Posts Tagged ‘Martin Bosma’

Vryheidsdag – die reg op disassosiasie

Wednesday, April 27th, 2011
Martin Bosma

Martin Bosma

Vroeër vandeesweek het Martin Bosma, swaargewig van die Partij Voor de Vrijheid (PVV) en ondervoorsitter van die sogenaamde Tweede Kamer in die Nederlandse Parlement, ‘n rubriek geskryf vir die NRC Handelsblad waarin hy Suid-Afrika, en meer spesifiek Afrikaans, op ‘n erg opportunistiese manier betrek het vir politieke gewin.

Ter wille van agtergrond – die PVV is in ons terme ‘n verregse organisasie (Nasionaal-Sosialisties) wat tans heelwat stormwater in Nederland kolk weens uitsprake soos die volgende oor uitlanders in Nederland; ‘n uitspraak wat ook in hul beleidstuk op hul amptelike webblad vervat is: “De massa-immigratie is een geldverslindende linkse hobby. De miljarden die opgaan aan extra gevangenissen, extra politie, extra huizen, extra zorg, extra onderwijs, extra uitkeringen moeten toch ergens vandaan komen. Wie betaalt de prijs voor de multiculturele samenleving? Wie moet steeds de portemonnee trekken? Dat bent u, dat zijn de gewone hardwerkende Nederlanders die nooit gevraagd hebben om de massa-immigratie.”

Nietemin, in sy rubriek – wat terloops begin met Eugène Marais se welbekende “Winternag” en as titel het Nogtans sal jij aan mij gebonden bly – betrek Bosma Afrikaans soos volg: “Wie eenmaal N.P. van Wyk Louw, Dirk Opperman of Eugène Marais heeft gelezen, zal nooit meer lichtvaardig denken over die wonderschone taal. Afrikaans is vereenvoudigd, zeventiende-eeuws Nederlands, bewees linguïst Edith Raidt. In de woorden van Gerard Reve is het Afrikaans „een volwaardige West-Europese cultuurtaal die zich meten kan met het Duits, het Nederlands in Europa, het Engels. Als erkende taal bestaat het nog niet zo lang. Heel lang debatteerden de Afrikaners over de vraag of niet gewoon Nederlands hun taal moest zijn. Dat was bijvoorbeeld de officiële taal van de boerenrepublieken Transvaal en Oranje Vrijstaat, de landen van de ossenwagens en de voortrekkers, van Paul Kruger, Louis Botha en generaal Koos de la Rey. Anno 2011 is het Afrikaans een van de twaalf officiële talen van Zuid-Afrika. Dat betekent in de praktijk dat het Engels overheerst. De traditionele Afrikaanstalige universiteiten zijn verengelst. De taal verliest terrein in het openbare leven. Afrikaners verlaten het land met vliegtuigen vol, om zonder een spoor te verdwijnen, in Nieuw-Zeeland of Australië. Velen werden slachtoffer van ‘plaasmoorden’ – de bloedige aanvallen op boerderijen – of worden gediscrimineerd op de arbeidsmarkt. Zuid-Afrika scoort hoog op alle internationale lijstjes van verkrachting plus moord en doodslag – zoals ze daar zeggen: ons is in die kak. De taal van Breyten Breytenbach en Dan Roodt lijkt niet langer verzekerd van een toekomst. Nederland zou zich daarover baie zorgen moeten maken. Afrikaans is Nederlands. Het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is. Er is een tegenbeweging. Jonge Afrikaners – en kleurlingen, want de meest Afrikaanssprekenden hebben een kleurtje – proberen hun taal te redden. Steeds harder klinkt de roep om een eigen stukje onder de zon voor Afrikaners, een volksstaat. Ook de Taalunie, waarin Nederland, Vlaanderen en Suriname samenwerken, ontfermt zich over het Afrikaans. Zaterdag wordt het nieuwe woordenboek Afrikaans-Nederlands gepresenteerd. In juni is er een driedaags cultureel festival over het Afrikaans. Lichtpuntjes, niet meer. Onze talen zijn diep verbonden – in de woorden van Elisabeth Eybers, de Zuid-Afrikaanse dichter die de helft van haar leven in Amsterdam woonde: Nogtans sal jij aan mij gebonden bly / Met die onsigb’re naelstreng wat nie breek. Ook bij deze temperatuur ligt daarom vandaag weer Winternag naast mijn hamer.”

Nou ja, toe. Soos Breyten Breytenbach in ‘n persoonlike e-pos opmerk: Met sulke vriende, wie het vyande nodig?! ‘n Mens het immers die reg om te besluit met wie jy jou wil assosieer en met wie nie. So het hy dan ook in ‘n sterk bewoorde repliek aan die NRC Handelsblad op Bosma se stuk reageer wat ons met sy vergunning in die Brieweboks plaas.

As leestoegif, in antwoord op dhr. Bosma se politieke opportunisme, die liriek van Johannes Kerkorrel se bekende “Halala Afrika” onder aan die Nuuswekker. “Het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is.” Lagwekkend. Vandag is Vryheidsdag. Daarom, by gebrek aan brood, laat hom koek (vr)eet. Selfs die Afrikaanses het hul trots. En mag ons ‘wonderskone taal’ nooit ooit weer as politieke speelbal gebruik word nie.

Ten slotte, hierdie hele gedoente herinner op ‘n manier aan die kwessie van kosmopool en provinsie waaroor Charl-Pierre Naudé dit in sy laaste aflewerings as blogger gehad het. Hier is die bydrae wat einste Breyten gelewer het oor dié onderwerp.

***

Gisteraand het Edwin Fagel ‘n nuwe bydrae tot Wisselkaarten geplaas wat jy vanoggend saam met Breyten se repliek kan geniet.

Mooi bly.

LE

 

Halala Afrika

Toe die wêreld hier nog jong was en die horison wyd en oop
Was dit groen hier in die halfrond, suid van die ewenaar
En in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop
Klink die roepstem van die vroue oor die heuwels van die land:
Halala, ewig is ons Afrika.
Tula tula mtanami, tula tula sanaboni, tula tula mtanami,
Ubab uzobuya sihlale naye, ubab uzobuya sihlale sonke, Hmmm-Hmmm

Toe kom die skepe uit die weste, wit seile oor die see
Om te vra vir kos en water en te bly vir so veel meer.
En die land wat een tyd oop was, die land het ons verruil
Vir die ghetto’s van die stede is ons koperdraad gegee.
Halala, ewig is ons Afrika
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika
Tula tula mtanami, tula tula sanaboni, tula tula mtanami,
Ubab uzobuya sihlale naye, ubab uzobuya sihlale sonke, Hmmm-Hmmm

Daar was rykdom in die maag van ons moeder Afrika
Diamante en ook steenkool, goud, edel metaal
En die mense word die slawe hier want die mense word betaal
Om te tonnel in die aarde elke greintjie uit te haal
En die groot en oop grasvlaktes span dit toe met doringdraad
En van die olifant tot die gemsbok al die diere moes kom buig
Voor die mag van die grootwildjagter voor die mag van sy groot geweer
Totdat net die stilte oorbly, totdat net die stilte heers.

Halala, ewig is ons Afrika.
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika
Sasidjapolutjoloythina
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika

 

©  Johannes Kerkorrel (1961-2002)

Breyten Breytenbach. In reaksie op Martin Bosma

Wednesday, April 27th, 2011

Geagte Mnr. Bosma,

Ek neem die vryheid om in Afrikaans te reageer op u rubriek van enkele dae gelede in NRC: van u skrywe lei ek af dat u Afrikaans ken.

Enige uitdrukking van belangstelling in die huidige status van Afrikaans en in groter verband die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika moet verwelkom word – al is dit ook so dat wedersydse begrip tussen ons twee lande te dikwels berus op misverstande, moralistiese of kulturele stiksienigheid en growwe vergelykings. Die gevaar bestaan dat gewaande ooreenkomste dan gekaap kan word vir interne misbruik.

U beskrywing van die druk waaronder Afrikaans verkeer is korrek. U sou verder kon gaan en daarop kon wys dat die skeppende en omvormende bydrae van kulturele diversiteit tot ontwikkeling al hoe meer misken en selfs onderdruk word in terme van die mislukte Nasionale Demokratiese Revolusie van ‘n totaliserende partystaat. Suid-Afrika, of dan Mzansi, gaan ten gronde as gevolg van die vraatsug, vergeldingsdrang en vervreemding van ‘n ontheemde elite wat swart nasionalisme met Stalinisme as enigste holle verwysing op die land wil afdruk – met rampspoedige gevolge nie net vir die minderhede nie maar ook, en veral, vir die swart meerderheid wat elke dag dieper in armoede en ellende sink.

Een van die redes waarom ons vandag die wrange vrugte van moedertaalmiskenning pluk is omdat die ‘blanke’ minderheid aan bewind tydens die apartheidsjare Afrikaans misbruik het as merker van Europese afkoms en daarom as regverdiging van die sogenaamde beskawingsnorme wat die ander moes uitsluit en onderdruk. Die aard en die bestek van Afrikaans is gesteel deur wit rassiste.

Daarom wil ek beswaar maak teen u identifisering van Afrikaans as “vereenvoudigde zeventiende-eeuws Nederlands.” Afrikaans is nie Nederlands nie. Dis ‘n Kreoolse taal wat in die monde van slawe en bediendes en werkers en boere ontstaan het as ‘n vermenging van sewentiende-eeuse Nederlandse dialekte en ander nie-Europese tale, en ‘n omgangstaal soos Maleis-Portugees gebruik deur seevaarders. Afrikaans is dus ‘n bruin taal gegroei uit die stam van Nederlandse dialekte toe daar nog nie ‘n Algemeen Beschaafd Nederlands was nie. Dis ‘n inheemse baster.

En om daardie taal op u Nederlandse brood te wil smeer deur te beweer “het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is,” is darem bietjie dik vir ‘n daalder. Eina! Eish!

Afrikaans is in wese ‘n rebelse taal – die skepping van wegbreek. Ons het begrip en steun nodig, maar nié ‘n paternalistiese of annekserende of imperialistiese juk nie. Ek wil glo dat dit juis daardie diep vryheidsstrewe is wat ons aan mekaar verbind.       

Die uwe, en baie kiri slam by die hys se kant.

Breyten Breytenbach

*** 

Nota: Die volledige teks waarop Breyten Breytenbach in hierdie ope brief reageer, kan hier gelees word. – Redaksie

 

  •