De Waal Venter. In waansin het ek gevra
Thursday, July 15th, 2021
“Vlakvulling II” M.C. (Maurits Cornelis) Escher 1957
In waansin het ek gevra. NP van W Louw
(Uit die bundel: Alleenspraak, 1935)
Herr du mein Gott, was gehen mich die
Gesetze der Natur und Arithmetik an?
In waansin het ‘k gevra, o God
vir my die vrede van die ster,
om bo die berge stil te woon,
die wêreld onder dof en ver.
***
In waansin het ek gevra
Tuna byt die water in, bo
oor die swaan in die waan dat wit
die kleur is van olifante, al sê die koerante wat
’n kameel swart laat voorkom, nes ’n boeddha sonder
klere rustig by die wit stertvere van
’n haan sonder waan dat hy altyd kan onder-
skei tussen walrus en donker padda leunend teen
die spitse ore van die meisie wie se glim
lag
jou laat in die waan dat
’n vol
struis niks weet van die Recuerdos
de la Alhambra terwyl dit stewig
staan, geplant op die ki-
taar rustend op die stert van ’n tok
kelossie en ’n trieste tipe pelikaan on-
der ’n ongedierte buigend onder die hand van
die meisie ver maar tog geneties ná
aan die besorgde kreef hang-
end oor die esel wat eens die Mes-
sias hoog deur die skare gedra het in
die waan dat hy net sy werk doen maar
nou weet ons die een vorm die ander, waar
jy lig is, is ek donker om
jou te wys waar dit waar is sodat
jy jou waan beter
kan verstaan.
© De Waal Venter, 2021