t eat, skip dinner, be thinner, thinspirational en bonespo word na dese gesensureer om die uitdyende gemeenskap van mense met dieetsiektes teen hulself te beskerm. Daar is ’n verbod op sekere memes; in stede hiervan verskyn skakels na webtuistes wat hulp of rehabilitasieprogramme aanbied vir mense met eetversteurings. Sommiges omseil die internetsensuur bloot deur ‘TW’ (trigger warning) by hulle profiel te voeg, of te kenne te gee dat hulle reeds ’n rehabilitasieprogram volg. Wanneer ’n persoon behandel word vir ’n eetversteuring, sal die terapeut waarskynlik voorstel dat die pasiënt sy sosiale media-rekeninge sluit, omdat laasgenoemde platforms moontlik ’n rol in die patologie kan speel. The Agency for Healthcare, Research and Quality het beraam dat daar in 2008/2009 ’n 24% toename in eetversteurings was – en dat die lyers almal oor meer as een sosiale media-profiel beskik het. Grafika wat ’n mens dikwels teëkom, is selfies van uitgeteerde figure met kringe onder die oë, selfoon in die hand, die ribbes sigbaar ontbloot. Waar anoreksie & kie voorheen dieetsiektes was wat gekenmerk is deur meisies wat uit ’n tradisioneel wit, hoër middelklas-omgewing kom, raak eetversteurings vandag mans sowel as vroue: mense van alle rasse, kulture en substrata van die samelewing is slagoffers.

Die ánder sondebok in hierdie verband is die toename in apps, oftewel selfoontoeps wat mense help om gewig te verloor. Daar is toeps wat raad gee met eetplanne, die energiewaardes van kosse lys, kalorieë (en die verbranding daarvan) bereken….en daar is toeps wat jou help oefen, byvoorbeeld ’n pedometer wat jou treë tel en bereken hoeveel meter/kilometer jy deur die loop van ’n dag gestap het. Hierdie toepgedrewe oefenkoors word aangevuur deur die mildelike en onmiddellike beskikbaarheid van inligting rondom energieverbruik. Jare gelede was die voedingswaardetabelle, as deel van kosverpakkings, maar skaars – en mense minder selfbewus oor die voedsel wat hulle inneem. Anoreksielyers (die honger beheervrate, en ek sê dit met deernis) neem deeglik kennis van die tweede doodsonde. En vraatsug vra vir boetedoening en die verbranding van kiloujules. Dit is interessant om hier te noem dat kenners die uitgeteerde staat van anoreksie inderdaad as ’n tipe stigmata (en selfmutilasie) sien; en daarmee saam herinner die obsessiewe ritualistiese gedrag van die pasiënte mens aan religieuse rites.

Van selfbewustheid gepraat: verbeel ek my of is daar deesdae ’n groter sensitiwiteit rondom kos en voeding as jare gelede? ’n Bord kos is nie meer onskuldig nie. Sommige mense se identiteit, self, of self-beeld word inderwaarheid gedefinieer deur dit wat hulle eet, byvoorbeeld in die geval van orthoreksie. Heilsame kos = ’n gesonde Self. Die berekening van energie word ’n fyn kuns – of is dit ’n wetenskap? Gonswoorde soos keto en banting is aan die orde van die dag, alhoewel baie mense nie weet wat die mediese prosesse van ketose behels nie. Ons word gebombardeer met keuses: organiese kos is waarskynlik gesonder, dit is vry van MSG, aspartaam en tartrasien… En hier moet ek bieg: ek kwel my nie oor pienk Viennas nie en ek wonder ook nie oor die koolstofvoetspoor wat ek agterlaat met my eetgewoontes nie. Mense is meer gesondheidsbewus as voorheen, maar die Angst rondom kos het ook toegeneem. In teenstelling hiermee is daar ’n oorvloed kos- en resepteprogramme op televisie en ’n toename in aanlyntoeps vir die bestel en aflewering van wegneemetes. En dan, onrusbarend, die statistiek van The Food and Agriculture Organization of the United Nations. In Desember 2016 het 815 miljoen mense uit die 7.6 biljoen aan wanvoeding gely. Dit beteken dat ongeveer een uit elke tien mense in die wêreld op daardie gegewe tydstip honger was. En dít is ’n tragedie.

Met al die moderne elektroniese en digitale platforms ten spyt, het die patologie van dieetsiektes nie veel verander nie. Anoreksie, soos enige ander onderwerp, vind uiteraard ook neerslag binne die Afrikaanse poësie. In haar taksering van die balletpoësie van Aniel Botha (Pirouette, 2012) wys Marlies Taljard op die destruktiewe aard van eetversteurings wat by ballerinas aangetref word. Klik gerus op die onderskeie twee skakels om hierdie blogs te lees:  https://versindaba.co.za/2018/06/24/marlies-taljard-inwaarts-en-immer-opwaarts/ asook  https://versindaba.co.za/2018/06/29/marlies-taljard-op-soek-na-die-wildehond-wat-in-haar-hou/

In 1980 verskyn hierdie gedig in Annesu de Vos se bekroonde debuutbundel, Gebed van ’n groen perske. Die psigiese en liggaamlike aftakeling word duidelik verbeeld deur die vers se gestroopte aanslag en minimalisme, wat uiteindelik ook die siekte voorstel.

 

anorexia

 

ek proe jou

sonder ophou

in my elke dag

se hongerdood

 

want weet jy nie

wit godekind

jy is my vleis

my bloed

my brood

 

 

Verwysings:

 

https://www.usatoday.com/story/news/nation/2014/06/01/social-media-helps-fuel-eating-disorders/9817513/

https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/organiese-kos-het-jy-geweet

https://www.worldhunger.org/hunger-quiz/how-many-people-are-hungry-in-the-world/?fbclid=IwAR1PfFWjROpN912YgL3MCLzsH2eu4hsR1xWb1aVORJhMg-_7a9Ux68pFIw4

https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4737215/?fbclid=IwAR2F2M2i-08rIW-dqjoqX8PWBBH4eAgtpUSVKcphUJBZhyucIeIoFTAU9Dg

De Vos, A.  1980. Gebed van ’n groen perske. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

 

Gisela Ullyatt. Facebook en Die Groot Poësiebrander. (Deel 5)

Wednesday, July 8th, 2015

Nog ’n raakpunt tussen die Boeddhistiese konsep, Interkonneksie, en die sosiale medium, facebook se Groot Poësiebrander, is die begrip ‘pay it forward’. Laasgenoemde vind sy oorsprong in Catherine Ryan Hyde se roman, Pay it Forward (1999), wat tot ’n filmweergawe verwerk is (2000). Hierdie term het soveel kykers aangegryp dat dit onafskeidbaar van die Engelse woordeskat geword het.

Die kern van die plot is dat Trevor McKinney (Haley Joel Osment) Graad 7 in Las Vegas, Nevada, moet aanpak. Outomaties is hy die nuweling en die buitestander by die skool vanweë sy ma (Helen Hunt) se rondtrekkery. Sy is ’n versukkelde enkelma wat té dikwels en té diep in die bottel kyk en van die een na die ander verhouding ronddobber. Trevor se Sosiale Studie-onderwyser, Eugene Simonet (Kevin Spacey), gee die klas ’n taak wat hulle as deel van sy vak moet toepas: elke kind moet drie begunstigdes kies aan wie hulle elk ’n spesiale guns moet bewys, dit wil sê iets wat die persoon nie self kan verrig nie. In plaas daarvan dat die drie begunstigdes dit ‘terugbetaal’, moet hulle elk ook aan drie mense ’n guns bewys. ’n Web van medemenslikheid en interkonneksie word dus geweef. Alhoewel die fliek tragies eindig (dit het ook wisselende kritiek ontvang) is dit die kernkonsep en manifestasie van interkonneksie wat deurskyn. Onwaarskynlike mense word dus direk verbind deur die idee van ‘pay it forward’.

Om terug te keer na die Boeddhistiese begronding van Interkonneksie: Thich Nhat Hahn, bekende Viëtnamese Zen-meester, het ’n begrip genaamd ‘interbeing’ ontwikkel wat inspeel op Hamlet se bekende alleenspraak (Die eerste toneel van die derde bedryf), ‘To be or not to be’:

‘to be’ is to inter-be. We cannot just be by ourselves alone. We have to inter-be with every other thing (1991:98).

Nhat Hahn verduidelik sy konsep van interbeing ook as:

The truth is that everything contains everything else. We cannot just be, we can only inter-be. We are responsible for everything that happens around us (1991:96).

Die Poësiebrander op facebook, soos aangetoon deur Deel 1-4, bied dus ’n perfekte platform vir nie net die ‘interbeing’-konsep nie, maar ook die ‘pay it forward’-idee.

Kom ons kyk na nog gedigte wat deel van die Poësiebrander was:

Twee kortverhale van Carien Smith, derdejaarstudent in Afrikaans en Filosofie, verskyn in Nuwe Stories 3 (“Binnekort” en “Likkewaan”). Eersgenoemde verhaal word as naaswenner aangewys en laasgenoemde verwerf Eervolle Vermelding in die gelyknamige kompetisie.

Carien se Dag 1 lyk só:

Verhaal

’n Vrou het stil geword van baie wag:
die aarde het gegly deur die spiraal
van dag na nag, was beurtelings groen en vaal,
en sy het soms gehuil en soms gelag.

Ook was sy dikwels wakker in die nag,
maar sy het in haar woning en op straat
gewoon gehandel en gewoon gepraat
en niemand het geweet hoedat sy wag.

Verlange word aanvaarding, langsaamaan,
want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot
die twee versmelt en stilte alleen bestaan.
En deur die jare het sy self die slot
van die verhaal geword: haar stilte en krag
was skoner as die ding waarop sy wag.

– Elisabeth Eybers

Dag 2:


Die tyd loop katvoet

Die dag stap luiters verby soos ’n kat,
stert omhoog. Laat my jou streel.

Spring nou op my skoot. Ek wil
jou iets vertel. Jy gaan my elke

dag verby en ek kyk jou agterna,
en roep, maar jy skuur jou wang

teen die verlede. Elke dag loop daar
’n dag uit my lewe en gaan slaap

opgekrul en droom hom met bewende
snor binne-in my daaglikse handel.

Vorentoe, agtertoe loop die tyd
katvoet aan my verby, en spin.

– Wilma Stockenström

Dag 3:


LLAMADA

jou hakskeensening was
‘n dungespanne cithara-snaar
tussen my wysvinger en duim
daardie eerste keer toe jou skraal voet
nageboortelik perfek en geseënd in my palm gepas het
toe jou lyfie
hoepel soepel
soos ‘n nat bokkie gebuitel
en gestrek het
jou eie llamada
die ritme van my bestaan
vir altyd nuut gemaak het

ek moes geweet het
toe
dat niks ooit weer
dieselfde sou wees nie
klein bailaores
klein sikloon van energie en klaterende Gatling-vuur
ek moes kon vertel
dat Terpsichore self jou gekies het
om haar geskenke
in vuur en ys te bewaar
dat jou voete perkussie en vlerke
en elke lit en werwel in jou lyf
furie is

ek moes geweet het
hoe ver afgronde en hoogtes
aan jou sou trek
dat jou ewewig vir ewig volmaak
tussen dolk en roos
tussen hemel en aarde
sou hel

– Susan Smith

(“llamada”: Oproep na die kitaarspeler – die Spaanse danser sein met haar voete aan die kitaarspeler dat sy die ritme gaan verander
“cithara”: ‘n snaarinstrument van Griekse oorsprong
“bailaores”: danser)

Dag 4 se keuse val op “Katrina” van I.D. du Plessis, “aangesien hy my Oumagrootjie se neef was en ek hierdie gedig vertolk het toe ek drama geswot het”:

Katrina van die Bo-Kaap
Het voor haar deur gestaan.
’n Boot lê in die hawe,
Matrose kom al aan

Oor Strandstraat na die Boereplein,
Die donker strate in;
En netnou sal Katrina
Se nagtaak weer begin.

’n Halfverlepte hoedjie hang
Parmantig oor een oog.
Die rooi veer is verrinneweer
Maar staan nog met ’n boog.

Katrina dra haar beste rok.
Sy stryk die kreukels plat.
Sy fyn asof ’n vryer wag,
Het sy haar uitgevat.

Maar eer sy van haar huis gaan,
Kyk sy ’n keer weer om:
Lank sal die leë ure wees
Voordat sy daar kan kom.

Katrina stap deur Roosstraat:
Astrant, met slentergang.
Wie raai nou aan haar houding
Dat sy na huis verlang?

Nou kom sy by haar susters:
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel,
Of somber staan en wag.

Katrina ken haar roeping:
’n Harpy van die eer,
’n Noodgedwonge rower,
Wat alles tóg ontbeer.

Katrina haat die lewe,
Katrina vrees die dood,
Katrina gaan haar slentergang,
Verdien haar bitter brood.

Marlies Taljard, bekende literator en kritikus, se Dag 1 is soos volg: “Winter”, die derde sonnet in NP van Wyk Louw se “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”-siklus:

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

Op Dag 2 skryf Marlies: “Een van die mooiste liefdesgedigte wat ek ken en wat ek sekerlik al dikwels op fb gepos het, maar dit bly nooit volprese. Kom uit Kleur kom nooit alleen nie van Antjie Krog, deel van die siklus “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu”:

liefste, jy mág nie doodgaan nie
jy mag nie eers dúrf dínk aan dood nie
ek, wat agterbly, balsem jou in taal
vou jou in woorde
dat more jou kan erf en kan hê en kan hou
ek skeur jou daagliks terug uit die dood
ek vertel jou verhaal
ek voltooi jou einde, liefste fragment
jy wat eens gefluister het
langs my in die nag

Dag 3:

Viaticum

They recognize each other at night by the voice, by
their breathing, by a dark tenderness of arms.
They recognize each other slowly, as if
they had never met, nor exchanged the strange
words of a farewell.
They recognize each other by their desperate unfamiliarity
that robs both sides of feeling, leaving them
with the aridity of a reflection.

Come from that wharf that was ravaged by winter,
that was not visited by ships, by birds, or by
the craziest old whore imaginable, and
bring with you a refuge of shadows on
your lips, an infection of the soul in the weariness
of your bodies, the strain of a glaze in the obscurity
of your eyes.

Partake with me in life’s disorder,
in the indecision of roads,
in the wound of a silence where
a smile you once loved and
your ageless face flow
like images in a dream.

-Nuno Júdice

Dag 4: “een van Sheila Cussons se vroeë kwatryne”:

Hoe’t U die weerlig van die denke ingeplooi
in daardie skedel sonder om die murg te skroei?
Wie kan ’n duiselender droom nog droom:
ons kloof die Onbekende oop met iets so sag soos room.

Ester de Beer, kliniese sielkundige in privaat-praktyk, se Dag 1:

You Fit Into Me

You fit into me
like a hook into an eye

a fish hook
an open eye

– Margaret Atwood

Dag 2 se gedig is een van Ester se eie gedigte:

Holy Awareness

my terrible texts
touch you and bruise you
i send you instead:
my awareness
of you, of you, of you,
of all of you i’m aware of
on this sad sunday
my awareness is barefoot,
treading softly on tiptoe
my barefoot awareness
obeying strict orders
not to disturb the flow
of many mysterious rivers:
not to touch you
not to feed you
not to breathe you
not to speak you
just to be:
barefoot awareness
awaiting you

Die gedig op Dag 3 is ook een wat Ester self geskryf het:

content

the sun is warming the shell
a nautilus, not a clamped mussel
the shell’s openness turned to the sea
her glistening, glittering inside invites
the sea flexing his emotional muscle

the sea reaches for the shell
touching, retreating
gliding in, gliding out
the sea showers the shell
confetti-spray: everything gives way

the shell parafalling into darkerness
tumbling, rolling, twirling
bubbles butterflying to the light
rushing waters, water falling
waves over her, waves inside her

a moment of perfect stillness:
the sea in the embraced shell’s embrace
suspended motionless in stable darkestness
filled fully, fully fulfilled
containing, contained, content

Izak du Plessis, bekroonde Monitor-aanbieder, wie se gedigte in Nuwe Stemme 5 verskyn en alombekend op fb vir sy motto “Steek hom, Stinkie!”, skryf die volgende oor Dag 1 se gedig-uitdaging:

Gisela Ullyatt het my uitgedaag om vir die volgende vier ’n spesiale gedig te deel. Hieronder is, wat my betref, een van die treffendste gedigte in Afrikaans. Dit het my al desjare getref in standerd nege en matriek toe ek op Hoërskool Middelburg Afrikaans by doktor Van der Merwe gehad het. Ek wens ek kan so mooi skryf, het ek gedink toe ek dit die eerste keer in daai rooi Groot Verseboek gelees het. Al waarvoor ek die liewe doktor blameer is dat sy my wou wysmaak die vers het iets te make met die digkuns, terwyl ek oortuig was dit gaan alles oor seks”:

Grense

My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.

-NP Van Wyk Louw

Dag 2: “My tweede vers soos uitgedaag deur Gisela Ullyatt is ’n vers deur Anat Zecharaya vertaal deur Lisa Katz. Dit is ontstellend maar aangrypend”:

A woman of valor

“35 soldiers on active duty and several civilian employees at an air base have been conducting sexual relations with a 14-year-old girl over the past year. Many of the suspects claimed during questioning that the girl had told them she was of enlistment age.” Hannan Greenberg, Ynet News

The first
places your head on his naked lap
and one might think
you weren’t being forced but rather
thanked and your head stroked.
The second slides slowly down your back
the feelings are new
and you can still concentrate.
The third inserts three fingers, says
“Don’t move.” You don’t,
the map of greater Israel
in your eyes.
The fourth moves aside a pile of reports
on air accidents in the south
and takes you from behind.
A great love you think
a great love scorches me
and won’t let up.
You raise and lower your arms
your body stretches to the edge of the sky
your hands cupped for the rain.
The unstoppable fifth and sixth
course into you.
The arrogant salt of the earth, avoiding eyes,
those waiting their turn. Soon your body may look beautiful
even to you.

Dag 3:

Izak se gedig-keuse vir Dag 3 kan gevind word in Gert Vlok Nel se om te lewe is onnatuurlik (1993). “Hillside” is ook die laaste gedig van hierdie bundel: “My derde gedig na Gisela Ullyatt se uitdaging. Daai laaste sin … Grabbed me van ek dit die eerste keer gelees het”:

hillside


daar was i aand in hillside, 7 jaar
nadat amerika in 1968 was, op die N1
het karretjies liggies geprojekteer tot pff ver waar niemand sien
nie. (in die dorpshoek het die here i merry-go-round
gehou t.b.v. die suiderkruisfonds.) op só i aand is Tittertjie
getroud. klokke het begin beier in die eenvoudige skemer.
hoe mooi, was sy nie. sy is waaiend weg, in slow motion.
maar Tittertjie’t snaaks gewaai

“Ma, Tittertjie’t snaaks gewaai.” in in
die heiliger nag in. ry hulle. uit uit die moordenaarskaroo uit.
hoekom onthou ek dat die straatligte een-een aangegaan het
as dit gelyktydig was? dit was i lukrake nag, vol warrelwinde
doellose liefde & eksakte haat. & Tittertjie
-hulle se ford capri het voortgesnel deur die verbete land
na die bakermat-hotel van die hart

toe die liefde nog nie intertekstueel was nie. (anderkant
die lewe, in china, het i amptenaar die rysveldvrou
met die ewige oë in die broeiende fluitjiesriet
ingestamp t.w.v. onnodige distansiëring
& en die balansering van die as van die aarde.)
en hier het i trein die nag geknip soos i skêr
(terwyl stokers met geel reënjasse afdiewerkkom)
die nag het volledig gebreek.

& nou & nou.

Tittertjie, my muse, my sussie, ek skryf hierdie bitter brief.
op i blooming oggend. die bloeisels ruik awhrgg. ek stap.
vanaand terug na ons huis in hillside, beaufort-wes ek
leen jou goeie aand en jou magiese reis vir die doel.
terug, terug, in by die stram voorhekkie stap ons in.
(sodat ons nie weer kan uitstap nie
as ons van buite af binnetoe stap nie.)

en Ma kom uitgehol
en sy neem ons in soos wasgoed voor die reën. sal
ons hello sê of koebaai? sal
ons sê ons was so ver soos pluto Ma & en die aarde was nowhere
to be had? sal ons die familie join aan die kombuistafel vir brood
met marmite en stroop? of sal ons bang sê ons moet liewer loop?
sal ons verlos wees op alle vlakke
maar bowenal van
die fluit, die verbyfluit van treine
die druk, die drukking van die dakke?

ek het i foto van die aand in hillside
jy is i bruid
agter jou raak dit donker
gaste staan rond soos in i ruiter-in-swart-boekie, versteen
hul asems maak wolkies op die aarde soos op die môre
van die agtste dag
in die wolkies sê hulle
ons is lief.

en op die agtergrond kom i trein soos i byl uit die nag

-Gert Vlok Nel

*

Moenie die Laaste Groot Poësiebrander verpas nie!

 

Bibliografie

Nhat Hahn, T. 1991. Peace is every step. New York: Bantam.

Resensie: “Skadu oor die sonwyser” (Kobus Lombard)

Friday, April 10th, 2015

SKADU OOR DIE SONWYSER – KOBUS LOMBARD (Protea Boekhuis, 2015)

Resensent: Marlies Taljard

 

Omslag

Toe ek Kobus Lombard se vierde bundel, Skadu oor die sonwyser lees, het dit my met die illusie van Bonsaikuns gelaat. ʼn Bonsai is ʼn boom wat klein genoeg gehou word om in ʼn houer te groei. Ten spyte van die feit dat bonsai miniatuurkuns is, gee egte bonsai die indruk van ʼn deurleefde, volwasse boom; dikwels van hoë ouderdom. Omdat dit kuns is, het die bome meestal ʼn besondere aura, soms ʼn waas van geheimsinnigheid en waardigheid. In ʼn sekere tradisie word bonsai só gevorm dat dit deur die knoetserige, verwronge stam en takke die indruk skep dat dit gevorm is deur die winde en die aanslae van die natuur. Bonsai word deur kunstenaars op so ʼn wyse gestruktureer dat dit die ideale vorm van ʼn spesifieke spesie uitbeeld – ʼn soort argetipiese voorbeeld van die boom soos dit in die natuur sou kon voorkom.

Verskeie van die estetiese eienskappe wat ek hierbo in verband met bonsai genoem het, kan ook op die kuns van Kobus Lombard van toepassing gemaak word. In die bundel onder bespreking bou hy voort op ʼn tradisie van vormgewing wat ook sy vorige bundels kenmerk. Sy gedigte is kort (dikwels baie kort), met die fokus meestal op die slotgedeelte wat soms dieselfde funksie vervul as die slotkoeplet in die Shakespeariaanse sonnet, naamlik dié van opsomming of ʼn nuwe insig oor die voorafgaande gegewe. Die geskakeerdheid van die mens en sy lewe op aarde word deur menige van die gedigte gesuggereer. Omdat die gedigte kort is, het dit ʼn onmiddellikheid in die sin dat dit as’t ware met een oogopslag ingeneem kan word. Dit beteken ook dat die impak wat die slotgedeelte dikwels op die leser het, soveel groter is. Ek het die gedigte in hierdie bundel beleef as ryp, deurleef en behoorlik afgerond, argetipies in die lewenswysheid wat uit baie van die verse straal.

Die voorplat van die bundel beeld ʼn sonwyser uit wat uitgebeitel is op ʼn klip wat rofweg soos ʼn kaart van suidelike Afrika lyk. ʼn Breë skaduwee lê oor die regterkantste boonste kwadrant (Oos) wat, soos ook die sagte lig wat op die kant van die klip val, aantoon dat die son in die weste is, dat dit reeds laat in die namiddag is. Hierdie gegewe korrespondeer op simboliese vlak met die titel van die bundel, Skadu oor die sonwyser wat die bundel se besondere fokus op tyd en tydsverloop in terme van die mens se lewe versinnebeeld en selfs suggereer dat die bundel sterk sal fokus op die einde van die lewenspad. Die koördinate wat op die sonwyser uitgebeitel is, stem ooreen met dié van Kaapstad – die enigste pleknaam wat op die “kaart” aangedui is. Waarskynlik sou ʼn mens hierdie gegewe simbolies kon interpreteer wanneer in aanmerking geneem word dat Kaapstad as’t ware die “eindpunt” van die Afrika-kontinent verteenwoordig, maar (in terme van die gedigte in Afdeling III wat oor die moeder handel) is dit belangrik dat Kaapstad ook die Moederstad is. Op die agterkant van die bundel, waar die foto in kleiner formaat verskyn, is dit duidelik dat dit vanuit ʼn perspektief bokant die sonwyser geneem is. In narratologiese terme sou ʼn mens dus kon verwag dat vanuit ʼn afstandelike perspektief “gekyk” sal word. Dit is inderdaad ook die geval in baie van die gedigte waarin ʼn “jy” aangespreek word. Tog is daar ook ʼn groot aantal gedigte wat vanuit die ek-perspektief geskryf is en waarin biografiese besonderhede van die digter eksplisiet bygehaal word. Die teenstellings “skadu” en “son” wat in die titel voorkom, berei eweneens die leser voor op die tydsaspek wat belangrik is, terwyl dit terselfdertyd suggereer dat die simboliese betekenis van dié twee woorde by interpretasie in berekening gebring moet word.

Die inhoudsopgawe dui aan dat die bundel uit 7 afdelings bestaan wat egter nie benoem word nie. In die bundel self kom, as inleiding tot elke afdeling, telkens ʼn motto uit een van die gedigte binne die afdeling voor wat ʼn aanduiding gee van die tematiese inhoud daarvan.

Die motto van Afdeling I impliseer ʼn herbesoek aan die verlede:

 

jy word geraam

tussen ander gesigte

iewers teen ʼn off-white muur

 

Die openingsgedig skilder die mens wat deur die tyd ingehaal is, die mens wat nie van die verlede kan afskeid neem nie en ʼn anachronisme in die moderne wêreld geword het. Omdat die begin en die einde van ʼn teks meestal betekenisvol is in terme van die ontwikkeling van ʼn tema, sou ʼn mens hierdie gedig kon beskou as ʼn aankondiging van die dominante temas wat in die res van die bundel ontgin sal word:

Laaste saluut

 

niemand herken meer

die land van herkoms

op sy brasso-honger

lapelwapens nie

sy ongepoetsde stewels

spieël nie meer

sy parate figuur nie

die vlag wat hy salueer

is deur te veel winde

aan flarde gewapper

 

hy staan steeds op parade

en wag vir die uittreebevel

maar al wat hy hoor

is die knaende geklap

van die vlagpaal se tou

 

Oorbodigheid, uitgedientheid, onbruikbaarheid en aftakeling word ook elders in hierdie afdeling verwoord in frases soos “jy ken (…) die staar in my oë / na iets om my naaktheid te bedek” in Klerekas, die stelling in Tentwoning “dat dit slegs ʼn aardse woning is” en in Wolmerk die kombers: “na vele winters word jou drade yler / begin jy al te ruik / na motbolle in ʼn donker kas”. Kantgordyn is ʼn voorbeeld van die tipe gedig wat gevaarlik eenvoudig lyk, maar waarin die spel met “eens” en “noudat” deur ironie, teenstelling en metafoor op gesofistikeerde wyse gespeel word om by ʼn verrassende insig uit te kom. Die kantgordyn word in hierdie gedig eerstens simbool vir die jeug, deur gebruik van woorde soos “versiende oë”, “verlei” en “ragfyn”, asook die wyse waarop die jeugdige die lewe filter. Die kantgordyn is egter eweneens simbool van die ouderdom, deur die insinuasie in die slotstrofe van wysheid en insig in die groter opset van die lewe “noudat die lense verdof”:

Kantgordyn

 

jou roerlose hang

het my eens versiende oë

verlei met ragfyn drade

waarmee jy die wêreld sif

 

noudat my lense verdof

en takke buite sagter wuif

merk ek oplaas

die patrone van die wewer op

 

In Afdeling II word gekonsentreer op ontnugtering en die onafwendbaarheid van die dood. Opmerklik is die groot aantal slotreëls wat implisiet of eksplisiet na die dood verwys: “ek is lankal nie meer / doodbang nie” (Ontgroei); “wie sou kon raai (…) // met hoeveel tonge jy / die dood besweer” (Vlamdans); “as sy lyf onsigbaar gaan lê / daal daar ʼn doodse stilte neer” (Windman) en in Begrafnisbrief merk die spreker “hoe dik die lêer is” waarin hy begrafnisbriewe liasseer. Problematiese menslike verhoudinge word in Kind met ʼn tuinslang verwoord in die terminologie en wette “van gravitasie / en meganiese druk” en die beeld van die dogtertjie wie se wysvinger nog te klein is “om die water te laat sproei”. Die gedig is vir Katya geskryf – een van die persone aan wie die bundel opgedra is, waarskynlik die digter se dogter. Die insig in die slotstrofe is dat

jy’s nog te klein

om bang te wees

vir laste wat lek

ʼn pyp wat knak

met elke nadertrek

 

Soos in Lombard se vorige bundels, staan daar ook in hierdie bundel (Afdeling III) ʼn handvol gedigte oor die digter se biologiese moeder. Die flapteks meld dat Kobus Lombard “as aangenome kind op Gobabis in Namibië grootgeword [het]”. In hierdie afdeling is die gedigte sonder uitsondering outobiografies van aard en word die moeder deurgaans persoonlik aangespreek. Die skreiende ironie en die gestroopte eenvoud van die verse maak dit besonder aangrypend. Ek sou graag al vier die gedigte hier wou aanhaal, maar weerhou my daarvan; ek besef dat ek as moeder hierdie afdeling meer subjektief ervaar as wat aanvaarbaar is in hierdie bedryf. Vir my is die slotgedeelte van die Die mond gesnoer een van die mees verrassende en verbysterende slotpassasies in die bundel:

ek sou so graag

vir jou wou Mamma sê

voor jy my in die geheim

af moes teken

 

maar jy het my mond

te vas teen jou bors gedruk

 

In hierdie hoofsaaklik elegiese afdeling is die kortgedig werklik funksioneel, omdat ʼn oordaad aan woorde die skreiende, pynlike affek van die gedigte sou ondermyn. Hierdie gedigte herinner aan Totius se Die aandete in hulle gestrooptheid, eenvoud en elektriese lading.

Soos dit die afgelope tyd onder digters gebruiklik geword het, bevat die bundel onder bespreking ʼn reeks metagedigte – gedigte waarin besin word oor skryf as die proses “om skynsels van die waarheid / na te trek”. Die skryfproses word meestal vanuit die eerstepersoonsperspektief belig. Min oorspronklike insigte kom aan bod – meestal word skryf as problematies beleef, “die angsreuk in die holte van my arm”. In enkele gevalle word die skryf van gedigte selfs in verband gebring met die dood, soos in die slot van Digterspel:

vergeefs soek ons taal

wat ruik na vars hopies grond

om ons verliese te begrawe

 

Die gedig Strandfonds fokus op die lang en moeisame proses van publikasie en bevat in die slot wyse raad wat deesdae alte dikwels deur oorhaastige digters verontagsaam word:

en strome

het dit weggevoer

na ʼn getypoel

waar dit jare lank

tussen seesterre en krappe

skoon moes spoel

 

Geloof en die kerk is die tema van die voorlaaste afdeling. Die meeste gedigte bevat skreiende teenstellings, soos in dié gedig:

Kersfees

 

laasnag se geskenkpapiere

lê ongeërg in konkas geprop

op ʼn straathoek sit ʼn man

wat werk soek

van vroegdag af –

straks kom sy verlosser nog

in ʼn 4×4 aangery

 

Vir my het dit gevoel asof baie gedigte in hierdie afdeling resepmatig gemaak is – daar word eenvoudig te dikwels van ironiese slotreëls gebruik gemaak wat, hoewel dit “werk”, voorspelbaar word en sodoende trefkrag inboet.

Die laaste bundelafdeling is eklekties van aard, met natuurgedigte, gesprekke met die Aarde en plekbeskrywings. Waar die vorige afdelings almal streng volgens een tema gestruktureer was, het hierdie afdeling byna die aard van ʼn samevoeging van alles wat oorgebly het. Die slotgedig, Gobabis, bewerkstellig op outobiografiese vlak die einde van ʼn sirkel, die terugkeer na die begin. Dit is die plek waar die digter grootgeword het en wat vir hom “ná al die jare / steeds na vetkryt en na klei [ruik]”.

Wat my oor die algemeen van die bundel beïndruk het, is die berekende beheerstheid wat die digter ten opsigte van vormgewing en gelade woordgebruik aan die dag lê. Die beelde wat dikwels simbolies op die lewe toegepas moet word, is oor die algemeen vars en oorspronklik. Die gebruik van ironie is meestal geslaagd en bied dikwels ʼn vernuwende en verrassende insig op ʼn bekende gegewe. Soos ek egter reeds gesê het, het ek die gedigte te eenselwig gevind: meestal min of meer dieselfde lengte en dieselfde werkwyse. Tog wil ek daarmee nie sê dat dit “swak” gedigte is nie. Daar is in die Afrikaanse letterkunde heeltemal te min digbundels wat knap én toeganklik is vir die algemene leserspubliek. Die sienswyse dat digbundels geslote moet wees en temas moet aansny wat slegs deur teoretici ontsyfer kan word, kan deur digbundels soos Skadu oor die sonwyser ʼn nekslag toegedien word. Die bundel kan met die grootste vrymoedigheid aanbeveel word vir lesers wat ʼn liefde vir die digkuns het, omdat enige mens wat oor die lewe nadink, daarmee sal kan identifiseer en geestelik daardeur verryk kan word. In die inleiding van die resensie het ek die bundel met bonsaikuns vergelyk. Myns insiens is die feit dat die gedigte almal kort is en gemaklik verstaan kan word, een rede waarom poësieliefhebbers dit sal aankoop – die ander rede is dat die gedigte inderdaad die aura van deurleefdheid en lewensinsig dra.

 

(c) Marlies Taljard / April 2015

Resensie: “Mede-wete” (Antjie Krog)

Monday, December 8th, 2014

Mede-wete deur Antjie Krog

(Human & Rousseau, 2014, R200 TBC*,  bls. 128 :ISBN 978-0-7981-6787-1, e-ISBN 978-0-7981-6788-8)

Resensent: Marlies Taljard

omslag

Soos altyd is die verskyning van ʼn Antjie Krog-bundel groot nuus binne die Afrikaanse letterkunde – die verskyning van Mede-wete is in dié opsig nie ʼn uitsondering nie. In die titel, waarin die woorde “mede” en “wete” deur ʼn koppelteken van mekaar geskei is, resoneer ʼn verskeidenheid van temas wat in die bundel aangesny word. Die belangrikste hiervan is sekerlik dié van medewete en dus medeverantwoordelikheid. Dan is daar ook die verhouding van die self met die A/ander – die saam- of medebestaan; bewussyn – “wete”, asook kennis van die self, die A/ander en die aard en geskiedenis van ons saambestaan.

Soos verskeie van Krog se vroeër bundels, het Mede-wete ʼn sterk outobiografiese inslag. Die digtende ek ondersoek veral haar eie lewe en oortuigings soos dit ingebed is binne die groter opset van die Suid-Afrikaanse nasie in ʼn poging om sin te gee aan die wyse waarop ons naasmekaar leef in dieselfde konkrete ruimte, maar as deel van verskillende kulturele, politieke en gendergroepe. Besinning oor identiteit kom onder andere eksplisiet voor in die gedig om te ver-jy waarin die digter se worsteling vergestalt word om haarself “los te sny” uit die identiteit van diegene met wie sy in noue verbondenheid saamleef ten einde vas te stel wie sy werklik is:

(more…)