Resensie: Maskers en mure (Daniel Hugo & Francois de Jongh, Samest.)
Wednesday, July 14th, 2021
Resensie: Maskers en mure – Daniel Hugo & Francois de Jongh (samest.). Turksvy, 2021.
Resensent: Marlies Taljard
Die versamelbundel “Maskers en mure” het pas by Turksvy Publikasies verskyn. Daniel Hugo en Francois de Jongh het die gedigte wat daarin vervat is, versamel. Die tema van hierdie bundel is, volgens Hugo Theart (op die agterplat), om “’n blik [te] gee op ‘n waterskeidingstyd toe die wêreld deur ‘n pandemie lamgelê is.” Die stemme van 142 individue word in hierdie bundel gehoor, waarvan nét meer as die helfte gepubliseerde digters is wie se werk al vantevore deur bekende boekhuise uitgegee is.
‘n Bloemlesing is ‘n versameling van (in hierdie geval) gedigte wat ‘n oorsig bied van ‘n periode, ‘n genre of ‘n ontwikkeling in die literatuur. Die vernietigende Covid-19-epidemie is ‘n ideale tydvak om in ‘n bloemlesing vas te vang.
Deesdae is versamelbundels hoog mode, enersyds omdat dit gewild is as geskenke, maar ook omdat dit meestal maklike leesstof vir die breë publiek bied. Die publikasie van so ‘n bundel verskaf natuurlik ook die geleentheid vir minder bekende en nie-gepubliseerde digters om gehoor te word en ondervinding op te doen, asook om hulle aanhang op sosiale media uit te brei. Omdat so ‘n bundel dikwels goed befonds word deur buite-organisasies (in hierdie geval die KKNK, Absa, die ATKV, die Wes-Kaapse regering en die Jannie Mouton-stigting), hou dit ook finansiële voordele in vir die samestellers en die uitgewers. Bygesê: dit is ‘n moeilike, tydrowende en riskante proses.
Waarvoor ek waardering het, is die besondere wyse waarop die bundel verskyn, naamlik mooi toegedraai in papier, binne-in ‘n netjiese klein kartondoos. Dit was sekerlik die moeite werd wat bemarkbaarheid betref! Ek het op sosiale media verskeie komplimente oor die verpakking raakgeloop. Ook die bundel as sodanig is netjies en keurig uitgegee.
Benewens die bogenoemde voordele wat die bundel moontlik vir digters en samestellers of die uitgewer mag inhou, is die belangrikste voordeel waarskynlik terapeuties van aard. Hiermee impliseer ek nie dat dit ‘n oefening in terapeutiese skryf was nie, maar gewoon dat die skep van kuns ‘n terapeutiese invloed op die liggaam en die gees kan hê; dat dit terapeuties is om oor die trauma wat jy ervaar het, te skryf. Die tyd was absoluut ryp om digters op te roep om oor die Covid-19-pandemie te skryf, en die reaksie was (soos ons kan sien) oorweldigend! Inderdaad is die pandemie vir mense wêreldwyd uiters traumaties en selfs vreesaanjaend en oral ter wêreld skryf digters daaroor, hetsy op sosiale media, in eie bundels of in versamelbundels. Dit vorm die onderwerp van gesprekke wat die afgelope 18 maande tussen bekendes én in die media gevoer word. Daarom is dit vanselfsprekend dat mense ook hulle eie gevoelens en vrese op meer konkrete wyse wil uitdruk om sodoende geldigheid en substansie daaraan te verleen. Die skryfproses help die skrywer om sy/haar trauma en vrae te konfronteer en daardeur te werk sodat daar uiteindelik sin van te make is.
Net soos die skryf oor die “abjekte” (Julia Kristeva se term) of die skrikwekkende/walglike terapeutiese waarde vir die skrywer het, kan die lees van ‘n bundel soos “Maskers en mure” ook die leser help om deur trauma (individuele en/of kollektiewe trauma) te werk. Ook die besef dat ons in hierdie tye nie alleen is nie, dat ons voel soos baie ander mense voel, is vir baie van ons van groot waarde en tot troos en versterking. Daarom voorspel ek dat “Maskers en mure” besonder groot aftrek onder Afrikaanse lesers sal kry en dat dit heel waarskynlik ‘n tweede druk sal beleef.
Die bundel, ongeag sy literêre kwaliteit, is ook ‘n belangrike historiese dokument wat eerstehands insig bied in die psige van Afrikaners en Suid-Afrikaners in een van die mees traumatiese tye in die moderne geskiedenis. So ‘n dokument is belangrik, aangesien daar later waarskynlik heeltemal anders oor hierdie pandemie gedink en geskryf sal word. Benewens die wetenskaplike (mediese) aspek van die pandemie wat steeds in die nuus bly en deur kenners en leke gelees en beredeneer word, bied die poëtiese woord insig in die belewenis van mense wat te midde van doodsvrees, siektes, sterftes, ekonomiese dinsintegrasie en depressiwiteit ongevraagd deel geraak het van ‘n nuwe wêreld(orde) wat voorheen onvoorstelbaar was en waarvan die aard en omvang nog bedink en geformuleer moet word.
Maar terug na die betrokke bundel.
Wat bundelstruktuur betref, het die samestellers besluit om gedigte alfabeties volgens die van van die digter te orden. Zuiderent en Van der Starre (2001:193) wys daarop dat hierdie ordeningsbeginsel veral in die 1980’s in Nederland gewild was. Vir die eenheid van die bundel is dit natuurlik nie ideaal nie, aangesien die aanbod daardeur versplinter raak en die bundel die moontlikheid van goter oorhoofse koherensie (én kohesie tussen naasliggende gedigte) sodoende verbeur. Volgens die tekslinguiste De Beaugrande en Dressler (1981) is kohesie en koherensie twee van die belangrikste beginsels van tekstualiteit. Veral in ‘n bundel soos hierdie waarin die hooftema in verskeie duidelik onderskeibare subtemas gestalte vind, sou klem op Jakobson se sintagmatiese as waarin op die ontginning van subtemas gekonsentreer word, dalk ‘n keuse gewees het wat tot intrinsieke kontinuïteit en die vorming van kleiner, sinvolle reekse in die bundel kon bydra – eerder as die aaneenryg van gedigte wat ekstern (alfabeties) georden is. Ook die paradigmatiese struktuur (dieptestruktuur) van die bundel sou by ‘n logies gestruktureerde ordening kon baat vind.
Hoewel die tema van die bundel – die leef agter maskers en mure weens die Covid-pandemie – reeds uit die bekendstellingsnotas duidelik is, kom daar verskeie fasette van dié tema uit die verf, soos wat digters verskillend op die tydvak waarin ons ons bevind, fokus.
Maskers en al die konnotasies van gemaskerd lewe, eensaamheid, verlies aan identiteit, vrees en selfs ‘n bepaalde verlies aan menslikheid en deernis word verwoord deur Danie Marais se gedig op bladsy 123:
Gee ‘n mens ‘n masker
en hy sal jou die waarheid vertel.
Maar gee elkeen ‘n masker
en die pes om te dra
en jy sal sien oë
verklap alles.
Hierdie kabaal van kakpapierkopers
dié kleinlike kannibale
is niemand se medemens nie.
Een van die belangrikste bundeltemas is beslis die belewenis van afsondering en eensaamheid, soos die woord “mure” in die titel te kenne gee. Een van die min humoristiese gedigte in die bundel is “Inperking” (Jacobus Kloppers, p.88):
Inperking
Lewe in hierdie geslote kring
het ook ‘n bonus meegebring
‘n doeksag stilte het neergedaal
gemuilband staan ons in die winkelry
die stormloop vir eers verby
geen vreemde gaste by my hek
g’n niemand wat my vroegdag wek
Maar Heer, as ek nóg iets mag vra
demp tog ook die hadeda.
Nie-nakoming van afsonderingsregulasies, veral by begrafnisse, word in hierdie tye dikwels die oorsaak van woede-uitbarstings op sosiale media. Johann Lodewyk Marais se gedig “Die begrafnis” (p. 124) beskryf hoe die blinde sambok begrafnisgangers wat die afsonderingsreëls verbreek het, slaan. Die slotreëls lui so:
Sy is terug stad toe met dié dag se seer,
maar nou het tyding haar kort-kort bereik
oor die sterwe van ander rougangers,
saamgetrek om die vreemde double bag,
vir wie niemand die deur kon toemaak nie.
Uiteraard is vrees vir die dood een van die hooftemas van die bundel en dié mees gevreesde uitkoms van die virussiekte. Op die dag waarop hierdie resensie geskryf is, staan die regering se statistiek op 64 509 sterftes aan Covid-19 in Suid-Afrika en 4,04 miljoen wêreldwyd. Die dood van ‘n geliefde, vrees om te sterf en die dood as die Groot Gelykmaker is eksplisiet of implisiet ingebed in die meeste gedigte in die bundel. Ek haal Fanie Olivier se gedig (p. 145) aan waarin die dodelikheid van die virus aan bod kom, tesame met ‘n ontstaansgeskiedenis van die pandemie (‘n tema wat eweneens baie digters geïnteresseer het):
monitor
wát ‘n markdag was dit nie. so met die vlermuis
saam koop die wêreld vir hom ‘n kat in die sak.
netjies as inweegbagasie ingepak
of saamgedra. maak ure later, dankbaar tuis,
die pakkie oop: soen sy vrou, gee sy haar oupa
‘n druk; bêre die paspoort veilig in die kluis.
maar dis verniet of die reis verby is: dié longluis
klou soos daai neet, word ongemerk ingedra
tot waar dit aankom sonder toegangsbeheer
anderkant die grens. dan neem hy oor, sweer
saam agter elke bos en elke hoes; steel smaak
uit die mond; los jou lam as hy jou raak:
kyk, die monitor se lyn val skielik plat
soos ek jou vrou, jou oupa huis toe vat.
Wat my opgeval het, is hoeveel eko-verse daar in die bundel verskyn. Hennie Nortjé sien in sy gedig “Nabetragting” (p. 136-7) ‘n onheilspellende ooreenkoms tussen die uitsterwing van dennebome in die Rocky Mountains en die Covid-19-pandemie:
So ver as die oog kan tuur,
gewaar ek ‘n geel skynsel in die woude –
asof herfs onverwags terug kon keer,
om selfs die bladhoudendes aan te tas.
In werklikheid, ‘n inval deur boomkewers
oorgewaai vanaf Colorado,
staan die denne nou op laaste bene.
Die bioom sterwend.
‘n Pandemie sonder weerga
onder die naalddraers
en net ek om vanuit die hoogtes
die tragedie ‘n oomblik te beleef.
Kon ek daardie dag maar weet
wat binnekort op die mensdom wag,
staan ek dalk vandag nog steeds
bo die afgrond daar versteen.
In Susan Smith (en verskeie ander digters) se gedig staan die mens as aangeklaagde omdat hy die aarde vernietig – “die aarde het jou verlaat” (p. 175).
Die ongrypbaarheid en onbegrypbaarheid van hierdie bykans onvoorstelbare tye, word deur verskeie digters verwoord, veral deur klemlegging op die onvermoë van woorde om die omvang van die trauma te beskryf:
Hoe kan ‘n mens dit alles verklank? (Ronel de Goede, p. 43)
nou soek ek asem
vir elke greep, die letters
moet kan hou
‘n asem lank, elke klank
want jy is ver
verban van my omhelsing (Diana Ferrus, p. 69).
‘n Tema wat veral in die sosiale media aandag kry, is die impak van die “nuwe normaal” op die menslike psige, veral as ego-gesentreerde tema. Die openingsgedig van die bundel verwoord egter die medemenslike kant deur die lot te beskryf van die armstes en werkloses. Die ironiese meerduidgheid in hierdie gedig van Edwin Abrahams (p. 3) maak dit aangrypend:
sakkrapper
hy werk vinnig
van hoop tot hoop
sak tot sak
voor die voertsek kom
dalk kry hy iets
te ruil
te eet
sy troffel was sy laaste maal
hoe sal beter dae tog nou kom
ingeperk
sonder kos
sonder werk
wyl hulle agter maskers skuil
hande silwerskoon gewas
hy werk vinnig
van hoop tot wanhoop
sak in as
Die openingsreëls van Susan Ongasie se gedig “diese wille koowit” (p. 146) verwoord myns insiens die belewenis van die “nuwe normaal” die beste:
Jirre, ek is tampan geslat
deer hierie godlooslike pes (…)
Wat poëtiese kwaliteit betref, is die gedigte van wisselende gehalte, maar dat hierdie bundel die gewilde poësiemark met ‘n knal gaan tref, is duidelik. Die gedigte spreek tot die algemene publiek wat stomgeslaan is deur die Pandemie. Vir baie van ons sal sekere gedigte die skrik verwoord van wat met onsself gebeur (het) of wat ons tydens die pandemie ervaar. Dalk sal ons eie refleksie oor die lewe en ons eie sterflikheid deur sommige gedigte verwoord word. As geskenk vir ‘n goeie vriend is hierdie bundel dalk net die regte keuse.
Bronverwysings:
De Beaugrande, R., & W. Dressler. (1981). Introduction to text linguistics. London & New York: Longman.
Kristeva, Julia. 1982. Powers of horror: An essay on abjection. (Vert. Leon S. Roudiez). New York: Columbia University Press.
Zuiderent, A. & E. Van der Starre. 2001. De tweede gisting: over de compositie van dichtbundels. Amsterdam : Amsterdam University Press.