Posts Tagged ‘Marthé McLoud gedig’

Marthé McLoud. Familiegeheime

Monday, June 13th, 2022

 

Familiegeheime

 

oupa was na aan die grond

en aan ‘n ander vrou

 

hy het sy kronkelweë

in sy groentetuin reguit gespit

 

en ons het van sy arbeid geëet

sonder om van iets te weet

 

© Marthé McLoud, 2022

 

Marthe McLoud. Weet jy dan nie

Monday, March 21st, 2022

 

Weet jy dan nie?

 

My broer se dogter

in Amerika bestel

’n handgemaakte

houtstoeltjie

vir haar jongste –

presies soos

haar oudste kind s’n.

 

’n E-pos kom terug:

 

Weet jy dan nie

dat die Oekraïne

in ’n oorlog is nie,

dat ek en my vrou

probeer om ons kinders

van drie en vyf

aan die lewe te hou nie?

 

Ons vlug, skuil, vlug

teen die bomme uit die lug

wat ons soos houtstoeltjies

tot niks wil versplinter.

 

© Marthe McLoud, 2022

 

Marthé McLoud. Skoolkoshuis

Monday, December 20th, 2021

 

Skoolkoshuis

 

Sondae kerktoe soos ‘n trop beeste

twee-twee langs mekaar.

Ek en hy het al stadiger geloop

teruggeval.

Agteros kom nie altyd in die kraal nie.

 

Ons het ons eie kraal onder die boom

langs die skemer rugbyveld gemaak

met geen grense en hekke nie

elke Sondag en weeksdag na aandete

totdat die studieklok ons teruggejaag het.

 

Daar onder die boom het ons gewei

en gulsig al die lang gras opgeëet

en toe daar niks meer oor was nie

het ons ander weivelde gaan soek.

 

© Marthé McLoud, 2021

 

Marthé McLoud. Augustus by die see

Tuesday, December 7th, 2021

 

Augustus by die see

 

Laatmiddag stap ek op die promenade

my trui en baadjie knus om my gevou

die wind steek liggies op en rol

‘n leë blikkie Coke kling-klang verby.

 

Vier kinders in bikini’s

kom aangehardloop –

hulle lywe druipnat en blink

nes uitgespoelde sardientjies.

 

“Kry julle nie koud nie?” vra ek.

Hulle skud hulle koppe

en lag die koue weg.

Hulle tande is rye wit skulpe.

 

“Ōs ga’ nou oppie trein klim

sôner geld die kaartjies-

man issie dié tyd mee daa nie.”

Hulle laat spat

 

sonder ekstra klere of geld

hulle bikini’s flits rooi, groen en geel

oor die verkeersligte

tot by die stasie.

 

Môre swem hulle weer

soos dolfyne in die branders

immuun teen longontsteking,

griep of verkoue:

 

dié groepie kinder-survivors

wat net die see kan bekostig.

 

© Marthé McLoud

 

Marthé McLoud. Herbesoek aan Fort Beaufort

Tuesday, December 7th, 2021

 

Herbesoek aan Fort Beaufort

 

Veertig jaar later en die sypaadjieboom

voor my Ouma se huis staan nog steeds

kromgetrek soos ’n ouvrou vol rumatiek

met haar takarms dik geswel soos Ouma

se ingesuurde brood in die warm oond.

 

Dié boom was my droombestemming

my paspoort na die Royal Hotel oorkant

die pad, die blink motors en haai-polfaais.

My geronde tonnelhande is my verkyker.

 

Die portier stoot die hoop tasse op ’n waentjie

en ek maak my lyf klein soos ’n ping-pong balletjie.

Die son val blokkies op my deur die boom se blare.

Dit is my heel eerste reis na ’n ander wêreld.

 

Die Royal Hotel bestaan lankal nie meer nie,

maar my vingerafdrukke kleef nog oral

aan dié boom se bas. Daar is net nuwe

blare aan die takke waar ek eenmaal was.

 

© Marthé McLoud