Posts Tagged ‘marlise joubert’

Gisela Ullyatt. ‘Daar waar jy woon, is baie lig’: die moederskap van verlies.

Friday, May 29th, 2015

Meimaand. Maand van moeders. Eerste wintermaand van die jaar: die lig is minder herfs; ’n bleekheid sypel in. Tog is daar ’n intensiteit wat deur die winterlandskap opgeroep word; ’n binne-leef of hibernasie.

Gedigte wat gewoonlik betrekking op Moedersdag het, word vanuit die invalshoek van die digtende kind gekies: ’n oorbekende voorbeeld hiervan is Antjie Krog se ‘Ma’. Dekades na hierdie gedig gepubliseer is, word menige Afrikaanse ma’s steeds met ’n lomp voordrag hiervan tydens ontbyt-in-die-bed gekonfronteer. Sommige gló Seuna of Sus het dit self geskryf (dalk met behulp van ’n kreatiewe onderwyseres?) en lees dit dan ook so voor aan enigiemand wat lyk of hulle belangstel.

Nietemin. ’n Minder bekende invalshoek vir Moedersdag is die moeder-as-digter. ’n Verdere demarkasie vir hierdie blog is die verlies van ’n kind, maar nie noodwendig net aan die dood nie.

Dié spesifieke konteks veronderstel dat die vrou as moeder nie slegs lewe aan die kind skenk nie, maar terselfdertyd die baarmoeder (ruimte van verseëlde bewaring) word, dus die moeder wat baar. Die pre-natale proses is verwikkeld, nie net wat die vroulike liggaam aanbetref nie, maar ook op liminale vlak: uiteraard is die fetus nie ’n blote vergroeisel van die uterus nie. Hierdie ontwikkelende baba deel ’n intieme spasie met die moeder wat as voedingsbron optree.

Die fetus betree dus nie net die fisiese ruimte van die moeder se liggaam nie, maar algaande hy/sy groei, word die moeder meer ‘ge-heg’ aan hierdie wordende wese. ’n Hegte band dus, op liggaamlike, liminale en psigologiese vlak.

Wanneer ma en kind van mekaar ‘verlos’ word (dalk ’n donker profesie wat dui op die Sturm und Drang van die tienerjare?), word ’n nuwe limen geskep: die baba moet gebore word, maar betree nou die gevaarlike buitewêreld, die ‘on-baarmoederlike’ ruimte. Fisies kan die ma die baba nie meer akkommodeer nie; hy/sy moet by die moederlike boetiekhotel uitboek (hopelik vyfster-gehalte, met aanbevelings). Die moederlike matriks word gesluit, vir nou. No new bookings for a while.

Hoe ervaar moeders-as-digters hierdie proses en hoe vertolk hulle verlies aan ’n kind, op liggaamlike, psigologiese en liminale vlak?

Eunice Basson se “Haar oë het jy nooit gesien nie” (65) verbaliseer die opstapeling van jare se emosionele pyn na ’n stilgeboorte: daar is geen herinneringe nie, net die ‘bos swart hare’, ’n ‘Savlon-walm’ en ‘vergeelde babygrows’ tussen ‘kamferblokkies’:

 

Haar oë het jy nooit gesien nie,

net die bos swart hare en klam gespartel

om by haar eerste asem uit te kom –

anders sou jy haar nooit laat gaan het nie.

Klokslag elke jaar

meld daardie dag hom aan,

hoor ek jou praat oor die Savlon-walm

en opgestapelde deppers

asof kraamsusters ’n Kersspel

vir die kindersaal voorberei.

Ek weet hoe jy jou telkens

haar eerste opstaan

teen ’n tafelpoot verbeel,

die kind in ’n luier se loop-en-val;

haar ouma wat vars kamferblokkies

tussen vergeelde babygrows wegpak;

hoe sy sou huiwer op haar eerste skooldag.

Was dit dalk sy in die mall vandag

wat iets oerbekends in jou wou eien

voordat sy twyfel, wegkyk,

en jy wegstap in ’n ander rigting.

 

Alhoewel die programgedig (“Nico”) van Petra Müller se Obool ter herinnering aan haar broer, Nico, is (wat in 1961 tragies verdrink het), stippel sy hierdie verlies dermate uit in “daar waar jy woon, is baie lig” (6), dat hierdie gedig ook op die vlak van moederlike verlies gelees sou kon word:

 

nie in die stilte

met middernag

of by die laaste gelui

sal ek jou soek nie

 

swael wat in die hoë koepel swenk

 

maar net voordat dit stil word

in die keerweer van die klepels

en voordat die spinet gaan staan

 

fladderende hart in ’n woud van klip

jy ruis in die triforium

en jou liggaampie snoer ’n ewigheid

tot jy die sonstroom tref

 

daar waar jy woon, is baie lig

Die konstante vrees van ’n ma om ’n kind binne die moederlike spasie te beskerm, word tematies ondersteun in Rika Cilliers se Vlier wat aan haar seun, Mauritz, opgedra is. Die ‘ek’ in ‘Klinker’ (30) verbaliseer ’n ongemak of on-geborgenheid: die kind is nie meer ’n klippie om te vertroetel nie, maar eerder ’n berg wat eendag van haar gaan lostuimel. Let op die verband tussen ‘bêresakkie’ en die idee van die geborgenheid van die baarmoeder asook ‘modderskoot’ wat op ‘moederskoot’ sinspeel:

 

Kindjie wat uit my gekerf is

soos ’n beeldjie van sandsteen

’n klinkertjieklip: ek wens

jy was klip om te hóú;

jy is palmpas soos ’n troetelklippie

en brand jy ’n gat in my bêresakkie

stoot iemand jou dalk voor die voet

dat jy val; en wikkel jy jou dieper

in die modderskoot van die land in,

laat die wind-en-weerjare stof

om jou nesskop tot jy berg word …

dan nóg tuimel jy eendag rots oor

die afgrond      selfs klippe

is nie geborge nie.

 

Die leënes-sindroom word deesdae meer as net ’n blote verskuiwing van die volwasse kind uit die ouerhuis ondervind. In die volgende drie gedigte ervaar die moeder-as-digter ’n spesifieke liminale leegte deur kinders wat geïmmigreer het of kontrakwerk oorsee doen. Die ma moet haarself daarmee versoen, maar hierdie proses is altyd ambivalent. Susan Smith verwoord hierdie afstand tussen moeder en dogter in ‘stukkie vir stukkie’ (43):

 

ek voel hoe ek jou

stukkie vir stukkie

tussen kontinente verloor

hoe ek die onthoue

stukkie vir stukkie vergeet […]

 

Om ’n dogter aan die vreemde af te staan, begrens die moeder se taal: in die laaste strofe word hierdie verlies onontsyferbaar:

 

ek steek die laaste woorde wat ek wou sê

agter in my mond weg

ek raak aan die slaap

terwyl ek wag

en weet

dat ek môre nog meer

as vandag van jou sal verloor het

 

Hierdie liminale leegte kan nie oorbrug word nie; die volwasse dogter krap nou haar eie potjie wat buite die moeder wat agterbly se ervaringswêreld val. Selfs al sou sy haar dogter in die vreemde besoek, is die naelstring vir ewig geknip; ’n nuwe liminaliteit geskep.

Marlise Joubert se ‘expat. Vir M’ (64) eksploreer moederlike verlies deur metafories met die opgaar van die geliefde dogter se besittings om te gaan. Die kamer waarbinne die ‘jy’ van die gedig haar fases van ontwikkeling tot jong vrou beleef het, is steeds deurdrenk van herinneringe. Die kamer sou ook as ’n baarmoeder beskou kon word wat die tasbaarheid van die dogter beskerm en ‘opgaar’. Daar is egter ’n paradoks verbonde aan hierdie proses: alhoewel die dogter in hierdie ruimte opgestapel word, het sy terselfdertyd lankal vertrek:

 

expat. vir M

 

jy het lank gelede reeds vertrek.

ek het jou soos fynhout versamel

om iewers vlam te vat,

en oral het jy agtergebly.

in jou hangkas vreet motte aan kinderklere.

die rakke loop oor met leggers en briewe.

teen die mure hang jou gedagtes

soos blou vlinders.

jy het reeds vertrek,

al is jy nog hier opgegaar.

[…]

 

In Marie Bredenkamp se ‘’n brief vir die oorsee-kind’ (2015) word liminaliteit en verlies uitgestippel deur die plaas- en stedelike milieu asook Afrika teenoor ‘oorsee’ of Engeland te jukstaponeer. Hierdie jukstaposisie word verder verfyn tot die  ‘klei en klip’ van die spreker se grootwordjare teenoor die dogter se ‘beknopte’ huis in Engeland met trappe wat ’n ouerwordende moeder se beweeglikheid strem. Die laaste gedeelte van die gedig ondersteun die idee dat die wêreld se dimensies  katastrofale afmetings aanneem:

 

vannag

skryf ek ’n brief vir jou

my kind

wat anderkant die water lê

want gisteraand begin ek ’n prentjie

soek

van die huis waar ék gebore is

en al wat ek onthou is die klei en klip

en in later jare

die ou verhale op die werf

wat skerwe porselein vertel

oor die hollands-oos-indiese kompanjie

patrone blou-en-wit

en ek onthou hoedat die spierwit pou

driftig-trots daaroor loop

asof hy die grond besit

en toe soek ek foto’s van die huis

in welgemoed

waar jy leer kruip het, praat

en loop

[…]

ek weet hoe klein jou huis is daar anderkant

en te beknop

die trappe te nou en ongelyk

vir ma se been en rug

[…]

ek is jammer ek het nagelaat

om uit te wys

hoe groot die wêreld is

en onbegrens

en dat aardbewings

die aarde van sy as af stamp

[…]

©mce 27/04/2015

Ook grootmoeders ervaar deesdae die groteske pyn van ’n kleinkind wat aan die vreemde afgestaan word. In Antjie Krog se Verweerskrif (36) word die Hebreeuse kleindogter deur middel van taal-metaforiek geskets: nie net wat afstand aanbetref nie, maar ook taal (Hebreeus vs. Afrikaans). ’n Skeidslyn het dus sigbaar geword; ’n grens wat toekomstige vervreemding tussen ouma en kleinkind voorspel:

by jou vertrek

 

1.

jy vertrek môre saam met

jou ma

na Isra-el vir

goed

 

as ons mekaar oor ’n jaar

sien, praat

jy slegs Hebreeus. vir

my

 

hartskerp herinnering waar-

in jy

lig en liefs met stingel-

dun

 

enkels in linte van my

glip, sal

ons geen enkele

woord

 

gesamentlik wakker vind.

spraakloos

sal ons mekaar aan-

staar.

 

in jou voorgeskiedenis

skeur ’n

mens klere en werp

as

 

op die hoof. ek bloei

 

uit my

milt

 

Ook in Mede-wete in die vers, ‘ek en my kleindogter bou sandkastele’ (38), word taal tematies as vervreemdingstegniek ondersoek. Die ‘ek’, die ‘ouma’, probeer nuwe skanse teen die onafwendbare vervreemding bou. Dalk sou hierdie grense ’n tipe post-verbale kommunikasie kon insluit. Tipografies is daar spasies tussen sommige woorde soos ‘swyg’ en ‘hou’: dus taalgebonde maar ook met die klem op die fisiese en simboliese holding space van die ouma. Ter wille van spasie haal ek slegs strofes 2 en 3 aan:

vanoggend het sy haar ma en pa gevra om in die kombuis agter te bly

en toe in haar sesjarige Hebreeuse woordorde voortgesluk:

‘van my af weg gegaan Ouma, wil ek nie hê jy moet wees nie’

gebruik sy woorddeurstamelde bloedeie dubbele-nie-konstruk

‘Ouma’s verskriklik lief vir jou.’ ‘Ek weet, Ouma, maar dit gehelp my nie’

 

kind met die mondgetroosde naam wat my in alle tale laat ineen

swyg     ek wil haar verlede van haar afhaal in die naam van pyn

in die naam van die behoefte om haar vas te hou     haar heel met

die heil van ons almal wat altyd en nooit uit haar lewe verdwyn

wil haar sien lag sien wawiele doen soos nou – silwer en lig soos ’n twyg

 

Ek sluit af met ’n gedig van die Britse digter, Fleur Adcock, wat in Nieu-Seeland gebore is (Astley: 230):

 

For a Five-Year-Old

 

A snail is climbing up the window-sill

into your room, after a night of rain.

You call me in to see, and I explain

that it would be unkind to leave it there:

it might crawl to the floor; we must take care

that no one squashes it. You understand,

and carry it outside, with careful hand,

to eat a daffodil.

 

I see, then, that a kind of faith prevails:

your gentleness is moulded still by words

from me, who have trapped mice and shot wild birds,

from me, who drowned your kittens, who betrayed

your closest relatives, and who purveyed

the harshest kind of truth to many another.

But that is how things are: I am your mother,

and we are kind to snails.

 

Soms is moederskap ’n helder herfsdag. Soms, ’n vaal-deurdrenkte winter. Want verlies is veelvoudig vir ’n ma of ouma. Dalk lê die geheim van verlies opgesluit in C. Day-Lewis se ‘Walking Away’:

 

How selfhood begins with a walking away

And love is proved in the letting go.

 

Bibliografie

 

Astley, N (ed). 2002. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset, Northumberland: Bloodaxe.

Basson, E. 2014. Leiboom. Kaapstad: Queillerie.

Cilliers, R. 1989. Vlier. Kaapstad: Tafelberg.

Day-Lewis, C. 1962. The Gate and Other Poems. Londen: Jonathan Cape.

Joubert, M. 2011. splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis.

Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.

Müller, P. 1977. Obool. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea Boekhuis

Gisela Ullyatt. Oor verlies, verlatenheid en die liefde.

Sunday, February 15th, 2015

Tomorrow is Saint Valentine’s Day,

All in the morning betime (Ophelia se lied uit Hamlet)

 

Februarie is die maand van die liefde. Of so word dit soos koue kos aan ons opgedis. Tematies gaan jy nie sommer ’n tydskrif van die rak oprakel sonder belowende artikels oor bedsake, beertjies, ‘Vaaltyn’-hartjies en pienk lieflikhede nie. Die foltering word voorgesit in meeste winkels: lingerie in rooi; blommewinkels se ruikerpryse skiet die hoogte in soos vuurpyle. Een so ’n eienaar het my een jaar met geur vertel dat hulle genoeg kan muntslaan uit die mite van 14 Februarie dat die res van die jaar se huur gedek word. Bloemfontein is ’n studentedorp en troppe mansstudente piekel heen en weer (o, die eerstejaartjies in tragiese baadjies en dasse, die hare sweterig in die hittegolf) om hulle laaste sakgeld of beursgeld aan rooi rose en ’n piekniekmandjie te spandeer.

Feit is: blomme verwelk byna oornag in die Afrika-hitte, die tjoklits gaan sit om treurige heupe; spoedig is daar ’n fyn kraak in die hartjie-bekers en word dan oor die tyd saam met die sagte beertjies in ’n kas geprop. Ook roep Valentynsdag ’n pynlike paradoksale vraag op: aan die een kant voer dit die allesoorheersende wens (wat aan vraatsugtig grens) na intense beminning op: om iemand se romantiese attensies op jou te vestig. Maar, aan die ander kant is die dag-van-bloedige-Valentyn ook deurdrenk van ’n goeie skeut nihilisme: die niksheid wat volg na sogenaamde verliefdheid of liefde wat al te vinnig getaan het. In my suster se kamer staan ’n rooi ‘horny devil’ (perdalks ketoolse satantjie ter vertaling?), steeds al die jare na ’n hoërskool-kys. Niks het daarvan gekom nie. Maar die duiwel se piromaniese grimas bly, so alleen daar op die boekrak van haar ou kamer. Skrynend.

Verlies, verlatenheid. Daar is vele gedigte oor die eeue geskryf oor romanse, oor die liefde. Maar hier wil ek ’n betoog uiter vir dié wat verdrink het in die maand van Februarie, gedagtig aan Ophelia. Subterranean  Homesick Valentine’s Blues.

Antjie Krog se eerste gedigte (Dogter van Jefta) roep jongmens-pyn na ’n verhoudingsbreuk op. Haar beeldgebruik spruit uit haar fisiese milieu: die landelikheid van die Vrystaat. Hier is geen stedelike verwysings soos byvoorbeeld in Loftus Marais se urban liefdesverse nie (pragtig verwoord en gesentreer in die vibiness van Kaapstad). Die eenvoud van bloekoms, kerke, jasmyn, koorsbome en mispels dra by tot die tydloosheid van Krog se jong verse. Let byvoorbeeld op hoe sy die kiewiet as objective correlative gebruik in “Kiewietjie” (29):

My flenterhartjie is gestelt

op rooikiewietbeentjies in die veld

wat aaklig roep en soek na liefde

as ek prik-prik

van die dubbeltjies verstrik.

Hélène Kesting het digterlike bekendheid verwerf deur haar uitstekende stilistiese beheer oor die haikoe in Afrikaans. Sy bly ongelukkig onderskat en daar is ’n besliste hiaat in die kanon betreffende haar oeuvre. In een van haar minder bekende gedigte, “Ek het jou dus nog”, word woordorde ’n spel van liefde en verlies; let veral op die gebruik van die punt in die eerste en tweedelaaste strofes wat finaliteit aankondig. Haar besondere klankgebruik versterk die sensitiwiteit rondom die tema van emosionele verlies; die ‘ek’ wat steeds bemin, maar nie noodwendig terugbemin word nie (15):

 

Ek het jou dus nog

lief.

En bo alle twyfel.

Omdat alle twyfel en haat

verdwyn

In die rook van jou kyk

onverwags vol son

 

Ek het jou

dus nog

lief

omdat jou besorgdheid plotseling sprei soos ’n geur

en oor mý,

my longe loop vol

 

Nog, dus,

omdat ek meteens die klankloosheid ken

van my roep

 

as jy nie daar sou wees nie

 

Nog.

Dus.

 

En ongeag groot skild

klein skild

helm

 

Marlise Joubert se digterlike forté berus op haar liriese digstyl wat dikwels op die lyflike metafoor sentreer; haar bundel Lyfsange is by uitstek ’n joernaal aan lyflike liefde. Ook skryf sy die tema van die verganklikheid van liefde tussen minnaars oop. In ‘ek het bederf geraak’ (36) berig die poëtiese ek van ’n afstandelikheid tussen haar en die geliefde en dien die reël, “ek het bederf geraak” as inkantasie wat ’n toon van berou uitstippel. Ook word die leitmotief wat die bundeltitel inhou in die laaste strofe ingemessel. Hier word die ekstase van ‘lyfsange’ verweef met ’n sterk elegiese komponent:

 

jy is ver vandag

asof jy nooit bestaan het nie

so bedrywig tussen engele

toegespin in die klanke van jou vel

 

ek het bederf geraak

met jou trosse ryp woorde se proe

daarom onthou ek kringe van jou tong

en vou my verhemelte sy duiwevlerke oop

verlangend omdat dit jy is en omdat jy

goed is soos wat nuwe bloed uit druiwe loop

 

(klink die wolke daar

soos neutedoppe teenmekaar

is daar foto’s op jou rekenaar

of ’n vers oor ’n begin

reën dit snags oor die bome

en wie tap water vir die voëls

aan die some van jou tuin?)

 

ek het bederf geraak met jou

en vandag se afstand word oorbrug

asof jy reeds bloeisels dons

op my bed versamel en ’n sug

van soene op my mond invou

 

ek het so bederf geraak

en met die lente in die wentel

van my lyfsange

skuifel ek teen jou aan

aromaties met ’n tros note

wat droewig sing

in die boorde van jou keel

Melanie Grobler verwoord die verlies van lyflike liefde tussen huweliksmaats op ’n roerende wyse. “Die verwoesting lê troosteloos tussen ons” (50) is ’n relaas wat spruit uit matelose magteloosheid wat deur die ek ervaar word. Die rouheid van hierdie magteloosheid is veral wat hierdie gedig so toeganklik aan die leser maak:

 

Die verwoesting

lê troosteloos tussen ons

en ek sidder as ek aan jou dink

 

in woede kon ek nooit

jou gelyke wees nie

oë wat morsig

oor die vertrek spat

sê wie gaan vandag

die onderspit delf

 

jou lyf worstelstoei deur my brein

en brul deur diep ravyne van die siel

 

 

Grobler se spesifieke vroulike perspektief oor erotiese verlies word verder uitgestippel in “Gister nog was jou vingerpunte” (53). Die verwonding deur so ’n verlies wat deur die vroulike komponent van ’n huwelik of verhouding ervaar word, is dikwels onderskat: vrouwees kan direk gekoppel word aan beminning en daarsonder kan daar ’n gevoel van ontsetting en isolasie ontstaan by die vrou:

 

Gister nog was jou vingerpunte

koesterend op my week buikvel

maar nou is alles nutteloos

jou liefdestoppe het my roeserige

vel verlaat

 

en ek   diep verwond

keer ek na die kortstondigheid

van die binnelyf

in die enge smalte van vrouwees

oor afgronde van isolasie

neig ek weer na ’n verlore pleitende intimiteit

 

Die ewige ontwykende sug na beminning en die gevolglike intense emosionele verlies wanneer so ’n liefde nie haalbaar was nie, is vergelykbaar met dwelmverslawing. Om jou daarvan te speen is byna onmoontlik en daarom kan die individu ’n terminale afhanklikheid ontwikkel van die geliefde, ’n tipe ‘co-dependence’:

aanbevole dosis oorskry

 

die geneesheer skryf voor

in gematigde mates,

die apteker ontsyfer dit dan so

 

maar ek

neem

jou sonder voorskrif,

vermeerder die dosis

oor die jare

 

tot ek terminaal

oordoseer

op jou.

 

(© Gisela Ullyatt 2015)

 

Verlies in liefde vir die gay vroulike digter is dikwels gedompel in ’n ander tipe problematiek waarmee die heteroseksuele vrouedigter mee te kampe het: stigma, diep verbonde aan hardnekkige patriargale sisteme. Joan Hambidge se gedig, “Vele redes waarom ’n gay vrou uit ’n straight vrou se bed moet bly” met die subtitel “’n soort ballade” (57) speel met liminaliteit op verskeie vlakke: afbakenings tussen gay en straight vroue, tussen lesbiese en heteroseksuele seks; persoonlike afbakenings tussen twee minnaresse wanneer dinge versuur, asook grense tussen die straight vrou se lewe van kinders, eggenoot en die gay vrou wat versteek moet word binne hierdie skedules: sy word die ‘ander’, the other, die slegte gewete, die Jungiaanse skadu (shadow). Soveel ambivalensie en betekenislading lê dus opgesluit in die volgende versreël: die gay girl wat bereid is om die “derdeparty-skyfie te hernieu”. Die L’envoi vestig die leser se aandag op die fallosentriese orde (‘op die paal’) wat steeds oorheers en waarteen die lesbiese vrou dus geen emosionele of seksuele verweer het nie:

 

Gewoonlik wil straight vrouens jou hê,

die gay girl,

wat help vertroos oor al die mans

wat hulle in die steek gelaat het

met aborsies, geboortes en miskrame

en nooit geweet het van post partum-depressie

of ’n orgasme ge-fake

soos koue melk oor Rice Krispies.

Gewoonlik wil hulle by jou bly,

die gay girl

wat lamstjops kan braai,

kerrie en osstert behendig kan kook,

die swembad en skottelgoedmasjien kan skoonhou,

bereid is om Pick & Pay toe te ry,

’n derdeparty-skyfie te hernieu

in ’n lang ry vol wagtende mense,

en veral ’n eksman op sy plek kan gooi.

Gewoonlik wil hulle neffens jou wees,

die gay girl

wat verstaan en vertroetel en begryp.

Maar wees gewaarsku, gay girls,

In die bed, ja, in die bed

Soek hulle méér as troos en troetel.

Dan moet jy uithaal en wys

anders haal jy nie die paal nie

en word alles ’n woordelose stryd.

 

L’envoi

 

Vergeet van vingertaal.

Hul begeer net die paal.

 

Valentynsdag: Verlies en verlaat; verdrinking in die poel van vergetelheid. Tóg berus die grootste hiervan steeds op die belofte van liefde. Die skerf van hierdie wensbeentjie haper: dit wat jy nooit in jou guns afgebreek kan kry nie. Dalk is Ophelia se blomme (helaas nie geen inter-flora hier nie) ’n sterker metafoor vir die ewige, ontwykende liefde? Ek laat dit oor aan die leser om self te besluit.

 

Bibliografie

 

Grobler, M. 1991. Tye en swye van Hester H. Kaapstad: Tafelberg.

Hambidge, J. 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.

Joubert, M. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea.

Kesting, H. 1975. Skip na die son. Kaapstad: Tafelberg.

Krog, A. 1990. Eerste Gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Yehuda Amichai – vertaling in Afrikaans

Tuesday, January 6th, 2015

 Yehuda Amichai. Vertalings deur Marlise Joubert; Johann Lodewyk Marais.

.

DIE SEE EN DIE STRAND

 

 

Die see en die strand is altyd langs mekaar.

Albei wil leer om te praat, wil leer om net een woord

te sê. Die een wil sê “strand”

en die ander “see”. Hulle kom naby daaraan,

miljoene jare al, om te praat, en daardie enkele

woord te sê. Dan sê die see “kus”

en die kus “see”,

verlossing kom na die wêreld,

die wêreld sal weer tot chaos terugkeer.

 

 

(Vert. deur Johann Lodewyk Marais)

Uit: Chana Bloch and Stephen Mitchell (edited and translated from the Hebrew), The Selected Poetry of Yehuda Amichai. (Berkeley, Los Angeles and London: University of California Press, 1996).

 

***

In die appel

.

Jy besoek my in die appel.

Saam kan ons die mes hoor skil

om en om ons, versigtig,

sodat die vel nie skeur nie.

Jy praat met my. Ek vertrou jou stem

want daar is ook harde pyn

soos wat egte heuning

byewas vorm in die korf.

Met my vingers raak ek aan jou lippe:

ook dit is ‘n profetiese gebaar.

En jou lippe is rooi, net soos verskroeide veld

swart is.

Dis alles waar.

Jy besoek my in die appel

en jy sal by my in die appel bly

totdat  die mes klaar is met skil.

(Vert. Marlise Joubert)

*

‘n Brief

.

Om in Jerusalem op die balkon van ‘n hotel te sit

en te skryf:   “Die dae verloop soet

van woestyn tot see.” En om te skryf: “Trane

droog vinnig hier. Die klad is ‘n traan wat

die ink laat loop.”  Dis hoe hulle gewoonlik geskryf het

in die vorige eeu. “Ek het ‘n sirkel daarom

getrek.”

Tyd vloei weg, soos wat iemand op ‘n telefoon

ver van my af, lag en huil:

wat ek ook al hoor, kan ek nie sien nie;

wat ek sien, kan ek nie hoor nie.

Ons was nie versigtig toe ons “Volgende jaar”

gesê het nie, of ook nie: “’n Maand gelede”. Die woorde

is soos skerwe van glas: jy kan jouself daarmee verwond,

selfs ‘n slagaar sny, as

jy dan so wil wees.

Maar jy was mooi soos die kommentaar

op ‘n argaïese teks.

Uit die oorskot van vroue van jou ver land

is jy na my toe gebring, maar

‘n ander wet van gemiddeldes

het jou weer weggeneem.

Om te lewe is om ‘n skip en ‘n hawe

op dieselfde tyd te bou. En om die hawe klaar te maak

lank nadat die skip gesink het.

En om af te sluit: ek onthou slegs

dit was mistig. En as dit só is om te onthou –

wat onthou jy dan?

 (Vert. Marlise Joubert)

*

[Uit:] Somer of sy einde

.

Jy het die vrugte gewas.

Jy het die bakterie vermoor.

Op die stoel: ‘n horlosie en ‘n rok.

In die bed: ons,

sonder iets hiervan

maar elkeen vir die ander.

En as dit nie was vir ons name nie

sou ons geheel en al nakend gewees het.

Dit was goed, die droom op

die tafel.

Ons het die vrugte vir altyd gelos

tot die volgende dag.

En op een van hierdie aande

sal ek baie kan sê oor alles

wat agtergelaat en binne ons bewaar word.

Na middernag, toe ons woorde

die wêreld begin verander het,

sit ek my hand op jou voorkop:

jou gedagtes was kleiner as die palm van my hand,

maar ek het geweet dis ‘n fout,

soos die fout van die hand wat

die son toemaak.

*

Soos die afdruk van ons lywe,

sal daar geen teken wees dat ons hier was nie.

Die wêreld sluit dig agter ons,

die sand is weer gladgestryk.

En reeds is daar datums op kalenders

waarin jy nie meer sal bestaan nie,

reeds ‘n wind wat die wolke bring

wat nie op ons sal reën nie.

En jou naam verskyn op die passasierslyste

van skepe en in die gasteboeke

van hotelle waarvan die einste name

die hart doodmaak.

Die drie tale wat ek ken,

alle kleure wat ek sien en oor droom,

help my nie.

*

Dit was ‘n somer, of sy einde. Ek het

jou voetstappe gehoor van oos na wes

vir die laaste keer. Sakdoeke, boeke, mense

was vergete in die wêreld.

Dit was somer, of sy einde,

daar was middagure,

en jy.

Vir die eerste keer, het jy ‘n doodskleed gedra

en dit nie geweet nie.

Want dit was met blomme borduur.

*

As jy met ‘n bitter mond soet woorde sê

sal die wêreld nie soet word nie

en dit sal nie bitter word nie.

En dis geskryf in die boek dat ons nie sal vrees nie.

En dis geskryf dat ons ook sal verander,

soos die woorde,

in die toekoms en in die verlede,

in meervoud en in eensaamheid.

En binnekort, in die nagte wat kom,

sal ons verskyn, soos dwalende akteurs,

elkeen in die drome van die ander

en in die drome van vreemdelinge

wat ons nooit saam geken het nie.

.

 (Vert. Marlise Joubert)

 

*

‘n Hond agterna

.

Nadat jy my gelos het

laat ek ‘n bloedhond snuif

aan my bors en aan my maag.  Laat ek hom

met gesperde neusvleuels

jag om jou te vind.

O, ek hoop hy sal jou kry en jou minnaar

se balle aan flarde skeur en sy penis afruk

of dan ten minste

tussen sy tande een van jou sykouse vir my bring.

.

(Vert. Marlise Joubert)

*

Weervoorspelling

.

Dit sal bewolk wees. Dit sal reën.

Ons sal lewe en sterwe. Wees bedag daarop.

Daar sal sluimerwinde waai. Ek sal jou

sien in die eerste swaar opwinding.

Jy sal my sien, soos ‘n reën wat stort

oor jou gesig na my opgehef. Dit sal koud wees.

Daar sal hoogtes wees, en laagtes. En met wie

sal ons praat as ons nie meer daar is nie? Daar sal

goeie weer wees vir minnaars op die argaïese heuwel.

Uit al vier rigtings van my lewe, sal die wind aankom.

Dit sal donker wees. Daar sal golwe wees. Dit sal nie matig wees nie.

Daar sal ‘n wolk wees. Daar sal ‘n reënboog in jou lyf hang.

Ons sal nie meer daar wees die dag daarna nie. Dit sal koud wees

in die valleie. Daar sal mis wees. Ons sal uiteenstuif.

 .

(Vert. Marlise Joubert)

 

Wicus Luwes. Oor honde en hul halsbande

Friday, October 17th, 2014

Ek reken ‘n mens kan iets wys word oor die stand van ‘n samelewing deur na die stand van die hond in daardie samelewing te kyk. Die Westerling sien die hond as ‘n maat en waghond en word ook ingespan vir sekere take. Terwyl ek probeer rondsnuffel het op die internet, het ek heelwat raakgelees oor historiese sienings van honde oor die wêreld, maar min gekry oor hoe sake tans staan. (Miskien kan die mense wat bekend is met ander wêreld-dele hul ervarings deel) Een persoon het vertel dat Indië se laer- en middelklas nie regtig honde as troeteldiere aanhou nie. Hul word meer as pestilensies as iets anders gesien en lewe uit asblikke. Selfs toe hy vir ‘n ruk op ‘n plantasie in Indië gewerk het, was daar honde teenwoordig, maar dit was nie regtig ‘iemand’ se hond nie. Hy het selfs begin wonder of honde dalk slegte jagters is en dus by die mens rondhang om kos te kry.

Honde word nog in sekere lande geëet en party gelowe beskou honde as onrein. Die Chinese vier alle honde se verjaardag op die tweede dag van die Chinese nuwejaar. Hulle het ook ‘n twaalf jaar astrologiese siklus waarin die jaar van die hond elfde op die lys is. Ek dink baie mense glo dat honde ‘n mens gesond kan maak, alhoewel daar nie regtig wetenskaplike bewys daarvoor is nie. Die Franse Katolieke se Sint Rocco, het volgens oorlewering ‘n ernstige siekte opgedoen en besluit om na ‘n woud te gaan om te sterf. Hy het ‘n hond daar raakgeloop wat hom oor ‘n tyd lank genees het deur aan sy wonde te lek. Party mense reken dat die hond eintlik dooie weefsel uit wonde lek, maar ons almal weet genesing is nie net fisies van aard nie. Ek reken dat die hond as sielkundige eerder ‘n rol in die genesing te speel het. Die hondesielkundige se metodes is eenvoudig, dog doeltreffend: Stap 1) Gee vir die mens ‘n stok of bal om te gooi en hou aan om dit terug te bring totdat die mens moeg is; Stap 2) Gaan staan by die hek totdat die mens inwillig om te gaan stap.

Vriende uit my kinderdae uit, het ‘n hond gehad wat jou altyd vriendelik by die hekkie ingenooi het. Jy kon tot by die voordeur vorder, maar dit was waar die vriendelikheid gestop het. Daarna het die hond se persoonlikheid verander en jy moes bontstaan om weer terug te gaan en uit te kom. So moes ek eenkeer (miskien met behulp van ‘n bietjie adrenalien) die hond uit die pad stamp, want niemand was tuis nie en ek wou nie daar vasgekeer wees totdat die mense besluit om huistoe te kom nie. Ek dink altyd aan Cerberus, die hond wat die ingang van die hel bewaak in Grieks-Romeinse literatuur. Cerberus het ‘n paar koppe, alhoewel die hoeveelheid koppe tussen verhale verskil. Interessant genoeg word die brug na die hemel in Chinese volksoorlewering ook deur honde bewaak.

Cerberus
deur Marlise Joubert

sal die rooigrond en die berg en rivier
en al die visse om die maan jou gevreet
sagter maak, jou drif blus, jou maag voed,
jou gierigheid beloon?

ek verstaan niks meer nie.
jy is die hond in hierdie bloeiende
land, jy verwissel van plek,
verander van ruimte en kleur,
van vodde na uniform na snyerspak.

kyk, o kyk net weer na die opgekerfde
vrou, kyk, sy het haar kind verloor,
en die kind het haar ma en pa verloor,
die plaashuis en die sinkkaia in die modder
het ’n gesin verloor, en die druiweplukker
en die slaper in die bos en die ouvrou
met haar vurk in die bord het jy geheel
en al verslind, wreed ontheg van enige reg
op bestaan, oopgekloof met jou geslypte
mes, jou monsterkoeëls, die onsigbare
harde vuis.

jy gee mos geen flenter om nie –
alles vir ’n ring,’n beurs, ’n sel
of ’n waansinnige ideaal,
vir ’n eenrigtinglaan na jou kamma
hiphopland – anderkant die Styx –
waar jy glo koning van jou bende
beendere is, waar jy uiteindelik,
so glo jy mos, al seëvierende
volledig méns gaan word.

as ek jou ooit teëkom
sal ek waarskynlik nie weet wat nie.

as ek eerlik moet wees,
weet ek nie wát ek weet van veg
en woede en skop en pleit nie.

elke dag hou ek jou dop, sien
ek jou sit langs swart populiere
onder bleek steriele wilgers,
die prooi en afwag met jou vyf
geslangde koppe of meer.

en ek hiberneer verslae. slaan hortjies
dig. hou splinters asem op.

 

Geen dier kan die dood ontwyk nie en so gebeur dit dan ook dat ‘n hond die tydelike met die ewige verruil op ‘n bepaalde tyd. (Die mens se etiese kompas laat wel toe dat honde die genadedood ontvang wanneer hulle sieklik is of in die pad is wanneer mense verhuis.) Ons woef, Rocco, het onlangs langs my bed in sy slaap gesterf. Ek het soos normaalweg bo-oor hom geklim, want hy was begaafd in die kuns van versperring. Sy gunstelingplek om te gaan lê, was altyd midde-in ‘n deur of ander opening waardeer ‘n mens gereeld moes loop. Eers toe ons hom probeer roep, het ons agtergekom dat dinge nie pluis is nie. Ek mis die ou dier wat my in die aande wakker gesnork het en waaroor ek moes klim. Ek mis sy eiesinnigheid, en die kere waar ek hom met mat en al by die voordeur moes uitsleep as jy verseg het om uit te gaan. Ek dink dis bitter nodig om iets in ‘n mens se lewe te hê waaroor jy nie volkome beheer het nie.

 

A Dog Has Died
deur Pablo Neruda  (Vertaal deur Alfred Yankauer)

My dog has died.
I buried him in the garden
next to a rusted old machine.

Some day I’ll join him right there,
but now he’s gone with his shaggy coat,
his bad manners and his cold nose,
and I, the materialist, who never believed
in any promised heaven in the sky
for any human being,
I believe in a heaven I’ll never enter.
Yes, I believe in a heaven for all dogdom
where my dog waits for my arrival
waving his fan-like tail in friendship.

Ai, I’ll not speak of sadness here on earth,
of having lost a companion
who was never servile.
His friendship for me, like that of a porcupine
withholding its authority,
was the friendship of a star, aloof,
with no more intimacy than was called for,
with no exaggerations:
he never climbed all over my clothes
filling me full of his hair or his mange,
he never rubbed up against my knee
like other dogs obsessed with sex.

No, my dog used to gaze at me,
paying me the attention I need,
the attention required
to make a vain person like me understand
that, being a dog, he was wasting time,
but, with those eyes so much purer than mine,
he’d keep on gazing at me
with a look that reserved for me alone
all his sweet and shaggy life,
always near me, never troubling me,
and asking nothing.

Ai, how many times have I envied his tail
as we walked together on the shores of the sea
in the lonely winter of Isla Negra
where the wintering birds filled the sky
and my hairy dog was jumping about
full of the voltage of the sea’s movement:
my wandering dog, sniffing away
with his golden tail held high,
face to face with the ocean’s spray.

Joyful, joyful, joyful,
as only dogs know how to be happy
with only the autonomy
of their shameless spirit.

There are no good-byes for my dog who has died,
and we don’t now and never did lie to each other.

So now he’s gone and I buried him,
and that’s all there is to it.

 

Honde se energie en lojaliteit is eienskappe wat ons as mens eintlik by hul kan afkyk. Iemand met ‘n groentetuin en ‘n hond lewe myn insiens ‘n gelukkige lewe. Die lewe sal nie sonder probleme wees nie, maar die hond sal alles wat gebeur meer draaglik maak. (Alhoewel die hond somtyds die groentetuin self sal verwoes.) Daar is ‘n spreekwoord wat die volgende idee vasvang: as jy min van jouself dink – kry dan ‘n hond en as jy te veel van jouself dink – kry dan ‘n kat. ‘n Hond se verwelkoming is iets wat elke persoon eenmaal in hul lewe moet ervaar. In ons wêreld van manipulasie, hoop ek dat hul dit nooit reg sal kry om die impuls, wat die hond teen jou laat opspring, uit te teel nie.

Van honde en leibande

kan mens werklik iets vertrou
wat jy aan ‘n mensgemaakte leiband hou
dieselfde ding wat die band afkou
en gate onderdeur die grensdraad grou

my buurman had ‘n Calvinistiese hond
wat kwyl as die kerkklok lui
en net ‘n streng dieët
van hondepille en Pavlov-pudding kry

my ander maat se honderas, sê hy
is wetenskaplik bepaal
jy sien sommer die simmetrie
wanneer Wagter die koerant
uit die posbus gaan haal

hoe kies ‘n mens ‘n hond
om aan ‘n leiband te lei
want net miskien
lei die brak dalk vir my

elke hond kry sy dag
party honde kry twee
watter hond sal ek verkies
om tussen my en helshonde
in te tree?

 

Honde blaf regoor die wêreld eintlik eenders, maar die mens probeer dit in sy eie taal interpreteer. Dit beteken eintlik dat dieselfde hond op twee verskillende manier kan blaf.
Hier is ‘n paar voorbeelde:
Afrikaans: blaf-blaf; woef-woef
Arabies: hau-hau; how-how
Sjinees (Mandaryns): wang-wang
Engels: woof-woof; ruff-ruff; arf-arf
Frans: wouaff-wouaff; ouah-ouah; whou-whou
Koreaans: mung-mung; wang-wang
Spaans: guau-guau; gua-gua; jau-jau
Sweeds: voff-voff; vov-vov

Ons leef in ‘n wêreld vol teenstrydighede en semantiese kontras, maar dit is wat die samelewing interessant maak. Mense gooi vullis in die strate as hul skoner strate wil hê. Honde wat vrot dinge eet, kan ‘n wond gesond lek. Persepsies van regskonsepte word verskillend gesien deur verskillende mense in dieselfde land. Geneeskundiges wat bewustheid oor Ebola doen en sodoende lewens probeer red, word vermoor deur die mense wat hul probeer red. Kindersiektes is die gevaarlikste vir volwassenes en honde vrek as gevolg van katgriep. Die hond is lief vir en lojaal aan elkeen  wat ons as goed of sleg interpreteer en klassifiseer. Hulle hoef nie om verskoning te vra as hul vir iemand blaf wat hul nie vertrou nie. Hul bly ‘n unieke voorbeeld van onvoorwaardelike liefde in ‘n samelewing wat daardie konsep stelselmatig uitgeteel het.

Pootnota:
1.Gaan loer gerus na die volgende mooi voorblaaie van die New Yorker Book of Dogs:  http://www.brainpickings.org/index.php/2012/11/07/the-big-new-yorker-book-of-dogs/
2. Die effek van aardverwarming en ontbossing op honde:

(Bron: http://gadabout-blogalot.com/2010/04/04/real-effects-of-global-warming-climate-change-and-deforestation/)

Bronne:
1. Internet. http://boards.straightdope.com/sdmb/showthread.php?t=679237
2. Internet. http://en.wikipedia.org/wiki/Dogs_in_religion
3. Internet. http://www.poemhunter.com/poem/a-dog-has-died/
4. Internet. http://www.psychologytoday.com/blog/canine-corner/201211/how-dogs-bark-in-different-languages
5. Joubert, M. Splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011

Prente:
1. His Master’s Voice deur Francis Barraud
2. http://gadabout-blogalot.com/2010/04/04/real-effects-of-global-warming-climate-change-and-deforestation/

Handeklaptyd vir Marlise Joubert

Monday, April 28th, 2014

Versindaba is vandag vyf jaar oud en hierdie prestasie is alles te danke aan die visie en toegewyde ywer van één persoon: Marlise Joubert. Vandaar vandag se handeklap, want watter enorme bydrae het sy nie by monde van hierdie webtuiste tot sowel die bevestiging as die uitbouing van die Afrikaanse digkuns oor die afgelope jare vermag nie … En dit alles op haar eie, unieke manier waar elke bydrae met enorme respek vir teks sowel as skrywer hanteer word. Sonder om ooit op enige erkenning aanspraak te maak of eie werk te wil bevorder. (Trouens, hierdie hele handeklapsessie is as verrassing vir haar bedoel; sy self dra geen kennis hiervan nie, want ek weet mos dit sou haar net verleë laat voel het indien ek my voorneme vooraf met haar moes bespreek het.)

Maar eers, ter wille van volledigheid: In Desember 2008 skenk Marlise se skoonseun as verjaarsdaggeskenk bandwydte aan haar wat geregistreer is by die telekommunikasie-maatskappy waar hy in Engeland steeds werksaam is. Sy besluit summier om ‘n webblad ter ondersteuning van die Versindaba-poësiefeeste, wat ons sedert 2005 in Stellenbosch aangebied het, tot stand te bring. Op 28 April 2009 is daardie webblad op die internet gepubliseer. En glo my, daardie klompie maande was geensins maklike maande nie, veral weens haar persoonlike omstandighede. Nie net moes Marlise ‘n nuwe program, WordPress, aanleer en aanpas/bemeester nie, maar sy moes ook voorberei vir ‘n kunsuitstalling tydens die KKNK in April 2009 waar ‘n beduidende getal van haar akwarelle deel sou vorm van die amptelike ABSA-kunsuitstalling. In die geharwar van aktiwiteit het sy van haar rugwerwels verskuif en moes sy derhalwe kort na die KKNK ‘n rugoperasie ondergaan. (Haar latere bundel, Splintervlerk, was die poëtiese verslag van dié periode …) Nietemin, sy was vasberade om die webblad voor die einde van April gereed te hê vir plasing, bedlêend al dan nie, aangesien dit die onderneming was wat sy aan bepaalde belanghebbendes gegee het. Selfs toe sy later wel op doktersaanbeveling móés staan, het sy versoek dat ek vir haar bo-op haar lessenaar ‘n toonbank moes bou sodat sy regop kon staan terwyl sy haar rekenaarwerk vermag. Die uitdaging – en frustrasie – was om die rekenaarprogram, wat eintlik by uitstek ‘n blogprogram is, sodanig te wysig dat dit sowel statiese bladsye (vir data-versameling) as verskuiwende bladsye vir blogs en ander interaktiewe bydraes sou kon bied. En natuurlik om die magdom data te orden en te laai …

En getrou aan Marlise se aard, mis sy nie ‘n sperdatum nie. (Min mense weet dit, maar sy is onder andere ook ‘n oud-joernalis.) Binne enkele dae na publikasie het ons egter besef dat sowel die verrassende aantal besoeke wat die webblad van meet af aan ontvang het, as die reaksie uit poësiegeledere daarop dui dat dié webtuiste ‘n véél groter rol het om te speel as gewoon om as bemarkingsinstrument te dien vir ‘n bepaalde fees wat na vyf jaar aan al sy doelwitte voldoen het. Trouens, die webblad was ideaal geposisioneer om as platform te dien vanwaar die Afrikaanse digkuns onder die aandag van ‘n groter gehoor – hier ter plaatse en ook oorsee – gebring kan word … Derhalwe het Marlise binne enkele maande die webblad ten volle getransformeer na ‘n kollektiewe blad waartoe alle gepubliseerde digters toegang het; mits daar gehoor gegee word aan die reëls en regulasies van die blad wat sy daargestel het vir die goeie orde en konstruktiewe debat. Drie groepe bloggers is aangewys:  plaaslik (Binneblik), oorsese (Buiteblik) en ‘n besonder meelewende groep Nederlandse en Vlaamse digters (Wisselkaarten); ‘n paneel resensente is aangestel en borgskappe is verkry: Fonds Nederlandistiek (Suid-Afrika), as primêre, oorkoepelende hoofborg, plus die Dagbreek Trust (vir bepaalde bedryfskostes), Het Nationale Fonds Jan Marais (vir resensies) en Cordis Trust (vir kompetisies). Hierdie befondsing het dit ook vir Marlise moontlik gemaak om ‘n bedrewe assistent, Joan-Marie Barendse, aan te stel om haar teen vergoeding tot hulp te kan wees na gelang van werksomstandighede.

Maar watter prestasies is daar tot tans behaal?

  • Statistiek dui daarop dat die webblad maandeliks deur ongeveer 22,500 mense besoek word; hiervan is ongeveer ‘n derde uit die buiteland, met Nederland en Vlaandere as die vernaamste buitelandse sentra. Na afloop van vyf jaar staan die aantal unieke besoeke tans op 1,348,000. ‘n syfer wat uitstekend vergelyk met ander soortgelyke webtuistes wêreldwyd. (Terloops, weekliks beskou word die meeste besoeke op Dinsdae ontvang, gevolg deur Maandae en dan progressief minder vanaf Woensdag tot Sondag.) Die meeste besoeke op ‘n enkele dag was die 1,681 wat op 14 Oktober 2013 geregistreer is ten tye van die bekendmaking van die “Plekgedigkompetisie”-wenners.
  • Tot op datum is daar 3,584 bydraes op die webblad geplaas. Dit is gemiddeld 60 stukke per maand, of te wel twee per dag oor die vyf jaar periode. Hieronder is artikels, essays, resensies, onderhoude, fotobladsye en indekse wat vir bykans elke navorser en/of liefhebber van die Afrikaanse digkuns van belang is en/of mag wees.
  • Nie net word daar blootstelling gegee aan elke bundel wat by ‘n gevestigde uitgewer in Suid-Afrika verskyn nie, maar so ook aan die meer prominente bundels in Nederland en Vlaandere. Afrikaanse bundels word aangekondig met sowel ‘n onderhoud (met die digter) as ‘n uitgebreide, omvattende resensie; Nederlandse en Vlaamse bundels met kundige bespreking deur Luuk Gruwez en Janita Monna. Eweneens word verskillende bydraes op gereelde basis vir plasing gestuur deur die vernaamste digters in al drie digkunste; bydraes wat wissel van gedigte tot essays en watter indruksbeskrywing ook al van belang mag wees vir die digkuns.
  • Deur middel van poësie-kompetisies word bydraes ontvang en blootstelling gegee aan sowel gevestigde as ontluikende digters.
  • Maar een van die grootste prestasies: Voor die einde van 2014 gaan daar ‘n bloemlesing, In a Burning Sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation, verskyn waarin die verse van 32 Afrikaanse digters in Engelse vertaling opgeneem is. Ook hierdie projek was Marlise Joubert se inisiatief en watter ongelooflike bydrae tot die internasionale bevestiging van die Afrikaanse digkuns gaan hierdie bloemlesing nie wees nie! Die digters wat hierin opgeneem is, is almal digters wat sedert 2005 by Versindaba betrokke was en van wie daar ‘n tweede en/of meerdere bundel in die tydperk sedertdien verskyn het.

En dit alles danksy die onbaatsugtige toewyding van één mens. Daarom het ek dit goed gedink om ‘n aantal van die gereelde bydraers tot Versindaba te nader en ‘n kommentaar by wyse van “dankie sê” te versoek. Ek plaas hulle hieronder vir ons webmeester se leesplesier.

Marlise, hierdie is die vrug op jou arbeid. Geniet dit. En mag die volgende vyf jaar met net soveel vreugdevolle sukses verloop.

Louis

***

Andries Bezuidenhout: “Die barista se jeans is so skinny soos die latt  wat die hipster bestel. Die kafe ne sing:  Weialala leia, wallala leialala . Die koffiewinkel-jazz komponis het probeer om ‘n kombinasie van vars brood en geroosterde koffiebone by sy verwerkings in te meng, maar iewers tussen die back beat en die bass line is die oggendverkeer en sy minnares se mishoringverwyt vasgeknoop. Buite swik mense met kredietkaartkrukke, loer toeriste agterdogtig vir sakkerollers rond. Ek sit in die hoek, lees Versinbaba op my selfoon. Dankie, Marlise, vir vyf jaar se geleenthede om elke nou en dan op te kom en asem te skep, sommer ook in hierdie koffiewinkel in Rosebank, Johannesburg.“

Zandra Bezuidenhout: “Marlise, onder jou vaardige hand het Versindaba se poësiefeeste en webblad oor die afgelope jare  ʼn woord-aar raakgeboor wat borrel en lewe. Jou werk as prospekteerder, sluisbeampte en tuinier is van soveel waarde vir (veral) die Afrikaanse poësie dat jy ʼn belangrike toekenning daarvoor verdien. Versindaba vervul ʼn unieke rol in die bewusmakingsproses en stimuleer lesers en digters om die genre in diepte te verken en met sorg te beoefen. Deur jou toewyding en takt hou jy ʼn gesprek in stand wat weerstand bied teen die vervlakking en massafikasie van die woordkuns. Dankie dat jy die taal en haar sierlikste rankplant op hierdie manier dien, en veels geluk met wat jy reeds op plaaslike en internasionale vlak hiermee vermag het. Mag jy onbepaald voortgaan om die beddings van die poësie om te spit en nat te lei. En mag die bergstroom ruis!”

René Bohnen: “Liewe Marlise, vir woordliefde en omgee sê ek dankie. Dankie vir jou ywer en passie, maar veral ook ‘n besondere dankie vir die ondersteuning, aanmoediging en begrip wat jy agter die skerms so geredelik bied. Mag jy die vrugte van jou onbaatsugtige werk vir baie jare nog soet proe in die hart!”

Breyten Breytenbach: “Wanneer ek aan Marlise dink is dit om soos op reis te gaan. Ek sit saam met haar in ‘n koepee van die trein wat my deur die nag neem na eksotiese bestemmings. ‘n Geurige maar dainty aandete word bedien. Buite die treinvensters vou landskappe oop – ek sien hulle skerp alhoewel dit donker is – en vergly weer, en elke tafereel het ‘n eie storie van mensegebeure maar ook van drome. Dis eers by die bestemming, wanneer ek afklim en die groot groep digters op die perron gewaar, almal met salige glimlagte op die gesigte al kon ek sien hoe glim die messe en die strydbyltjies in sommige moue, dat ek verneem (maar ook net omdat ek nuuskierig is en aandring want my kollegas is diskreet) dat dit Marlise is wat die reis so gemaklik en sprokiesagtig maak, dat sy die disse opgetower het en die nag bevolk het met helder visoene van waarnatoe ons op pad is en waarvandaan ons kom. En so wragtie, toe moes ek hoor dat sy – terwyl ek (soos al die ander medereidigers) ingesluimer het op ritme van die tok-tok-tok – nog bowendien die stoker ook is! So ‘n reis in sulke veilige en bekwame hande is mos ‘n lewenservaring!”

Heilna du Plooy:

 

‘n Rympie vir Marlise

Hulle het gesê die geld gaan opraak,

dis waarom hulle minder boeke maak

Dit het die woordsmede benoud laat dink:

Hoe vreeslik as die toekoms woordloos wink!

Ongelees is woorde mos op ‘n anoreksiese kuur;

hulle staan veroordeel met die rug teen die muur.

Maar Marlise gaan sit en bou ‘n wye werf

dat lesers en skrywers mekaar se woorde kan erf.

In die kuberdorp is daar vir elkeen ‘n woning

en in elke kamer kraai iets anders koning.

Daar is neste vir verse en blogs en resensies,

daar is nisse vir groot gedagtes en klein wensies.

Die webmeester ken al die gange van die groot labirint;

sy werskaf tot sy vir elke bydrae ‘n plekkie vind.

Nou dans baie woorde in ‘n uitdyende kring

waarin selfs hierdie rympie se dankie kan saamsing.

Jeffreysbaai

3 April 2014

 

Tom Gouws: “LiefMarlise, dankie vir die eerlike en behendige hartgrondelikheid waamee jy Versindaba verpak. Diep waardering.”

Luuk Gruwez: “Dag Marlise, ik prijs mij gelukkig dat jij elke maand weer bereid bent om een volslagen digibeet als ik onder je vleugels te nemen en ervoor te zorgen dat zijn teksten in de rubriek ‘Wisselkaarten’ telkens weer in de juiste outfit op het podium van Versindaba mogen verschijnen, alsof zij niet de minste hinder ondervinden van het digitale onvermogen van zijn schrijver. Maar evenzeer voel ik mij bevoorrecht doordat jij een brug bouwt tussen – in mijn geval – Hasselt en jouw Stellenbosch, waar ik ooit te gast mocht zijn. Ik koester voor jou en Louis de warmste sympathie en hoop dat je met een blikverruimend webblad als Versindaba ook in de toekomst en tot in lengte van dagen de heimwee bevorderende relatie van onze beide continenten zult blijven ondersteunen. Veel moed om het allemaal vol te houden in een tijd waarin alles van waarde, naar het woord van Lucebert, meer en meer weerloos is.”

Joan Hambidge: “Marlise Joubert en Versindaba – Die waarde van hierdie webblad vir my as digter is dat ‘n mens ‘n gedig stuur na ‘n webblad waar daar lewe is. Vir my is dit nodig om ‘n gedig te publiseer sodat dit “buite” my kan asemhaal. Hierna kan ek dit verbeter of kallibreer. Marlise het ook deur die jare altyd flink gereageer op my gedigte, resensies en kritieke op die webblad. Hierdie soort proses van (voorlopige) publikasie van ‘n gedig wat dan transformeer en binne bundelverband ‘n nuwe identiteit kry, moet beslis nie onderskat word nie. Hierom dan ‘n gedig:

Bedizen

Kon nooit musiekteorie begryp:

daardie skewe, mal figuurtjies

vasgevang op die notebalk:

knope van doringdraad.

“Leen” my suster se teorie-boek

tot die klavieronderwyseres,

streng, bebrilde oujongnooi,

haar bolla styfgedraai, ‘n solsleutel,

dié bedrogspul aan die kaak stel

en my ma besef daar’s geen musiek

te make uit haar aweregse, buite-kind.

Maar die musiek van woorde,

dié boei my reeds van jongsaf:

die osse-wat-aanstap-in-die-stowwe,

die verkluimende Klara Majola en veral

die-geurige-nooi-in-‘n-nartjie,

wat op die maan se loskom wag

nes die Juffrou wat te-ver-geefs

klanke in onritmiese kinders inhamer.

My bloemlesing in standerd drie bult

onder hierdie metriese woordmusieke

se jambes en veral trochee’e.

Nou teen dusketyd, teen dusketyd

probeer ek die hart, sonder spyt,

se ritmes opteken, nee naskryf:

opskik, optooi, optakel, ja ópDirk.

© Joan Hambidge

Amanda Lourens: “Die blote bestaan van Versindaba, nog voor ’n mens die betekenis daarvan vir die Suid-Afrikaanse literêre wêreld in oënskou neem, ondermyn elke woord wat al ooit gespreek is oor die “irrelevansie” van die poësie. Voorwaar kan geen randaktiwiteit soveel belangstelling en gesprek ontlok nie. In ’n baie kort tyd het Marlise die blad uitgebou tot dié ruimte vir die studie van en gesprek oor die Afrikaanse en Nederlandse poësie. Dit is waarheen jy jou eerste wend vir resensies en gesprekke van gehalte; ook vir prikkels van allerlei aard uit die verskeidenheid van blogs en menings. Wat dan ook merkwaardig is, is om die groei in die publikasie van nuwe bundels (en die toename in gehalte) oor die laaste vyf jaar op te let, en dan te wonder of dit dalk te danke is aan die soort kreatiewe simbiose wat Versindaba tussen lesers en produksie skep? Bravo, Marlise – ons wag op die volgende vyf!”

Bernard Odendaal:

Te boek by Marlise (en Louis)

Die jonger boertjies van die woordvallei

dink verniet hul verse wei op tóénterveld;

nog anderdag wou net die doodswyg hier gedy.

Toe kom jul Versindabas, jul koöp op die Web

met pioniersaad, sê, op die boek te kry.

Nou, as bundels stoet maak, of koers soos troppe wild,

verbeel ons ons by julle pensdiep in die skuld.

Leon Retief: “Liewe Marlise: ek wonder of jy destyds geweet het wat jy aanpak! Maar dankie tog dat jy dit gedoen het! Ek wonder ook of jy weet wat Versindaba als vir so baie mense beteken – vir my nie net die persoonlike plesier om gedigte en gedagtes te lees nie maar ook om vertaalde Afrikaanse gedigte hier in Canuckistan aan Kanadese bekend te stel – iets wat vir my werklik baie beteken. Dankie nogmaals!”

Alfred Schaffer: “Beste Marlise, dank voor al je harde werk en goed zorgen. Je hebt van Versindaba (samen met Louis) echt “’n tuiste” gemaakt voor iedereen die van poëzie houdt, Afrikaanse én Nederlandse. Ik denk dat veel gedichten niet gepubliceerd zouden zijn, en zelfs geschreven (als ik nu denk aan de speciale schrijfwedstrijden) zonder Versindaba – een internetplatform dat voor iedereen open staat, voor de stille lezer én de kletskous, voor beginnende én gevestigde dichter. Van harte gefeliciteerd met de eerste 5 jaar!”

Marlies Taljard: “Marlise, in ‘n tyd waarin al hoe minder mense lees, en veral poësie lees, het jy daarin geslaag om poësie deel te maak van gemiddelde mense se belangstellingsveld – eers deur die Versindaba Poësiefeeste en die afgelope 5 jaar deur middel van die gewilde Versindaba-webblad. Die kanoniserende bydrae van dié webblad kan kwalik onderskat word. Die hoogstaande kwaliteit debat wat tans op Versindaba gevoer word, stimuleer nie net die uitgewersbedryf nie, maar het ook ‘n belangrike meningvormende funksie in dié sin dat dit bydra tot die akademiese beoefening van literêre kritiek én vir die deursnee poësieleser riglyne verskaf oor wyses waarop gedigte gelees, waardeer en beoordeel kan word. Die belangrikste is egter dat dit Afrikaanse digters ‘n publikasieforum van hoogstaande gehalte bied en kreatiewe uitsette stimuleer. Hoe sê mens daarvoor dankie …?”

Yves T’Sjoen: “Lieve Marlise, het is nu enkele jaren dat we elkaar – meestal van op afstand en ergens elders op een ander halfrond – hebben leren kennen. Onvergetelijk zijn de gesprekken aan de oever van de Eerste Rivier in Stellenbosch, de viering van de verjaardag van Breyten Breytenbach in september bij jullie thuis. Ook de meer afstandelijke gesprekken, alleen in de meest letterlijke zin des woords, zijn hartverwarmend. Klunzig als ik ben met blogs en andere digitale tools bied je altijd een helpende hand en jouw onbaatzuchtige erkentelijkheid voor de berichten die ik vanuit Gent stuur, is telkens weer verblijdend. We moeten méér tijd hebben om over poëzie en beeldende kunst te praten en ik weet dat die tijd ooit aanbreekt. In zijn debuut Rode oever nam Arjen Duinker de regels op: “Veel tijd is er niet//Geen bezwaar/Verzamel verder!”. Om te besluiten met: “Noem de dingen bij hun naam/Eet ze op!//Is morgen onzichtbaar voor de logica?”. We hebben de logica niet nodig om de dingen bij hun naam te noemen. Die gedachte maakt onze wederzijdse talen zo zinvol. Alle hartelijks en gefeliciteerd met alles wat je altijd weer verwezenlijkt.”

Gisela Ullyatt: “Versindaba laat my altyd willekeurig dink aan die ou gesegde ‘voor in die wapad brand ‘n lig’. Die ‘wapad’ stel vir my die webblad self voor, wat dus die weg baan vir die Afrikaanse poësie. Terselfdertyd spruit afdraaipaadjies uit hierdie Afrikaanse wapad wat uit anderstalige poësie bestaan. Kuns en ander wonderlike uiteenlopende onderwerpe bevind hulle ook in  hierdie vertakkings van die wapad. Die ‘lig’ in die gesegde is Marlise Joubert wat met haar fakkel altyd seker maak dat die Versindaba-wapad vars grond het vir begaanbaarheid en nie te papgery en uitgetrap raak nie. Dus is die leser altyd bewus van die vroulike ‘touch’ op die webblad: keurig versorging deur ‘n webmeester wat self ‘n digter is en die uitgewersbedryf ken. Haar bedrewenheid met moderne tegnologie verseker die ‘manlike’ deel van die webblad. ‘n Aantrekliker vertoonruimte vir poësie kan ek my kwalik voorstel. Veels geluk, Versindaba, en mag julle olielampies nog lank skyn!”

/ 28 April 2014

Gisela Ullyatt. “Brokkelrots van pyn”: die verwonde digter

Wednesday, November 13th, 2013

 Foto: Beth Frazer

 “The body is not mute, but it is inarticulate; it does not use speech, yet it begets it.”

Hierdie aanhaling kom uit Arthur W. Frank se The wounded storyteller (1995) wat liggaamlike verwonding en siekte op ’n treffende wyse bespreek en uitlê.

Nou die dag word ek genoop om my dokter vir ’n tweede keer in twee maande te besoek. Nie juis my idee van vryetydsbesteding nie. Honderde rande se pille ten spyt, smaak dit my moderne medikasie doen weinig vir moderne mankemente. My situasie is egter allesbehalwe uniek: daagliks slyt miljoene mense hul bestaan met chroniese pyn waarvoor geen huisarts of spesialis ’n antwoord kan bied nie. Raadpleeg jy Prof. Google, is daar duisende obskure self-kommentare te vind oor elke kwaal onder die internet-son. Maar vanweë hulle oorwegende fatiese (small talk-aspek) taalgebruik maak min egter ’n blywende indruk.

“Telling stories of illness is the attempt, instigated by the body’s disease, to give a voice to an experience that medicine cannot describe” (18). Die mediese wetenskap teken bevindings aan, wat terselfdertyd op ’n kliniese siektebeeld en proefondervindelike metodes berus. Dit sou egter oneties wees om pasiënte se gegewens bekend te maak of data só aan te bied dat hulle herkenbaar sou word. Ongelukkig is hierdie artikels kentekenend van die individu se ontpersoonliking: “the master text of the medical journal needs the suffering person, but the individuality of that suffering cannot be acknowledged” (12). Lyflike verrinnewering en siekte kan nie werklik deur statistiek beliggaam word nie, omdat dit grootliks ontdaan is van Mitleid (medelye).

Frank se aanhaling het my laat besef hoe onontbeerlik die digkuns is in die persoonlike kartering van ’n siekte-ervaring. Die kern van The wounded storyteller berus op die aanname dat die pasiënt uit sy/haar rol as passiewe aanvaarder van diagnose en mediese diskoers tree en self verantwoordelikheid aanvaar vir die artikulasie van siekte:

For people to move their stories outside the professional purview involves a profound assumption of personal responsibility […] the ill person as patient was responsible only for getting well; in the remission society, the post-colonial ill person takes responsibility for what illness means in his life.

Marlise Joubert se splintervlerk (2011) is ’n voorbeeld binne die Afrikaanse digkuns wat hierdie verantwoording van lyflike verwonding verwoord. Die leser verkry ’n blik op hoe die digter se lewe deur ernstige pyn omvergewerp is.

In “die aarde weet dit” (9) word die digter se liggaam ’n skrikwekkende wese; ’n danteske demoon: “bek gesper / die gifgroen spleet in die vuurpyltong” wat kulmineer in ’n “intensiewe folterkamer”. Haar lewe word verder vergal tot ’n ingeperkte gesondheidsregime:

die bitter meelsmaak van ’n pil

kapsules kleurvol opgestoet met vitamien

die oefenprogram die wegdraai van alle soet.

“lumbale mikrodiskektomie” (13) verwys na ’n mediese prosedure wat uitgevoer word nadat die tussenwerwel- of kraakbeenkussinkies as’t ware oopgekraak of gebars het en die splinters kraakbeen teen die pasiënt se beensenuwee druk wat gevolglike inflammasie en onuitspreeklike pyn veroorsaak. Hierdie kraakbeenkussinkies word as “ontsteekte vlerkies / vlak bo die boud se naat” geskets wat die leser die direkte skakel met die titel van die bundel in verbinding laat tree.

In “blomtong” (20) word die liggaamlike verbrokkelingsproses gelykgestel aan losgeknipte irisse wat in ’n vaas staan: “agter die glaspot se riffelpatroon / hang afgeknipte slagare los in die water”. Joubert lei die leser deur ’n visuele kragtoer wat ook ’n skildery sou kon wees (sy is weliswaar ook ’n suksesvolle waterverfskilder). Die pers vlinders en irisse versterk die idee van kneusing voor en na die operasie en gevolglike lyflike indringing wat ’n traumatiese litteken laat:

agter pers vlinders bloei die trauma

van ’n week, nee twee of drie tevore

toe purpertange my rug vasgeknyp het –

die kraakbeen voos soos ’n neut laat bars,

weefsel soos saffraan kon kneus

en oranje meeldrade van ’n vlegsel

senuwees laat knak.

Lyflike verwonding gaan altyd gepaard met emosionele kneusing: “Only a caricature Cartesianism would imagine a head, compartmentalized away from the disease” (2). Hierdie verbondenheid tussen liggaamlike en sielkundige letsels word deur Joubert in “tuis” (27) bepeins. Die “ek” vrees ’n nuwe bestel: sal haar versplinterde liggaam haar geliefde van haar vervreem? Of is daar ’n kans dat sy, “splintervlerk” ten spyt, deur haar geliefde soos voorheen bemin sal word?:

voordat jou hand my

sleutelgatsnitte skandeer

waar die splinters vlerk verwyder is

 

voordat jou mond teen my hart

soos ’n oor kom pas –

 

wil ek weet dat jy gesig is

die ganse oopgelate

verbysterende gesig van liefde

 

soos dit voorheen was

Nog ’n Afrikaanse digbundel wat siekte as deurlopende tema bied, is E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet (1995). In hierdie bundel pen hy die geweldige liggaamlike aftakeling neer wat deur akute diabetes mellitus veroorsaak word. Hammond self is ’n geruime tyd voor sy dood versorg in ’n verpleeginrigting in Kimberley vir chroniese siektegevalle.

In die bundel se gelyknamige gedig (46) bring Hammond seks en siekte saam wat ’n  ooglopende paradoks teweeg bring. ’n Interessante wending hier is die omkering van geslagsrolle; gewoonlik word pyn wat in seks geïnisieer word met die man in verband gebring en die ontvanger daarvan gewoonlik die vrou. Hier is die manlike spreker die ontvanger van seksuele pyn. Hammond maak ook gebruik van makabere self-spot wat die idee van selfbejammering ondermyn:

Elke oggend deur die steriele

sale van die hospitaal

kom my klein beminde

met haar wit gewaad.

Ek ontbloot my,

by voorbaat, soos ’n slet,

reg vir die kliniese daad.

Eers die hees fluistering:

Is hy in?

En dan, byna teer:

Het ek jou seergemaak?

Uiteindelik niks meer

as: Sien jou môre weer.

Ag hoor hier: my hart

wil breek; ek is al

so stukkend en so moeg

vir die alewige gesteek.

Talle ander voorbeelde van liggaamlike verwonding sou binne ’n groter bestek bespreek kon word; Antjie Krog se Verweerskrif, asook sekere gedigte van Sheila Cussons sou onder die loep kon val. Ek verwelkom enige ander voorstelle van soortgelyke voorbeelde in die Afrikaanse digkuns.

Bronne:

Frank, A.W. 1995. The wounded storyteller. Body, ethics, and illness. Chicago: University of  Chicago Press.

Hammond, E.W.S. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Kaapstad: Tafelberg.

Joubert, M. 2011. Splintervlerk. Pretoria: Protea.

Gisela Ullyatt het aangesluit by ons span Suid-Afrikaanse bloggers – Red.

Gisela Ullyat

Gisela Ullyatt is ’n Vrystater in murg en been. Sy is gebore in Bloemfontein in 1977 en behaal die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar PhD-navorsing (NWU) handel oor die Amerikaanse digter, Mary Oliver, gesien deur die raamwerk van Boeddhisme. Sy dig sedert haar hoërskooldae en in 1995 wen sy die De Kat/ATKV-poësieprys en in 1998 die Volksblad/Dept Afr/Nederlands-prys vir die beste gedig. Sy publiseer ook gedigte in Litera en Honderd Dichters 6. Sy en haar man, Tony, se eerste liefde is literêre vertaling en neem deel aan vertalingsprojekte soos In a Burning Sea (tans op Versindaba se webblad) en die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap.

Louis Esterhuizen. Wanneer digters spoor vat na die verlede

Thursday, September 12th, 2013

‘n Besonder interessante publikasie wat hierdie naweek aan die handel beskikbaar gestel word, is Spoorvat – Skrywers en herinneringe wat deur Riana Scheepers en Leti Kleyn saamgestel en deur Lapa uitgegee word.  Met dié pretloop is daar sommer ‘n hele trop digters wat die wandeling meemaak, te wete Andries Bezuidenhout,  Zandra Bezuidenhout, Clinton V. du Plessis, Hans du Plessis, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen,  Joan Hambidge, Louis Jansen van Vuuren, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Henning Pieterse, en Wium van Zyl.  Daarom dat ek dié publikasie graag onder jul aandag bring.

Volgens die inligtingstuk wat ontvang is, die volgende: “As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literêre pryse gewen, die harte van lesers verower, diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwêreld … Ons ken hulle as openbare figure, as skeppers van verhale en romans en rubrieke, maar wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeug herinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeug herinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers?”

Riana Scheepers en Leti Kleyn (samestellers van die trefferboek Die Afrikaanse Skryfgids) het skrywers gevra om hul kinder- of jeug ervarings te woord te stel. Daar was geen beperkings of voorskrifte nie, maar slegs gepubliseerde skrywers is om bydraes gevra.

Die resultaat is ‘n unieke bloemlesing van 36 skrywers . Saam met hierdie skrywers vat ons die spoor terug na die verlede; ‘n verlede wat net so kleurvol, vrolik, hartseer, innig en uiteenlopend is soos die mense van hierdie land.

“Spoorvat is ‘n belangrike bloemlesing, nie net omdat dit voortreflike tekste bevat van skrywers wat reeds hul kleim afgesteek het nie, maar omdat dit terselfdertyd ook unieke outobiografiese sketse is. Die leser kry ‘n intieme en eerlike blik op die leefwêreld van ‘n jong kind wat later in sy/haar lewe groot hoogtes bereik het.”

By wyse van lusmaker volg enkele snitte uit die betrokke digters se bydraes.

*

Zandra Bezuidenhout

Partykeer moes ek vir Pollie ’n pakkie Cavalla King gaan koop. Die kleingeld was myne, net genoeg vir ’n pakkie lekkergoedsigarette wat ek op die stoel onder­kant die teksie soos ’n groot vrou sit en “rook” het. Pol­lie het nooit vir my gelag nie. Net soms uit die bloute laat val “Jou ma sê jy’s ’n probleemkind” en die laaste woord so half tergerig uitgerek. Ek was te skaam om te vra wat dit beteken, gedink dit was seker maar ’n naam vir die oudste of die alleenste, want ek was albei.

 ———

Andries Bezuidenhout

In die Hoërskool Silverton se klaskamers beskryf kinders van weerskante Pretoriastraat mekaar onderskeide­lik as “snobs” en “krims”. Snobs en krims voer soms hul gesprek ná skool verder met vuiste by die voetganger­brug oor die Moreletaspruit. Die krims is meesal beter met die taal van vuiste as snobs. Soms het krims selfs ouer broers in die polisie. Vir snobs is dit half vreemd dat die ergste krims in die polisie beland, maar mens weet nie of mens hierdie morele vraagstuk aan dominee Wan­nenburg in die katkisasieklas kan stel nie.

Ons Silvertonners is bewus van die feit dat die kinders van Menlopark en Waterkloof ons woonbuurt “Slither­ton” noem. Gegoede mense soos Laetitia-hulle is egter nie van Slitherton nie. Hul tydslotte is bo dit alles ver­hewe. Hoeveel huise in Waterkloof en Menlopark kan met tydslotte spog?

———

Joan Hambidge

Die nag kan ek nie slaap nie. “Oh Mamy, Oh Mamy . . . Oh Mamy blue,” huil die radio. Ek weet die kind is dood en Sara hou my die hele nag vas teen haar bors. En ek sien weer en weer die motor wat die kinders tref. Skoene wat deur die lug trek in stadige beweging.

En ek wonder wie sal háár vannag vashou?

O, roos van my hof

Wat was haar naam nou weer?

Daardie kind wat onder ’n motor beland

het saam met drie en twintig ander

in ’n Lenteloop toe ons moes geld insamel.

Jy weet mos, daardie kind, wat rég voor

ons oë opgelig en neergegooi is?

Reg voor die robot waar ’n Valiant beheer

oor sy remme verloor het. Malus, -a, -um.

Alles het in slow motion gebeur

met skoene soos swaarde deur die lug.

Die een onder ’n vaal kombers,

met haar voet na binne gedraai.

Ons almal by haar begrafnis:

“Wat ’n vriend het ons in Jesus . . .”

Daardie kind wie se dood later

uitgebloei het in ’n Latynse toets:

Timidi estis en Puella pulchra est.

En vertaal: “Die rose in die tuin is mooi.”

Verdomp, wát was haar naam nou weer?

——–

Louis Jansen van Vuuren

Die swart-en-wit reghoekie het ’n skerp gekartelde randjie. Dit is ’n monochroomoomblik wat met die dwaling van tyd veraf en dof geword het. Dis nie dat mens aspris vergeet nie, maar die lewe gaan onoplettend sy gang. Die foto’tjie is met deurskynende driehoekies op die album se blaai geplak. Om die kiekie van naderby te bekyk moet ek dit uit sy rusplek lig. Die glansoppervlak­te word ’n spieëltjie in my hand waarin aspekte van my studeerkamer weerkaats: die plafonroos met die kande­laar en die venster wat uitkyk oor die tuin. Onderaan die kiekie is daar met wit Indiese ink in sierskrif geskryf: Ifafa Beach 1951.

“Inyoka! Inyoka!”

———

Marlise joubert

Die terugblik na jeugjare is een met verwondering, met nostalgie, en terselfdertyd een van vervreemding. Jy weet instinktief dat dit nooit geheel en al getrou jou eie “verlede” reflekteer nie. Daar is altyd verwarring tussen feit en ervaring. Dis ’n bewegende poel water waarin gestaltes vervorm, rondskuif en wegraak. Jou interpre­tasie word beïnvloed deur allerlei ander belewenisse, bykomende verledes tussenin, en deur jou onmiddel­like werklikheid. Gestolde oomblikke in vensters word lewend gemaak deur jou dialoog, jou eie klankbaan.

dis ’n taal wat niemand anders verstaan

wat snitte uit hibiskus speel

uit die vlamboom se tuite rooi trompet

wat krap soos witdoringnaalde in diep gleuwe –

die grammofoonkas van geheue

Wat oorbly in die magdom lae van die geheue, is dikwels net ’n gevoel, afhanklik van die tydgleuf waardeur die lig speel op die klein bloeisel wat oopgaan, wat veel meer beteken vir jouself as wat dit miskien was in ’n groter konteks.

Daar was twee plekke wat ’n rol gespeel het in my jeugjare, Levubu naby Louis Trichardt en Warmbad in die Waterberge (vandag bekend as Bela-Bela).

———–

Trienke Laurie

As baba is ek glo wild gewieg

op ’n vrolike soldatelied

en toe ek begin opskiet

trap ek hoog op sy steltevoete

“Walking on the green grass”.

Die opgeskote meisie leer

met ’n aardige hoppie ’n wals.

Die klein Griekse vaas

is deur Vader gekoop vir my

 

 

dat ek vir hom ’n roeskleur blaar

as najaarsteken daarin plaas . . .

 

Eendag het ek met my jonger sussie see toe geloop. Die vierjarige bokstertjies het haar tassie gepak met nartjies. Ons het met die blaartjiepad geloop en toe het ons ver­sigtig oor die hoofpad geloop om by die swaaie naby die see te kom. Heila was gouer verveeld en ek het haar teruggehelp oor die grootpad by die verkeerslig en self weer see toe gegaan en skulpies in die tassie gegooi. Hoe dit gekom het, weet ek nie meer nie, maar ek het later saam met ’n polisieman gestap wat sy fiets gestoot het tot by ons huis. Ons is gewiks met ’n leerband, maar erger nog: Ons moes tot twaalfuur die oggend stil lê op ons bed­dens!

———-

Clinton du Plessis

Maar, soos ek sê, dit was die tyd van Apollo 13. Die maan was hopeloos te ver om enige invloed op my lewe uit te oefen. Soms het ek saans op die stoep gesit en kyk na die affêre daar ver weg.

“Wat gaan soek hulle daar?” was my gevoel dan.

“Hulle krap in die Here se kaggel,” het Ma gewaar­sku en “Ek het julle mos gesê,” het sy vol genoegdoening gespog toe die nuus kom van die ontploffing van die suurstoftenks aan boord. Daardie aand het ek met vrees en bewing gebid dat ek nooit met die Here se kole moes bodder nie, nooit in sy rooi konka moes krap nie.

Die gedeelte van die dorp waar ons gewoon het, was gemeng. Bantoe en kleurling. Dit is hoe mense toe genoem is.

———

Hans du Plessis

Sonder ’n kettie om jou nek was jy onbehoorlik aan­getrek, eintlik ’n bietjie kaal – of jy was ’n meisiekind. Kettieklippe was volop in die berg, net partykeer as Pa by ’n bouery moes laat dak opsit, kon ons loodwassers steel en dit vierkantig kap om duiwe mee te skiet.

Meisiekinders was iewers ver op Mars of op die maan. Ook maar goed, want wat het hulle nou van ’n kettie ver­staan? Hulle kon ook nie met ’n ghoen skiet of ’n pylpunt uit ’n drieduimspyker plet nie. Van poppe en goed het ons niks geweet nie, want daar was nie meisiekinders in ons huis of in ons bende nie. Die enigste meisiekinders wat ons geken het, was die niggies wat Sondae ná kerk kom kuier het. Sondag was stilsitdag met skoene en ’n pak en ’n das – dit was sulke oneindige lang geel dae.

———–

Heilna du Plooy

Hierdie meisie met haar musieksak in die sandpad was eintlik ’n gelukkige kind. Daar was natuurlik die klein opstootjies en tienerreaksies soos in enige nor­male huis, maar die soort ontwrigting en donker weer­sin in ouers waarvan jong skrywers tans skryf, was vir haar onbekend. Sy het nie gedink sy was buitengewoon bevoorreg nie, maar in breër verband beskou, was sy natuurlik. Haar ouers wat albei onderwysers was, het hulle drie dogters aangemoedig en hoewel hulle streng was oor dinge soos selfdissipline en verantwoorde­likheid, was daar ook baie pret en vrolikheid in die huis. Dit was nie ’n lewe van luukshede of geskenke nie, want daar was nooit baie geld nie, maar daar was be­trokkenheid en sorg. Waar die pa soms geneig was om nogal streng te wees (later sou sy weet hy was gewoon oorangstig oor sy dogters se welsyn), was hy nogtans ’n ernstige en sensitiewe man en hulle ma was mooi en gemaklik en toeganklik. En die wêreld was eenvoudig: Hierdie jong meisie het soos baie van haar tydgenote min van politiek en ekonomie en sosiale problematiek geweet.

————

Louis Esterhuizen

En die dorpsirene elke aand om agtuur. O, hoe goed onthou ek die weemoedige geskal wat aandui dat alle nieblankes uit die dorp moet wees! Dit was die vroeë 1960’s en dié sirene was algemene praktyk in bykans alle plattelandse dorpe. Eers later sou ek die werklike betekenis – en implikasie – hiervan snap. Op dié tyd­stip was ek normaalweg al in my bed terwyl die sirene deur die leë strate huil en kyk ek na die ouwêreldse straatlampe wat in sulke eweredige strepe deur die Ve­netian blinds oor my bed val.

Ook Ouma se erf het ’n windpomp gehad en drie wa­tertenks op drie hoeke van die huis waar die water versamel is. Daar was nie ’n grasperk nie, maar grond wat elke oggend met ’n besembos netjies skoongevee moes word. En die breë plankstellasies waar sy haar perskes gedroog het wanneer dit persketyd was.

En die bessieboom voor die garagedeur.

———–

Henning Pieterse

Ek onthou hoe ons saam met die werkers sakke soja­bone uitslaan totdat jou hande vol blase is. Hoe ’n haan, afkop en met vlerkgeklap, oor die werf hardloop terwyl ’n dun vlies oor sy oë trek in sy afgekapte kop, eenkant. Ek onthou hoe ’n skaap spartel en skop en sy oë glasig word nadat die ergste bloed uitgespuit het, net nadat sy keel afgesny is. Ek onthou die geskree van die lammers wan­neer hulle gekastreer word en dol van pyn in die kamp rondhol, tot teen die drade in. Ek onthou hoe oom Piet, my ma se tweelingbroer, sy haelgeweer lig en ’n paar skote in ’n reusagtig hoë bloekomboom afvuur en hoe honderde vinke soos geel reën uit die takke neerdaal.

VRYSTAATSE ELEGIE

Vir A.M. Fouché 1902–1975

 

Herinnerings vergeel. Gras

verkleur in Vrystaatse winters.

Ek moes jou nie teen die einde gesien het nie,

op ’n helder middag in ’n warm stad.

Eerder ’n foto: ’n jong meisie

met rybroek, of ’n bruid met lang hare

wat jy saans uitgekam en uitgekam het.

Jy staan by ’n dennelaning, dae is vol

verhale, oor ’n oumagrootjie

wat haar ring by ’n fontein verloor het.

Ek onthou: jy is op ’n wa gebore,

in ’n brandende nag in laatwinter,

opstalle in puin soos die land

wat julle deurkruis het.

Aletta was die laaste plaas,

jou naam, Aletta, waar wind

uit die holkranse altyd waai

en sandsteen digter om vloere vou.

Op sestien, moes ek belowe,

sou ek ’n klipstapel in die middel

van die plaasdam pak. Dit is nooit

gebou nie en staan sonder offer

in herinnering. Jou foto met die tweeling

is dof. ’n Jong vrou wat deur die raam

na buite staar. Ek kyk weg.

Die ring kon ek nooit vind nie;

die wind vee alles skoon, waai

gedagtes ver en naby.

Ek het langs die denne gestap,

langs die leë dam,

en die dou het die hele dag

op die gras bly lê.

 

1 Jare later sou ek ’n gedig oor ouma Lettie skryf (uit: Alruin, HAUM-Literêr, 1989.)

 

———

Wium van Zyl

Hierdie kontrei rivierop van die dorpie Heidelberg (Kaap) is my geboorteplek, grootwordplek, staan ewig in my hart gebrand. Op ’n September-nag het ek aangekom en ná die dokter se vertrek het tant Mêggie opgedaag om vir die sekerheid ’n ou Kaapse pennie op my naeltjie te sit. Dat die werf songeel was met tulpe, van die aandblom in volle geur, skaamrosies wat bloos in die môredou, het ek toe nog nie geweet nie. Ten minste nie bewustelik nie.

My eerste skerp herinnering is van my blou-en-wit driewieletjie op die skuinserige werf. En veral dit: Op­draande is moeiliker as afdraande. Dit is ’n kwessie wat nooit weer uit my lewe sou verdwyn nie.

 ——–

Uit: Spoorvat, 2013: Lapa Uitgewers.

Saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn.

 

 

South African Literary Awards (SALA). Doelstellings en prosedure

Friday, October 19th, 2012

 

Verlede week is berig dat drie Afrikaanse digters, te wete Johann  de Lange (Weerlig van die ongeloof), Marlise Joubert (Splintervlerk) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) vir vanjaar se SALA-toekennings benoem is.

Op navraag is onderstaande inligtingstuk ten opsigte van SALA se doelstellings en prosedure van die organiseerders ontvang:

SOUTH AFRICAN LITERARY AWARDS (SALA)

SALA is nou in sy sewende bestaansjaar en word bestuur deur die wRite associates, in samewerking met die Nasionale Department van Kuns en Kultuur, Sowetan en Nutrend Publishers. Aanvanklik is slegs met enkele pryse begin, maar geleidelik is daar meer pryse toegevoeg, sodat die spektrum van genres vergroot is om veral skrywers in inheemse tale aan te moedig om te skryf. SALA bekroon skrywers in alle amptelike tale van Suid-Afrika sonder om enige taal te bevoordeel.

Die doel van die SALA-pryse

  • Om verdienstelike Suid-Afrikaanse skrywers te vereer vir hulle werk en die bydrae wat hulle ten opsigte van die Suid-Afrikaanse letterkunde in sy geheel maak.
  • Om literêre uitnemendheid te huldig. In ‘n land soos Suid-Afrika het letterkunde die vermoeë om verskillende mense en kulturele groepereringe by mekaar uit te bring. Wanneer literêre werke verskillende perspektiewe op die Suid-Afrikaanse geskiedenisse, op waardesisteme, filosofieë en kuns uitbeeld, skep dit ‘n besondere platform waarop hierdie dinge met mekaar gedeel word. Die verskillende tale waarin skrywers hier skryf en die verskillende literêre werke wat hier tot stand kom, preserveer as’t ware ‘n paradigmatiese beeld van ons samelewing en ons kultuur soos dit op die oomblik is. In ‘n land waarin ons daarop aanspraak maak om ‘n nasie te wees, is dit nodig om van mekaar kennis neem en om mekaar se sieninge van die waarheid (in soverre daar ‘n waarheid is!) respekteer. Net kan daar ooit versoening en begrip tussen verskillende groeperinge in ons land ontstaan. Die letterkunde stel ons in staat om verskillende sieninge te respekteer, al is dit nie noodwendig ons eie sieninge nie.
  • Om die mees invloedryke en gerespekteerde literêre pryse in Suid-Afrika te word. SALA is immers ‘n organisasie wat skrywers in ‘n groot aantal literêre genres en kategorieë dwarsoor die spektrum van die 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale bekroon.

Die nominasieproses

Daar word in die media geadverteer en versoeke word gerig dat enige iemand skrywers in die verskillende kategorieë benoem. Gewoonlik benoem uitgewers skrywers wat by hulle gepubliseer het, maar enige ander persoon mag ook ‘n skrywer benoem, solank daar ‘n sekondant is. Die genomineerde werk moet dan natuurlik aan die gestelde vereistes voldoen.
 
Die 9 kategorieë waarin SALA-toekennings gemaak word

Lifetime Achievement Literary Award

Dit word toegeken vir die oeuvre van ‘n skrywer – m.a.w. iemand wat al heelwat gepubliseer het op ‘n hoë standaard.

Posthumous Literary Award

Hierdie prys is, soos die naam aandui, vir skrywers wat reeds dood is en nie in hulle leeftyd vereer is met groot pryse nie.

Nadine Gordimer Short Story Award

Hierdie prys word toegeken uit ‘n fonds wat deur Nadine Gordimer uit haar Nobelprys geskenk is en dit is slegs vir skrywers van inheemse SA tale. Vanaf 2013 sal dié prys ook aan Afrikaanse en Engelse skrywers toegeken word.

K. Sello Duiker Memorial Award

Die prys word toegeken vir ‘n enkele verdienstelike literêre werk wat onlangs verskyn het.

Literary Journalism Award

Hierdie prys is vir joernalistieke uitnemendheid in die bevordering van letterkunde in Suid-Afrika.

Literary Translators Award

Dit word toegeken aan die vertaler van ‘n letterkundige werk van ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.

Poetry Award

 Die prys is vir ‘n digbundel wat onlangs verskyn het.

First-time Published Author Award

Dit is vir ‘n debutant in enige literêre genre.

Chairperson’s Award

Hierdie is ‘n spesiale prys wat deur die voorsitter van die SALA-raad aan enige verdienstelike Suid-Afrikaanse skrywer toegeken word nadat nominasies deur Raadslede van SALA ontvang is.

 
Beoordelingkriteria

Wanneer literêre pryse toegeken word, is dit nie net ‘n eer vir die betrokke skrywers wat pryse wen nie, maar ook vir alle sprekers van die taal waarin die werk geskryf is en inderdaad vir die hele wêreld, want dié pryse gee erkenning aan kunstenaarskap en aan die waardes en norme wat uit dié kunswerke spreek. Omdat die SALA-pryse nasionale pryse is (‘n deel van die prysgeld word deur die Departement Kuns & Kultuur geborg), is dit vir beoordelaars belangrik dat die onderliggende waarhede wat uit die bekroonde werke spreek, in ooreenstemming is met die identiteit van die mense van Suid-Afrika soos dit byvoorbeeld in die Grondwet vervat is. Natuurlik is dié identiteit meestal ‘n geïdealiseerde identiteit, maar in beginsel is daar niks verkeerd met die droom en die strewe na ‘n mate van eenheid en onderlinge begrip in ‘n multi-kulturele land soos Suid-Afrika nie.

Beoordelaars verwag nie dat skrywers spesifiek oor die problematiek en die tema van sosiale kohesie en nasiebou skryf wat deel van die beoordelingskriteria uitmaak nie, maar wanneer pryse toeken word wat daarna streef om ‘n geheelbeeld van die Suid-Afrikaanse letterkunde te verteenwoordig, word verwag dat lesers dwarsoor oor die spektrum van Suid-Afrikaanse kulture sal kan vereenselwig met die norme en waardes wat uit ‘n teks spreek (wat nie gelyk gestel kan word met die inhoud en gebeure wat in ‘n letterkundige werk uitgebeeld word nie). Dit is ook belangrik dat die proses die unieke karakter en konvensies van skryf in ‘n spesifieke taal in aanmerking neem.

In die eerste instansie is dit belangrik dat gemeenskappe nie afsonderlik van die res van die mensdom bestaan nie. Daarom moet ‘n letterkundige werk wat aanspraak maak op bekroning, primêr voldoen aan die standaarde wat wêreldwyd aan uitnemende letterkunde gestel word. Om dit algemeen aanvaarbaar te maak vir die leserspubliek waarop dit gemik is, moet dit natuurlik gegrond wees op algemeen-menslike problematiek en universele waarhede. Eers dan kan gekyk word na meer spesifieke eienskappe van genomineerde werke. Dit gaan dus allereers oor literêre meriete en dan eers oor die bevordering van ‘n gedeelde ideaal van ‘n gesamentlike nasionale identiteit.

Die genomineerde werk word dan aan die hand van die volgende kriteria beoordeel:

  • bedrewenheid in die taal waarin dit aangebied word en die kreatiewe hantering van taal oor die algemeen,
  • hoe dit die nasionale identiteit uitbeeld, byvoorbeeld deur vooropstelling van versoening en die verbeelding van ‘n nuwe samelewing,
  • sosiale waardes wat daarin vervat word,
  • universele waarhede,
  • kulturele waardes wat verteenwoordig word,
  • bydrae ten opsigte van sosiale kohesie, nasiebou en oorskryding van ruimte en tyd (byvoorbeeld die aard van menslike lyding, magsmisbruik, skuld en vergiffenis ens.)

 

Hoewel die bydrae ten opsigte van sosiale kohesie en nasiebou dikwels tot kritiek lei en SALA daarvan beskuldig word dat hulle eng norme neerlê, beskou ons hierdie aspekte van ‘n teks in die heel breedste perspektief. Wanneer ons as nasie kan trots wees op ‘n skrywer wat hom sodanig onderskei dat hy byvoorbeeld die Nobelprys wen of dat sy werk in ‘n verskeidenheid van tale vertaal word, lewer dié literêre werk eweneens ‘n bydrae ten opsigte van sosiale kohesie en nasiebou. Dit is dan nasiebou in dié sin dat dit ons as Suid-Afrikaners kan saamsnoer in ons trots op so ‘n kunswerk en dat dit bydra tot die algemene statuur van die Suid-Afrikaanse letterkunde op die wêreldfront.

Sedert sy ontstaan in 2005 het SALA reeds meer as honderd pryse aan skrywers toegeken. Hierdie skrywers is mense, wit en swart, oud en jonk, lewend en dood wat hulle lewe gewy het aan die uitbou van ons literêre erfenis. Dit maak ons trots en nederig om betrokke te wees by so ‘n lofwaardige projek!

Die uwe, 

Morakabe Raks Seakhoa

Project Director – Africa Century International African Writers Conference/S.A Literary Awards

Managing Director – wRite associates

arts . culture . heritage . projects . events . strategists

P.O Box 4488 . Randburg . 2125 . Gauteng . South Africa

74 Mimosa Road . Randpark Ridge . 2194 . Gauteng . South Africa

Tel: +27 11 791 3585/791 4102 . Fax: 086 605 3642 . Email: info@writeassociates.co.za

Websites: www.writeassociates.co.za . www.africacenturyconference.org . www.sala.org.za

 

  •