Posts Tagged ‘Martinique’

Desmond Painter. ‘En die skrapse klimaks aan die einde van elke nag.’

Friday, November 30th, 2012

Hier volg ʼn lusmaker uit Catherine du Toit en haar medewerkers se vertaling van Michel Houellebecq se gedigte, Tagtig gedigte en twee essays, wat in hierdie dae op die rakke behoort te verskyn. Die boekbekendstelling vind vanaand in Stellenbosch plaas; sien die besonderhede hier.

Diegene wat al Houellebecq se romans gelees het, veral Platform, sal weet dat sekstoerisme nogal ʼn terugkerende motief in sy werk is. Dit is ʼn komplekse tema: ʼn mens is nie altyd seker of Houellebecq se uitbeelding van die konsumpsie van nie-Westerse liggame deur die Westerse toeris as kultuurkritiek of ʼn vorm van kulturele bevryding, ‘n soort gesekulariseerde verlossing in vleeswording in en deur die Ander, gelees moet word nie. Miskien iets van beide, afhangende watter teks van Houllebecq jy lees…

 

Die seksuele stelsel in Martinique – Michel Houllebecq

 

Daar is ʼn witterige agtergrond bewimpel

Waarteen mense kan leef en hulle lywe liefkoos

Ons is nie met vakansie om te dink aan die dood nie

In ʼn liberale sisteem, tussen al die basters

 

En onder causarinas, sweet die velle

Die dag is uiters wit, ons besmeer onsself met olie

Ons organiseer speletjies, die publiek is gewillig

En snags eet ons skilpadtjops.

 

Ons moet ʼn orgastiese onderhandeling beplan

Sodat elkeen kan pret hê, dit op video vaslê

Die vryery, sarongdanse

En die skrapse klimaks aan die einde van elke nag.

 

So ruil die mense slym uit

Voor alles weer weggepak word in veseltasse,

So bevestig hulle hul status as vrye wesens

En hulle uitgekalfde, verhandelbare menslikheid.

  •