Posts Tagged ‘Mathews Phosa’

Vergeetagtigheid of vergeetlike boeke?

Friday, September 18th, 2009
Katie Price (Jordan)

Katie Price (Jordan)

Onlangs het die Britse hotelgroep Travelodge hul statistiek ten opsigte van “agtergelate boeke” boeke bekend gemaak. Hiervolgens word rekord gehou van die boeke wat gaste liewerster in hul kamers “vergeet” as om die verder op hul lewensreis saam te piekel. Interessant genoeg was die boek wat loshande die meeste agtergelaat word in die hotelgroep se 7,200 kamers die model en gepaardgaande “glanspersoonlikheid” Katie Price (Jordan) se outobiografie, Pushed to the limit. Die boek in die tweede plek is ietwat van ‘n verrassing: Barack Obama se Dreams from my father. In ‘n stewige derde plek volg die komiese aktrise Dawn French, se Dear Fatty.

Nog interessante titels op dié lys van agtergeblewenes is John Grisham se The Appeal (sewende) en J. Randy Taraborrelli se boek The Magic and the Madness by Michael Jackson (negende). (Lees gerus The Telegraph se berig hieroor.)

Godedank, darem géén digbundel nie … Of is die prys van digbundels deesdae gewoon te duur?!

***

Twee interessante toevoegings tot die webblad vanoggend is Mathews Phosa se toespraak wat hy Maandagaand tydens die bekendstelling van Deur die oog van ‘n naald by Hidden Valley buite Stellenbosch gelewer het, asook Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuutste bundel, Oorblyfsel / Voice over, Woensdagaand by die Breytenbach-sentrum op Wellington. En maak seker dat jy ook Andries Bezuidenhout en Desmond Painter se nuwe blogs raaklees; veral die kommentaar wat Andries onderaan sy blog geplaas het, verdien aandag. Om nie eens van Yves T’Sjoen se insiggewende stuk oor Hugo Claus en vertaling te praat nie …

Lekker lees aan alles en onthou tog om jou boeke in te pak waar jy ook al hierdie naweek mag oornag. Vir jou sardoniese plesier volg Loftus Marais se Gedig vir my Seamus Heaney New Selected poems 1966-1987 hier onder. (Gelukkig het dié boek darem nie vergete iewers agtergebly nie …)

Nuuswekker hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987

 

potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk

katoliek te wees, ‘n koffievlek

‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk

‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 –

o, dis poësie dié

die ganse wêreld is tweedehands te koop

 

die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)

is geplooi en daar val sand

uit die blaaie as ek skud

(god, van watter tuin of park of strand?)

kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf

soos swart stukkies turf

 

die boek in my hand sê woorde is restant –

die swart skeletjies van dooie idees

geperste memento’s van die eerstehandse dinge

 

meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse

selfs vol subtiliteit en melodie

kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie

 

ons kan jou plekname darem hoor

die wind in “Aarhus” en “Anahorish”

en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap

 

maar luister: die wêreld bars

uit alle metrum uit

‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom

meneer Heaney, voel:

selfs dié papier was eens ‘n boom

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters (2008: Tafelberg Uitgewers)

Toespraak: Dr Mathews Phosa

Thursday, September 17th, 2009

Toespraak gelewer by die bekendstelling van die heruitgawe van

“Deur die oog van ‘n naald”

 

Dr Mathews Phosa

Stellenbosch:  14 September 2009

 

Seremoniemeester, sprekers, belangrike mense, vriende en gaste:

 

Baie dankie vir al die vriendelike woorde vanaand, en baie dankie vir almal wie die moeite gedoen het om die oomblik saam met my te kom deel.

 

Ek het hier gestaan en dink, ek moes ‘n vangnet saamgebring het om al die vriendelike en opbouende woorde te kon opvang, sodat ek dit kon opspaar vir die dae waarin die woorde van bemoediging en broer- en susterskap salf vir die siel sal en gaan wees.

 

Die boek is, om Louis Esterhuyzen van Versindaba aan te haal, ‘n vergrootglas van gebeure wat my aanspreek. Dit is letterlik ‘n poging om deur die vergrootglas te kyk na die maer en die vet jare in my lewe, asook van die samelewing om my.

 

Die Bybel sê: niks verander nie, alles bly dieselfde. Die bundel is my manier om uit ‘n Afrika-hoek lig op samelewing te probeer skyn, en te sê: Dank die Vader, dinge bly dieselfde. Dit is ook ‘n poging om te se: Die Vader behoed ons as dinge nie verander nie.

 

Ek probeer skryf oor my intense belewenis dat die Ja-base van die verlede nog met ons is nuwe gestalte, dat weeldemotors van leiers my en u gaan oorleef. Ek probeer skryf dat dit nie net mense is wat mekaar moet nader trek en omhels nie, maar ook dat ons in mekaar se kulture moet rondkrap om ervaringe te deel. Ons het in woorde en gebruike skatte waarop niemand kopiereg het nie. Kom ons deel dit met mekaar as leiers, vriende en kunstenaars sodat die gedeelde ervarings almal sal verryk.

 

Ons is almal Afrikane, sonder uitsondering. niemand het die reg om daardie begrip uitsluitend te hijack nie. Ek skryf in die bundel dat ons almal eendag in die skoot van Afrika vir ‘n ewigheid gaan rus. Hopelik sal ons in die reis na die ewigheid verstaan dat dit wat ons in gemeen het, baie swaarder weeg as dit wat ons van mekaar skei. 

 

In die politiek en die sakelewe het ons ‘n plig om ons natuurlike selfsugtigheid te probeer oorkom om die oorvloed waarmee ons geseen word, te deel met die wat beperkte of geen toegang daartoe het.

 

Wanneer ek skryf probeer ek my hunkering verwoord na ‘n benadering wat se: Kom ons kry nou klaar met opgeblasenheid en ampte en titels en al die verskonende en bskuldigende stories oor ons eertydse swaarkry. Dit is belangrik om te onthou, maar dit is belangriker om te vergewe en te fokus op die nuwe groep mense wie weerloos voor die aanslag van armoede en honger staan en le. Hulle het ons respek nodig, en ons volle aandag. Om ‘n reënboog te vorm is beide die son en reën nodig. Maar dit is eers wanneer ons verby die kleur en taal van die mens kan kyk, dat ons die baie kleure van die reënboog kan sien en waardeer.

 

Ons moet ons Afrika-kultuur vertroetel en beskerm, maar ons moet dit ook rondpass onder mekaar, sodat ons almal ‘n slukkie van die wit en swart en Afrikaans en Engels en Xhosa en Zoeloe kan inkry. Ons moet met aandag proe en leer en vat en voel en luister en leer. Ons moet sag met mekaar werk, en buurmanskap uitleef, dit nie net praat nie.

 

Ek gebruik in my bundel die simbool van die olifant wat orals majestieus rondloop en die omgewing na hartelus bepis en bekak. Ons het die gesag van die olifant in die land nodig, maar gesag met empatie, en liefde, en ‘n begrip dat hulle wie klein en weerloos voor die olifant is, die mense is wie ons moet bystaan, en help, versorg en beskerm. Ons moet hulle in die trop intrek, en gesond maak en kans gee om te leer saam met die wie reeds die voorreg het.

 

Ek het ‘n gelukkige dertien jaar gelede die eerste druk van die boek uitgegee. Die sagmoedige olifant en tropleier van Afrika, Mnr. Mandela, het my die eer aangedoen om openingsgeleentheid by te woon en ‘n paar woorde te spreek.

 

Deel van my passie vir die geskrewe en gesproke woord is dat ek krag daarin sien vir leiers, soos Mnr. Mandela, om te besef dat die woorde wek, maar voorbeelde trek.

 

In my eie pogings soek ek die versoening tussen woorde en aksies. Ons het ‘n nuwe energie nodig tussen wat ons sê, en wat ons doen. Ons het nodig om een nasie te word binne die die werklikhede van kleur, kultuur en taalverskille. Ons het leiers nodig wat ons in die kraal inlei, nie leiers wie die mure van die kraal wil afbreek met die wapens van rassisme en woorde nie. Ons het nodig om te kook met al die bestanddele van ons Afrika-pot, die geur en smaak daarvan ‘n erkenning van elke bydrae en die ongelooflike voorreg daarvan om in ‘n span te help herbou aan ‘n land wat honger is om vordering te sien en te proe.

 

Ek hoop en bid my bundel is ‘n beskeie bousteen in die proses om ‘n nuwe nasie te bou, om nuwe horisonne te verken in die reis na ‘n beter lewe vir almal. Ek hoop ook, soos ek in my voorwoord sê dat dit ‘n bydrae sal maak om versoenende gesprekke te stimuleer en Afrikaans in die middel van daardie debat staan te maak. As ek-en u- dit regkry, sal dit aan ons taal skaaf en skuur, en hom ryker, sterker en mooier maak.

 

Ek wil graag vir elkeen wat ‘n bydrae tot die boek, die bemarking daarvan, en vanaand se funksie gemaak het dankie se.  In die besonder wil ek vir Riana Barnard van Tafelberg en Corina van der Spoel en Pieter Rootman, wie my hande gedurende die boekmaak hoog gehou het, bedank.

 

Ek dank u.

 

Talle tonge

 

Talle tonge het ek

een tong op ’n gegewe oomblik

 

’n heuningtong

’n bitter tong

’n tong stomp

genoeg om te swyg

 

my skerp tong klap

klap soos ‘n sweep

en keep diep en laat bloei

 

my suur tong brand

brand soos asyn

en laat krimp inmekaar en skend

 

Talle tonge het ek

een tong op ’n gegewe oomblik

’n tong om te sny

’n tong om te salf

Ek het talle tonge

 

Lucebert se toespraak gevind

Monday, September 14th, 2009
Lucebert se toespraak van 5 November 1949

Lucebert

“Geachte aanwezigen – Hier sta ik … in een opvallend schuchtere houding voor U … omdat ik uiters verlegen ben met de taak die voor vanavond op mijn schouders rust. Ik heb nl. bij u in te leiden een groep jonge dichters die de pretentie heeft de Nederlandse literatuur te vernieuwen.”

So het Lucebert sy toespraak wat hy tydens die “dichtersavond” op 5 November 1949 in die Stedelijk Museum (Amsterdam) gelewer het, begin. Die groep “jonge dichters” waarna hy verwys het, het buiten homself ook nog Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeek en Jan Elburg ingesluit. Maar by voorlees het dié aand nooit uitgekom nie, want ná die 25-jarige Lucebert (L.J. Swaanswijk) se openingsrede het dié geleentheid in totale pandemonium ontaard met algemene geskreeu en vuisgevegte.

Chaos. Maar CoBrA was gebore. En saam daarmee die groep digters wat later as die “Vijftigers” bekend sou raak. Nie net die Nederlandse digkuns nie, maar inderdaad die Europese digkuns sou hierna nooit weer dieselfde wees nie.

Die goeie nuus is egter dat dié historiese toespraak nou na 60 jaar opgespoor is en deur die Neerlandikus Peter Hofman in die publikasie Hollands Maandblad gepubliseer is. (Die inleidende paragrawe kan hier gelees word.) Die waarde van hierdie toespraak lê natuurlik daarin dat Lucebert  “het verzet van de nieuwe generatie dichters en schilders tegen de ‘letterdames en letterheren’ van het naoorlogse Nederland voor het eerst openlijk verwoordde.”

Uiters vermaaklik is die berig op De Contrabas se webblad waar hulle verwys na die media-reaksie destyds op Lucebert se openingesrede. De Waarheid het byvoorbeeld verwys na ‘n ‘Trotzkistische rel’ terwyl Het Vrije Volk weer die volgende siening gehuldig het: ‘Wie deze tentoonstelling gezien heeft, heeft geen hoop meer, dat er uit Karel Appel en Corneille, uit Constant en Théophile Wolvenkamp, uit Gerrit Kouwenaar en Lucebert ooit iets anders zal groeien dan wat ze nu al zijn: knoeiers, kladders’.

Na ja, toe. Dat ‘n mens só deur die geskiedenis verkeerd bewys kan word, nè …

***

Vanaand is dit die amptelike bekendselling van Mathews Phosa se bygewerkte digbundel Deur die oog van ’n naald wat verlede Vrydag in die boekwinkels afgelewer is. Die bekendstelling gaan op ‘n wynplaas buite Stellenbosch wees. Lees gerus die onderhoud wat met dr. Phosa gevoer is, asook die inligtingstuk oor die bundel.

***

Dan is dit vir ons aangenaam om Desmond Painter as blogger te verwelkom. Desmond is een van die veelsydigste intellektuele in die land en ons kan beslis uitsien na sy “buite-blik” op die poësie. Mag dit vir jou ‘n plesierige affêre wees, Desmond!

***

Ten slotte, nog ’n aanhaling uit Lucebert se legendariese toespraak: “Wil men in de chaos, de snelle gang van zaken volgen en er een werkzaam aandeel in hebben, dan moet men de stoute schoenen aantrekken, de moed hebben avonturier en beelden stromer te zijn. Voortdurend het verleden vernielen moet men in het heden staan als in het laboratorium der toekomst.”

Lekker knoei en klad hierdie week.

Mooi bly.

LE

Onderhoud: Mathews Phosa

Saturday, September 12th, 2009

Die skerp punt van die spies

Mathews Phosa in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Mathews Phosa

Mathews Phosa

Nakedi Mathews Phosa is op 1 September 1952 op Nelspruit gebore. Hy het aan die Universiteit van die Noorde in die regte gestudeer en in 1981 ‘n regspraktyk op Nelspruit geopen. In 1985 het hy die land verlaat, en in 1986 streeksbevelvoerder van MK in Mosambiek geword. Nadat die ANC in 1990 ontban is, het hy ‘n belangrike rol in oorgangsinisiatiewe gespeel, o.m. in Kodesa. In 1994 het hy premier van Mpumalanga geword. Hy is ook hoof van die Regsdepartement van die ANC. In 1995 het die Universiteit van Boston in die VSA ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Afgesien van sy posisie as Nasionale Organiseerder van die Black Lawyers’ Association, dien dr. Phosa ook op die bestuur van etlike besigheid – en liefdadigheidsorganisasies.

Dr. Phosa is agt tale magtig en begin reeds as student met die skryf van gedigte in Afrikaans. In 1996 verras hy die literêre wêreld met sy debuut, Deur die oog van die naald wat by Tafelberg Uitgewers verskyn het. Die nuwe, uitgebreide uitgawe bevat die oorspronklike gedigte, asook sestien nuwe gedigte, ‘n voorwoord en ‘n afdeling met enkele rubrieke en ’n toespraak. 

 

 

 

 

 

Dr. Phosa, politici wat hulle met die letterkunde, en veral digkuns bemoei, is nie ongewoon nie. Wat wel raar is, is ʼn politikus wat hom of haar so deurlopend met die digkuns oor soveel jare bemoei. Van waar kom dié volgehoue passie vir die digkuns vandaan?

 

Ek wou nog altyd dit wat ek sien en hoor neerskryf – dit is nie vir my ’n tydsgebonde of ’n plekgebonde passie nie. Dit is sowel ’n stokperdjie en ’n passie, en ook ’n manier van ontspan.

 

Iets wat soos ’n goue draad deur u bundel loop – van die opdrag deur na talle verse – is die besonderse band (en waardering) wat u met u gesin en familie het. In welke mate steun hulle u in u aspirasies met die digkuns?

 

As gevolg van my politieke oortuigings was ek nie net baie weg van die huis af nie, maar ook uit die land. ’n Mens kry dan meer waardering vir die konsep van familie, asook ’n begrip van geworteldheid. In my geval is die begrip “familie” baie breër, en sluit dit ook my vriende en uitgebreide familie in. In daardie opsig is die steun wat ek kry, onvoorwaardelik.

 

Telkens word ’n mens in hierdie verse verras deur ’n hunkering na ’n vergane jeugwêreld en bykans “ouwêreldse” waardes, soos in die gedig “Tjeke-Tjeke” (p.61). Was u kinderjare gelukkig en het u ouma byvoorbeeld ’n belangrike rol hierin gespeel?

 

Ek is nie ’n mens wat die konteks van die oomblik bevraagteken nie, ek maak die beste van wat ek het. My kinderjare was gelukkig oor ek graag wou leer en wonderlike leermeesters gehad het. My ouma het ’n leiers– en moedersrol in my lewe gespeel, weer eens binne die begrip van uitgebreide familie. Sy het my ook die dieper waarde en dissipline van hard werk en ‘huiswerk‘ geleer. Jy kan net vorentoe beweeg as jy jou huiswerk gedoen het, en jou feite ken en memoriseer.

 

In die voorwoord tot Deur die oog van ’n naald verwys u na ’n motorongeluk wat u lewe verander het (u woorde). Sal u so vriendelik wees om ons meer hieromtrent te vertel?

 

Na ’n oorsese besoek was ek in ’n ongeluk betrokke net anderkant Middelburg in Mpumalanga. Ek is baie ernstig beseer, en deur die hulp van omstanders weggesleep van die ongelukstoneel. Vandag nog glo ek dat ’n mens enige trauma kan oorleef, en dat jy in ernstige ongelukke en in trauma leer wat werklike vriende en vriendskappe vir jou kan beteken. Niemand bly op die lewenspad ongelukke en trauma gespaar nie, die vraag is wat jy daarmee en daarna doen wanneer dit oor jou pad kom.

 

Wat ek persoonlik nogal as ’n waarde-toevoeging tot die bundel ervaar, is die voorwoord, asook die afdeling “Beskouings” waarmee die bundel grootliks  gekontekstualiseer word. U besef waarskynlik dat dié inset ietwat ongewoon is vir ’n digbundel … Vanwaar die behoefte om dié aanvullende artikels saam met die gedigte te publiseer?

 

Ek sou graag die eer daarvoor wou neem, maar die idée het voortgespruit uit gesprekke met die span wie saam met my aan die bundel gewerk het: Corina van der Spoel, Pieter Rootman, Charles Fryer, Hannes van Zyl en ’n klompie ander wie deel was van die geboorte- en ontwikkelingsproses. Dit het ook as’t ware my politieke fase gemeng met my struggle gedigte.

 

Dr. Phosa, dit is geen geheim dat u baie moes verduur en opoffer tydens die apartheidsjare nie. Nogtans het u bly voortdig in die taal van die “onderdrukker”; iets wat u volgens die artikel Taal as versoeningsinstrument by tye as “pynlik ongemaklik” ervaar het (p.19). Hoe sou u hierdie liefde/haat-verhouding met Afrikaans beskryf?

 

Afrikaans is ’n taal van Afrika, maar dit is ongelukkig vir ’n tyd besmet deur apartheid. As ’n mens in die pragtige taal skryf, word jy soms herinner aan wie die taal as politieke voertuig probeer misbruik het. ’n Mens kan nie net met die bekende en gemaklike in jou lewe omgaan nie, soms moet jou deur ongemaklike omgang probeer verstaan hoe jou buurman dink en doen.  Ek moet eerlik wees, daardie pynlikheid vervaag by die dag as ek om my kyk en sien hoe Afrikaansprekendes die nuwe Suid-Afrika omarm en skouer aan die wiel sit.

 

Vele digters wat hulle in u posisie bevind (Paul Celan en Breyten Breytenbach, byvoorbeeld) het met die taal in stryd getree in ’n poging om dit te vervorm na ’n totaal eiesoortige taal waarmee hulle hul weersin en verontregting kon verwoord. Dit is egter iets wat u nié doen nie. U gebruik dit enersyds om onregte jeens u en andere tydens die vorige bedeling uit te spel en andersyds om die nuwe bedeling in u nuwe, bygevoegde verse, in dieselfde mate voor stok te kry. Is die taal dan inderdaad vir u eerder ’n vergrootglas as blaasvlam?

 

Ek hou van u vergrootglas simboliek. As ’n kunstenaar het ek die voorreg dat ek my politieke bril kan afhaal, en my omgewing beide klinies en emosioneel kan bekyk. Ek glo nie ’n mens kry te veel reg in die lewe deur very angry te wees nie. As jy jou eertydse woede en ongemak kan omkeer in versoeningstaal, is jy op pad na volwassenheid. As ek byvoorbeeld skryf oor “ja-base” en die 4×4 tendense of die 7-reeks base, skryf ek oor wat ek sien, sonder woede of oordeel.

 

Ten spyte daarvan dat die aanbod van die verse toeganklik en direk is, is dit deur die gebruik van ironie wat u trefkrag daaraan verleen en die leser dikwels verras. Is hierdie ’n bewuste tegniek of iets wat natuurlikerwys na vore kom vanweë u ietwat ongewone omstandighede? Die ironie is immers dikwels ook die maatemmer waaronder ’n persoon sy kosbaarste en mees intieme gevoelens verberg, is dit nie?

 

Ons verskuil maar almal die skerp punt van die spies onder die kombers van ironie. Ek doen dit nie bewustelik nie.

 

Iets wat my getref het in die toespraak wat u op 14 Junie 1995 voor die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gelewer het (Afrikaans as landstaal – ’n digter se siening), is die toespeling op Jan F.E. Celliers se gedig “Dis al”, asook Totius se “Vergewe en vergeet”, en die toepassing op die struggle wat u daarin kon vind. U het in u toespraak selfs na eersgenoemde gedig verwys as “’n revolusionêre gedig wat die ontsettende eensaamheid van die stryd teen apartheid, …, roerend uitbeeld.” Hierin wens u sekerlik nie om letterlik opgeneem te word nie (“Dis al” is immers lank voor die “stryd teen apartheid” geskryf), maar u het inderdaad iets van die universele toepasbaarheid van die poësie hiermee raakgevat. Is dit ook die doelwit wat u vir u self voor oë stel?

 

Nee, nie regtig nie – die wonder van die skryfkuns is dat die vertolking daarvan dikwels meer diepte het as die intensie. Ek probeer net daarop wys dat wit en swart saam revolusies kon en kan lei, en dat vreedsame opstand deur die woord ’n historiese verskynsel is. Afrikaners het verskeie kere in opstand gekom, teen kolonialisme en teen armoede: ek bewonder hulle daarvoor, en probeer lesse daaruit leer.

 

In dieselfde toespraak het u die volgende opmerking gemaak: “Ek dra nie vrese in my om oor u taal of my taal of die ander tale solank ons dit vrylik praat, dig, skryf en vernuwe nie. Ons beweeg binne ’n agenda van gelykheid en verskeidenheid.” Is hierdie uitspraak veertien jaar later vir u steeds geldig en iets van waarde? En hiermee verwys ek nie net na Afrikaans as sulks nie, maar na ál die amptelike landstale soos u dit myns insiens hier bedoel het. Die bevoorregte stand van Engels as “wêreldtaal” het immers ’n impak op al die inheemse tale, is dit nie?

 

Ons moet nie benoud of bedreig wees deur die natuurlike bevrugting en flirtasie tussen tale nie. Koloniale en ander invloede maak dit moontlik vir Afrikaans om eienaarskap in Soweto, Pietersburg, Marikana en Oudtshoorn te kry. Dit gee hom die suurstof van eienaarskap. Die taal moet ’n bietjie van ’n losgat wees, deur sy plaaslike en internasionale “rondslaap“ kry hy/sy karakter en wyer waarde en aanvaarbaarheid.

 

U maak soms van diere as simbool gebruik in u verse. Hier dink ek byvoorbeeld aan die kostelike vers “Hase sal ook eendag tande kry” (p.34) en veral “Die olifant” (p.66) met sy treffende slotreëls: “Maar die ding lyk hoogmoedig / pis en kak orals / nes hy voel en wil. // Die olifant is die baas van die bos.” Kennelik verwys die haas na die ANC. Maar die olifant?

 

Ek luister liewers na die vertolkings van my olifant voor ek my beelde te gewoon maak en my aan selfvertolking skuldig maak. Maar – ons het in die afgelope honderd jaar baie olifante in die politieke en kulturele bos gehad, en ek verwys nie net na die ANC nie. Die Nasionale Party het ook oral hoogmoedig gepis en gekak. Net die volgende: Die dier in die Afrika-kultuur is nie manlik of vroulik nie, en hy het ʼn simboliese grootheid en krag, hy/sy is beide dier/god/mens. In die swart kulture gee ons ook graag mense die name van diere. My Afrika-naam (Nakedi) beteken letterlik vertaal muishond. Maar ’n seun en ’n dogter kan die naam kry, en dit is nie vleiend of afwysend nie. Hierdie geslagloosheid van die diersimboliek in Afrika-kultuur is iets wat ook oor tyd ook na ander kulture sal emigreer. Dit is goed vir kuns en kultuur.

 

In die vers “Ek stoot trollies vir die miesies” (p.69) word die ontnugtering (en verbittering?) met die nuwe bedeling verwoord. Veral die reëls “Ek droom nog van vryheid / ek bly nog ’n slaaf van armoede / myne is suur, suur, suur” vind ek skreiend. Sien u dit dan ook as die digkuns se taak om sosiale euwels – sonder aansien des persoons – aan die bod te bring? Armoede is immers ’n universele verskynsel wat helaas nie net tot bepaalde rassegroepe beperk is nie …

 

Nee, en armoede van die maag, die siel en die kop word nooit heeltemal uitgewis nie. Dit het min met ras te doen, maar met veral met leierskap, en hoe leiers omgang met dit wat daagliks in ’gewone’ mense se lewens omgaan.

 

Een van die treffendste verse in die bundel is sekerlik die sjamaanagtige “En die reën sal kom” (p.74). Hierin beskryf u ’n tradisionele ritueel om die reën te bring, gepaardgaande met ’n bykans voortslepende oerritme met ’n sterk inkantasie-basis. Maar in die slotreëls swaai u meteens wég van die tradisionele gegewe na ’n Bybelse sfeer: “Ag, sing liewer halleluja, amen. / Wie het gesê / water kom uit droë bene?” Elders in die bundel is daar ook dikwels dié inspeel op Bybelse gegewe; selfs met die titel van u bundel. Hoe belangrik is die (Christelike) godsdiens vir u?

 

Baie belangrik, maar nie in die tradisionele sin nie. Dit gaan vir my oor beginsels, oor ’n “goeie mens wees”, maar beslis ook oor die begrip dat nie een geloof of kerk kopiereg het op die alomteenwoordige God nie. Ek wil weer eens beklemtoon, ons ‘gelowe‘ kan baie bymekaar leer en leen: dit is nie ’n sonde of skandaal om jou tradisionele werklikhede in te meng in jou Christelike geloof nie. Ek wil deur my “geloof” in optrede ’n goeie vriend vir my vriende wees. Geloof is nie vir my ’n uitsluitende begrip nie.

 

Dr. Phosa, ek wil graag afsluit met nog ’n aanhaling, naamlik uit die artikel “Van hofmaak tot huwelik in die politiek” (p.17). Die aanhaling is die volgende: “Want almal soek nie ewe suiwer na die lig nie. Sommige soek slu vonke wat die vure van konflik sal aanblaas. Ons speel nie almal dieselfde spel nie, ons is nie heldersiende genoeg om die verskuilde agenda betyds te vind en te vernietig nie. Ons rûe is nie altyd beskerm teen die aanvalle van die pen en die swaard nie.”  Ook enkele reëls verder: “So kies elke mens sy lewe, verseker van sy dood.” Op ’n manier stem dié reëls ’n mens onrustig en ook droewig … Sou u dalk hierop wou uitbrei?

 

Politiek is nie vir sissies nie. Politiek is ook nie vir diegene wat dink dat daar ’n skeidsregter is wat die fluitjie blaas die oomblik as daar ’n oortreding is nie. Ek is gekant teen ’n benadering wat die politiek romantiseer of verafgod: dit word bedryf deur mense wie, soos ek en u, gebroke is. Die politiek is soos die lewe, soos die wiel draai is jy soms bo en soms onder, ’n mens vind soms die diepste geluk en die mees intense trauma in jou gevaarlike omgang met die politiek (as minnares).

 

Ten slotte – dat u lewe as professionele politikus en amptenaar nie juis veel tyd vir ontspanning en vryetydsbesteding laat nie, is ’n gegewe. Maar wat doen u die graagste wanneer die geleentheid om te ontspan hom wel voordoen?

 

Ek kuier met vriende, en ek lees graag boeke oor leierskap en politieke en sakeleiers van hier en oor die wêreld heen.

 

Dr. Phosa, baie dankie vir die geleentheid om dié vrae aan u te rig, en veral: veels geluk met ’n besonderse toevoeging tot ons digkuns. Sal u so vriendelik wees om hier onder ’n gunstelingvers van u vir ons lesers oor te tik?

 

Baie dankie dat u soveel moeite gedoen het om my werk te lees en te ontleed en te verstaan. Ek waardeer dit en die geleentheid vir die gesprek met u en u lesers..

 

 

Een van my gunstelingverse is sekerlik “Dis my grond” (p.65)

 

Dis my grond

Waar my siel gewortel is

Waaruit ek ploeg, eet en daagliks drink

Die vrugte en sappe wat die Skepper ons gee.

 

Dis my grond

Waar ek staan

en stewig voel

waar die berge onroerend ontspan

die diere wei

en luister na mekaar

waar die voetjies sing en dans

waar ek op die ou end

gaan lê

vir ewigheid.

 

© Mathews Phosa (uit: Deur die oog van die naald, Tafelberg Uitgewers, 2009)

 

  •