Posts Tagged ‘Marlise Joubert skilderye’

Marlise Joubert. Slaap

Sunday, October 31st, 2021

 

 

 

slaap

 

ek wag jou in ek hoor jou vlerke golf en die sug uit die snawel want jy is moeg hier in die dale van my hart hier wag ek my kop ʼn nes vol pluimsaad gevleg met die sagste vesels van rietblare my nes is louwarm en koester die wit waterrose van wolke ek wag dat jy kom langs riviere van wind verby die klam boog van ʼn maan jou vlerke is tam jy het die weerlig van duisende boodskappe trotseer jou tone verbloei teen rots en het in die nette van oorloë vasgesit maar nou kan jy rus kom binne in die landskap van my liggaam in die kropvywer is beurende gedagtes soos korrels saad hulle sal ontkiem in rustige drome vou jou wye vlerke toe slaap is jou naam geliefde in die oop heelal gebore om stil soos ʼn ster in my te verskiet

 

© Marlise Joubert, 2021

 

Skildery deur Marlise Joubert  [co. marlise joubert. skilderye http://ateljee.co.za  ]

 

 

Marlise Joubert. Eendag

Saturday, October 30th, 2021

 

 

 

eendag

 

as die dood oplaas virusvry

ophou karring in ons lewens

wil ek weer al my mense sien

hulle wat oorgebly het, hulle

wat my nog kan onthou

 

onsigbaar soos sterstof sif geliefdes

die gulsige aarde in, maar eendag

as deure oopknars soos gebreekte

skubbe stap almal uit in strate

sonder die skaduwees van vlug

met hande bak soos vars skulpe

om mekaar met oorgawe

en sinsgenot

 

dan wil ek al my vriende weer sien

van oewer tot oog en oog tot woord

hulle wat ingekerker was agter mure

hulle wat langs swart honde verweer

hulle wat versteen staan onder honderde

dae en nagte se koue winterreën

 

ek wil hulle soos vrugte versamel

ongeskil in mandjies by my huis indra –

hulle wat my nog sal kan onthou

en hulle wat my vergeet het

 

© Marlise Joubert, 2021

 

 

Skildery deur Marlise Joubert [co. marlise joubert. skilderye http://ateljee.co.za  ]

 

Marlise Joubert. Blue moon

Saturday, October 30th, 2021

 

 

 

blue moon

 

laatnag hang die sterre

soos lemoene in die hemelboom

terwyl die maan al hoe laer sak

in die swartste stiltes in blue moon

you saw me standing alone

 

die see sal die lig insuig soos tande

vretende aan elke dag, al hoe

vinniger sink, want die bodem is vlak

die bodem is ʼn oop graf vir sagte klip

vir die verlore skulp van ʼn kind

without a love of my own

 

alle verledes is wrakskepe

met maste geskeur tot hawelose

verhale van dooies

 

laatnag val jou arms

van my af weg blue moon

now I’m no longer alone

without a dream in my heart

 

jou asemhaling ʼn weeklag

ons sterf in aparte drome

totdat die daglig blom

 

sonder lemoen of spoor

van ʼn maan without

a love of my own

 

© Marlise Joubert, 2021

 

Skildery deur Marlise Joubert [co. marlise joubert. skilderye http://ateljee.co.za  ]