Marlise Joubert. Rapsodie vir ‘n regterskouer
Saturday, January 9th, 2021
rapsodie vir ʼn regterskouer
i
van hierdie ledemaat
weet sy min
sy registreer net die skade
ná die operasie, byvoorbeeld:
die arm het vergéét
hoe om te omhels, hoe om te tango
hoe om te skep, hoe om te gryp –
elke vinger het alle letters verloor
en tussen hand en woord
is geen bestaan nie
soms klavier die naels ritmies
op die tafelblad die brandende
pyn van onhoorbare komposisies
lê sy verdoof in die swart hangmat:
sal die gelapte spier oplaas ongeskeur
ʼn landskap weer verken?
om te swem met woorde
is ʼn daad
is lééf
miskien genade?
ii
sy sou graag meer wou sê
alles benoem en versoen
maar haar skryfhand
kan die taal nie rangskik nie
sinne rafel uit, hou halfpad op
kies ʼn hasepad tussen struike in
dus, skuif sy alles oor na links
eweneens onbeholpe om letters
netjies te boekstaaf
maar links weet niks
hoor niks, klank en sien niks
loop ‘n slakkepas met ʼn vadem
sleepsel, onleesbaar soos hiëroglief
ná ʼn leeftyd van skryf is die linkerhand
ongeleerd en sy het geen geduld
om so ʼn dom hand te skool nie
die regter sal nog lank
weg wees met sabbatsverlof
inmiddels doen sy niks nie
gedigte moet gaan slaap
tong in die kies
liefs nie nou opstaan
om te wil dans nie
iii
ná vyf weke
roer die arm uit verstramming
begin vingers stokkerig te draai
en lok bekende elemente nader
die hand ʼn windpomp wat opeens
asem skep
stadig kring die skadu’s los
o kyk,
sy dryf die borsel deur haar hare
sy roer haar koffie om
nie soos tant koba se groottoon nie
maar met die regterhand
helaas, daarna roep die skouer halt
die bo-arm skuur tot stilstand
en die pols treur kragloos
soos ʼn tjankhond teen haar bors
wanneer is sy oor die hond se stert?
daar is beslis nog maandelank
se matelose belemmering
immobiliteit skop wortelvas
soos ʼn kantelboom wat aanhou
hurk en staan, presies daar
waar dit staangemaak is
voordat takke hoegenaamd
ná twee seisoene van fisioterapie
hul vrugte werp
© marlise joubert / jan. 2021